Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy sekerheid het wat God se take vir jou hier op aarde is en jy jou met oorgawe daaraan toewy, kan geen mens met watter kwade bedoelings ookal, jou ontstig en ontwrig nie want dit is nie belangrik nie – die Here sê ons moet rustig voortwerk, Hy is in beheer. Glimlag dan en doen jou dagtaak in die gemoedsvrede wat God jou skenk.
AS SOUT HIER GESTROOI
Hannes Ollewagen
Matt. 5:13-16
“JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.” (:13).
Op 6 April 1654, 370 jaar gelede, lê Jan van Riebeeck ’n gelofte af. Dit is twee jaar nadat hy met sy reisgeselskap in die Kaap aangeland het. En in hierdie gelofte bring Hy die eer aan God toe wat hulle reisgeselskap veilig van Europa na die suidpunt van Afrika gebring het. Van Riebeeck se opdrag van die VOC was om ’n halfwegstasie aan die suidpunt van Afrika te vestig. Min het hy seker geweet dat God se plan hierin anders was. Dit laat mens dink aan die woorde van Jesaja 55:8&9. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” Min het hy seker geweet dat God besluit het om hulle en hul nageslag hier aan die suidpunt van Afrika soos sout op hierdie vasteland te strooi.
Hierdie gelofte wat van Riebeeck afgelê het herinner ons aan die weldade van God. Benewens hierdie kosbare herinnering is dit ook belangrik dat ons daarop let dat van Riebeeck twee jaar na hul aankoms aan die Kaap hierdie behoefte gehad het om hierdie gelofte in dankbaarheid teenoor God af te lê. En hy stel dit in hierdie gelofte baie duidelik dat hulle kon merk dat dit deur God’s hulp en leiding is dat hulle hul veilige aankoms hier aan die suidpunt van Afrika te danke het. En wat meer is, meld hy dat hulle kon sien dat God hulle sake met baie seëninge, goed en na wense laat verloop het. Hierdie vestiging was soos ’n kok wat met ’n bepaalde doel voor oë ’n bepaalde hoeveelheid sout tot ’n spesifieke dis voeg.
Ons weet dat sout ’n baie kosbare kommoditeit is. Dit is om verskeie redes gewild en baie kosbaar, dalk selfs onmisbaar. Die mees algemene gebruik van sout is sekerlik in ons dieët waar dit, indien reg aangewend, een van die mees belangrike bestanddele is om ’n smaaklike ete voor te sit. Wanneer ’n mens sout tot die kos voeg, is die klein hoeveelheid wat in die proses gebruik word altyd opvallend. En tog sal niemand wat al kos sonder sout moes trotseer die fout maak om te dink dat daardie klein hoeveelheid van hierdie bestanddeel sondermeer weggelaat kan word nie. O, nee – die verskil wat selfs hierdie klein hoeveelheid van hierdie bestanddeel maak is net te groot!
Sout word verder ook as ’n baie algemene ontsmettingsmiddel en selfs vir die behandeling van wonde gebruik. Dit word dus nie net aangewend om ’n beter smaak aan dinge in die lewe te gee nie, maar ook om ellende in die lewe te behandel en moontlike groter ellende op ’n later stadium te voorkom. Dit is inderdaad ’n kosbare en indrukwekkende produk. En so verwys Christus ook in Matt. 5 na sy kinders as sout van die aarde – ’n kosbare produk wat Hy hier op aarde gebruik. En so het Hy dan alreeds in die tyd van Jan van Riebeeck besluit om van hierdie sout op die vasteland van Afrika te strooi. Hy sou hierdie mense en hul nasate, draers van die Evangelie, soos sout op die suidpunt van Afrika strooi ook tot heil van hierdie vasteland. En soos met ’n knippie sout in ’n baie groot pot kos het dit ook seker aanvanklik nie gelyk asof so ’n klein groepie mense enigsins ’n noemenswaardige verskil sal kan maak nie. Tog, soos met sout in die hand van ’n bekwame kok, kan ’n mens jou nie indink hoe dit sou wees sonder die toevoeging van hierdie kosbare produk nie.
Ek dink dat ’n terugblik oor die geskiedenis kan getuig van die groot waarde wat die vestiging van hierdie mense en hul nasate tot hierdie vasteland gebring het. Die vestiging van kerke en die uitdra van die evangelie, die oprig van skole en soveel ander dinge wat tot ’n beskaafde samelewing bydra. Natuurlik was niks hiervan sonder menslike swakhede en foute nie. Hierdie mense het ook, soos Dawid, Salomo en soveel ander uit die geskiedenis van Israel, God ook menigmaal teleurgestel en selfs vertoorn. Hierdie mense het ook foute gemaak en gesondig. Dit verander egter niks aan die wonderlikheid van dit waarvoor God hulle en hul nageslag in sy Hand gebruik het nie.
Ons moet egter ook let op die waarskuwing wat Christus in die gelese gedeelte aan ons rig. “...maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.” Die beste kok kan met lawwe sout geen verskil aan die smaak van sy kos maak nie. Hierdie kosbare, bykans onmisbare, kommoditeit word waardeloos wanneer dit laf geword het. En dit is seker vandag nodig dat ons introspeksie doen en vra of ons, nasate van hierdie mense wat deur God aan die suidpunt van Afrika geplant is, nog sout in ons het? Leef ons nog in ’n lewende verhouding met God dat ons ook nog soos sout in hierdie wêreld deur Hom aangewend kan word? Ons moet mooi dink voordat ons te gemaklik hierop antwoord. Die samelewing rondom ons getuig van mense wat so behep is met materiële dinge, so gesteld op gemak en hul vakansies, sport en vermaak dat daar in hul lewens min tyd vir God oorbly. En soos sout nie sonder ’n bekwame kok vanself voedsel kan beter maak nie sal ons as mense nie sonder God in ons lewens goeie na vore bring nie. Sonder Hom in ons lewens sal ons net so min ’n bruikbare instrument in sy Hand wees as lawwe sout in die hand van ’n kok.
Mag hierdie herdenking aan die weldade van God ons harte met dankbaarheid vul, maar mag dit ons ook met dringendheid laat oor ons verantwoordelikheid hier ter plaatse. Die gebeure herinner ons duidelik hieraan dat ons nie toevallig, nie sonder rede, nie vanself hier aan die suidpunt van Afrika beland het nie. Laat ons ons toespits om in ’n gesonde verhouding met Hom te leef dat ons nie waardeloos hier in ons Vaderland raak nie, maar dat Hy ons soos kosbare sout tot beterskap in sy Skepping kan aanwend.