Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is maar net soos die seisoene: ná 'n koue winter kom daar weer tere ontwaking wat blydskap bring oor die warm son en ontluikende aarde. Mense gaan ook deur seisoene van vernietigende winter maar kom deur die genade van God weer in die lente van hulle lewe by ontwaking, vernuwing groei...en die ontdekking van liefde in hul verharde harte.
PAUL KRUGER
LC de Villiers
Statig staan hy en kyk,
Met 'n kierie en hoed op sy kop;
Sy gebede weergalm van die Hemel af:
Mag die moorde teen ons burgers stop!
Sy volk is onderdruk;
Hul gemoedere gebreek;
Die volk wat hy gelei het;
'n Dolk in sy hart gesteek.
Altyd het hy bly hoop;
Sy geloof in God was sterk.
Sy volk wil hy terug hê,
Sy woorde sal ons merk.
Pantoffels net so langs sy bed,
Sy Bybel by sy laaste vers;
Sy leeskers gooi nog hoopvol lig,
'n Gelofteland vir ons in sig.
GIDEON SCHEEPERS
LC de Villiers
Waar lê jy begrawe;
Die Britte jou versteek?
Seingee was jou gawe,
Jou spieëltjies moed gebreek.
Jonk was jy 'n leier,
Die Khaki's plat gevee.
Volslag net geweier
Jou burgers weg te gee.
Skelm die Union Jack gehys
Om Afrikaners te bevry.
Jou ware vlag het jy gewys
Terwyl jy vooruit ry.
Middelburg was trots op jou,
'n Uitmuntende seun was jy,
Jou hoedjie netjies opgevou,
Klaar jou stryd gestry.
MY GEBED
LC de Villiers
Ek bid vir my nasie;
Ek bid vir my volk;
Gekniel voor U, ons Almagtige God.
Miskien u straf vir 'n gebroke gebod?
Genoeg het ons moeders en kinders gely;
Here, ons smeek U, maak ons plase weer vry!
Swaar soos 'n ossewa loop ons met trane in ons hart;
Was asseblief weg die hartseer en smart
want U alleen het die mag om die vyand te verslaan
en ons volk weer kragdadig op te laat staan.
Here, kweek weer u liefde in ons hart en verstand;
Laat weer u Lig in ons nageslag brand
en ons vra dat U elke plaashuis sal seën,
ons droogtes sal wegneem met u Hemelse reën.
O Here ons God, ons kniel skamend voor U neer;
Tot U kom toe al die heerlikheid en eer.
Amen
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (33 - SLOT)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Steun vir die herstel van Transvaalse onafhanklikheid in die Kaapkolonie (2)
D H Heydenrych
Op ’n goed bygewoonde vergadering aan die begin van Januarie 1881 op Franschhoek is die botsing betreur en is dit toegeskryf aan ’n reaksie op griewe waaraan geen gehoor gegee is nie. Die vergadering was ook van mening dat die onmin deur onderhandeling, deur middel van ’n Koninklike Kommissie of andersins, opgeklaar behoort te kan word. Die regering en die koloniste van die Kaapkolonie moes dan alles in hul vermoë doen om sodanige onderhandelinge te bevorder.
Soortgelyke resolusies is op Moddergat, Caledon, Worcester, Robertson, die Paarl en Stellenbosch en Malmesbury aangeneem. Vergaderings wat soortgelyke simpatie met die Transvalers uitgedruk het, is ook gehou op Tulbagh, Hopefield, Vredenburg, Darling, Beaufort-Wes, Montagu, Ceres, Wellington, Clanwilliam, Murraysburg, Colesberg en elders.
Die gevoelens van die Kaapse Afrikaners is geweldig opgesweep deur beswaddering van die Transvalers en die Boere in die algemeen.
PRETORIA, MY STAD!
(Hierdie een van LC is veral vandag gepas met nuusopskrifte soos "Pretoria brand!" - 'n waarskuwing aan motoriste: alle hoofpaaie in en uit Pretoria is deur ANC-oproermakers versper, motors en eiendom word afgebrand, koeëls trek onbepaald rond; as u moét ry, beplan u roete baie noukeurig!)
LC de Villiers
Pretoria, my stad, wat het van jou geword?
Staan jou Jakarandas nog en jou naam op elke bord?
Is jou strate nog pers as die kinders skool toe ry
en ruik jy nog so lekker as jy 'n stortreen kry?
Hoe gaan dit met jou fort by Klapperkop?
Kry sy kanonne kans om weer te skop
of is jou herkoms finaal gestop?
Kyk oom Paul nog uit oor die grasgroen plein
of het sy respek tussen papiere en gemors verdwyn?
Ek hoop jou Apies vloei nog soos hy moet
en kinders kans kry om liefde tussen die Wilgers te soek.
Pretoria, jy het my groot gemaak;
Mag jy weer 'n stad van inbors raak!
PRAAT MET HOM!
Hannes Ollewagen
Exodus 5:22-24
“Toe gaan Moses weer na die HERE en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur?” (:22)
Toe God aan Moses verskyn het om aan hom die opdrag te gee as leier van God se volk, was Moses nie dadelik gewillig om te gaan nie. Die feit dat Moses dalk die groot verantwoordelikheid van hierdie roeping deeglik besef het, het waarskynlik tot gevolg gehad dat hy homself nie as opgewasse hiervoor beskou het nie. Na vele verskonings het God se geduld met Moses min geraak en het hy besef dat God se woorde nie ‘n versoek was nie, maar eerder ‘n duidelike opdrag waaraan hy moes gehoor gee. “Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses ...” (Ex. 4:14).
Die Moses wat ons na hierdie ontmoeting met God leer ken, was egter die toonbeeld van nederigheid, sagmoedigheid en gehoorsaamheid aan God.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (4)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die onkruid in die koring
Mt.13:24-30;36-43
Benewens die gelykenis van die Saaier is die gelykenis van die onkruid in die koring die enigste ander gelykenis wat Jesus self uitgelê het. Hy het dit, net soos dié van die Saaier, ook op versoek van die dissipels gedoen. Hy wou hulle ʼn groot waarheid laat raaksien wat hulle andersins sou gemis het. Alhoewel hierdie gelykenis sekere raakpunte met dié van die Saaier het, beklemtoon Jesus hierin ʼn nuwe saak wat die koninkryk van God baie nou raak.
In die gelykenis van die Saaier gaan dit oor saad wat t.s.v. baie ongunstige omstandighede sonder toedoen van die saaier nogtans ʼn goeie oes opgelewer het. In die gelykenis van die onkruid en die koring val die klem op ʼn faktor wat nie verontagsaam kan word nie – ʼn vyand wat onkruid saai en die oes belemmer.
Daardeur het Jesus ʼn groot waarheid beklemtoon - die koninkryk van God het nie uitsluitlik met goeie oeste te doen nie, maar ook met vyandige optrede wat God se werk hartstogtelik haat.
ONS WONDERLIKE SEISOENE
...EN 21 JUNIE
Dr JP Botha
Ons gee vandag aan ons lesers ‘n stukkie Aardrykskunde omdat u waarskynlik die besonderhede daarvan al vergeet het of nie meer daaraan dink nie.
Dit is vandag 21 Junie 2016 - dit is vandag Winter-sonnestilstand, want dit is die kortste dag en vannag die langste nag. Van môre af begin die dae stadigaan elke dag effens langer word en die nagte effens korter, tot op 22 September. Daardie dag noem ons Lente-dag-en-nag-ewening want op daardie dag is die dag en die nag weer ewe lank.
Daarvandaan word die dae nog verder elke dag effens langer en die nagte effens korter. Dit gebeur tot op 21 Desember wanneer die dag op sy langste is en die nag op sy kortste. Ons noem daardie dag Somer-sonnestilstand.
Daarvandaan word die dae stadigaan weer al hoe korter en die nagte al hoe langer totdat hulle weer ewe lank is op 22 Maart, wat ons noem Herfs-dag-en-nag-ewening.
Dit is ons vier pragtige seisoene se aanvangstye wat deur ons liewe Here so bepaal is om vir die mens tot permanente en maksimum diens te wees.
DIE OSSEWA
LC de Villiers
Stadig het jy gerol
Oor Platteland oor Plato,
Oor Dorsland oor Karoo,
Jou wakis oorgetrek met wol.
Bloedrivier se assegaaie gekeer,
Die Drakensberge se pieke trotseer.
Jou osse het jou braafheid geleer,
Die velde het jou krag geëer.
Soms het jy moeg gaan staan,
Jou asse stukkend gestamp;
Nog 'n keer vorentoe gebeur;
Jou seile die simbool van 'n Voortrekkerkamp.
Tot vandag word jou naam genoem,
Jou spore het genoeg gedoen.
Hopelik sal jy in ons nageslag bly;
Miskien kan ons mekaar weer op boeregrond kry.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (32)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Steun vir die herstel van Transvaalse onafhanklikheid in die Kaapkolonie
D H Heydenrych
Die arbitrêre inlywing van die onafhanklike Transvaalse Republiek by die Britse Ryk wat ’n gevolg van die Groot Trek uitgewis het, het in die klimaat van Carnarvon se federasiestrewe tot ’n Suid-Afrikaanse kwessie geword wat polariserend tussen Boer en Brit gewerk het. Dit het die verbeelding aangegryp omdat daar sentiment op die spel was. Die was geleë in die gebeure om die Groot Trek, ’n goeie veertig jaar vroeër, maar ook in ’n etiese aspek, naamlik dat dit gelyk het of mag reg is.
Teenoor die Anneksasie van 1877, die stryd om die herstel van die onafhanklikheid wat daarna gevoer is en die oorlog van 1880-1881, kon niemand onverskillig staan nie. Die hele Suid-Afrika het standpunt ingeneem. Daar was Kaapse, Vrystaatse en Natalse Afrikaners wat van hulle laat hoor het asook Engelssprekendes, afgesien van die regerings.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (3)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die mosterdsaad en suurdeeg
Mt.13:31-33
Sedert die profete byna 3000 jaar gelede van die koms van die Messias begin voorspel het, wag die Joodse volk tot vandag toe nog steeds op Hom. Wat dit so tragies maak, is dat toe die Messias wel gekom het, hulle Hom nie as die verwagte Een aanvaar het nie: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11).
Die rede hiervoor is dat die Jode ʼn politieke bevryder verwag het wat die Romeinse owerheid uit Palestina sou verdryf en as koning in Jerusalem gekroon sou word. Toe Jesus geensins aan hierdie verwagting voldoen het nie, het hulle Hom verwerp en selfs doodgemaak. Jesus se optrede was heel anders as wat die Jode van die beloofde Messias verwag het.
KAROO
LC de Villiers
Jy lyk so verlate en eensaam maar jou bossies hou jou vas;
Kriedoring en bitou met 'n peperboompie wat ook pas.
Jy soek na jou tolbos rolbos en jy laat hulle maar gaan;
Die vryheid wat jy aan alles gee sal eintlik net jy verstaan.
Hier en daar 'n windpomp wat water die grond uit trek
En 'n dowwe grondpad wat 'n plaashuis merk.
Jy kyk in die verte uit en jy dink aan die dae
Van kommando's op perde en die Engelse se pakslae.
Jy lê tussen berge en dorpe en almal ry jou verby;
Vergete oor jou hulp om vir ons 'n nageslag te kry.
Stil en koud raak jy in die donker nag;
Net die maan wat lig gooi en 'n jakkals wat lag,
Tog te bly jy is ver van alles af... jy is vry.
Eendag as ek moeg raak wil ek tussen jou bossies kom bly.
NABOT SE WINGERD
Ds Andrè van den Berg
“Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die Here my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee!” - 1 Kon.21:3
Nabot beteken in Hebreeus vrug en om volksgrond te erf, was ʼn groot voorreg. Die wynplaas wat hy geërf het, was op daardie tydstip toe al baie lank in sy familie se besit, ja, vandat Israel in Kanaän gekom en God aan elke stam sy eie grondgebied afgemeet het. Omdat Nabot se plaas uitsoekgrond was soos niemand anders in Samaria gehad het nie, het die koning dit begeer.
Nabot was ʼn gelowige en het hard op die familieplaas gewerk. Hy was altyd daarvan oortuig dat hierdie spogplaas nooit werklik sy eie was nie en dat hy maar net die rentmeester daarvan was. Dit was net vir ʼn tyd lank sy grond om te bewerk, maar nog belangriker om dit te beskerm sodat dit in familiebesit bly. Nabot het ʼn verantwoordelikheid teenoor sy kinders en ook sy kleinkinders gehad. As hy dit nie beskerm het nie, het hy niks gehad om aan sy nageslag te gee nie.
ORANJE BLANJE BLOU
LC de Villiers
Jy bly wapper in ons gedagtes;
Jy bly wapper in ons hart.
Nou stil op elke koppie;
Jou hoop is nou smart.
Met sonsopkoms is jy gehys
En in skemerlig gevou;
Jou kleure trots gewys,
Die Oranje Blanje Blou
By elke grensdraad het ons troepe in jou skadu geveg;
Jou seël nou stukkend van vryheid en reg.
Stil is jou woorde en stil is jou wind;
Ons Oranje Blanje Blou moet ons vinnig weer vind.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (2)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die Saaier
Mk. 4:1-9
“ ... wie ore het om te hoor, laat hom hoor”
Oral waar Jesus gegaan het, was daar baie mense by Hom. Dit het aanvanklik by vier begin; twee pare broers - Petrus en Andreas en Johannes en Jakobus. Die Heilige Gees het in hulle harte gewerk om alles waarmee hulle besig was, te los en Jesus te volg. Baie gou het al hoe meer mense Jesus begin volg totdat dit selfs duisende getel het!
Mense het van Jesus gehoor en uit alle dele van die land na Hom gestroom, nuuskierig oor wat Hy sê. Die rede daarvoor is: “...want Hy het hulle geleer soos een wat gesag gehad het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:29). Mense het ervaar dat Jesus baie anders as die kerklui van hulle tyd was – Hy het met gesag gepreek. Dit wat Hy gesê het, was eerstens die waarheid. Tweedens het dit uit sy hart gekom. Dis vandag nog net so waar - nie alle predikers preek met gesag nie.
LIZZIE
LC de Villiers
Nooit het jy hierdie lyding gevra;
Onbewus waaroor die oorlog gaan.
Eensaam en honger het jy gesterf,
Ingesonkte oë wat soek na Ma en Pa.
Jou bed reggemaak vir die volgende een;
Nog 'n boetie en sussie om oor te ween.
'n Simbool vir 'n volk het jy geraak
Terwyl jy veilig by Jesus se voete slaap.
16 JUNIE...
(Met spesiale dank aan LC vir hierdie een...)
LC de Villiers
Jy't gekla oor 'n taal wat jy nie wou hê;
Die land laat brand om jou sê te sê;
Die wêreld vertel jy't onskuldig gestaan
Terwyl jy steeds weier om skool te gaan.
Ja, jy het daardie rots eerste gegooi;
Geweet jy's verkeerd en jou makkers genooi;
Wou met opset die land in chaos los;
Jou selfsugtige motiewe het lewens gekos.
Nou heilig jul hierdie dag nog elke jaar
Terwyl jul armoede in die gesig bly staar.
Ja, jul het deur 'n verraaier jul wens gekry;
Snaaks dat jul leiers skielik in weelde bly.
Ek dink jul was beter af in Ou Suid Afrika;
Gaan luister na outas oor die Apartheidsdae;
En tot vandag het Soweto nog nêrens gekom;
Die skole bly brand met kinders wat brom.
KLEIN, MAAR SOMS VOL VENYN
Hannes Ollewagen
Jak. 3:1-12
“Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand.” (:5).
Hierdie woorde uit Jakobus is ‘n skerp aanklag teen byna elke mens. In die tweede vers word reeds melding gemaak van die feit dat ons almal sommer dikwels struikel. Behalwe vir hierdie feit is die woorde van vers 6 iets wat enige persoon wat met sy geestelike lewe erns maak, diep sal raak. My onvermoë aan beheersing van my tong word vergelyk met ongeregtigheid uit die hel afkomstig! Dit is allermins lekker om te hoor, maar elkeen van ons wat al kennis gemaak het met die kwetsende houe van die tong sal nie vinnig hierdie stelling bevraagteken nie.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (1)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Inleiding
Mt.13:10-17
” Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? .... omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie” (:10.11).
Jesus het tydens sy aardse bediening wat slegs drie jaar geduur het baie gepreek en in sy prediking dikwels van gelykenisse gebruik gemaak. Ongelukkig is alles wat Jesus gesê het nie opgeteken nie. Een ding moet ons egter weet – dat dit wat wel opgeteken is, deur die Heilige Gees uitgesoek om is om behoue te bly. En daarvoor moet ons baie dankbaar wees!
ʼn Gelykenis is ʼn baie eenvoudige verhaal wat of by die natuur of die alledaagse menslike lewe aansluit. Die doel daarvan is om groot waarhede te beklemtoon. En dis presies wat Jesus met sy gelykenis-prediking gedoen het – Hy het praktiese lewenslesse met diep geestelike inhoude by wyse van verhale by sy hoorders vasgelê. Mense onthou verhale langer as woorde.
WIE IS DIE AFRIKANERVOLK?
DIE PROSES VAN KOLONISASIE
Jeanette Koekemoer
Daar word so dikwels verwys na die Afrikaner se "volksplanting" in 1652 aan die Kaap. As ons die geskiedenis goed ken sal ons begryp dat daar nie sprake van 'n volksplanting was nie, maar wel 'n volkswording, wat nie toegeskryf kan word aan die beplande optrede van die VOC nie maar eerder ten spyte van hulle insiglose optrede.
Maar eers moet ons die proses van kolonisasie begryp voor ons bogenoemde sal verstaan. Kolonisasie was 'n uitvloeisel van die ontdekking van die Nuwe Wêreld toe daar met ontdekkingsreise begin is. Brittanje, Spanje en Portugal het in wisselende mate sukses met kolonisasie behaal maar daar was uit die staanspoor twee soorte kolonies. Die een was handelskolonies waar daar geen poging was om 'n nuwe bevolking tot stand te bring nie soos bv die Portugese kolonies in Afrika. Die enigste doel daarvan was om handel te dryf. Die klein aantal persone wat in daardie kolonies gewoon het se aandag was uitsluitlik toegespits op korttermyn handelsbetrekkinge.
Die tweede soort kolonie was 'n bevolkingskolonie. Dit was 'n permanente teenwoordigheid deur die planting van burgers in daardie land, met die uitsluitlike doel om die skatte van daardie land in te palm.