Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jou krag is van die HERE; onthou dat Hy jou geskape het, jou deur en deur ken, jou liefhet, jou deur elke dag dra al is jy nie eers daarvan bewus nie, en dat jy ook hierdie dag daardie genade van Hom sal ontvang om te doen wat jy moet doen.
WIE IS DIE AFRIKANERVOLK?
DIE PROSES VAN KOLONISASIE
Jeanette Koekemoer
Daar word so dikwels verwys na die Afrikaner se "volksplanting" in 1652 aan die Kaap. As ons die geskiedenis goed ken sal ons begryp dat daar nie sprake van 'n volksplanting was nie, maar wel 'n volkswording, wat nie toegeskryf kan word aan die beplande optrede van die VOC nie maar eerder ten spyte van hulle insiglose optrede.
Maar eers moet ons die proses van kolonisasie begryp voor ons bogenoemde sal verstaan. Kolonisasie was 'n uitvloeisel van die ontdekking van die Nuwe Wêreld toe daar met ontdekkingsreise begin is. Brittanje, Spanje en Portugal het in wisselende mate sukses met kolonisasie behaal maar daar was uit die staanspoor twee soorte kolonies. Die een was handelskolonies waar daar geen poging was om 'n nuwe bevolking tot stand te bring nie soos bv die Portugese kolonies in Afrika. Die enigste doel daarvan was om handel te dryf. Die klein aantal persone wat in daardie kolonies gewoon het se aandag was uitsluitlik toegespits op korttermyn handelsbetrekkinge.
Die tweede soort kolonie was 'n bevolkingskolonie. Dit was 'n permanente teenwoordigheid deur die planting van burgers in daardie land, met die uitsluitlike doel om die skatte van daardie land in te palm.
Die grootste aantal persone wat na die Nuwe Wêreld migreer het, was mense wat ekonomiese vryheid gesoek het, en vir ander was dit godsdiensvryheid, soos byvoorbeeld die Franse Hugenote. Die land wat die grootste sukses met bevolkingskolonies behaal het, was Brittanje. Benewens sy handelskolonies het hy hard gepoog om bevolkingskolonies te stig.
In teenstelling met die Britte, het die Nederlanders min begrip vir die belangrikheid van 'n bevolkingskolonie gehad. Een van die belangrikste redes vir hul mislukking op hierdie gebied is dat die Nederlandse staat hul hele koloniale poging in die hande van 'n enkele monopolistiese handelsonderneming geplaas het. Dit het vir hulle slegs om die wins gegaan. Korsigtigheid en inhaligheid het voorkom dat hulle van private inisiatief gebruik maak en daarom verstik het in die monopolisme.
Inwoners in die Kaap is in so 'n ekonomiese wurggreep geplaas dat hulle nie tot welvarendheid kon kom nie. Elke wingerdstok, elke sooi wat omgeploeg is, elke lammetjie wat aangekom het, moes die kompanjie alleen tot voordeel strek. Indien die inwoners die vryheid geniet het om bedrywe van allerlei aard aan te pak sonder die beperkings wat hulle opgelê is, sou dit 'n algehele ander prentjie wees. Slegs die kompanjie mog handel dryf en alle private handel is verbied.
Op 18 Junie 1719 is 'n versoek by die Politieke Raad ingedien wat verklaar het dat dit nie meer vir die meeste vryburgers moontlik was om 'n bestaan in landbou te maak nie. Die pagstelsel het die lig gesien wat beteken het dat alleenreg aan 'n persoon toegeken is om met 'n spesifieke produk handel te dryf, maar slegs sekere persone is vir die toekenning van pagte benoem en het dit steeds geen ekonomiese vryheid vir die vryburgers beteken nie. Swaar strawwe is opgelê waar persone ter wille van oorlewing in sluikhandel met besoekende skepe betrokke was.
Uit bogenoemde kan gesien word waarom die kolonie aan die Kaap, en ook die Afrikanervolk, so stadig gegroei het in vergelyking met ander bevolkingskolonies. Die VOC het daarmee volgehou om sy kolonie aan die Kaap soos 'n suiwer handelsonderneming te bedryf. Van Riebeeck is op 23 Augustus 1661 per brief gelas "om geen verdere vryburgers in die Kaap toe te laat nie, maar om te doen met die teenwoordiges sonder om verder uit te brei." Daar was teen 1679 nog steeds net 259 vryburgers.
Simon van der Stel het as goewerneur meer begrip aan die dag gelê en het gedurende sy ampstermyn van 1979 – 1700 moeite gedoen om verbyvarende skepe aan te moedig om hulle aan die Kaap te vestig. Op hierdie manier het hy 'n groot aantal Duitsers permanent in die Kaap laat woon. Nog een van die belangrike bevolkingstoevoegings was die koms van die Franse Hugenote. Op 13 April 1688 het die eerste groepie Hugenote met die skip Voorschoten by Saldanhabaai anker gegooi maar uiteindelik sou hul getal nie 150 oorskry nie. Hugenotebloed sou later 17% van die Afrikanervolk se samestelling uitmaak, 34% Duitse bloed en 35% Nederlandse bloed.
In 1706 het die VOC finaal besluit om geen verdere vryburgers Kaaptoe te laat kom nie omdat slawe goedkoper was om as knegte te gebruik.
Uit hierdie onbelowende begin moes daar mettertyd 'n nuwe volk ontstaan wat homself die Afrikaner sou noem. Die eerste fase van hierdie ontwikkeling sou wees dat die drie hoofbevolkingselemente wat aan die Kaap toegevoeg is, naamlik Nederlanders, Duitsers en Franse, saamgebind sou word. Die Afrikaner sou ontstaan as 'n gemeenskap te midde van ander gemeenskappe met wie hulle om verskillende redes geweier het om te assimileer. In hierdie wordingsproses was 'n hele reeks faktore wat meegewerk het om die uitkristallisering van die Afrikanervolk aan te help. Daar was die gemeenskaplike ekonomiese stryd van die koloniste aan die Kaap ter oorlewing. Dit het tot die stryd teen die wanpraktyke van die Kompanjie aanleiding gegee. Dan volg die stryd teen die natuur in 'n barre land, asook die stryd teen ander bevolkingsgroepe. En soos hierdie stryd op al die terreine suksesvol gevoer is, het 'n groeiende volksgevoel toegeneem.
Prof DJ Kotze gee die volgende definisie van volkswording met die gepaardgaande nasionalisme: "Dit is 'n gedagtesisteem of lewenshouding waarin die volk sentraal geplaas word; die aanvaarding dat hulle as groep sekere gemeenskaplike waardes of belang besit en 'n bepaalde gemeenskaplike taak of roeping het; die oortuiging dat dit aan hulle 'n besondere identiteit verleen wat hulle van ander groepe onderskei;die gedagte dat hierdie waardes gehandhaaf kan word en hierdie taak uitgevoer kan word slegs indien hulle 'n eie staatsverband besit; en 'n gemeenskaplike begeerte, wil en strewe om 'n eie staat te verkry en te handhaaf."
Hiervolgens is volkskap 'n kombinasie van erkening van jou bestaan, en die strewe daartoe. 'n Afrikaner was dus nie slegs 'n persoon wat uit die vryburgers afgestam het nie – dit was 'n persoon wat 'n bewustelike keuse ten gunste van eie volkskap gemaak het. Volgens PF Bruwer het die werklike geboorte van die Afrikanervolk tussen 1795 en 1806 plaasgevind toe daar in hierdie tyd mense aan die Kaap na vore getree het wat duidelik tekens begin toon het van 'n eie eksklusiewe volksbewussyn.
Die interessante verskynsel is dat daar twee groepe ontstaan het: een wat nooit ten gunste van 'n eie volkskap was nie, naamllik die "Cape-Dutch" wat in die welvarende westelike dele van die Kaap gewoon het; en die ander groep, die "Boers" soos die Engelse die twee groepe gedoop het.
Bruwer stel dat die term 'Boer' as volksbenaming, nog tot in die 20e eeu dikwels gebruik is terwyl die historiese gegewens mens noop om egter te aanvaar dat die term, 'Afrikaner', die een was waarmee die volk wat in die oosstreek gewoon het, na homself verwys het. Of hulle nou na hulself as Afrikaners of Boere verwys het, hulle het hulself as 'n volk in eie reg beskou met 'n strewe na 'n eie staat en onafhanklikheid. Dit terwyl jy by diegene wat tussen 1776 en 1876 aan die westekant tussen die berge en die see gewoon het, geen teken sou vind dat hulle hulself Afrikaners genoem het of as 'n volk beskou het nie. Die gebrek aan 'n eie volksgevoel word nog meer duidelik as na die name gekyk word wat hierdie groep hulself genoem het: koloniste, Nederlandse koloniste, Hollandse koloniste, of net Hollanders, en later ook Kaapse koloniste asook Kapenaars. En nog later, toe hulle gepoog het om verby die koloniale status te kom, was die eerste benaming wat hulle aangegryp het nie 'Afrikaner' nie maar het hulle hulself as 'Zuid-Afrikaners ' beskou. N Polsen skryf in 1837 dat die Nederlandse bevolking van Kaapstad en omgewing na hulself as Kapenaars verwys in teenstelling met die binnelandse inwoners wat hulself Afrikaners noem. Alhoewel die twee groepe uit dieselfde genetiese poel gekom het, was die 'Kapenaars' geensins Afrikaners nie. Dit word ook deur die anakronisme van "Engelssprekende Afrikaners" , soos sommige koloniste hulself later genoem het, bevestig.
Om met Bruwer se siening af te sluit: Die Afrikanervolk is nie die uitvloeisel van die Kaapse vryburgers nie; hulle is die uitvloeisel van die veeboerbeweging wat vir meer as 100 jaar die binneland van Suid-Afrika al dieper binnegedring en getem het. Dit was hierdie mense se wilsbesluit en dryfkrag wat uitgeloop het op die ontstaan en voortbestaan van die Afrikanervolk. Hul sukses hiermee het daarvoor gesorg dat die Afrikanervolk voortdurend gesterk is deur toevoegings uit koloniale asook Setlaar-geledere. Deur individuele wilsbesluite het talle kolonialers deur die eeue deel van die Afrikanervolk geword as gevolg van migrasie na die republieke. Die wordingsproses was stadig en moeisaam en dit was eers baie dekades later dat hierdie volk duidelik en verbaal tot wasdom sou kom.
Die Afrikanervolk word vandag steeds gekenmerk aan sy geskiedenis van deurlopende stryd, en nogmaals stryd. Mag hy nog een maal die genade van Bo ontvang om ook in sy huidige stryd die krag te hê om teen die bose magte staande te bly – nie op sy voete nie maar op sy knieë - anders sal dit in die anale opgeteken staan dat die jongste volk ter wêreld uiteindelik en finaal deur sy volksvyande uitgewis is. As jy jouself dan as 'n lid van die Afrikanervolk bestempel, beteken dit dat jy oor die wil om te oorleef beskik. Maak dan vandag nog werk daarvan en pleit God om hierdie mooi land te kom reinig en ons weer te herstel; maar bo alles: pleit Hom om daarna Self te kom regeer sodat ons nooit, nooit weer hierdie pad hoef te stap nie!