Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"'n Man van valse streke saai tweedrag, en 'n kwaadstoker skei vriende van mekaar." Hoe goed ken ons nie hierdie kwaadstokery wat in Spreuke 16:28 beskryf word nie!
BELYDENIS VAN ONS SKULD
Hannes Ollewagen
Hand. 19:1-40
“En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak; en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was. So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.” (:18&19).
’n Misdaad teen die Allerhoogste – teen God – dít is wat sonde is. Dit is geen nietigheid wat maar net in ons lewens ignoreer kan word nie. En allermins is dit iets wat ons moet probeer wegsteek. Daar is immers niks in die heelal wat God se oë nie kan sien nie. Die getuienis hiervan is vir ons duidelik uit Heb. 4:13. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” En in Psalm 69:6 getuig Dawid spesifiek daarvan dat ’n mens se sonde ook nie vir God verborge is nie. “...o God, Ú weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.”
Wanneer ons opnuut bewus gemaak word van die verskriklikheid en verwerplikheid van sonde, besef ons hoe belangrik dit is dat ons ons lewens gereeld vir die besmetting hiervan sal ondersoek. As ons God werklik liefhet sal ons mos nie teen Hom wil sondig nie – nie eers “per ongeluk” nie. En die ondersoek in ons lewens in die lig van sy Woord is juis nodig om daardie skuld waarvan ons menigmaal dalk nie eers bewus was nie te ontdek sodat ons dit uit ons lewens kan verwyder. Ja, die Woord van God ontdek sonde en onreinheid daar waar onsself nie eers van bewus was alvorens dit deur God se Woord aan ons uitgewys is nie. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Heb. 4:12).
Dit is ook belangrik dat ons op die regte wyse daarop sal reageer wanneer die sonde in ons lewens aan ons uitgewys word. Ons dink dalk nie aldag daaraan dat sonde ’n misdaad teen God is nie. Wanneer ons daaraan dink, besef ons hoe verskriklik dit eintlik is. Eweneens dink ons nie aan die verskriklike belediging van ons aan God wanneer ons ons skuld ontken nie. As God ons oor ons skuld aanspreek en ons dit ontken, impliseer ons nie daarmee dat Hy ’n leuenaar is nie? Dit is dalk in die meeste gevalle nie die bedoeling nie, maar dit verander nie die realiteit daarvan nie. Wanneer twee teenoorgestelde standpunte gestel word, is daar tog net een waarheid. En as ons God se standpunt ontken, impliseer dit dat ons dit as onwaarheid beskou. Hoe duidelik is 1 Joh. 1:10 nie in hierdie saak nie! “As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Ons vind dan ook in 1 Joh. 1:8&9 die duidelike voorskrif om met die sonde in ons lewens te handel. Ons moet ten eerste eerlik wees daaroor en dit erken. En daarna moet ons ons skuld en oortreding teen God bely. Derdens moet ons daarvan gereinig word. “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Dit is hoe die gelowiges in Éfese op hul sondes reageer het. Ons lees in Handelinge 19 dat hierdie mense belydenis kom doen het van hul dade. Hulle het hul skuld erken en dit bely. En daarna het hulle dit ook van hul verwyder. Daar word spesifiek melding daarvan gemaak hoedat hierdie mense boeke wat met hul ongeregtigheid verband gehou het gebring en dit verbrand het ten spyte van die groot monetêre waarde daarvan. ’n Gesonde verhouding met God en gehoorsaamheid teenoor Hom het vir hul groter waarde gehad. En hierdie mense in Éfese is nie ’n geïsoleerde geval nie. Ons lees in Matt. 3:6 hoedat baie mense uit die volk Israel deur Johannes die Doper se prediking tot die besef van hul sonde gebring is en hoedat hul hierop reageer het. “En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes.” Ons lees ook in Nehemía 9:2 hoedat Israel hul skuld voor God bely het. “En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders.” Ek kan nie help om hier ook aan die pragtige voorbeeld uit die lewe van koning Dawid te dink nie. Hierdie man, groot en aansienlik, koning van Israel, sondig. Hy pleeg owerspel en moord. Iets wat selfs in ons vervalle en immorele samelewing nog as verskriklik beskou kan word. Daarom sekerlik nie iets wat ’n mens, veral ’n mens met soveel aansien, sal wil erken nie. Maar helaas, Dawid se reaksie op die aanklag lewer ’n luidkeelse getuienis van sy innige respek en liefde vir God. Die aanklag kom – “Dawid, egbreker en moordenaar!”, sê God deur die mond van sy dienskneg. “Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die Here, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg. Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het.” (2 Sam. 12:7-9). En wat is Dawid se reaksie hierop? Hy voeg nie by sy bestaande skuld ook nog dít om God te beledig met ’n ontkenning hiervan en sodoende te impliseer dat God ’n leuenaar is nie. Sy liefde en respek vir God is groter as dit. Hy verheerlik God deur met ’n ootmoedige besef sy skuld te bely! “En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die Here! En Natan sê vir Dawid: So het die Here dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.” (2 Sam. 12:13).
Mag hierdie voorbeelde en vermaninge uit God se Woord ons opnuut tot die besef bring van die verskriklikheid van sonde. En dat – ten spyte daarvan dat dit in die samelewing aanvaarbaar raak – dit ’n verskriklike ding is om teen God te sondig. En mag ons liefde vir Hom só groot wees dat ons ywerig ons lewens sal ondersoek om enige sonde daarin te ontdek. En mag ons ooreenkomstig die wil en voorskrif van God hierdie sonde in ons lewe met eerlikheid en opregtheid voor Hom bely en dit van ons verwyder om in ’n rein verhouding met Hom te staan. Mag daar uit ons mond nie ’n ontkenning van ons skuld voor God gaan nie, maar eerder ’n bede en wekroep tot Hom om ons van ons skuld te reinig! “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.” (Ps. 51:4).