Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen deel van die Christelike leer word so aangeval soos Jesus se opstanding nie. Waarom gebeur dit? Omdat die opstanding die pen is wat ons geloof vashou. As daardie pen uitgetrek word, stort die hele Christelike leer soos ’n kaartehuis in duie! Waar staan jy in hierdie teologies waansinnige wêreld met sy geleerdes wat die opstanding van Jesus as simbolies en ’n storie afmaak?
WAAROM LOOP DINGE SO VERKEERD?
Ds Andrè van den Berg
Die lewe is vol teenstrydighede. Dit neem toe soos wat die wêreld na sy einde beweeg. Enersyds bereik mense asemrowende hoogtes terwyl ander weer in die skandelike dieptes versink. Mense verken die buitenste ruimte maar nie hul eie innerlike ruimte (siele) nie. Mense spandeer al hoe meer geld, maar put al hoe minder vreugde uit die stoflike gerief wat hulle verkry. Mense het groter huise, maar kleiner gesinne; meer geriewe, maar minder tyd vir mekaar. Mense stapel al hoe meer akademiese kwalifikasies op, maar gebruik al hoe minder hul gesonde verstand.
Let op die byna ongelooflike ontwikkeling van die inligtingstegnologie – mense het baie meer kennis as ʼn dekade of twee gelede, maar ongelukkig ook baie swakker oordeel as tevore. Die mensdom beskik vandag oor baie meer kundiges, maar sit ook met baie meer probleme as ooit tevore opgeskeep.
Op mediese gebied is daar baie meer medisyne, maar ook minder gesondheid. Die gemiddelde mens drink te veel, rook te veel, spandeer sy geld en tyd op te veel verkeerde dinge, ry te vinnig, word te gou kwaad en bly te laat op. Daarom staan mense soggens moeg op.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (9)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
In hierdie tyd word Amsterdam, van alle plekke in Europa, een van die grootste brandpunte van die Boere se stryd in Suid-Afrika. Hier in Amsterdam is dit "Het Afrikaansch tehuis”, Nieuwe Heerengracht 143, waar die vlae van Transvaal en die Vrystaat waai. Dit word die ware "Pella” (Pella was die plek in Palestina waarheen die Christene voor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. gevlug het) van ’n stroom ballinge wat van tyd tot tyd daar ’n toevlugsoord vind. De Standaard skryf:
"Daar waren ballingen, oud van dagen, met grijze haren, die in onrust verkeeren over het lot hun geliefden daarginds; daar waren reuzenzonen met hun trouwe, eerlijke gezichten ...”
Ook J. D. du Toit en Ferdinand Postma, die bouer van die Potchefstroomse Universiteit, is onder hierdie "zonen met hun trouwe, eerlijke gezichten”. En as president Kruger op 20 Desember 1900 aan Amsterdam ’n besoek bring, gaan hy hulle self opsoek en dan weerklink daar in die hart van Amsterdam "het krachtige Psalmgezang uit de breede borsten” en die vlae van die Boererepublieke word hoog opgehys!
HET JY JESUS-VREDE IN JOU HART?
Ds Andrè van den Berg
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” - Joh.14:27
Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het Hy op die drumpel van ʼn bitter lydensweg gestaan; ʼn pad wat met sy kruisiging sou eindig. Jesus sou sy dissipels wat slegs drie jaar by Hom was, alleen agterlaat. Hy doen dit egter nie sonder ʼn erfporsie nie. Jesus laat vir hulle iets na wat nie deur ʼn mens of die natuur geskaad kon word nie; ʼn Jesus-vrede. Dis ʼn heel ander soort vrede as wat die wêreld mense aanbied: “... nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie”.
Hierdie Jesus-vrede is ʼn gawe wat gelowiges alleenlik ontvang. Wie met die Vredevors nie vrede maak nie, verkry dit nooit nie. Gevolglik is hierdie vrede baie skaars.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (8)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Student in ballingskap
Op die kop twaalfuur, wanneer die son darem die verste hoeke van die gragte bereik, op 6 Julie 1900, staan J. D. du Toit met sy klein handkoffer voor die woing van J A Wormser in Spinozastraat. Mev. Wormser nooi hom vriendelik in asof sy hom op daardie oomblik verwag het. Die ontvangs was allerhartlik en "mijnheer Du Toit" moet sekerlik die middagmaal saam met haar en haar man geniet.
GELOOF BRING HOOP ...
... EN HOOP BRING LEWE
Hannes Ollewagen
Gén. 15:1-21
“En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”
Die era waarin ons leef, word deur die beskikbaarheid van inligting gekenmerk. Daar is selfs diegene wat reken dat om in die hededaagse tyd oningelig te wees, niks anders as ‘n persoonlike keuse is nie. Aangesien die internet soveel inligting vryelik tot mense se beskikking stel, word menige geheime en interessanthede uit die geskiedenis geopenbaar.
Dit is hartroerend om te sien hoedat ‘n volk wat die afgelope twee dekades maar min erns met sy Godsdiens gemaak het, besig is om opnuut vrae te begin vra en na antwoorde te soek op hierdie gebied. ‘n Mens moet egter baie versigtig wees waar jy na antwoorde gaan soek op jou vrae en ook by wie jy dit moontlik gaan soek.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (7)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Via Pretoria deur Mosambiek na Amsterdam
Op 4 Februarie 1900 het Japie du Toit weer heeltemal van sy siekte herstel en maak hy planne om by die vegtende Boeremagte uit te kom. Met sy wit perd kies hy toe koers ooswaarts na Colesberg wat reeds in Desember deur die Vrystaters beset is.
Maar dit is juis in Februarie wat die oorlog in die Kaapkolonie vir die kommando’s ’n rampspoedige keerpunt gekry het, veral nadat genl. Cronje op 27 Februarie 1900 by Paardeberg met meer as 3 000 man oorgegee het. Die Vrystaters begin uit Kaapland terugval om hulie hoofstad te beskerm. Op 5 Maart trek die manne uit Colesberg, met Japie saam met hulle, oor die Oranjerivier, en daarna blaas hulle die brug op. Dieselfde dag word Stormberg ingeneem en ’n Britse opmars beweeg in die rigting van Burgersdorp. Op daardie tydstip weet Japie dit nie eens dat sy verloofde Marie Postma en haar siek moeder met die laaste trein na die noorde Burgersdorp verlaat nie . . . om nooit weer terug te keer nie.
IS U DIE PRIESTER IN U HUIS?
Ds Andrè van den Berg
“Dan maak Job die more vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig...” Job 1:5
In die vroeë 70er jare is ʼn 19 jarige jongman ter dood veroordeel – Rodney Axe. Toe regter Baker die doodstraf oor hom uitspreek, het hy ʼn vinger na Rodney se alkoholis-vader gewys en gesê: “Ek moes jou eerder die doodstraf opgelê het!”
Baie kinders het al weens swak ouers in die lewe gestruikel. Sommige het selfs vroeg in ʼn graf beland. Gelukkig is daar baie kinders wat op hul lewe kan terugkyk en God vir voorbeeldige ouers dank. Ongelukkig was daar ook kinders wat maar net te bly was om van die slegte invloed van hul ouerhuise verlos te word!
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (6)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Oorlog
Die oorlogstrein stoom propvol Boeresoldate die stasie op Heidelberg met dagbreek binne. Dis 12 Oktober 1899. In Johannesburg was die trein om middernag reeds vol. Met al die gewere en komberse en sakke vol benodigdhede, is seifs die gangetjies versper. Daar is seifs ’n paar saals en tooms. Waar die klompie Heidelbergburgers nog ’n plek gaan kry, weet niemand nie. Die manne wat reeds te perd na Volksrust vertrek het, is miskien beter daaraan toe.
Maar dis oorlog. So het die mense Heidelberg se stasie nog nooit gesien nie. ALmal is opgewonde, maar sommige wys dit net meer. Ook spanning en - al word dit weggesteek - angs. Vaders en seuns moet gaan veg. Die vroue voel verlate en bekommerd.
Nie ver van die lokomotief af nie sukkel drie manne om ’n sitplek oop te beur. Die oudste, met die pragtige fier, regop houding is ds. Flip Snyman van die Gereformeerde Kerk op Heidelberg. By hom is die twee jong manne, Gert Kruger en Japie du Toit, wat in Juniemaand hulle predikantstudies op Burgersdorp voltooi het en in die Heidelberggemeente kom help het met die kerkwerk. Maar nou het die oorlog gekom, en vir hierdie drie manne was daar nie ’n keuse nie.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (5)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
BURGERSDORP TOE (2)
Gert en Japie praat weer oor prof. Leon Cachet, ’n unieke mens, ’n uitstaande leermeester. Japie sien die diepere betekenis wat hierdie man vir sy studente het helder raak: "Gert, het jy al gedink aan die woord van Paulus? Hy het gesê dat al sou julle tienduisend leermeesters hê, dan het julle tog nog nie baie vaders nie. Die kerk kan ’n leermeester, ’n professor, beroep. Maar ’n vader word deur God gegee. Die ware leermeester moet eers ’n vader wees. Kyk maar na die ou kerkgeskiedenis: eers die 'patres’ en dan die 'doctores’ - eers die vaders en dan die geleerdes. So het ek en jy by al ons studie ’n wonderlike geestelike vader.”
Prof. Cachet met sy teologiese studente op Burgersdorp. Vreemd, anders, eiesoortig. In die laat negentigerjare is dit in die Oos-Karoo ’n klein leermag vol entoesiasme en besield met groter ideale as wat hulle kragte en middele kan verwesenlik. En die "generaal” is prof. Cachet met sy hoofkwartier sy studeerkamer.
ONS GETROUE HOëPRIESTER
Hannes Ollewagen
Hebreërs 2:1-18
“Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.” (:17)
Ons lees in verse 6&7 van die gedeelte die heenwysing na die woorde van koning Dawid in Psalm 8. Dit is in hierdie Psalm waar Dawid verwonderd staan oor God se liefde en agting vir die mens, sy nietigheid ten spyt. Dawid besef opnuut tydens die skrywe van Psalm 8 dat die mens ‘n nietige wese in vergelyking met die grootheid van die heelal en die heerlikheid van God is, tog is die mens kosbaar en hooggeag in God se oë en met heerlikheid en eer gekroon.
Dawid was een van die mense wie God uitverkies het om na sy volk om te sien en oor hulle te regeer.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (4)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
BURGERSDORP TOE (1)
’n Koue winternag op Daljosafat by die Paarl. ’n Treurige wind. Die agtienjarige Japie du Toit kan nie slaap nie. Sy vader is nie tuis nie en ook sy moeder (’n stiefmoeder wat vir hom ’n liewe moeder is) is onrustig. ’n Verskriklike benoudheid pak hom beet sodat sy keel selfs toetrek. Dan maar uitspring kombuis toe vir water.
"Is dit jy, Japie? Wat makeer?”
"Ek weet nie, Moeder, maar iets maak my benoud . . . voel soos ’n knop in my keel . . .”
"Wag, ek kom, ek wil met jou praat. Steek solank die lamp in die eetkamer op.” Buite waai die wind nog steeds treurig. Hier in die eetkamer het Japie die belangrikste gesprek van sy lewe gevoer. Lank na middernag.
"Ek weet wat is hierdie benoudheid van jou. Jy sien nie meer kans om myningenieur te word nie. Toe jy gister daardie vorms na Kaapstad gepos het, het ek geweet dis verkeerd. Jy kan dit maar wegsteek net soos jy wil, maar jy wil predikant word! Ek het dit lankal agtergekom . . . jy wil predikant word.”
LEEF HIERDIE JAAR VOLUIT!
Ds Andrè van den Berg
“Toe het Abram weggetrek soos die Here hom gesê het...” Gen.12:4
Die verhaal van Abraham is ʼn aangrypende verhaal. Dit het geestelik gesproke as’t ware in die middel van die nag begin. Alhoewel die son in die Ou Nabye Ooste geskyn het, was dit ʼn donker tyd in die geskiedenis van die mens. Sonde het alles donker gemaak. Nogtans het mense geglo dat hulle daarby gebaat het en sonde soos koek i.p.v. gif hanteer!
Toe hierdie dwaasheid ʼn paar eeue na die sondvloed sy toppunt in Babel bereik het, het God ingegryp en ʼn hele samelewing op ʼn uitsonderlike wyse uit mekaar laat spat. Die geskiedenis van die mens met sy hoopvolle begin in die tuin van Eden, het spoedig op ʼn sondeval uitgeloop. Dinge het begin donker word. Daar was die broedermoord toe Kain sy broer doodgemaak het, en later ʼn sondvloed. Maar, helaas het die mens nie sy les geleer nie en die donker bo die lig verkies.
Dan verskuif die toneel in Gen.11 na Babel waar mense aan ʼn reuse toring begin bou het.
KORSIES VAN PASTEI
JIMMY EN MIKE SE SLIMGEITE
Jimmy vra vir Mike of hy dink Portugal vêr van hier af is.
Mike antwoord: "Ek glo nie, want op laerskool was daar Portugese in my klas en hulle het sommer met die fietse skooltoe gery."
NUWE BESTUURSERVARING
Ek het gisteraand by 'n geselligheid vasgehaak en met huistoegaantyd het ek my motor daar gelos en 'n bus geneem. Ek is vandag só trots op myself. Ek het nog nooit 'n bus besuur nie!"
GOEIE 'TIP'
Gert sê vir Koos: "Koos jy moet die karwag 'n tip gee."
Koos draai sy venster af en sê vir die karwag: "Moenie direk in die son kyk nie, dis sleg vir jou oë."
KORSIES VAN PASTEI
SANNIE SKRYF: "Liewe Kersvader, gee my hierdie Kersfees 'n dik beursie en 'n dun lyfie en moet dit asseblief nie weer omruil soos laasjaar nie!"
Koos: "Ek ry nooit met my betaalstrokie in my motor nie."
Jan: "Waarom nie, Koos?"
Koos: "Netnou kom ek in 'n ongeluk en dan dink hulle dit was selfmoord."
"Moenie alles wat jy op internet lees glo nie".
-JAN VAN RIEBEECK
HERDENKING VAN DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS
WAAROM IS DIE HEIDELBERGS KATEGISMUS VIR CHRISTENE VAN BELANG?
Januarie is 'n baie spesiale maand vir gereformeerde kerke omdat ons op 19 Januarie die verskyning van die eerste uitgawe van die Heidelbergse Kategismus van 1563 kon herdenk.
Die Kategismus het sy amptelike vorm gekry toe dit in die Kerkorde vir die Palts, wat die Keurvors op 15 November 1563 uitgevaardig het, opgeneem is. Die vrae wat daarin voorkom is die eerste keer in die Latynse vertaling, wat reeds voor 3 April 1563 verskyn het, genommer. 'n Kortbegrip is ter wille van skoolkinders in 1576 uitgegee.
Die Heidelbergse Kategismus vorm saam die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls die Drie Formuliere van Eenheid wat steeds die belydenisskrifte van die vernaamste Afrikaanse Protestantse kerke in Suid-Afrika is.
In die kerk is die Kategismus van groot belang en word van predikante verwag om 'n voorgeskrewe getal preke in volgorde daaroor te lewer.
VERWYDER DIE BANGOED UIT JOU LEWE
Hannes Ollewagen
Josua 7:1-26
“Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die HERE, die God van Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie.”
Ons sien in die gelese gedeelte wat die verpletterende gevolge van Agan se ongehoorsaamheid was. Agan het sy hand uitgesteek na die bangoed van Jérigo waarvan God hulle belet het om te neem. Die prys van sy ongehoorsaamheid was ses-en-dertig krygsmanne van sy volk, sy hele huishouding met al sy geliefdes en sy totale besitting asook sy eie lewe!
Dit is maklik om hierdie gedeelte te lees en by onsself te dink dat Agan baie dwaas gehandel het om só ‘n duur prys te betaal vir so ‘n geringe begeerte.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (3)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
VAN DIE PAARL NA TRANSVAAL EN TERUG (2)
Totius self vertel verder: "Vlak langs my ouma se huis in Daljosafat was die tweeverdiepinggebou van die 'Gedenkschool der Hugenoten’. Dit was ’n merkwaardige skool in die egte gees van die Christelik-nasionale onderwys wat ’n produk was van die Genootskap van Regte Afrikaners, die manne van 'Di Patriot’. Hier was Oom Lokomotief ons leermeester en ek onthou nog die 'Step by Step’ en Juta se 'Hollandsch Leesboekje’. Maar dit was veral die deeglike godsdiensonderrig van hierdie skool wat later ’n groot invloed op my lewensbeskouing sou uitoefen.
"Op 8 Julie 1885 het daar weer ’n ingrypende gebeurtenis in ons Du Toit-gesin plaasgevind: My vader is vir die tweede keer getroud, en wel met die dame wat vir my ’n tweede, liefdevolle moeder sou word — mej. Anna F. Malan, ook afkomstig uit die Paarl.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (2)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
VAN DIE PAARL NA TRANSVAAL EN TERUG
Op die wal van die Vaalrivier aan die Vrystaatse kant in die distrik Vredefort staan die huisie waar Totius in 1953 voor sy dood gewoon het. Dit was op die plaas van sy seun Dirk. Daar het hy ook sy laaste woorde geskryf.
Hy het eintlik nie meer lus gehad om nog iets te skryf nie. Maar hier kom toe die brief van prof. C. M. van den Heever: "Ons wil so graag dat u self ’n vertelling oor u jeug gee . . .” Vir Totius is dit egter ’n swaar ding om te doen: om oor homself te praat. Maar hoe kan hy prof. Van den Heever ooit teleurstel, die man wat sy doktorsproefskrif oor "Die digter Totius" geskryf het? Hy moet dit tog maar doen.
En so sit die gryse Totius uit sy kamer en tuur oor die Vaalrivier. En peinsend skryf hy sy artikel vir die boekie My ]eugland.
GOEIE RAAD VIR 2016
Ds Andrè van den Berg
“Pas dan op dat julle nougeset wandel; nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is” - Efes.5:15-17
Kyk na die wêreld van 2016 – dis ontsettend boos. Wêreldekonomieë stuur op krisisse af. Mense verloor hul werk of beleggings. Alles getuig van ʼn verlies aan lewensgehalte onsekerheid. Mense vra: “As dit vandag so gaan, wat gaan nie alles môre met ons gebeur nie.
In Efes.5:15-17 gee God vir ons raad hoe om onder moeilike omstandighede reg op te tree. Gevolglik is dit goeie raad vir ʼn Nuwejaar: “Pas dan op dat julle nougeset wandel; nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is”. Die Bybel waarsku dat mense, veral gelowiges, net voor die wederkoms van Christus, baie moeilik gaan leef.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (1)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
OP POTCHEFSTROOM SE VLAKTES
In sy oorlogsdagboekie skryf Totius op 18 November 1899 die volgende: "Met my pers potlood sit ek nou op die vlaktes van Potchefstroom en skryf. Het vanoggend om 6-uur vertrek. Om halfnege het ek die perd afgesaal en is op pad na Ventersdorp...”
So ken die mense hom nie. Hy is ’n eensame burger van die Boeremagte wat aansluiting soek by die Potchefstroomkommando, ’n swerwer wat daardie aand met slegs ’n stukkie droë brood in sy saalsak êrens in ’n veekraal moet skuil. Jacob Daniël du Toit, die later beroemde volksdigter, predikant, teologiese professor, volksman, Bybelvertaler, Psalmberymer, taalstryder, was op daardie dag nog ’n jong man van twee en twintig jaar oud. Soos die einde van die 18de eeu toe reeds in sig was, het die wye horison van Totius se toekomsuitsig vereng tot ’n einde. Toe al moet die onherbergsaamheid - waarvan prof. Theunis Cloete baie jare later sou skryf — iets aan hom gedoen het. Hierdie vlaktes van Wes-Transvaal sien ’n mens later voortdurend in sy digwerk. Van die meedoënlose verlatenheid op aarde sou hy nooit weer loskom nie.