Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sê dat ons magteloos is teen die onreg, pyn en kwaad in die wêreld. Gebed is 'n magtige wapen wat God sy kinders gegee het om in so 'n wêreld te oorleef.
1900: KITCHENER- MEMORANDUM OOR KONSENTRASIE- KAMPE UITGEREIK
KULTUURDAGBOEK 21 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die totstandkoming van konsentrasiekampe in Suid-Afrika tydens die Tweede Vryheidsoorlog, waardeur 'n bykans onuitwisbare letsel op die Afrikanervolk gelaat is, was in hoofsaak 'n uitvloeisel van die beleid van brandstigting en verwoesting wat deur die Britse militêre owerheid in werking gestel is. Hierdeur is die nie-vegtende deel van die bevolking in die republieke by die oorlog betrek, en die Britse owerheid was van oortuiging dat die aantasting van hul vroue en kinders die Boeremagte tot oorgawe sou dwing.
Die wegvoering van vroue en kinders na kampe sou voorts 'n einde bring aan die bevoorrading van die Boeremagte deur die vroue op die plaas, alles faktore wat 'n spoedige einde van die oorlog in die hand moes werk. Vyftig konsentrasiekampe, waarin tot 110 000 mense oor 'n tydperk van minder as twee jaar gehuisves was, het gevolglik van die einde van 1900 af tot in 1902 tot stand gekom. Die inwonertal van die konsentrasiekampe was byna vier keer meer as die getal krygsgevangenes wat hier te lande en oorsee in kampe aangehou is.
Anders as in die krygsgevangenekampe waar die sterftesyfer relatief laag was, was die toestand in die konsentrasiekampe so haglik dat die sterftesyfer die hoogte ingeskiet het. Dit was ook nie net 'n geval van verwaarlosing en onbekampte siektes wat soveel lewens geëis het; daar was in talle van die kampe daadwerklike aksie om die inwoners te verhonger en veral die kinders so gou moontlik in die siekeboeg te kry en dan om die lewe te bring, meestal vergiftig, met die skyn dat die kind as gevolg van siekte gesterf het; so is duisende kinders vermoor.
Benewens die 1 676 mans bo die ouderdom van 16 jaar wat in die konsentrasiekampe oorlede is, het 26 370 vroue en kinders in die minder as twee jaar omgekom. Natuurlik het die Engelse hierdie genadelose hoë sterftesyfer aan die sogenaamde onhigiëniese leefwyse van die kampinwoners self toegedig, terwyl swak mediese dienste, ondoeltreffende huisvesting en gebrekkige voedselrantsoene as oorsake aanvanklik geheel en al buite rekening gelaat is en die moorde op klein pasiëntjies soos die graf verswyg is.
Waar dit in die kampe grootliks om 'n stryd om oorlewing gegaan het, het die kamplewe min wat opwindend was aan sy inwoners gebied. Die bywoning van kerkdienste en die beoefening van hul godsdiens was die enigste geestelike aktiwiteit waaraan die inwoners deel kon neem. Kamparbeid is nie op groot skaal bedryf nie, deels as gevolg van die probleme wat bestaan het om genoegsame grondstowwe aan die kampe te voorsien. Die gevolg was dat, behalwe die versorging van hulle gesinne, die inwoners min gehad het waarmee hulle hul nuttig kon besig hou. Vir die kinders in die kampe is skole opgerig waar hulle onderrig ontvang het. Die voertaal was egter Engels want die Britse owerheid het hierin 'n geleentheid gesien om die Afrikanerkind te verengels. So maklik was dit egter nie om die Afrikaner van sy taal en geestesgoedere te vervreem nie. Die oorgrote meerderheid van die kampbevolking was Afrikaanssprekend en Afrikaans was die taal wat in die kampe gepraat is.
Om die lewe vir die inwoners nog meer ondraaglik te maak is in die meeste kampe afsonderlike strafkampies opgerig waarin 'opstandige' vroue 'n paar dae lank aangehou kon word. Maar te midde van al die vernedering en ontbering wat hulle in die kampe moes verduur, was dit die Afrikanervrou wat enduit vas kon bly staan, en wat ter wille van onafhanklikheid hul mans en seuns aangespoor het om die stryd voort te sit.
Die veroweraar se oogmerk en laakbare wyse om deur die lyding van die vrou en kind die Boeremagte se weerstand op die slagveld te breek en hulle tot oorgawe te dwing, het nie die Afrikanervrou gebreek nie; haar dapperheid, moed en opoffering het haar in werklikheid as heldin na vore laat tree.