Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is dit nie selfsugtig om op regte aanspraak te maak gesien in die lig dat gelowiges hulself eerder moet verloën nie? “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24).
BEGRAFNIS OF... (1)
... LIGGAAMSVERBRANDING?
Ds Hendrik Hefer
"Burial of the dead had become so part of the Christian heritage that when the barbarian peoples were converted to Christianity they were required to give up the practice of cremation in favour of the Christian custom of burial" – MacDonald.
"In beginsel staan die Christendom, die Christelike tradisie en die praktyke van die Christelike kerk en samelewing regteenoor 'n gestorwe heidendom.Teen hierdie agtergrond is dit kommerwekkend dat die praktyk van liggaamsverbranding so maklik 'n vastrapplek in ons volkslewe gekry het en dat die Afrikaanse kerke met 'n gereformeerde belydenisgrondslag dit so gelate aanvaar het... Verder word lidmate indirek aangemoedig om hul liggame te laat verbrand deur die versekering dat begrafnis net 'n 'tradisie' is en dat daar geen Bybelse of teologiese beswaar teen liggaamsverbranding is nie!" – Lategan.
Jy staan voor 'n keuse:
Christene behoort hulle in hul besluitneming uitsluitlik te laat lei deur die vraag: "Wat leer die Skrif?" Voordat jy hierdie belangrike besluit neem is dit jou Christelike verantwoordelikheid om al die inligting tot jou beskikking te beoordeel. Dit is baie belangrik dat emosionele argumente, persoonlike voorkeure of praktiese oorwegings nooit vir jou as gelowige deurslaggewend mag wees nie. Vir Christene mag dit nie gaan oor hoe hulle oor hierdie saak voel, deur hul smake of voorkeure of deur dit wat vir hulle die aanvaarbaarste of gemaklikste is nie – dit gaan uitsluitlik oor wat die Skrif ons leer.
ln Rusland is die eerste krematorium in 1928 opgerig. 'n Hoofregeringsamptenaar het in sy openingsrede by die ingebruikneming van 'n krematorium gesê dat 'n krematorium opgerig is as 'n nuwe protes teen die Christelike godsdiens. Verder het hy in sy toespraak die Russiese volk aangemoedig om hulle dooies te laat verbrand as 'n duidelike bewys dat hulle gebreek het met die Christelike geloof aan die opstanding van die dode.
Sonder vrees vir teenspraak kan ons die stelling maak dat Iiggaamsverbranding 'n praktyk is wat onder heidennasies ontstaan het en deur hulle beoefen is. Vroeër was daar ook die gebruik by die Hindoes om die vrou van die oorledene lewendig saam met haar oorlede man se liggaam te verbrand. In Suid-Afrika is die eerste krematorium in 1918 op inisiatief van die Hindoes in Johannesburg opgerig. Blankes het ook toestemming verkry om dit te gebruik. Ná 1918 is krematoriums opgerig in verskillende belangrike sentrums van ons land sodat hulle tans ook aangetref word in alle groot stede.
Ds Hendrik Hefer
Oornag, amper ongemerk, het begrafnis by baie in onguns geraak. Die gebruik is uitgedien. Die "moderne manier van doen" is liggaamsverbranding.
Met "Iiggaamsverbranding" word nie verwys na mense wat 'n vuurdood gesterf het, byvoorbeeld op die brandstapel of in 'n ongeluk nie, maar na 'n doelbewuste keuse van mense om hul liggame na hul dood te laat verbrand.In die omgangstaal word Iiggaamsverbranding "verassing" of "kremasie" genoem. Die woord "kremasie" is afgelei van die Latyn "cremare" (brand/verbrand). Kremasie is die proses waardeur die liggaam van die oorledene tot as verbrand en die bene wat nie verbrand nie, fyn gemaal word. Dit is dus 'n daad waardeur die liggaam gewelddadig en grusaam vernietig word.
Al hoe meer mense (ook kerklidmate) laat hul liggame na hul dood verbrand. Kerke laat hulle deur hierdie stroom meevoer. Sonder om behoorlik daaroor te besin en Iiggaamsverbranding in die lig van die Skrif te toets, rig gemeentes gedenkmure en gedenktuine op waar die as van die verbrande liggame geplaas kan word. Verder word lidmate indirek aangemoedig om hul liggame te laat verbrand deur die versekering dat begrafnis net 'n "tradisie" is en dat daar geen Bybelse of teologiese beswaar teen liggaamsverbranding is nie! Die geskiedenis toon egter duidelik aan dat die Evangelie die praktyk van liggaamsverbranding verdryf het. Waar die Evangelie getriomfeer het, die kerk van Christus geplant en die samelewing gekersten is, is liggaamsverbranding deur begrafnis verdring.
Kies ons liggaamsverbranding, maak ons 'n keuse vir 'n praktyk wat:
Kies ons begrafnis, kies ons 'n gebruik wat:
LIGGAAMSVERBRANDING IN DIE GESKIEDENIS
Sonder vrees vir teenspraak kan ons die stelling maak dat Iiggaamsverbranding 'n praktyk is wat onder heidennasies ontstaan het en deur hulle beoefen is. Historici is daaroor eens dat die mensdom oorspronklik hul oorledenes se liggame begrawe het. In die vroeë geskiedenis het die meeste toonaangewende volke die liggame van hul afgestorwenes begrawe. Die gebruik om die liggame van dooies te verbrand, het waarskynlik eers tussen 2500 - 2000 v.C. ontstaan.
Mettertyd het Iiggaamsverbranding die plek van begrafnis ingeneem. Die uitsonderings in die antieke wêreld was Sjina, Egipte en Israel. Liggaamsverbranding het ongeveer 1000 v.C. in antieke Griekeland posgevat. Die Romeine het ’n paar eeue later hul voorbeeld gevolg. Met die koms van Christus was liggaamsverbranding onder die Indo-Europese volke algemeen in gebruik. Verskeie faktore het daartoe bygedra dat liggaamsverbranding die gebruik om te begrawe verdring het, onder andere:
Praktiese oorwegings: Rondtrekkende volke het die liggame van hul afgestorwenes verbrand om hul liggame en grafte nie aan die wraaksug van hul vyande bloot te stel nie.
Bygeloof: Hul vrees vir die siel van die oorledene wat volgens hulle in die omgewing van hul dooie liggame vertoef het.
Godsdienstige oortuigings: Sommige het geglo dat die siel deur die verbranding van die liggaam bevry word om by die geesteswêreld aan te sluit, ander het geglo dat die siel van die oorledene deur die vuur waarmee die liggaam verbrand word, gereinig word.
Daar was ook die gebruik by die Hindoes om die vrou van die oorledene lewendig saam met haar oorlede man se liggaam te verbrand. Hierdie gebruik is eers in 1829 deur die Britse Koloniale regering onwettig verklaar.
Die geskiedenis toon duidelik aan dat die Evangelie die praktyk van liggaamsverbranding verdryf het. Waar die Evangelie getriomfeer het, die kerk van Christus geplant en die samelewing gekersten is, is liggaamsverbranding deur begrafnis verdring. Alhoewel die twee praktyke in die Romeinse Ryk naas mekaar beoefen is, het liggaamsverbranding in die gebiede rondom die Middellandse See onder invloed van die Christendom teen die 5de eeu n.C. byna heeltemal verdwyn. Die kerkhistorikus, Phillip Schaff, verwys na Julianus wat van oordeel was dat die respek vir die menslike liggaam een van die drie belangrikste faktore was wat bygedra het tot die vinnige uitbreiding van die Christendom. Francis Schaeffer is van oortuiging dat daar so 'n noue verband tussen die uitbreiding van die Christendom en die verdrywing van die praktyk van liggaamsverbranding is, dat die triomf van die Evangelie nagevors kan word deur die begraafplase te bestudeer. Die vroeë kerk se weerstand was aan die een kant die vrug van hul opstandingsgeloof en aan die ander kant die logiese uitvloeisel van hul oortuiging dat die lewe en die menslike liggaam gawes van God is. Omdat die lewe heilig is, het hulle die heidense praktyke wat onder andere in die Romeinse Ryk aanvaarbaar was (soos kindermoord, aborsie, menslike offers en selfmoord) verwerp. Omdat die liggaam in lewe en in sterwe aan die Here behoort, het hulle liggaamsverbranding verwerp. Die weerstand teen liggaamsverbranding was so sterk dat daar van bekeerlinge uit die heidendom verwag was om dit af te sweer. In die woorde van MacDonald: "Burial of the dead had become so part of the Christian heritage that when the barbarian peoples were converted to Christianity they were required to give up the practice of cremation in favour of the Christian custom of burial".
De Bruyn vat dit so saam: "Nadat dr Jasperse die geskiedenis van begrafnis en lykverbranding nagegaan het, verklaar hy ook: Ons het gesien dat lykverbranding so nimmer as te nooit 'n Christelike sede was nie. Die lykverbranding het voorgekom en kom voor alleen by heidenvolke. Daarteenoor sê hy van die Christendom die volgende: Dit is dan ook tiperend van die ou Christendom dat dit, oral waar dit in die heidenwereld ingekom het, lykverbranding laat verdwyn het, wat ten slotte gekulmineer het in die verbod wat Karel die Grote in 785 uitgevaardig het".
Die omgekeerde is egter ook waar. Waar kerke deformeer en samelewings hul rug op God en sy Woord keer, waar die heidendom herleef, steek die heidense praktyke, ook die praktyk van liggaamsverbranding, weer sy kop uit. Dit word deur die geskiedenis van die oplewing van liggaamsverbranding in Europa bevestig. Soos die lig van die Evangelie stelselmatig verflou het, het liggaamsverbranding begrafnis verdring. In die tweede helfte van die 19de eeu, toe die invloed van die humanisme - en sy handlanger, die liberale teologie - sy tol geëis het, is verskeie verenigings gestig wat hul vir liggaamsverbranding beywer het. Kort daarna is dit gewettig en is daar krematoriums opgerig.
Wie die oplewing van die gebruik van liggaamsverbranding in die Weste navors, kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat dit slegs veld gewen het waar die kerke gedeformeer het. Dit is ook duidelik dat liggaamsverbranding met vyandskap teen die Evangelie gepaard gegaan het. Die voorstanders van liggaamsverbranding was uitgesproke ongelowiges. Hul pleidooie ten gunste van liggaamsverbranding was gegrond op 'n ateïstiese lewensoortuiging. So was Sir Henry Thompson, die persoonlike geneesheer van koningin Victoria, die stigter en eerste president van die vereniging vir die bevordering van liggaamsverbranding in Engeland, 'n agnostikus. 'n Agnostikus is 'n voorstander van agnostisisme, met ander woorde die leer dat 'n mens slegs kennis kan hê van die sigbare en die tasbare dinge. Van die onsigbare (byvoorbeeld God of die hiernamaals) is geen kennis moontlik nie. Thompson het geglo dat God slegs 'n oneindige en ewige energie is. Sy standpunt was dat enige geletterde mens uiteindelik tot die gevolgtrekking sou kom dat daar nie iets soos bonatuurlike openbaring bestaan nie. Vir hom was Christus niks meer as 'n besondere leraar nie. In Nederland was 'n mediese dokter, Jacobus Molleschott, een van die belangrikste pleitbesorgers vir liggaamsverbranding. Hy was in opstand teen die Christelike oortuigings oor dood en lewe. Volgens hom was slegs die stoflike 'n werklikheid - hy het nie die bestaan van die menslike gees erken nie. Geen wonder dat steun vir liggaamsverbranding van organisasies soos die Vrymesselaars ontvang is nie!
Die duidelikste voorbeeld van die bondgenootskap tussen ongeloof en liggaamverbranding, is die oprigting van die krematorium in Mowkoit. By die opening het 'n regeringsamptenaar gesê dat die krematorium as 'n protes teen die Christelike godsdiens opgerig is.
Hy het die Russiese volk aangemoedig om hulle liggame te laat verbrand as 'n duidelike bewys dat hulle met die geloof dat die dooies sal opstaan, gebreek het. Die kerke wat nie deur die humanisme en liberale teologie besmet is nie, het deurentyd 'n duidelike standpunt teen liggaamsverbranding ingeneem. Soos Lategan dit stel: "In beginsel staan die Christendom, die Christelike tradisie en die praktyke van die Christelike kerk en samelewing vierkantig teen 'n gestorwe heidendom.Teen hierdie agtergrond is dit kommerwekkend dat die praktyk van liggaamsverbranding so maklik 'n vastrapplek in ons volkslewe gekry het en dat die Afrikaanse kerke met 'n gereformeerde belydenisgrondslag dit so gelate aanvaar het."
In Amerika het hierdie geskiedenis homself herhaal. In 1920 is slegs 1 % van die wat gesterf het se liggame verbrand. Eers in die sestiger jare van die 20ste eeu het liggaamsverbranding begin om veld te wen. Net soos in Europa was daar 'n noue verbintenis tussen die aanvaarding van die praktyk van liggaamsverbranding en teologiese deformasie in die kerke en morele verval in die samelewing. In dieselfde tydperk waarin liggaamsverbranding begin veld wen het, het die betroubaarheid en gesag van die Skrif in die spervuur gekom en het die verwerping van geloofwaarhede soos die maagdelike ontvangenis en geboorte, die sondelose lewe en liggaamlike opstanding van Christus al hoe meer deel van die kerklike lewe geword. Terselfdertyd is "aborsie op versoek" gewettig en het egskeiding, saamwoon en buite-egtelike swangerskappe algemene verskynsels geword. Schmidt stel dit soos volg: "The rise in creamations largely appears to be a product of the radical 1960's, when traditional Christian values in the United States were slowly preemted or replaced by old pagan values that received some new accents, which some critics today call neo-pagan values''.
Die onlosmaaklike verbintenis tussen teologiese verwildering en morele ontaarding aan die een kant, en die herlewing van die praktyk van liggaamsverbranding aan die ander kant, word deur die jongste geskiedenis van die Afrikaanse Gereformeerde kerke bevestig. Die eerste krematorium in Suid-Afrika is reeds in 1918 op inisiatief van die Hindoes geopen. Die praktyk van liggaamsverbranding het egter eers aan die einde van die 20ste eeu onder lidmate van die Afrikaanse kerke begin veld wen. Die aanvaarding van liggaamsverbranding het eers 'n werklikheid geword nadat die lidmate dekades lank gebombardeer is met standpunte wat hul geloof dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, stelselmatig afgebreek het. Die bevraagtekening van die betroubaarheid en gesag van die Skrif en die standpunt dat groot dele van die Skrif as kultuurbepaald en tydgebonde, en daarom as uitgedien beskou behoort te word, het 'n vrugbare teelaarde vir die praktyk van liggaamsverbranding geskep.
Voorstanders van liggaamsverbranding in die Afrikaanse kerke beweer dat liggaamsverbranding van sy humanistiese en afgodiese agtergrond gestroop is. Dit is egter te betwyfel. Boon is waarskynlik reg wanneer hy sê: “Vandag kom 'n sterk pleidooi vir kremasie veral van die kant van die humanisme. Die higiëniese en ekologiese rede word vandag gebruik om kremasie te verduidelik."
Daar is egter ook 'n filosofiese agtergrond wat in die hedendaagse gedagtes oor die dood ingebed lê. Die denke van Plato oor die liggaam as minderwaardig het in die Neo-Platonisme van ons tyd 'n nuwe oplewing gekry. Verder het die dood 'n taboe in ons samelewing geword. Dit word nie meer onder oë gesien nie. Die dood het uit die huise na die hostipale verskuif. Doodgaan is as't ware geïnstitulariseer. Verbranding van die liggaam is dan ook die verste wat ons kan wegbeweeg van die dood.
Die verskuiwing van begrafnis na liggaamsverbranding kan in die Weste (Europa) duidelik waargeneem word. In Nederland het dit toegeneem van 13% in 1970 tot 37% in 1984. In Engeland, Swede en Denemarke was die syfer in die middel tagtigerjare meer as 50%. Volgens die statistieke wat in 2004 vrygestel is, het die persentasie van diegene wie se liggame verbrand word, soos volg toegeneem: In Engeland tot 72%, in Nederland tot 51%, in Switserland tot 77% en in Amerika tot 30%.
Dit is betekenisvol dat daar in Italië slegs 8% en in Ierland slegs 4% van die oorledenes se liggame verbrand word. In die lig van die feit dat Rooms Katolisisme in beide lande 'n geweldige invloed het, is dit heel waarskynlik dat die vyf veroordelings van liggaamsverbranding wat vanaf 1884 tot 1926 deur die Rooms-Katolieke Kerk uitgevaardig, deels daarvoor verantwoordelik is. In 1963 het die Rooms-Katolieke Kerk egter ook geswig voor die aanslag. Alhoewel hulle nog aan begrafnis voorkeur gee, laat hulle wel liggaamsverbranding toe.
Noukeurige statistieke vir Suid-Afrika is volgens woordvoerders van groot begrafnisondernemers nie op die oomblik beskikbaar nie. Dit is egter so dat daar onder die blanke bevolking 'n toename in Iiggaamsverbranding is. In sommige stedelike gebiede is die syfer onder Afrikaanssprekendes bo 50% en onder Engelssprekendes so hoog as 95%. Onder die swart bevolking is daar 'n weerstand teen Iiggaamsverbranding en is die groei in die grootste deel van die land nie beduidend nie.
ARGUMENTE TEN GUNSTE VAN LIGGAAMSVERBRANDING – vervolg...