Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aanvaar dat jy oud word. Moenie jou teen die vooruitsig van die dood verset nie. Bly so lank as moontlik aktief. Onthou: Die liggaam pas hom by die gees aan.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (15)
Wanindrukke, gebrek aan kommunikasie en verkeerde aannames het al in die verlede baie slegte gevolge gehad en dit sal sekerlik ook so wees tot daar nie meer mense is nie.
Bella en die ander vroue het koffie gemaak en dit aan die manne gaan uitdeel. Net sodra Bella aan Werner syne gee, struikel sy effens oor ‘n ongelykte. Werner gryp na haar hand om te keer dat sy nie val of die warm koffie oor hom of haar uitstort nie. Op daardie oomblik kyk Max op, sien dat Werner haar hand vashou, kom tot ‘n verkeerde gevolgtrekking en alhoewel hy niks sê nie, is die skok daarvan so groot, dat dit voel asof iemand hom in die maag geskop het. Hy voel die hartseer en teleurstelling sò intens, asof dit iets is wat vanaf sy solar plexus af uitbeweeg na sy arms en bene toe.
Max draai om en van die teleurstelling loop hy amper een van die kampstoele onderstebo. Die heel dag loop hy en tob, probeer die hele episode verwerk, maar uiteindelik kom hy tot ‘n besluit. Hy praat met vier van die ander bekwame, jongerige manne en saam loop hulle na Werner, teen laatmiddag.
“Werner, ons vyf wil gaan soek vir ander mense wat in nood en gevaar verkeer, wat nie blyplek het nie, en hulle hierheen, na veiligheid help, as dit jou goedkeuring wegdra. Jy het self gesê dat daar veiligheid in getalle is.”
“Jy bedoel julle manne gaan van een plek na die volgende ry en mense hierheen bring, sommer so?”
“Nie sommer so nie. Mense wat vir ons ‘n aanwins kan wees.”
Werner staan die voorstel en opweeg. Ja, hulle kan doen met nog mense en indien hulle die plase wil beskerm, sal dit welkom wees. Hy wil egter nie dat enigiemand daar opdaag en sy gesag ondermyn nie, aan die ander kant. Hy staan ‘n goeie minuut en dink. Wat egter in sy gemoed deurslag gee is nie intelligente, nugtere oorweging nie, maar die blote feit dat as Max nie daar is nie – en hy hoop hy kom nooit terug nie – dan is sy kanse met Bella soveel beter. Sy sal hom wel leer liefkry en in die natuur soek vroue onwillekeurig die sterkste mannetjie op.
“Ek dink dis ‘n goeie plan. Wanneer wil julle ry?”
“Sommer netnou, sodra ons die voertuie klaar gepak het. Ons kan vanaand op Meisieskloof slaap.”
‘n Uur later vertrek die manne met die Frontier, ‘n dubbelkajuit Toyota Land Cruiser en ‘n ouerige Mazda BT 50 3-liter 4X4. Net na donker is hulle by die verlate kampterrein by Meisieskloof. Max slaap niks daardie nag nie.
*
Diegene wat onthou van die toemaak van Volksrus ‘n paar jaar gelede deur honderde taxis, sal besef hoe vinnig hulle as eenheid kan opereer. Nie al die 250 000 taxi’s dwarsdeur die land behoort aan dieselfde vereniging nie, maar om hulle voet in die deur te hou, werk hulle almal saam. Nie elke taxibstuurder of baas is deel hiervan nie, maar ‘n oorweldigende meerderheid wel.
Die ineenstorting van Eskom, die bankrotskap van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Vereniging (SASSA), die mislukking van die regering om orde te herstel, die wanfunksionering van die weermag en polisie, saam met ‘n hele klomp ander faktore, het Suid-Afrika in chaos gedompel.
Na ‘n week het dit geblyk dat chaos in anargie oorgeloop het en daar is, behalwe vir ‘n paar blanke versetgroepe, feitlik geen kommunikasie of orde nie. Amper, maar nie heeltemal nie. Die taxiverenigings het onmiddellik met hulle lede gekommunikeer en die byna kwartmiljoen wit, grootliks Toyotabussies, het ontplooi soos ‘n geoefende weermag, hulle lede uitgeplaas na waar hulle dorpe en stede toegemaak het, die hoof en sekondêre paaie versper het, en grootliks beheer oorgeneem van die land.
‘n Ander faktor wat mense misgekyk het, was dat die oorgrote meerderheid kleindorpe omring was deur plakkerskampe, amper in die vorm van hoefysters. Hierdie oopkante van die perdeskoen is nou deur taxi’s geblok en niemand kan in of uit beweeg nie. Die taxibestuur neem vir praktiese doeleindes die plek van die regering in. Dit was al lankal so beplan en hulle het net gewag vir die regte oomblik.
*
Net na Paasnaweek 2023 het die 146ste massaskietery in Amerika in ‘n bank plaasgevind. Vyf mense, insluitende die skieter, is dood in die voorval.
Juan Maritz sou maklik vir iemand anders kon vertel dat hy net sy plig doen, maar diep in sy binneste weet hy dat dit ‘n jagterslus (hy sal nie sover gaan om dit moordlus te noem nie) is wat hy uitleef.
Soos wat party manne in die wieg gelê is om dominees, prokureurs, dokters, staatsmanne, weermag of polisie-offisiere te wees, is hy hiervoor gebore, dit wéét hy. Hy is fiks, sterk, jonk, het goeie sig, gestaalde senuwees en hy is nie bang nie. Ja, soos enige ander geestelik-krank mens sou hy nie gevang wil wees nie, wil nie tronk toe nie, en wil nie doodgemaak word nie, maar as dit binne sy vermoë is, sal hy sy eie lewe neem voordat hy in iemand se mag beland.
Dit sou nooit by hom opkom om enige aandenkings te neem of iets te laat om te sê hy was daar of dis sy handewerk nie. Hy soek niemand se goedkeuring, erkenning of iets dergliks nie. Soos dit in die geval met soveel massamoordenaars is – al sal hy natuurlik nooit erken hy is een nie – was die man wat hy eerste gedood het, vir hom opwindend, maar dit het nie lank daar gebly nie. Dit moes weer en meer, met die tussenpouses kleiner en die slagoffers meer.
Hy ervaar geen seksuele bevrediging in die dood van ander nie, maar iets baie dieper, iets groots en triomfantlik. En soos die Jeffrey Dahmers, Gert van Rooyens, Jack the Rippers, Harold Shipmans, John Wayne Gacy’s, Holmes, Pedro Lopez’e, en Ted Bundy’s hulle dade moes laat eskaleer om dieselfde genot (daar is nie ‘n egte Afrikaanse vertaling vir die Engelse “exhilarating” nie) daaruit te put, moet hy dit ook doen. Gelukkig is daar in hierdie situasie ‘n feitlik onuitputbare bron potensiële slagoffers.
Juan ervaar ‘n intense gevoel van mag en dis ‘n baie intense dwelm, veral as jy dit eers geproe het. Menige politikus, regter, geregsdienaar en miljardêr sou dieselfde ervaar. En net soos die liggaam aanpas by ‘n dwelm en meer dikwels moet kry en in groter dosisse, bekend as “toleransie”, so is dit ook met mag. Geld is immers ‘n manier om mag te verkry. ‘n Mens kan net een broek op ‘n slag dra, een bord kos eet, en alhoewel jy baie kan besit, net een voertuig op ‘n keer bestuur. Daar is een ding wat geld kan koop wat nie te veel is nie en dis mag. Wanneer Juan agter die lang geweer lê en sy slagoffer ‘n doodskoot gee, met die haelgeweer voor vier of vyf ander inspring en lostrek, of met die pistool snags loop van een slapende prooi na ‘n ander, is die intense gevoel van mag oorweldigend.
Hy weet ook dat dit nie vir altyd so kan aangaan nie, en hy hoop daarom dat hierdie wetteloosheid in die land so lank as moontlik sal voortduur.
Dis sy oomblik!
*
“Waar is Max, Roodt en Lennie?”
Bella het gisteraand al agtergekom dat Max nie in die dorp is nie. Die plek is klein genoeg dat sy sou weet en hy is normaalweg nie ver van haar af nie. Sy het aanvanklik nie gevra na hom nie, aangesien elkeen ‘n beurt kry om wag te staan of deel te wees van swerwerspatrollies, maar vanoggend sien sy die kar is weg en na rondvra, die ander ook.
“Werner, het jy vir Max en die ander manne gesien?”
“Ja, Bella, hulle is laat gistermiddag hier weg. Hulle het nie gesê presies waarheen nie, maar wel dat hulle mense gaan soek en help, hierheen bring sodat ons getalle groter kan word en natuurlik om daardie mense ‘n heenkome te gee.”
“En jy het nie daaraan gedink om my te sê nie?”
“Max is mos mooi groot. Hy kon jou self gesê het. Maar, raak nou rustig. Teen hierdie tyd is hulle reeds baie kilometers weg en dis nou te laat om hulle te probeer keer. Kyk, dis amper tyd vir ontbyt. Kom, ek koop vir jou ‘n heerlike een.”
Bella kyk hom ‘n paar lang sekondes aan, totdat die pennie val.
“Jy het hom aspris laat gaan!”
“Hoekom sou ek wou?”
“Oor my.”
Bella draai woedend om en loop na waar die ander mense al aansit vir ete. Sy gaan na oom Hartman toe, ‘n wewenaar so amper agt en tagtig jaar oud.
“Oom Hartman, kan ek jou ‘n oomblik eenkant sien, asseblief?”
Hulle staan waar hulle buite sig is.
“Oom, Max, die man wat ek liefhet, is gisteraand hier weg.”
“Ja, ek weet. Hulle het na Meisieskloof se kant toe gery. Ken jy dit?”
“Nee, Oom.”
“Dis so vyftig myl – tagtig kilometer, daardie kant toe. As jy by Attie Bester se plaas kom, draai skerp links so sestig tree na die hek. Dan ry jy net aan. Maar sê vir my Ousus, waarmee gaan jy ry? Het jy en Max nie saam hier aangekom nie?”
“Oom, dis nou die ding…”
“Die ding is, jy wil my Chev gebruik?”
“Ek weet dis baie om te vra, Oom.”
“Dis okay. Ek gaan nie weer hier uit nie, ek weet dit baie goed. Ons kan net sowel dit vir ‘n goeie doel gebruik.”
Die ou Chev is ‘n 4X4 K25 bakkie met ‘n GM 6.5 liter turbodiesel. Sonder om aandag te trek, laai sy haar bagasie, beddegoed en kos op die passasierskant van die lang voorsitplek. Net voor sy ry, staan oom Hartman langs die bakkie.
“Hierso, Ousus. Ek gaan dit ook nie gebruik nie, die ou oë wil nie meer nie.”
Hy gee vir haar ‘n Mannlicher Schönauer met ‘n vollengte kolf, toegerus met ‘n Swarovski teleskoop en twee honderd rondtes.
“Ai, Oom…”
“Gaan gebruik dit teen die onheiliges.”