Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is twee duidelike groepe mense in hierdie wêreld: dié wat die werk in hierdie wêreld doen, en dan is daar dié wat die krediet daarvoor neem. Dit is egter beter om in die erste groep te val want dáár is baie minder kompetisie.
DIÉ LAND IS ÓNS LAND!
30 MEI 1902 - 30 MEI 2012: ONS VOLK IS STEEDS HIER GEWORTEL
"Dié land is óns land: die geskiedenis sê dit luid. Vir dié wat dit betwis, of betwyfel, is die vraag: As dit nie óns land is nie, wie s'n is dit dan? Wie, behalwe die Afrikaners, het om hierdie land oorloë geveg teen buitelandse uitbuiters? En as beweer word dit is nie ons land nie, het ons dan nooit 'n land gehad nie? En as ons nie 'n land gehad het nie, waarom het ons oorloë geveg teen magte wat die land van ons wou afneem?"
Van 29 Mei af is by Vereeniging finale helderheid begin kry. Verslae van die verskillende ondersoekgroepe was byna almal ontvang en verklaar. Op Vrydag 30 Mei was die einde werklik in sig. Pres. Steyn het die 29e weens swak gesondheid as Vrystaatse president bedank, en CR de Wet is in sy plek as waarnemer aangewys. Die hele dag is daar gepraat –deur JC Smuts, Louis Botha, JBM Hertzog, JH de la Rey, J Naudé, kmdt Chris van Niekerk, genl Chris Muller van Boksburg en nog andere. Almal het die allerhaglikste beeld van die vernietiging oral in die Republieke geskets. Wie aanhou veg sal die Boerevolk uitroei want Brittanje se oogmerk was in ieder geval om die Afrikaner onherroepelik te breek – dit was min of meer die gang van elkeen se betoog.
Hierdie volk, wat die Britse owerheid wou probeer uitwis, staan steeds gewortel in Suid-Afrika se aarde. "Een boom met sulke wortels", het Colenbrander gesê, "word nie gemakkelijk uit de bodem gerukt". Daar is wel goeie Afrikaners wat na ander lande emigreer. Maar so was dit ook ná 1877, met die Dorslandtrek; ná 1902, met die Britse verowering, ná 1948 met die NP-oorwinning, en ná 1960, met Swart onluste, die aanslag op dr Verwoerd se lewe en Republiekwording. Dog, elke uittog het na enkele jare sy terugkomelinge opgelewer. En dit was dié wat vasgeskop het in liefde vir hul vaderland en in geloof en trou aan hulle volk se reg, wat die toekoms geskep het waarheen die uitgewekenes telkens teruggekeer het.
Soos in die Engelse Oorlog daar vier tipes leiers na vore gekom het — enersyds verraaiers, hendsoppers en vredepraters, maar andersyds die Bittereinders, was die terroriste-oorlog van die tagtiger- en negentigerjare 'n herhaling daarvan. Dit het ook verraaiers, hendsoppers en vredespraters opgelewer. Maar daar is ook Bittereinders, wat soos hulle stoere voorgangers simbolies in stormweer en bittere winterkoue, meestal skraal gekleed, "brilliantly led, fought on in a passion of patriotism, dour, desperate, irreconcilable", met naas hulle die vroue in Konsentrasiekampe wat te midde van ontbering en smart hulle mans en broers aangemoedig het om voort te veg. Tye het verander, omstandighede het verander, maar die gees van die Bittereinders het nie gesterf of verander nie.
Die draers van die gees van die Bittereinders sê: Dié land is óns land: die geskiedenis sê dit luid. Vir die wat dit betwis, of betwyfel, is die vraag: As dit nie ons land is nie, wie s'n is dit dan? Wie, behalwe die Afrikaners, het om hierdie land oorloë geveg teen buitelandse uitbuiters? En as beweer word dit is nie ons land nie, het ons dan nooit 'n land gehad nie? En as ons nie 'n land gehad het nie, waarom het ons oorloë geveg teen magte wat die land van ons wou afneem?
Laat dít ook gesê word: 'n volk kry nie 'n vaderland en vryheid deur dit van 'n vyand of magshebbers te vra nie; daarom kan ons dit nou ook nié van die ANC vra nie. Dit is ook die les van die petisies en onderhandelings van die Boere ná die anneksasie van Transvaal in 1877. Dit het op niks uitgeloop nie. Die verlore vryheid en vaderland is herwin toe op Amajuba in 'n ander taal met die Engelse gepraat is. Hierdie geleentheid sal hom weer voordoen in afsienbare tyd; met die genade van Bo soos in die verlede, sal hierdie land weer die land van die Afrikaners wees.
Uit die lang geskiedenis van Britse nyd, naywer en oorlog teen die Afrikaners is daar baie belangrike lesse te leer, en merkwaardige gevolgtrekkings te maak.
Een van die gevolgtrekkings is dat waar die twee "Vryheidsoorloë" deur die Britte teen Transvaal geveg is, en dit die dominerende invloed van Transvaal was wat die 1948-oorwinning vir die Afrikaners by die stembus moontlik gemaak en die totstandbrenging van die Republiek van Suid-Afrika buite die Statebond in 1961 verseker het, is dit vanselfsprekend dat die ou Britse haat teen Transvaal tot uiting sou kom nadat De Klerk oorgegee het aan die Brits-verbonde en Brits-gesteunde ANC-SAKP.
En dit is opmerklik hoe by die totstandbrenging van die "Nuwe" Suid-Afrika die naam van Kaapland se nuwe provinsies behoue gebly het, net soos die van die Vrystaat en Natal. Maar die naam van Transvaal moes van die landkaart verwyder word om die ou Britse wrewel teen die bakermat van Afrikanernasionalisme en Britse verydeling te bevredig. Meer as enigiets anders verraai dit die wit Britse hand in die Swart Kommunistiese handskoen.
Uit die geskiedenis van die lang uitgerekte stryd is verskeie lesse te leer, een van die mees betekenisvolle die groot Britse misrekenings en misvattings in hulle botsings met die Afrikanervolk. Hieruit kan ons put om te weet wat nou vir ons voorlê in ons huidige stryd teen 'n Swart kommunistiese regime wat talle male meer misrekenings en misvattings openbaar. Daarom, hou moed, hou koers, en veral, hou die geloof in ons Skepper.