Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Halfhartigheid is een van ons grootste sondes. In halfhartige bekering sterf die ou mens maar staan weer op. In ware bekering met die krag van die Heilige Gees sterf die ou mens en die nuwe mens staan in Christus op. Satan probeer hard om ons in eie krag te laat opstaan sodat ons na hom kan terugkeer in sonde. Gee aan die duiwel geen plek en bely en laat staan voor die Here elke dag opnuut in sy krag.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (19)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Dagon se trou
G.P le Roux
Ek het in die oorlog vyf perde gehad. Een is doodgeskiet, twee is aan perdesiekte dood en een is gesteel. Die vyfde, ’n donkerbruine met ’n wit kolletjie, het my die laaste sestien maande van die oorlog getrou gedien. Ek het hom vir £20 van burger Jan van Kraaienburg van Lakensvlei naby Belfast gekoop. Ek was eers nogal ontevrede met die koop, want Dagon - dit was sy naam - het ’n gang geloop soos ’n afrikaneros, en sy kop het hy ook so van die een kant na die ander geswaai wanneer ek hom op ’n vinnige stap gery het. Maar nadat ek aan sy ongemaklike gang gewoond was en agtergekom het dat hy taamlik intelligent was, het ek meer tevrede gevoel.
Ek het Dagon opgepas so goed as wat in oorlogstyd moontlik was en hy het baie geheg geraak aan my. Hy wou niemand anders as sy baas toelaat om hom te vang as hy gespan of gekniehalter was nie, maar sodra ek self aangestap kom, het hy my dikwels tegemoetgeloop.
WARE KWINKSLAE (29)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Dagboek van Hugo H. van Niekerk, De Wet-annale 1, p. 57:
Vandag het G. Pryra 'n lekker kans gehad om te ontsnap. Hy staan alleen by die hek en sien hoe maklik dit is om op die nabystaande stoel te gaan sit en dan weg te stap na die tweede hek. Pryra was nog besig om daaroor te droom toe 'n offisier aangestap kom en aan hom vra: "You do not belong to this camp, do you? You are a prisoner of war, are you?"
Sonder om te dink, antwoord Pryra ewe gedweë en nog verdiep in sy ontsnappingsplanne: "Yes, I'm a prisoner!"
Humor in die Driejarige stryd:
In die hawe lê een van die skepe wat die krygsgevangenes oorsee moet neem, voor anker. Daar is 'n leer langs die skip en onder is die wag op die skuit, of liewer, die wag is besig om 'n uiltjie te knip. Die Boere sien wat aan die gang is en een van die waaghalse klim af en maak die tou los wat die skuit aan die leer verbind.
LOOF HOM, O MY VOLK!
Hannes Ollewagen
Psalm 66:1-20
Vers 1 van die gelese gedeelte lui:
“…Juig tot eer van God, o ganse aarde!”
Dit klink só wonderlik, dog so onwaarskynlik in die tydsbestek waarin ons leef. Hoe kan die hele aarde tot die eer van God juig indien hulle Hom nie ken nie? Hoeveel mense en volkere leef van so ‘n aard dat God se Naam daardeur verheerlik kan word? Ons was en is veronderstel om so ‘n volk te wees – ‘n volk aan Hom verbind met ‘n gelofte om in trou voor Hom te leef. ‘n Volk wat op so ‘n wyse moes leef dat sy Naam daardeur verheerlik sou word en dat ons tot sy eer kon juig. Wanneer ons egter na onsself op die volkereverhoog kyk, faal ons klaaglik in hierdie roeping.
DIEN HOM UIT DANKBAARHEID
Ds Andrè van den Berg
“...want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” - Rom.16:18
Om godsdienstig te wees, beteken om diens aan God te lewer. Dis wonderlik om, gesien in die lig van Joh.3:16, iets vir God te kan doen. Jy dien miskien op die Kerkraad, bring jou kant by die jeug, sing in die koor, is vlytig in die gemeente; alles goeie dinge. Is dit egter genoeg om jou in die hemel te bring? Kan diens met ander woorde die bekering vervang?
Al sê mense dit nie reguit nie, leef baie mense asof diens wel die bekering kan vervang. Dit skep ʼn valse veiligheidsgevoel wat miljoene mense al die ewige dood laat beêrwe het. Dis soos om die vyand op jou drumpel te hê, maar nogtans te glo dat jy veilig is. Valse vertroue lei dikwels tot die dood. Op geestelike gebied lei dit altyd tot die dood!
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (18)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Taf, die foksterriër
Kaptein D.A. Louw
Taf was die foksterriër van Myburg Roux van Klippoortjie, Witbank. Taf het die lief en leed van sy kommando meegemaak.
Op ’n dag word die kommando op die Transvaalse Hoëveld gevang. Te voet word hulle aangejaag na die naaste spoorwegstasie.
Vyf dae lank moes hulle voortstrompel voor ’n klompie Britse soldate. As ’n lid van die vyandelike wag miskien al te na aan Myburg kom, word ’n boosaardige knor gehoor, en as dit nie help nie, volg ’n vinnige hap daar op.
Eindelik is hulle by die stasie. Taf spring sonder aarseling in die treinwa by sy baas.
“Smyt daardie hond uit die trein,” kom die bevel van die Britse offisier aan sy soldate. Een van hulle wil gehoorsaam, maar Taf baklei hom los. Hulle waag dit nie ’n tweede keer nie, en Taf bly op die trein.
WARE KWINKSLAE (28)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
J.G.F. Krause, Renierversameling:
Op Bermuda het 'n tommie met die naam van David ons eendag uitgeskel vir "Dutch bastards". Ons het toe natuurlik iets agter sy naam aangelas — iets soos Rooihel (royal). Ons — dis nou ek, Matjan, Botha, Japie Griessel en ou Taylor — het besluit om Rooihel deeglik af te ransel vir die belediging. Die plan het ook goed afgeloop. Rooihel se werk was om saans die kamp in te kom om toe te sien dat al die ligte ná "Lights out" wel dood is. As dit nie gebeur nie, word die een wie se lig nog brand, gevang en gestraf. Botha was in die tent. Die ander het agter die tent stelling ingeneem. Net toe tommie se kind sy kop by die tent inprop, dam ons hom van agter by met skoppe en vuishoue en dies meer — so vinnig as moontlik! Die loon wat ons vir ons moeite gekry het, was sewe dae in Hamilton se tronk, maar die harde arbeid wat deel van die vonnis was, was lig want ou Rooihel se nek is vandag seker nog skeef soos ons hom bygekom het.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
HOE EKONOMIE WERK
Dis Junie in 'n dorpie in die Kleinkaroo. Dis droog, warm en die dorpie lyk verlate. Dit is 'n moeilike tyd, almal is in die skuld en leef op krediet.
Skielik daag daar 'n ryk toeris op. Hy stap die enigste hotel binne en sit 'n R100-noot op die ontvangstoonbank neer en gaan met die trappe op om 'n kamer te gaan kies.
Die hotelbaas vat die R100-noot en haas hom na die slagter om sy skuld te gaan betaal.
Die slagter neem die noot en gaan betaal sy skuld by die varkboer.
Die boer haas hom om met dieselfde noot sy skuld by sy verskaffer te vereffen.
Dié hardloop gou en maak sy rekening by die dorp se prostituut skoon.
Die vrou van die nag haas haar om haar rekening by die hotelbaas te betaal, waar sy gewoonlik 'n kamer huur om haar werk te doen.
Die hotelbaas vat die R100 en plaas dit terug op die toonbank.
Net toe kom die ryk toeris die trappe afgestap, neem die noot omdat hy nie met een van die kamers tevrede is nie, en verlaat die dorp.
Niemand het enigiets verdien nie, maar die hele dorp is nou sonder skuld!
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (17)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Twee keer afskeid
F.G.A. Wolmarans
In 1896, toe ek veertien jaar oud was, het ek van my oupa ’n mooi klein vaal hondjie gekry. Terwyl haar oë nog toe was, het groot langstertrotte een van haar neusklappies afgevreet. Toe sy omtrent ’n jaar oud was, het my suster per ongeluk ’n koppie warm water op haar laat uitval, en die plek op haar linkerrib was daarna altyd sigbaar, want die nuwe hare het regop gestaan. Toe sy volwasse was, het sy soos ’n leeuwyfie gelyk.
Met die groot vlug in Februarie 1901 in die rigting van Delagoabaai [ten tyde van die eerste groot Britse dryfjag, naamlik in Oos-Transvaal] is my hond ook saam met die honderde waens en duisende beeste en skape. Die burgers het by Ermelo al weer deurgebreek en teruggekom, maar die vee is òf deur die Engelse gevat òf moes deur Swaziland vlug. Die waens moes agterbly en my hond het by ons wa gebly.
WARE KWINKSLAE (27)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Knapsak, Julie 91 Jaargang 3 Nr. 2:
Een van die Engelse wagte in Fort Govindgarh het 'n papegaai gehad wat heeldag met homself gesit en gesels het — in Engels natuurlik — tot groot vermaak van die wagte en die Boere. Kommandant Krause was so ingenome met die voël dat hy hom vir 'n aansienlike bedrag by die eienaar gekoop het. Krause het te kenne gegee dat hy darem die papegaai ook so 'n bietjie Afrikaans wou leer. So gesê, so gedaan. Die hok is in die krygsgevangenes se eetvertrek geplaas en die eerste les het min of meer so verloop:
Papegaai: "Three cheers for the King! Hip! Hip! Hurrah!"
Krause: "God behoede land en volk, weg met die Engelse. God behoede..."
Papegaai: "Pretty Polly, green all over, going to Blighty next October."
Krause: "God behoede..."
HALWE WAARHEDE BLY LEUENS
DIE WAARHEID VERRUIL VIR DIE LEUEN?
Hannes Ollewagen
Romeine 1:18-32
“...omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”
Leef ons nie ook in ‘n samelewing vol mense wat wel van God weet of Hom ken, maar Hom nie met hul lewens verheerlik of dank nie? En is dit nie wat ‘n mens doen wanneer jy Sondag na Sondag in die kerk sit, maar Maandag tot Saterdag ‘n lewe leef waarin daar geen plek vir God is nie?
Een van die gewigtigste redes waarom God nie meer verheerlik en gedank word nie, is die eensydige verkondiging dat Hy slegs ‘n God van liefde is. Dit is waar dat die Almagtige, Drie-enige God van hemel en aarde ‘n God van liefde is, daarom dat Hy sy Seun gestuur het om ons van ons sondes te verlos, maar Hy is níé net ‘n God van liefde nie. Hy is ook ‘n God van waarheid, geregtigheid, heiligheid, regverdigheid en selfs ‘n God van wraak oor die kwade. Durf ons God se Wese afwater tot een enkele eienskap omdat dit vir ons gerieflik is?
'N OORLOG SONDER KOEËLS
Die Afrikaner Volksparty
Heel gepas is die tema van die Afrikaner Volksparty se kongres op 10 Oktober 2014, 'n Oorlog sonder Koeëls. Dit was immers die verklaarde doel van Brittanje met die Afrikaner by monde van Alfred Milner pas nadat hulle deur middel van die barbaarste metodes denkbaar die Boere in 1902 tot vrede gedwing het:
The Boer war continues. It is not a war with bullets, but it is a war still.
'n Honderd jaar later duur hierdie sielkundige oorlog teen die Afrikanervolk onverpoosd voort en is die oorlog verhewig sedert die verraderlike oorgawe van die FW de Klerk-regering in 1994.
Die vraag vandag is of die Afrikaner ooit werklik besin het wat hierdie oorlog behels en wat die teenoptrede behoort te wees.
WARE KWINKSLAE (26)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
M.C.E. van Schoor en C.G. Coetzee, Kampkinders, pp. 25-31:
Die jong Sinnie Viljoen was agt jaar oud toe hulle na Kimberleykamp weggevoer is. Hulle kon net die nodige goedjies bymekaarmaak om saam met hulle op die wa te neem. Sy vertel hoedat een ou tante egter vasbeslote was om haar bulsak saam te vat. Die Engelse offisier was egter net so vasbeslote dat sy dit nie sou doen nie en beveel haar om sonder die bulsak op die wa te klim.
Sy skop vas en sê: "Laai my bulsak op en dan klim ek op!"
Hy vervies hom en bulder: "Woman, get on the wagon or I'll kill you!"
Sy antwoord ewe: "O, Engelsman, kielie my net vandag en dan sal jy 'n ding sien!"
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (16)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Deur Wagter gered
S. Swanepoel
Op ’n koue more, terwyl ek in die flou wintersonnetjie teen my woonhuis se muur staan om warm te word, gewaar ek iets teen ’n ou roosboom se stam. Ek loop nader om te ondersoek wat dit is, en tot my grootste verbasing sien ek ’n klein hondjie daar lê, byna verkluim van die koue. Ek dra hom na die kombuis, gee hom bietjie warm melk en lê hom op die matjie voor die stoof neer. Van daardie oggend af het die hondjie sy tuiste by ons gevind. Hy het spoedig opgegroei tot ’n pragtige groot dier en het die naam Wagter gekry.
Toe die oorlog uitbreek, is ek opgekommandeer. Die oggend van my vertrek was dit ’n naarheid op die plaas soos Wagter te kere gegaan het, want hy is vasgemaak. Die kinders het opdrag gehad om hom nie los te maak nie, omdat ek bang was dat hy my sou volg en so sy einde sou kry. Maar die tweede dag kom Wagter by ons kommando aan, moeg en uitgeput van die honger.
DIE DAE VAN NOAG
Ds Andrè van den Berg
“En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” - Mt.24:37-39
Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, was dit oor iets wat baie ver in die toekoms gelê het. Tog was die boodskap toe alreeds duidelik: Die aarde sal, soos in die dae van Noag, weereens vergaan, maar nie weer herstel word nie. Die wederkoms van Christus is die finale gebeure. Glo u dit?
Ongelowiges glo nie in die wederkoms nie; die aarde sal net aangaan soos dit al eeue lank die geval is. Dit getuig van ongeloof, ʼn ongeloof waarvan Jesus in Mt.24 praat. Min mense sal vir sy wederkoms reg wees, ook mense wat dit met die mond bely, maar, soos die vyf dwase maagde in die gelykenis, dit eintlik nie verwag nie.
Jesus sê dat die lewe tot op ʼn bepaalde dag normaal sal verloop. Mense sal koop en verkoop, plant en oes, trou en kinders grootmaak totdat die Groot Verdrukking aanbreek en die mensdom deur die oordeel en toorn van God getref word. Jesus vergelyk dit met die dae van Noag toe dinge normaal verloop het tot op die dag dat Noag die ark ingegaan en God die sluise van die hemel oopgemaak en die hele mensdom op agt na verdrink het.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (15)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Die onoortreflike Blessie
Maurits J. Dommisse
Blessie was nie juis ’n danige perd om na te kyk nie en sou op ’n skou seker nooit ’n prys gewen het nie, en tog sou ek hom nie vir die mooiste kampioenperd verruil het nie. Hy was sommer ’n gewone Boereperd met ’n blessie en vier wit pote. Hy was kort en stewig gebou, omtrent veertien hande hoog, met ’n pragtig gevormde kop, wakker oë en kort, spits ore. Hy was vurig van geaardheid, vinnig en rats. In die donkerste nag het hy deur slote en oor kliprante gegaan en nooit gestruikel of misgetrap nie. Hy het oor ’n doringdraad gespring asof dit niks was nie, het ’n gang geloop, was geskik van geaardheid en doodmak en daarby besonder intelligent.
Ons het soms dag en nag aaneen gery, sodat baie ruiters aan die slaap geraak en afgeval het en die rydiere heeltemal uitgeput was, maar Blessie het altyd ewe wakker en lewendig gebly. Hy was nooit flou of bevange of uitasem nie.
WARE KWINKSLAE (25)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Jan H. Meyer, Kommando-jare, p. 24:
Onder ons was daar 'n hele klompie burgers wat nog nooit op 'n perd gesit het nie. Hierdie burgers moes nou touwys gemaak word.
Onder andere was daar 'n Hollander met die naam van Klaas van Stootgare wat aan ons jong seuns baie pret verskaf het. Toe ek weer sien, het Van Stootgare sy perd agterstevoor opgeklim en sit hy ewe getroos met sy gesig na die dier se stertkant.
Toe ek met hom daaroor praat, klits hy met die verpletterende antwoord: "Maar, jonge" sê hy in 'n hoogs teregwysende toon, "je weet toch niet in welke richting ik wil gaan!"
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (14)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Boer en Brit vier saam fees
Kaptein R.J.F. Britz
Onder die Vrystaatse Afrikaners is Kersfees voor die oorlog nie kerklik gevier nie. Kersdag is gewoonlik stil deurgebring, en dinge het maar hul gewone gang op die plase gegaan. In een enkele geval onthou ek dat die bure bymekaargekom het en daar toe sport gehou is met perderesies en skyfskiet.
Die laaste Kersfees in die oorlog (1901) het ons klomp jonges in die staf van genl. Nieuwoudt besluit om die dag te vier en dat perderesies die vernaamste sport sou wees. Twee dae voor Kersfees het ons ’n program opgestel, dit gestuur aan kommando’s in die nabyheid en hulle uitgenooi na Paljasfontein, waar ons gestaan het. Nadat alles gereël was, moes ons nog die toestemming van die bevelvoerder kry.
Hy was verbaas toe hy ons versoek hoor:
“Wil julle op Kersdag sport hou?” het hy gevra.
Ons het verduidelik dat daar nie op die resies gewed sou word nie en dat dit maar ’n onskuldige feesviering sou wees.
Na ’n rukkie nadink antwoord hy: “Julle sal môre resies jaag, maar nie die soort resies wat julle nou vra nie.” Toe ons hom vra watter soort resies hy bedoel, antwoord hy dat ons miskien Engelse sal jaag.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (20)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die Tweede Winter — Die Poolgeselskap word gevind
Die orige hoofstukke van die geskiedenis van die ekspedisie word deur die pasvertelde verhaal van oorwinning en rampspoed, waardeur die lotgevalle van Scott gekenmerk is, verdwerg. Ek moet egter ’n opsomming gee van wat destyds elders in hierdie streek aan die gang was.
Op 17 Desember 1911 het die Noorweegse ontdekkingsreisigers hul terugreis na Framheim in die Baai van die Walvisse aanvaar. Dit was ’n afstand van 870 Engelse myl en hulle het die verbasend hoë gemiddeld van 22½ myl per dag oor hierdie afstand volgehou.
Op 25 Januarie 1912, om 4 vm., het Amundsen se manne weer die beskutting van hul winterkwartier bereik. Op daardie datum het die arme Scott maar slegs 30 myl op sy terugreis van die Pool af gevorder.
Dit bewys ongetwyfeld dat ’n groot aantal honde baie geskikter vir ’n Poolse sleereis is, want Scott het sy vertrek uitgestel omdat sy ponies nie in staat was om die strawwe weerstoestande op die Ysbank voor 1 November te trotseer nie. In die noorde het Peary reeds met honde behaal wat Amundsen in die suide reggekry het. Kaptein Amundsen het altyd sy bewondering te kenne gegee oor wat ons reggekry het — en op sy nederige manier het hy my gesê dat hy nooit self ’n slee sou kon getrek het soos Scott se manne moes doen nie.
WARE KWINKSLAE (24)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
R.W. Schikkerling, Hoe ry die Boere, p. 279:
By my terugkeer tref ek een van ons Amerikaanse Iere, Joe Wade, aan wat besig is om klere te ruil met die gevange soldate. Hy was deftig uitgevat in die uniform van een van die Hussare, terwyl hy staan en klets met die soldaat wat weer Joe se gelapte, geskeurde en verflenterde broek dra nadat hulle dit geruil het. Toe Joe die Hussar 'n eerste keer versoek om sy klere af te staan, het hy ietwat gebrom en half teengepraat, maar hy het gou geroer toe Joe dreigend bulder: "Deliver! Or I blow the living daylights out of you!"
Eers het die Hussar sy neus opgetrek vir Joe se broek wat in ruil aangebied is. Maar die son het geskroei en die dubbeltjies was 'n behoorlike pes, sodat hy hulle uiteindelik met vele murmurerings aangetrek het. Joe se broek was so flenters en liederlik gelap met materiaal van 'n dosyn verskillende kleure dat dit onmoontlik was om die oorspronklike stof te bepaal. Die taak om die broek aan te kry, was ook geensins vergemaklik deur die talle verkeerde gate waardeur die Rooie se voet elke keer te voorskyn gekom het nie.
MAAR WAT SAL ONS DOEN?
Hannes Ollewagen
Jeremia 5:1-31
“Hulle het die HERE verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie;” (Vers 12).
Sou ons nie die Afrikaner met die volk Israel in hierdie gedeelte kan vergelyk nie? Die Afrikaner het ook sy God verloën deur af te wyk en weg te doen met ‘n Godsvresende grondwet om plek te maak vir ‘n humistiese een. Boonop het menige dan ook gereken dat die onheil a.g.v. hierdie skandelike daad nie oor ons sou kom nie en ons die hongersnood nie sou sien nie. Inteendeel, die volk is juis mislei met die leuen dat laasgenoemde oor ons sou kom indien ons nie ons Godsvresende grondwet opsy skuif vir ‘n kommunistiese en humanistiese een nie. M.a.w. vergeet van die vrees vir God en dink aan aardse belang en gemak!
Vandag wil ons verdwaas vra waarom vreemdelinge met ‘n totale onbevoegdheid dan oor ons heers?