Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom is ons bang vir die dood as ons weet dat ons geliefdes op ons wag? Om met hierdie wete te sterf, is in werklikheid ʼn wonderlike avontuur!
GENL DE WET
LC de Villiers
'n Veldkornet, 'n Generaal,
'n President, 'n man van staal
Wat van Majuba tot Sannaspos
die Khaki's bloedrooi los.
Jou wysheid, jou geweer
Wat die Britte op die slagveld keer;
Jou missie wat kommando's eer;
Trou aan jou sal ons altyd sweer!
Nooit geaarsel om voor te vat
Terwyl Khaki-koeëls teen die klippe spat.
Jou seuns saam met jou op die oorlogsroep;
Trots om deel te wees van jou Boeregroep.
Tot die einde het jy hard geveg,
'n Legende hier, jou land se kneg.
Nooit ooit sal ons jou vergeet;
Generaal De Wet sal jy altyd heet.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (31)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Die Konvensies van Pretoria (1881) en Londen (1884): van susereine tot soewereine onafhanklikheid
J E H Grobler
Die vernaamste taak van die Koninklike Kommissie van 1881 in Transvaal was die opstel van ’n konvensie om die staatsregtelike verhouding tussen Brittanje en die herstelde Boererepubliek te reël.
Die finale Konvensie, wat op 3 Augustus deur die kommissielede onderteken is, het as die Konvensie van Pretoria bekendgestaan. Die Driemanskap het op die ondertekeningsdag ’n aanhangsel tot die Konvensie onderteken waarvolgens hulle onderneem het om die land tydelik ingevolge die bepalings daarvan te bestuur totdat ’n te verkose Volksraad die Konvensie binne drie maande sou bekragtig!
Die Konvensie van Pretoria het in talle opsigte verskil van die vorige ooreenkoms tussen Brittanje en die Oorvaalse Boere, naamlik die Konvensie van Sandrivier (1852).
MY TAAL
LC de Villiers
My taal, my trots, my volk in banneling.
Op elke slagveld het ek met jou gebots;
Met rooi khaki weggehardloop, jou swakkeling;
Geskape uit voorvadermond,
Behoue gebly op boeregrond
Ten aanskoue van God my Rots.
Jy laat my sing, jy laat my lees; Afrikaans in eie gees
Vir jou my taal sal ek nooit los;
Te veel Afrikanerbloed het jou bestaan gekos.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (30)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Skikking van die Koninklike Kommissie
Dr Maria Hugo
Die idee van ’n kommissie wat tussenbeide moet tree, het sy oorsprong in die Kaapkolonie gehad. Reeds op 9 Desember 1880 het ’n Paarlse deputasie ’n voorstel aan die waarnemende Kaapse Goewerneur, G C Strahan, gedoen dat die Britse regering ’n kommissie moet benoem wat die geskille tussen die strydende partye op ’n onpartydige wyse moet besleg. Op 21 Desember is die versoek in ’n gewysigde vorm herhaal toe twee deputasies wat hoofsaaklik uit Kaapse parlementslede bestaan het, die tussenkoms van ’n spesiale kommissaris voorgestel het om ’n blywende vrede tot stand te bring. Dit was egter eers nadat Kruger op 12 Februarie 1881 in ’n brief aan Colley van die aanstelling van ’n Koninklike Kommissie gewag gemaak het, dat die Britse diplomasie die gedagte aangegryp het om ’n wending in die militêre verloop te bewerkstellig.
ONS VOLK...
...EK WONDER
LC de Villiers
Weet ons kinders van die begraafplaas in daardie bekende Pretoriastraat
Waar helde en presidente lê maat langs maat?
Ja ek wonder of daar gereeld nog bossies blomme by hulle koppe lê
En wat oom Paul vandag vir ons nasie sou sê.
Ek wonder of die tamaaie monument nog op die koppie staan
En of ons kinders soos belowe nog getrou kerktoe gaan.
Ek wonder hoe lank die son nog op die oktaaf sal skyn
Ons Vir Jou Suid Afrika - ons geloof is maar klein.
Ek wonder of Jan FE, Totius en Langenhoven vandag lus sou wees om 'n gedig te skryf
Oor wat en wie... daar is geen leier om die pad te wys.
Ek wonder wat hulle vandag van ons president sou sê
Of liewers maar weer in hulle grafte sou gaan lê?
Ek wonder hoeveel trane lê op ons plase rond
En herinneringe van geliefdes begrawe is onder die grond.
Ek wonder of De La Rey met sy manskappe ons boere se moordenaars sou jag
En dié gemors sou waag om in 'n generaal se gesig te lag!
Ek wonder of ons weer 'n Gebod met God kon maak
Om ons nasie met sy wapen aan te raak.
Ek wonder of ons kinders se kinders weer eendag op sal staan
Om soos by Bloedrivier met geloof ons aanvallers te verslaan?
JOU UURGLAS LOOP UIT
Ds Andrè van den Berg
“Beywer jou om voor die winter te kom....” - 2 Tim.4:21
Dit is weer winter en die koue begin toeneem. Benewens 2 Tim.4:21 praat die Bybel slegs op een ander plek ook van winter - in Mt.24:20 waar Jesus oor die Groot Verdrukking praat en sê dat mense moet bid dat hul vlug nie in die winter sal wees nie.
2 Tim.4 is Paulus se laaste woorde. Hy het geweet dat sy dood baie naby was: “Want ek word alreeds as ʼn drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby” (2 Tim.4:6). Geleerdes reken dat Paulus in 63nC. op bevel van keiser Nero in Rome tereggestel is. Gevolglik is ʼn laaste brief gewoonlik aangrypend. Ek is in besit van ʼn afskrif van die laaste brief van ʼn 23 jarige man (Wessels) wat in 1976 weens moord tereggestel is. Dis aangrypend!
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (29)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Vrede
Dr Maria Hugo
Ofskoon Kruger sy misnoeë met die optrede van Joubert uitgespreek het, het hy besef dat daar vir die Transvalers in werklikheid geen ander keuse as die voortsetting van onderhandelinge was nie. In ’n brief aan pres Brand het hy onder meer geskryf dat die Transvalers alles wat moontlik was sou doen om Engeland tot toegeeflikheid te beweeg. Hy en dr Jorissen het onverwyld na die grens vertrek. Swaar reëns het egter hul reis vertraag en hulle het die Nek eers laat die middag van 14 Maart bereik waar hulle verneem het dat die wapenstilstand ondertussen tot 18 Maart verleng is, juis om hulle die geleentheid te gee om betyds vir die onderhandelinge aan te kom.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (28)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Wapenstilstand
Dr Maria Hugo
Pres Brand was ten volle bewus van die gevaar wat die botsing tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Brittanje vir die Vrystaatse Republiek ingehou het, want die oorgrote meerderheid van die Vrystaters was teen die anneksasie gekant. Openlike steun is gegee deur Vrystaatse burgers en vrywilligers het hulle by die Transvaalse kommando’s aangemeld. Selfs ’n Vrystaatse kommando onder aanvoering van oud-kmdt C J de Villiers van Harrismith het in die nabyheid van die Republiek se hoofmag op die Natalse grens stelling ingeneem. Dit het moeiliker vir pres Brand geword om ’n neutrale houding in te neem, maar nugtere staatsman wat hy was, het hy teen die sterk volksgevoel van die Vrystaters in tot versigtigheid gemaan en hom ten sterkste vir die beëindiging van die oorlog en ’n vreedsame oplossing beywer.
GRATIS E-BOEK: VOLKSVERRAAD
Ons herinner lesers net weer: na aanleiding van die geweldige navraag van lesers opsoek na hierdie boek, het adv. Pieter Pretorius Gelofteland se lesers toestemmming verleen om sy boek, Volksverraad, gratis af te laai. Dit is van die heel belangrikste geskrifte beskikbaar om die oorsake van die haglike toestand waarin die Afrikaner in hierdie land verkeer, te begryp. Mag dit tot elkeen wat dit lees spreek sodat u vorentoe die regte besluite sal neem mbt sake wat noodwendig sal opduik.
U kan die boek, Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius, in pdf-formaat hier aflaai.
Ons het die skakel ook regs op Gelofteland onder GRATIS E-BOEKE geplaas.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (27)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Die Slag van Majuba
J E H Grobler en C. M. Bakkes
27 Februarie 1881
Die aanloop tot die geveg
Om Joubert die loef af te steek, kon Colley ná die geveg by Schuinshoogte een van twee weë volg: hy kon òf die Boere, wat Laingsnek steeds beset het, ontwyk deur vanaf Newcastle na regs in ’n oostelike rigting oor Utrecht met ’n syweg na Wakkerstroom op te ruk, dus agter hul rug in te beweeg, òf hy kon die gebaande weg oor Laingsnek volg en frontaal deurbreek. Die tweede uitweg het beter verbindings met sy basis by Newcastle verseker en was die kortste roete, maar het deur die mins toeganklike terrein geloop.
Op die bergketting weerskante van Laingsnek was die Boere steeds besig om hulle linie na die ooste en na Majuba in die weste uit te brei.
Uit die oorwinning wat die Boere by Laingsnek behaal het, het Colley twee verkeerde afleidings gemaak: die eerste was dat die dae van die bajonetstormloop verby is en dat troepe in besit van ’n kruin ’n beslissende voordeel geniet oor aanvallers wat hulle probeer bestorm.
WEES DANKBAAR VIR JOU AFGEMETE ERFDEEL
Hannes Ollewagen
Spreuke 30:1-33
“Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is;” (:7&8)
In die eerste vier verse van die gelese gedeelte kry ons te doen met ‘n man wat hartstogtelik na God soek. Ons kan sien dat hierdie spreukedigter waarlik met diep denke en vrae na die Aangesig van God gesoek het. Hoe wonderlik om te sien dat God Hom ook nie verborge hou na die wat in waarheid en opregtheid na Hom vra nie. Die spreukedigter leer God van nader ken. Ja, hy leer soveel van God in sy soeke na Hom dat Hy selfs die ontdekking maak na die Drie-eenheid van God en verwys na die Seun van God selfs honderde jare voordat Jesus as mens aan die wêreld geopenbaar is. “…En hoe is die Naam van sy Seun – as jy dit weet?”
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (26)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Die geveg by Schuinshoogte
J E H Grobler
1. Die Britse posisie ná Laingsnek
Die Britse mag by Mount Prospect het direk na afloop van die mislukte aanval op Laingsnek uit slegs 1 100 soldate bestaan. Daar was dus geen sprake van ’n onmiddellike hervatting van die veldtog nie. Tog het diebevelvoerende generaal, sir George Pomeroy Colley, nie na Newcastleteruggekeer nie, maar Mount Prospect, en dus ook ’n lang kommunikasielyn, behou. Die Boere was nie geleerde taktici nie, maar geen militêre genie was nodig om in te sien dat daardie kommunikasielyn verbreek kon word nie. As hy na Newcastle teruggetrek het eerder as om daardie verbindingsroete van 20 kilometer in stand te hou, sou Colley nie aan die Boere die geleentheid gebied het om sy lewenslagaar af te sny nie. ’n Terugtog sou beteken het dat die omstandighede wat tot die geveg by Schuinshoogte gelei het, nie sou ontstaan het nie. Colley se besluit om nie na Newcastle terug te trek nie, was dus indirek vir daardie geveg verantwoordelik.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (25)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Britse terugslag by Laingsnek (2)
J E H Grobler
Finale Britse voorbereidings
Op Vrydag, 28 Januarie, is die Britse soldate om 03h30 wakker gemaak.
Die tente in die kamp by Mount Prospect is afgeslaan en die ossewaens gelaai. Hieruit wil dit voorkom asof genl Colley onmiddellik ná die geveg na Transvaal wou trek. Ontbyt is genuttig en om 06h10 het die Natal Field Force teen die Boereposisies begin opruk. Dit was ’n helder, oop dag en geen poging is aangewend om die voorbereidings vir die aanval op die Nek te verberg nie.
Colley het die Boereposisies met ’n krygsmag bestaande uit altesame 56 offisiere en 1 158 man genader. Daardie mag het ses kanonne, drie vuurpylbuise en ’n berede eskadron van 119 man ingesluit. ’n Mag van 260 man met twee Gatlinggewere is in die kamp gelaat om dit teen moontlike aanvalle te beskerm. Die aanvalskolonne het, nadat hulle 800 meter ver padlangs opgeruk het, ooswaarts geswenk en op in ’n klofie in die rigting van die Boere beweeg.
GEEN MENS KAN SONDE ONTSONDIG NIE
Ds Andrè van den Berg
“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” - Hebr.13:4
Saamblyery is ’n stuk heidendom wat in Suid-Afrika skrikwekkend toeneem. In 1990 is die getal mense wat in ons land buite die huwelik saambly op 10% bereken. Dit staan tans op 43%! Saamblyery is ʼn belediging vir God wat juis die huwelik ingestel het. Saamblyery dra al die wesentlike kenmerke van ’n gewone huwelik, maar een waarin Christus doelbewus uitgejaag word. En sulke siele is verlore! “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Rom.5:25).
In 1970 het die NG Kerk so sterk teen saamblyery gevoel, dat sy die regering van die dag gevra het om alle saambly verhoudings buite die huwelik met wetgewing strafbaar te maak. In 2009 het dieselfde kerk opslae in die media gemaak toe sy die moontlikheid van groter verdraagsaamheid jeens saamblyery begin ondersoek het.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (24)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Britse terugslag by Laingsnek
J E H Grobler
Die aanloop tot die slag van Laingsnek
Kmdt-genl Piet Joubert het reeds tydens die volksvergadering by Paardekraal besef dat ’n wapenstryd tussen Boer en Brit ophande was. Daarom het hy toe reeds reëlings getref om te voorkom dat Britse troepe uit Natal Transvaal sonder weerstand sou kon binnekom deur ’n waarnemende kommandant oor die grensgebied aan te stel. Die verwagte wapenstryd het enkele dae later gevolg. Joubert se voorsorg teen ’n Britse inval vanuit Natal in Transvaal was ook geensins ongegrond nie. Dit was daardie poging om Transvaal binne te dring wat tot die veldslae by Laingsnek, by Schuinshoogte en by Majuba gelei het. Daardie drie veldslae word in hierdie en die volgende aflewerings behandel.
Die Britse leëraanvoerder in Natal en Transvaal en Goewerneur van Suidoos-Suid-Afrika, genl-maj sir George Pomeroy Colley, was om redes wat aanstons bespreek sal word, nie in staat om voor die einde van Januarie 1881 tot die offensief oor te gaan nie.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (23)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Beleëring van die Brits garnisoene (2)
J E H Grobler
Op Standerton,60 op die hoofweg tussen Newcastle, Wakkerstroom en Pretoria, is die nuus oor die herstel van die Suid-Afrikaanse Republiek op 19 Desember ontvang. Op daardie stadium was daar een kompanie van die 94th Regiment in die dorp gestasioneer. Twee dae later het nog twee kompanies van dieselfde regiment en een kompanie van die 58th Regiment in Standerton opgedaag. Kapt George Froom het as senior offisier die bevel oor al die troepe op hom geneem. Hy kon geen kontak met Pretoria maak nie en het geen instruksies gehad waarvolgens hy moes optree nie. Gevolglik het hy op eie inisiatief die dorp begin verskans en vrywilligers begin werf.
Maj W E Montague het op 24 Desember uit Pietermaritzburg in Standerton aangekom om as bevelvoerende offisier by Froom oor te neem.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (22)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Beleëring van die Brits garnisoene
J E H Grobler
Toe die eerste skote op 16 Desember 1880 in Potchefstroom klap, was daar in die hele Transvaal altesame 1 759 Britse soldate wat in sewe garnisoene oor die lengte en breedte van die kolonie versprei was. Hulle getal is op daardie dag deur sowat 200 soldate wat uit Newcastle na Transvaal gestuur is en by Standerton en Wakkerstroom diens sou doen, aangevul. Al sewe garnisoene is spoedig na die uitbreek van die oorlog deur die Boere beleër. In die geval van Pretoria, Standerton en Wakkerstroom het die garnisoene die dorpe kon behou, maar by Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg en later ook Marabastad was die Britte in hul “forte” ingehok.
Nie een van die garnisoene is voor die vredesluiting ontset nie, en slegs een het oorgegee.
Die getal Boere wat die garnisoene beleër het, het gewissel. Kmdt-genl Piet Joubert het in Februarie 1881 bereken dat sowat 2 050 burgers daarby betrokke was. Van hulle het 800 by Pretoria diens gedoen, 450 by Potchefstroom, 300 by Standerton, 200 elk by Rustenburg en Lydenburg en 100 by Marabastad. Die beleërders van Wakkerstroom was ingereken by sy eie mag van sowat 1 200 man by Laingsnek.
DIEN HOM MET GEESDRIF!
Hannes Ollewagen
Filippense 3:1-21
“Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie;” (:3).
Die algemene toestand van die samelewing rondom ons stem ‘n mens maklik tot neerslagtigheid. Wanneer ons kyk na die ellende waarin mense leef, vervalle en hartseer lewens en boonop hoor van die lelike dinge wat met mense gebeur, kan ons maklik moedeloos en neerslagtig raak. Daarby is die hoeveelheid mense wat hul uitkoms uit hierdie moedeloosheid gaan soek in dwelm- en alkoholmisbruik of selfs selfsmoord as laaste uitweg verkies, verbysterend.
Die oordeel kom ons nie toe nie. Dit is egter vir ‘n ware kind van God hartseer om te sien dat mense so ver wegdwaal van hul Skepper dat die satan hul kan oorrompel en uiteindelik kan vernietig. Die feit dat Suid-Afrika allerweë as ‘n “Christenland” beskou word, maar besig is om inmekaar te tuimel, is tog stof tot nadenke vir enigiemand met ‘n verantwoordelikheidsbesef.
DIE KINDERDOOP IS REG!
Ds Andrè van den Berg
So anders as die Roomse Kerk wat sewe sakramente het, het Protestantse kerke net twee - die doop en die nagmaal. Sakramente is volgens die Heidelbergse Kategismus (HK) “ heilige, sigbare, waartekens en seëls deur God ingestel is om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie des te beter te laat verstaan”
Let op die woorde: heilige, sigbare, waartekens en seëls. Heilig beteken afsonder of opsy sit. Daarmee sê die HK dat sakramente nie wêreldse instellings is nie, maar goddelike instellings. Die woord sigbaar sê dat dit fisies waarneembaar is. Waartekens en seëls sê dat dit middels is wat iets krag gee en in werking plaas. Dis soos ‘n brief. Sonder ‘n posseël daarop, sal dit nooit sy bestemming bereik nie. Laasgenoemde bring dit in beweging.
Waarom het Protestantse kerke net twee sakramente?