Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet heilig wees want God wil dit so hê. Maar ons dink heiligwees is 'n valse vookoms van sedelikheid waarvoor mense ons sal spot. Verkeerd! Heiligwees beteken slegs om uitdrukking te gee aan die lewe van Christus soos ons dit as sy kinders ervaar. As jy vir Hom lief is, sal jy graag hieraan uitdrukking gee.
VORSTER EN VD BERGH SE AANDEEL…
…AAN DIE MOORD OP DR HENDRIK FRENSCH VERWOERD
Sedert die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, is 'n republiek in die vooruitsig gestel. Net 'n jaar tevore het dr Verwoerd as redakteur van Die Transvaler die Britse koningsgesin se besoek aan Suid-Afrika geïgnoreer. Hy was lankal die Britse kroon vyandiggesind. Vroeg in die vyftigerjare het hy Minister van Naturellesake geword en in navolging van wat hy in Duitsland leer ken het, het dr Verwoerd beleidsrigtings ingestel wat hom die titel van apartheidsargitek van Suid-Afrika besorg het. In 1958 het hy Eerste Minister geword en die lang stryd om die republikeinse ideaal te verwesenlik, is op 31 Mei 1961 gewen.
Intussen is die hoof van die Franse spioenasiediens, genl Jacquer, in Mei 1961 deur die Suid-Afrikaanse veiligheidshoof, Hendrik van den Bergh, in Parys besoek. Kommunisme was die twee se onderwerp van bespreking toe hulle tydens 'n aandete oor 'n nuwe doeltreffende ondervragingsmetode gepraat het. Hipnose, het genl Jacquer gesê, kan verbasende resultate lewer. Mense kan geprogrammeer word om 'n verskeidenheid dade, ook moord, te pleeg. Hulle sal dormant bly totdat sekere kodewoorde, gewoonlik in 'n vol sin, hulle aktiveer. Ná hulle taak afgehandel is, kan die mense die gebeurtenis en hul rol daarin glad nie onthou nie. Van den Bergh het opregte belangstelling getoon maar wat die Fransman nie geweet het nie, is dat Van den Bergh reeds dié tegniek met sukses toegepas het.
Gou het die twee lande sterk intelligensiebande gehad. Tydens hul bespreking van verskillende ondervragingstegnieke het die Fransman 'n ope uitnodiging aan sy Suid-Afrikaanse eweknie gerig.
Twee aande later het Van den Bergh vir Theuns Swanepoel, die sogenaamde Rooi Rus, 'n professionele moordenaar, gekontak.
"Pak jou tasse," het Van den Bergh vir Swanepoel gesê, "ons gaan bietjie gespesialiseerde opleiding in Parys kry."
Nog drie agente is met die hand uitgesoek om saam Frankryk toe te gaan. In Parys was die Suid-Afrikaners die gaste van die Franse Legioen. Vir dié geharde huursoldate was marteling en dood net nog 'n dag op kantoor. Vier "onderwerpe" is beskikbaar gestel vir die vierdaagse oefening. Dié is in Noord-Afrika gevange geneem en Frankryk ingesmokkel. Die wreedste maar doeltreffendste manier om inligting uit onwilliges te trek, is gedemonstreer. Hulle gille en pleidooie het op dowe ore geval. Die ondervraers het nie belang gestel in enige antwoorde van die vier nie, net in hul vermoë om pyn te verduur. Op die derde dag is die swart blinddoeke verwyder.
"Dit is tyd om ons vyande in die oë te kyk," het die instrukteur gesê. Dit was een ding om die lewe uit 'n geblinddoekte man te druk, maar dit was heeltemal iets anders wanneer sy oë oop was en gepleit het waar woorde gefaal het.
Die vyf intelligensiemanne uit Suid-Afrika het geen teken van swakheid of simpatie met hul "voorwerpe" durf toon nie. Teen die einde van die opleidingsessie het twee van die gevangenes aan hul wonde gesterf. Die ander het hulle uiteindelike lot reeds verwelkom. Toe die Suid-Afrikaners tuiskom, was daar nie 'n greintjie deernis teenoor hul medemens in hulle oor nie.
In die daaropvolgende maande het die gekombineerde intelligensie-agentskappe onder Van den Bergh se leiding gepresteer. Teen die helfte van 1965 het niemand betwis dat die veiligheidspolisie in samewerking met die geheimsinnige RI alle georganiseerde weerstand in Suid-Afrika vernietig het nie.
Vroeg in Augustus 1966 het dr Verwoerd onder andere aan Vorster verduidelik hoe die land besig was om nader te beweeg aan wat hy in die vooruitsig gestel het, 'n federasie van Suider-Afrikaanse state. Hy was ook opgewonde oor sy voorgenome besoek aan Leabua Jonathan van Basoeloeland.
Toe Vorster opstaan om te vertrek was hy 'n diep besorgde man. Tuis is hy reguit na sy studeerkamer waar hy 'n bottel whiskey uit die drankkabinet gehaal het. Hy het in sy leerstoel neergesak en die glas gelig. Ná 'n paar sopies het Vorster die telefoon nader getrek en 'n nommer geskakel.
"Van den Bergh, kan ons môre ontmoet? Daar is iets wat ons dringend moet bespreek."
Die volgende dag het hulle ontmoet waar Vorster aan Van den Bergh vertel het dat dr Verwoerd die ys met die Basoetoelandse ontmoeting wil breek waarna hy van plan is om 'n tienpunt-aksieplan tydens die parlementsopening te onthul. Die vermoede bestaan ook dat daar "heelwat onthullings" in sy openingstoespraak sou wees.
Die ontmoeting met Leabua Jonathan sou op die derde van Septembermaand plaasvind en die parlement sou die sesde open.
Ná Vorster die inhoud van dr Verwoerd se gesprek aan Van den Bergh oorgedra het en hulle gesprek afgehandel is, was Van den Bergh seker van wat gedoen moes word.
Op 3 September het dr Verwoerd hoofman Leabua Jonathan in Pretoria ontmoet. Die oggendkoerante het die gebeurtenis verwelkom en "historiese samesprekings" was meesal die algemene opskrifte.
Van den Bergh het sy telefoon nader getrek en gevra: "Verloop alles nog volgens plan?"
Kort voor twee die middag van 6 September het parlementslede die Volksraadsaal in Kaapstad begin binnegaan. Hendrik Verwoerd het sy sitplek voor ingeneem en sy vrou, Betsie, het in die openbare galery gaan sit. Minute voor die Eerste Minister sy allerbelangrike toespraak sou hou, het 'n bode na hom gestap. Die man het skielik 'n mes uitgepluk en Verwoerd vier keer in die bors gesteek. In sy sitplek, 'n ent daarvandaan, het John Vorster gehoor hoe asems ingetrek word. Toe volg die geskreeu. Hy het na die voorste rye gekyk en gesien hoe 'n man gegryp word. Verwoerd het vooroor op sy lessenaar geval, sy hemp en baadjie vol bloed. Lede het hom te hulp gesnel, maar daar was min hoop dat die Eerste Minister hierdie aanval sou oorleef. 'n Ambulans het met hom na die Groote Schuur-hospitaal gejaag.
Joernaliste het gesien hoe die aanvaller na 'n polisievangwa gesleep word. Hulle is gekeer toe hulle die man wou afneem, maar sy toestand het hulle verbaas. "Hulle moes met hom in dieselfde ambulans hospitaal toe gejaag het, dit lyk of hulle probeer het om die vent dood te skop," was van die verslaggewers se opmerkings.
By Groote Schuur is die Eerste Minister van Suid-Afrika "dood by aankoms" verklaar. Die tragiese gebeurtenis is wêreldwyd uitgesaai. Op daardie oomblik het Vorster en ander kabinetslede 'n noodvergadering gehou. Daar was 'n geskokte stilte. Iemand het gevra dat hulle die hoof buig en in die gebed is God gevra om sy Hand oor die land te hou in die moeilike tyd wat voorlê. Daar is besluit dat die Minister van Justisie, dr Verwoerd se verantwoordelikhede sal aanvaar tot 'n finale reëling getref is. Vorster is ook tot nadere kennisgewing vanselfsprekend aangewys as die enigste stem van die regering vir mediavrystellings.
Uiteraard het die moord 'n opskudding onder die plaaslike en internasionale media veroorsaak. Daar is erg bespiegel oor 'n duistere sameswering. Van den Bergh was natuurlik die man wat die moordenaar ondervra het en almal het geglo dat as daar nou een man was wat die waarheid uit hom sou kry, dan was dit Van den Bergh.
Die volgende dag het John Vorster die regering se eerste mediavrystelling uitgereik:
"Wat die moord op doktor Hendrik Verwoerd, Eerste Minister van Suid-Afrika betref, kan ek julle verseker dit was die werk van een man. Die moordenaar is geïdentifiseer as Dimitri Tsafendas, 'n buitelander. Daar is absoluut geen teken dat daar enige sameswering was nie. Nadere besonderhede sal bekend gemaak word as en wanneer dit ontvang word."
Dr Verwoerd se aktetas het natuurlik ook spoorloos verdwyn met die dokumentasie vir die voorlegging wat hy in die parlement sou maak. Joernaliste het die storie van die vermiste dokumentetas gou verbind met 'n samesweringsteorie. Koerantlesers is daarop gewys dat net parlementslede en polisiebeamptes ten tye van die moord in die Volksraadsaal was. Die feit dat die dokumentetas steeds weg was, het beteken nog mense was betrokke by die moord. Daar is ook gevra hoe Vorster slegs enkele ure ná die moord met soveel sekerheid kon sê daar was geen sameswering nie. En hoe die moordenaar daarin geslaag het om 'n bode in die parlement te word. Absoluut niks is oor die buitelander bekend nie maar iewers het iemand hom sekerheidsklaring gegee. Daar was net te veel vrae sonder antwoorde of logiese verduideliking.
Op 'n tweede perskonferensie kon Vorster weinig meer bied as 'n opsomming van die gebeure. Hy het verklaar dat brig Hendrik van den Bergh, hoof van die veiligheidspolisie, persoonlik in beheer van die ondersoek was. Dimitri Tsafendas is in Suid-Afrika gebore as die seun van 'n Griekse pa en Mosambiekse ma. Hy het glo in tien lande gewoon, die laaste een was Brittanje. Die moordenaar het glo sewe maande lank as bode gewerk... en was 'n "gewone staatswerknemer wat nooit enige anti-regeringsentimente getoon het nie". Gevra of die veiligheidspolisie van Tsafendas geweet en 'n lêer oor hom gehad het, het Vorster gesê as dit die geval was, sou hy geweet het.
Daardie naweek, op Saterdag 10 September 1966, is dr Verwoerd in Pretoria begrawe.
Op 'n volgende perskonferensie het Vorster aangekondig die kwessie van 'n "motief is ten minste opgelos. Na 'n deeglik ondersoek deur 'n span dokters is Tsafendas kranksinnig verklaar." Die enkele kranksinnige was glo alleen verantwoordelik vir die tragiese moord op Verwoerd. Vorster het gesê dit was jammer dat die moordenaar ongeskik is om verhoor te word.
Verslaggewers het gevra of die Departement van Binnelandse Sake gefouteer het deur 'n permit aan Tsafendas uit te reik. Vorster het geantwoord dat die beste mens om daardie vraag te antwoord, sen Jan de Klerk, die betrokke minister, is. Hy kon natuurlik geen lig werp op die "vreemde verdwyning" van die aktetas nie. In die dae daarna is De Klerk en sy departement erg gekritiseer oor hulle "growwe nalatigheid en blatante onbekwaamheid."
Op Dinsdag 13 September het die Nasionale Party se koukus adv Balthazar Johannes Vorster tot hulle nuwe leier verkies. In sy aanvaardingstoespraak het Vorster gesê hy beskou die veiligheid van die staat en sy mense as hoogste prioriteit. Nie lank daarna nie het regter Beyers opdrag gegee dat Tsafendas onbepaald as "gas van die president" aangehou word.
Met Van den Bergh se hand is Tsafendas egter in plaas van om in 'n psigiatriese inrigting aangehou te word soos dit die gebruik was, na die Sentrale Gevangenes in Pretoria geneem. By sy aankoms is die moordenaar na die dodeselle geneem, wat uit twee lang rye enkelselle bestaan het. Hy is in die gevreesde sel net langs die galg gesit.
In sy kantoor het Van den Bergh 'n koevert gemerk "Vertroulik" , oopgemaak. Volgens die psigiatriese verslag van drie bladsye is die pasiënt aan talle intensiewe toetse onderwerp. Die mediese paneel het tot die gevolgtrekking geraak dat die moordenaar se geestestoestand heeltemal onstabiel en absoluut onomkeerbaar was. Daar was egter geen afskrifte van die talle toetsuitslae in die lêer nie. Enigeen wat die verslag gelees het, sou dit vreemd vind dat Tsafendas geen geskiedenis van geestesongesteldheid gehad het nie. Die finale verslag is goedgekeur en geteken deur die voorsitter van die paneel, dr Vickers Viljoen.
In die Sentrale Gevangenis is dr Verwoerd se moordenaar dag en nag blootgestel aan die ergste intimidasie. Die dodeselle was niks anders nie as hel op aarde met 'n voortdurende gekreun, gehuil en soms die verskriklikste gille van die veroordeeldes. Mettertyd het Tsafendas merkbaar agteruitgegaan.
Een bewaarder het teenoor 'n kollega opgemerk: "As Tsafendas by sy verstand was toe hy hier aangekom het, sou hy hier mal geword het."
Vorster het aanbeveel dat die 'immer betroubare' Van den Bergh bevorder word tot die rang van generaal-majoor. Hy is ook aangestel as die polisie se inspekteur-generaal.
In Van den Bergh se dagboek staan daar onder andere gelys:
6 September 1966 Hendrik Verwoerd RI Sluipmoord