Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moses sê aan sy volk om kleinvee te slag vir die pasgaviering en die bloed aan hulle deurposte te smeer sodat die engel van die Here verby sal gaan en nie ook hulle eersgeborenes te laat sterf soos hy met die Egiptenare doen nie. Moses maan die volk ook om die pasgaviering geslag na geslag te onderhou as heilige instelling uit dankbaarheid dat hulle gered is en nie deur die dood daar in Egipte getref is nie. Presies so verwag die Here van al sy kinders, geslag na geslag, om uit dankbaarheid dat Hy ons van die ewige dood met sy kruising gered het, nagmaal keer op keer te vier as teken en seël van die nuwe lewe wat ons ontvang het.
WEET U WIE WAS “BOSS”? (1)
Op 11 November 1969, drie jaar na die moord op dr HF Verwoerd, het 'n dapper politikus, dr Albert Hertzog, in 'n koerantonderhoud geen doekies omgedraai oor wat hy van die nuwe intelligensie-instelling, BOSS, dink nie:
"Dit is een van die gevaarlikste stukke wetgewing nog in die wetboek," het hy gesê. "Die gewone publiek word ernstig bedreig met 'n organisasie so stil en so magtig soos BOSS wat in die agtergrond skuilhou." Hy het geen twyfel gelaat in die gemoed van Suid-Afrika nie: Hendrik van den Bergh het effektief beheer verkry oor alle insameling van intelligensie in die land en sy posisie het 'n stempel van wettigheid op alle spioenasiebedrywighede geplaas. Gevra om kommentaar, het Van den Bergh gesê BOSS is met een doel voor oë gestig en dit is om die staat en sy burgers te beskerm. Hy was bereid om enigiets te doen om daardie doel te bereik.
Die ontstaan van BOSS was Van den Bergh se breinkind wat in samewerking met Vorster en PW Botha (en nooit ooit onder dr Verwoerd sou gebeur nie) dié organisasie die lig laat sien het. Hierdie drie name bymekaar behoort reeds ‘n mens se hare te laat rys!
In Augustus 1968 is daar ingestem tot die stigting van dié nuwe gesentraliseerde intelligensieliggaam. Lt.genl Hendrik van den Bergh het absolute beheer oor Suid-Afrika se intelligensienetwerk verkry. In Mei 1969 is die bestaan van die Buro vir Staatsveiligheid amptelik aangekondig. Die media het dit onmiddellik BOSS gedoop, na aanleiding van die Engelse afkorting Bureau of State Security. Op kabinetsvlak was daar gemengde gevoelens oor die feit dat Van den Bergh in beheer was van wat 'n baie magtige instelling kon word. Baie was nie soseer besorg oor sy buitegewone vermoë om op die regte tydstip op die regte plek op te duik nie, maar eerder omdat hy dikwels op die verkeerde tydstip op die regte plek was. Hulle het geweet baie min ontsnap die aandag van dié lang man.
Stadig maar seker het Van den Bergh se plan om sy eie moordspan saam te stel vaste vorm gekry. Dit sou uit die leier genaamd Sharp en twee agente bestaan, naamlose twee oudpolisiemanne en bewese agente. Van den Berg sou opdragte direk aan Sharp gee en die ander twee sou hul opdragte van hul leier kry. 'n Goeie salaris en bonus vir elke suksesvol afgehandelde taak sou die res doen. Van den Bergh het die telefoon nadergetrek.
Van den Bergh en Sharp het nooit oor enigiets anders as 'besigheid' gepraat nie. Die twee mans het net een gemeenskaplike eienskap gehad: hulle was albei totaal harteloos. Sharp was sterk, genadeloos en heeltemal sonder ambisie. Die perfekte professionele moordenaar.
Laat in Desember het Van den Bergh aan Sharp aanwysings na ‘n nuwe woonplek gegee. Die agent het 'n drie-ton trok gehuur en saam met een van die nuwe spanlede suidwaarts gery. Van den Bergh het hulle op die oewer ontmoet waar 'n dowwe kennisgewing met die opskrif "Proklamasie", uitgereik deur die "Offisier in Bevel", die publiek gewaarsku het om van die eilande in die dam af weg te bly. Die nuwe plek was afgesonderd en was net mooi perfek. Die oorplasing van die ander twee BOSS-agente na die nuwe plek het glad verloop.
Brittanje was Van den Bergh se volgende bestemming. Een van sy BOSS-agente het dringend 'n ontmoeting gevra. Keith Wallace was 'n Suid-Afrikaanse joernalis wat by die Daily Mail in Londen gewerk het. Hy het in 'n woonstel in Kensington gebly. Die twee mans het buite in die tuin 'n drankie geniet. Wallace het, soos Van den Bergh, 'n sterk persoonlikheid gehad en die twee het heftig verskil oor 'n deurslaggewende aspek. Nie een was gewillig om van sy standpunt af te sien nie. By sy terugkeer in Pretoria het Van den Bergh Wallace gekontak en hom ingelig dat sy dienste as BOSS-spioen nie meer nodig was nie. Ná 'n woedende Wallace die telefoon neergesmyt het, het Van den Bergh Jordan Winter in Londen gebel. Dae later het die gevreesde oproep gekom.
"Ons het moeilikheid op hande," het Winter gesê. "Ons vriend het kopverloor. Hy praat van alles uitblaker oor BOSS se bedrywighede in Londen. Hy sê as dinge nie gou reggestel word nie, sal hy weet wat om te doen..." het Winter gesê.
"Hou hom kalm, ek maak 'n plan." Skaars het Van den Bergh die gehoorstuk neergesit of hy tel dit weer op.
"Ja!"
"Als reg?" het Van den Bergh gevra.
"Als reg," het Sharp geantwoord.
"Ek het jou en een van die manne nodig om die volgende vliegtuig Londen toe te haal."
"Ek sal die reëlings tref."
"Ek bring jou vanaand op hoogte."
Vier dae later, net ná sonsopkoms in Pretoria, lui die telefoon. Van den Bergh antwoord:
"Ja! Jordan?"
"Het jy die nuus gehoor?" vra 'n bekommerde Jordan Winter. "Wallace is dood. Sy lyk is vanoggend gevind."
"Regtig? Wat het gebeur?"
"Ek is verbaas dat niemand jou gesê het nie."
"Gaan jy my vertel of moet ek raai?"
"Hy het in 'n ventilasieput naby sy woonplek in Kensington geval."
Ofskoon Sharp reeds berig het die transaksie het suksesvol verloop, het hy nie oor die omstandighede uitgewei nie.
"Wel, niemand van ons is van dag tot dag seker van ons lewe nie," het Van den Bergh gesê.
"Wat 'n manier om te gaan!” het Winter gesug. "Dink jy dit was selfmoord?"
"The good, the bad and the ugly... hulle beland almal in 'n wensput."
"Die arme vent."
In Pretoria het die hoof van BOSS 'n glimlag op sy gesig gehad.
"Laat my weet wat die lykskouingsverslag sê," het Van den Bergh gesê. "Ek is seker die bevinding sal wees dat sy dood 'n ongeluk was. Sulke goed gebeur wanneer 'n mens nie versigtig is nie."
Ná 'n stewige ontbyt is Van den Bergh na die motorhuis. Hy tel 'n matjie oor 'n verskuilde kluis op, spesifiseer die kode, en die deur gly oop. Hy haal sy swart dagboek uit en maak nog ‘n inskrywing:
DATUM: Februarie 1970 NAAM: Keith Wallace RAU TEM Ongeluk