Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons God begin dank vir al die vreugdes wat Hy ons skenk, sal daar nie tyd oor wees om te kla nie. Die mens wat dankbaar oor die verlede is, sal die Here ook vir die hede dank en die toekoms vreesloos tegemoet gaan. As ons dankbaar vir die genade van die verlede is, kan ons uiteraard ook op nuwes reken.
SPORT EN POLITIEK - JOHANNES VAN DER WALT
Gert Kotzé
SPORT EN POLITIEK (1)
"Die taal van sport was Engels, selfs ook in rugby, waar die Afrikaner deur sy deelname in die meerderheid was. Eers met die verkiesing van dr Danie Craven as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad in 1956 in Kaapstad, het die administrasie van die land se nasionale spel geleidelik in die Afrikaanssprekende se hande begin kom."
INLEIDING
Die naam van die spel is politiek. So was dit nog altyd in Suid-Afrika.
Daarom is dit 'n geldige verweer van baie Suid-Afrikaners dat mense en instansies in die buiteland wat sport en sportboikotte as hefboom teen die Republiek inspan, met 'n politieke spel besig is. So was dit van vroegjare af en so is dit nou nog. Sedert die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948 het sport en politiek onafskeidbaar verweefd geraak. Sport moes hom onderwerp aan 'n nuwe staatsbestel waarin die beleid van apartheid deur alle vertakkinge van die Suid-Afrikaanse samelewing getrek is. Ons het politieke voorskrifte vir sport opgestel en ook van die buiteland verwag om daardie voorskrifte na te kom.
Die sport-politiek in Suid-Afrika loop al 'n lang pad. Daar was ten eerste 'n politieke sportstryd tussen Afrikaans- en Engelssprekendes.
Dit het gewentel om die gesagposisies en dit is die eerste keer in die veertigerjare tot die spits gedryf toe daar 'n soort sport-ontwaking onder die Afrikaners na vore gekom het.
Hierdie ontwaking het in die oorlogsjare tot tweespalt, afsondering en bitterheid gelei soos wat Suid-Afrikaanse sport nooit voorheen beleef het nie. Dit was inderdaad 'n stryd tussen die ou politieke verdeling van Nat en Sap. 'n Newe-resultaat daarvan was 'n geding waarin 'n regter van die Hooggeregshof moes beslis of die toenmalige bestuur van die Transvaalse Rugbybond wettig verkose was of nie.
Maar in dieselfde tydperk was daar ook die aanloop tot 'n sportomwenteling wat in latere jare tot ver buite die land se grense sou strek. Met die daarstelling van die NP se beleid van apartheid in 1948 het politieke binnelandse aksiegroepe baie gou gulsige steun in die buiteland verwerf. Uitgewekenes soos vader Trevor Huddleston en eerwaarde Michael Schott, Dennis Brutus en later Peter Hain, het met Londen as aanvanklike basis sport as hefboom begin gebruik om die Suid-Afrikaanse politieke bestel af te takel.
Dit het hulle nie reggekry nie maar, die Huddlestons, die Scotts en die Peter Hains het 'n yslike omwenteling in Suid-Afrika aan die gang gesit. Die omwenteling wat in die jare veertig deur Dennis Brutus begin is, sou ook nie end-uit gestuit kon word nie. Daar het weldra veranderinge gekom, aanpassing en verstellings is dit genoem, maar dit was niks anders as toegewing teen druk van die buiteland nie.
Natuurlik was daar by baie behoudende Suid-Afrikaners 'n absolute verset teen hierdie ontwikkeling. Vir hulle was dit toegewing, oorgawe, druk van buite - verwatering van nasionalistiese beginsels. Sport was 'n onderdeel van die beleid van afsonderlike ontwikkeling en as sodanig kon dit nooit van die politiek losgemaak word nie.
Maar daar was ook geleenthede vir diegene wat hul geroepe gevoel het om die sport- en politieke aspirasies van sy eie mense in sy eie land uit te leef en te bevorder. Met deursettingsvermoë en goeie sportmanskap het daar bekende nasionale sporthelde opgestaan en ook so gesterf, waaronder Johannes van der Walt.
JOHANNES VAN DER WALT
'n Boerseun van Johannesburg het in die stormagtige oorlogsjare van die veertigers 'n sportbewussyn en 'n nuutgevonde nasietrots by die stads-Afrikaner laat opwel wat in emosie en omvang min gelykes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis het.
Hy het deur middel van sy skitterende sportprestasies 'n nasionale held geword. Toe hy sy Afrikanerskap ook op 'n nasionalisties-politieke terrein begin uitleef het hy in 'n regstreekse botsing met die landsowerheid beland. Dit het hom 'n tragiese dood gekos.
Johannes, reus van die stoeikryt, stormjaer en eens 'n ywerige lid van die Ossewag Brandwag – die Afrikaner-weerstandsbeweging wat teen Smuts se besluit was om saam met Brittanje teen Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog te veg – was ook 'n sport-politieke figuur in Suid-Afrika. Die omstrede gebeure rondom sy dood het gelei tot bitter debatte in die geskiedenis van die Volksraad. Daar is aangevoer dat die Smuts-polisie hulle aan lafhartige optrede skuldig gemaak het deur hom in sy rug te skiet onderwyl hy van die agtervolging van die gereg probeer wegkom het (dieselfde gissings en uiteindelike sekerheid oor hoe 'n hele paar dapper nasionaliste waaronder ook genl De la Rey, gesterf het aan die hand van dieselfde mense. Genl De la Rey se geval: Hy en genl CF Beyers ry oppad na Potchefstroom en word in Langlaagte, net wes van die Middestad van Johannesburg, deur Smuts se polisie gedaag. Hulle ry egter voort en die polisie skiet na die motor welwetende presies wie daarin sit – ‘n skoot tref genl. De La Rey noodlottig in sy rug – 'n koelbloedige skoot van agter, net soos in Johannes van der Walt se geval.)
Dr DF Malan, destydse leier van die Opposisie in die Volksraad en latere Eerste Minister, het Van der Walt beskryf as een van die bekendste persone onder alle takke van die Suid-Afrikaanse gemeenskap'; as 'n man wat deur sy sportprestasies aan die hele Suid-Afrika, Afrikaans- en Engelssprekend, behoort het.
Johannes van der Walt is op 9 November 1908, as seun van 'n arm vader in die Johannesburgse voorstad, Westdene, gebore. Hy het op vroeë leeftyd by die vervoerafdeling van die Johannesburgse Stadsraad begin werk, eers as handlanger en later as trembestuurder.
Hy was nie sterk van liggaam nie maar het oor 'n onblusbare wilskrag beskik. Toegewyde en gedissiplineerde oefening het hom weldra een van die kragtigste en skouspelagtigste rofstoeiers van daardie jare gemaak. Nie net in Suid-Afrika nie maar ook in die buiteland, het hy al die puikste teenstanders van sy tyd geklop. Deur die roem wat hy so verwerf het, het hy by uitnemendheid die stads-Afrikaner se sportheld geword. Sy naam was op almal se lippe,.
Met die totstandkoming van die Ossewa Brandwag en die Stormjaerbeweging in die oorlogsjare, het die bruuske jong Afrikaner van die stoeikryt hom geroepe gevoel om die politieke aspirasies van sy eie mense te gaan uitleef en bevorder in 'n organisasie wat hom teen die Smuts-bewind verset het. Sy bedrywighede in genoemde organisasies is fyn deur die Smuts-polisie dopgehou. Hy is op 7 Desember 1941 in hegtenis geneem en het in die tronk beland. Dis toe dat Johannes van der Walt opeens ook 'n politieke held onder die Afrikaners geword het. Omdat hy met sy skitterende vertonings en prestasies as stoeier die verbeelding so oorweldigend aangegryp het, het sy optredes op die politieke terrein eweneens sy Afrikaner-bewonderaars se gevoelens gaande gemaak.
Na sy inhegtenisname was hy die nuusmaker van daardie tyd. Sy aanhouding as politieke oortreder teen die staat se gesag het daartoe bygedra dat die fokus van sy derduisende bewonderaars steeds sterker op hom gevestig is. Hy het 'n soort martelaar geword in 'n politieke bestel wat deur die ware Afrikaner verafsku is. Hier was 'n jong Boere-sportheld wat die simbool geword het van die Afrikaners se uitdaging van die Engelse oorheersing. Van der Walt se optredes was volkome in ooreenstemming met die politieke klimaat van sy tyd. Sy stryd was ook die stryd van die Afrikaner.
Met hulp van intieme vriende het Van der Walt later uit aanhouding ontsnap. Van toe af was hy geruime tyd 'n voortvlugtende op wie die polisie knaend jag gemaak het. Mettertyd het die polisie se net nouer om hom begin span. In die nag van 23 Februarie 1942 is die huis waarin hy geskuil het omsingel. Die polisie het die oggend vroeg toegeslaan. Van der Walt is gevra om homself oor te gee maar het vir oulaas probeer ontsnap. Hy is deur 'n sersant Fourie in die rug geskiet, 'n Afrikaner wat vir vergoeding 'n mede-Afrikaner wat vir hom geen lewensbedreiging inhou nie, van agter skiet. Die koeël het in sy rugmurg vasgesteek en hy is hospitaaltoe geneem. Verskeie operasies is wel uitgevoer maar dit was gou duidelik dat niks meer sy lewe sou kon red nie. Die eens kragtige Boerseun van Westdene met die kenmerkende groot bos baard, was geknak. Sy onderlyf was verlam en sy gesondheid het by die dag verswak. Na dertien maande van groot lyding is hy oorlede. Die kragtige stoeiliggaam van vroeër was teen daardie tyd net 'n bondeltjie bene.
Op 26 Maart, die oggend na sy heengaan het Die Transvaler die nuus van sy dood in 'n hoofberig op die voorblad gehad. Hoe diep hierdie beminde sportman die emosies van sy mede-Afrikaners gaande gemaak het, het geblyk daaruit dat die hele land die nuus van sy dood met skok aangehoor het. Dit het die woede teen die Smuts-regering en sy verraderlike polisie nog sterker aangevuur. Die Transvaler berig onder meer:
"Die Afrikanerdom staan stil by sy graf... daar het van die toneel verdwyn een van die bekendste figure wat in hierdie eeu onder die Afrikanervolk aan die Rand beweeg het."
Johannes van der Walt is op 29 Maart 1943, uit die Gereformeerde Kerk in Melville begrawe. Dit was feitlik 'n nasionale begrafnis. Derduisende mense was teenwoordig onderwyl sy lyk deur 'n span osse op 'n wa na die begraafplaas getrek is. Dit was 'n gebeurtenis wat die Afrikanervolk tot diep in die hart gegryp het. Die sportheld, wat ook 'n politieke figuur geword het, het die verarmde stads-Afrikaners van daardie tyd se emosies tot die uiterste geprikkel. Die omstandighede rondom Van der Walt se dood het tot onstuimige debatte in die Volksraad gelei.
Nadat dr Malan sy saak as leier van die opposisie gestel het, het adv JG Strijdom, ook 'n latere eerste minister, met sy kenmerkende vuur die daad van die polisie as koelbloedige moord bestempel. Hy het aangevoer dat die polisie uitdruklike instruksies gehad het om Van der Walt te skiet.
In die tweede debat was dit die latere minister in die Nasionale Kabinet van 1948, mnr Eric Louw, wat die polisie se optredes gedurende die oggendure van 23 Februarie bevraagteken het. Hy het gesê die jongste getuienis tot sy beskikking dui daarop dat Van der Walt nie sy eie vuurwapen op die polisie gerig het nie; dat hy inderdaad besig was om pad te gee toe hy van agter geskiet is. Dit het vir hom voorgekom of die polisie Van der Walt doelbewus wou vermoor.
Aan regeringskant is die polisie se optrede verdedig (net soos in genl De la Rey se geval waar hulle hulself verontskuldig het met leuens oor sy moord). Die Nasionaliste se bewerings en aantygings is as politieke winsbejag bestempel.
Dit was die besondere omstandhede van sy tyd wat van Johannesvan der Walt terselfdertyd 'n politieke figuur en 'n nasionale sportheld gemaak het. Sy optredes, en die onmin wat sy heengaan veroorsaak het, het gedien as stukrag vir die Afrikaner se strewe om hom op politieke en sportgebied sterker te vestig. Want in beide gevalle was sy agterstand groot.
Die gesagposisies in verreweg die meeste sportsoorte was sedert die totstandkoming van die Unie in 1910 in die hande van die Engelssprekendes, in weerwil daarvan dat Afrikaanssprekendes mettertyd as die beoefenaars van sport die oorhand gehad het. Die taal van sport was Engels, selfs ook in rugby, waar die Afrikaner deur sy deelname in die meerderheid was. Eers met die verkiesing van dr Danie Craven as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad in 1956 in Kaapstad, het die administrasie van die land se nasionale spel geleidelik in die Afrikaanssprekende se hande begin kom. Dit sou eers veel later gebeur dat hierdie posisie bereik is in twee van die land se voorste rubybonde, Transvaal en die Westelike Provinsie. Dit was veelal ook die posisie in die meeste ander sportsoorte.
Toe 'n Afrikaanssprekende dogter van Pretoria, Annette van Zyl, later Du Plooy, in 1963 op 16-jarige ouderdom as tennis-Springbok gekies is, is die bewoording, soos tot in daardie stadium deurgaans die geval was, in Engels op haar sakwapen geborduur. Sy het geweier om dit so te aanvaar en het om 'n Afrikaanse bewoording gevra. Die destydse bestuur van die Suid-Afrikaanse Tennisvereniging het hom nie veel aan mej Van Zyl se beswaar gesteur nie. Dit is afgemaak met die verweer dat die maatskappy wat Springbokbaadjies vervaardig nie Afrikaans op die sakwapen kan aanbring nie. Die nooientjie van Pretoria was egter nie bereid om haar Afrikanerskap vir 'n pot lensiesop te verruil nie. Sy het besluit om haar eie Afrikaanse sakwapen te laat maak. Dat Afrikaans in latere jare die eerste keer deur skeidsregters by belangrike tennistoernooi in Suid-Afrika gebesig is, is grootliks toe te skryf aan die aandrang daarvoor deur Annette du Plooy.
In die jare vyftig het 'n jong Kapenaar van George, Jannie le Roux, die voorloper geword onder die betreklik min Afirkaanssprekendes wat destyds in die Engelse sport, gholf, tot die hoogste vlakke uitgestyg het. Hoewel Le Roux verskeie provinsiale toernooie gewen het, is sy onbetwisbare aanspraak op Springbok-louere blykbaar deur die gholfbase met minagting bejeen. Soos in talle ander sportsoorte die geval was, het Afrikaans en die Afrikaner in daardie jare feilik geen aansien in gholf geniet nie. So vasbeslote was Jannie le Roux om die hoogste louere te verwerf dat hy later na die Transvaal verhuis het waar hy 'n nog groter aanslag op die land se voorste gholftitels sou maak. Eers op 'n tydstip toe dit begin lyk het of die gesogte Springbokkleure nooit vir hom beskore sou wees nie, is hy vir 'n Suid-Afrikaanse span gekies.
Dat Le Roux een van die allerbeste amateurs van sy tyd was sal niemand vandag betwis nie. En dat hy so lank moes wag op die hoogste onderskeiding is bewys daarvan dat die Le Roux's van daardie jare nie 'n maklike pad na die hoogste louere geloop het soos die Walkers, die Smiths en die Taylors nie. ( In wese was die sport-politieke stryd tussen die Engelse en die Afrikaners net soos die een vandag tussen swart en wit in Suid-Afrika...)