Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die dood is die kleedkamer waar gelowiges vir die ewigheid aantrek; dis nie ʼn punt nie, maar eerder ʼn komma in die verhaal van ons lewe. Dank God daarvoor!
BROKKIES UIT DIE BOEK DARIUS PRINS – STAATSVYAND (3)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Daar was nog altyd sielsiekes onder die mensdom. Mense wat anders dink en ingestel is as die normaal, vir wat “normaal” ook al mag beteken – miskien dat sommige miskien minder sielsiek is as ander.
Moderne sielkundiges en psigiaters, navorsers en medici gee aan hierdie abnormaliteit name, soos psigopate, psigoloë, skisofrene. Skisofrenie kan in ‘n groot mate deur medikasie beheer word, maar dit is nie so maklik met veral psigopate nie. Baie van hierdie wetenskaplikes poog om ‘n geen te identifiseer wat hierdie afwykings in die DNS van mense verskyn. Tog is navorsing hieroor nog nie baie gevorder nie.
Wat wél per abuis ontdek is, is dat in sommige mense ‘n geen teenwoordig is wat behels dat so ‘n mens, as gevolg hiervan, maar ook deur sekere omstandighede wat op hulle afgedwing is, gedrag openbaar wat tot onvoorpelbaarheid in optrede kan lei.
Wanneer ‘n mens te na gekom word, is die reaksie uiteenlopend. ‘n Vrou wat seergemaak word, geestelik en nie noodwendig fisies nie, alhoewel dit soms saamloop, sal onverpoos probeer om daardie persoon, gewoonlik ‘n man, terug te betaal in veel meer as eie munt. Inderdaad sê die Engelse spreekwoord: “Hell hath no fury like that of a woman scorned!”.
Mense sal kwaad word, wat in meeste gevalle ‘n korttermyn emosie is en weldra verbygaan, maar kan ook verbitterd word en selfs haat, al waarsku die Bybel hieroor. Die Chinese sê as jy die pad van wraak neem, moet jy vooraf twee grafte grawe, natuurlik vir jou vyand een, maar ook vir jouself, wat deur wraak verorber word.
Daar is egter iets baie erger as bitterheid of haat. Dis ‘n toestand eerder as ‘n emosie en is in feitlik alle gevalle onbehandelbaar. Dit gebeur wanneer ‘n mens, met genoemde geen, so ver gedryf word, dat hy of sy nie meer iets voel nie. Nie liefde, toegeneentheid nie, nie simpatie, empatie of antipatie nie. In sulke gevalle kan die mens nog sy gevoel rasionaliseer tot ‘n mate.
Maar wanneer hy niks meer voel nie, nie vrees vir wat kan gebeur nie, nie berou of spyt nie, nie bang vir mense of gevolge nie, is hy onbeteuelbaar gevaarlik. Diep in die Boer is hierdie geen teenwoordig en teenwoordige omstandighede haal die skille van hierdie vrug af.
En vanaand moet die vyand rondkyk.
*
“Gaan dit nie uiteindelik maar net oor die grondstowwe nie? Eers was dit bloot die vars kos vir die skepe, wat natuurlik nie noodwendig grondstowwe is nie, maar wel die produk van die plek. Later weet ons mos het die Engelse freneties geraak oor die diamante veral by Kimberley en nog later die goud op die Witwatersrand. Vanaf die jare sestig uraan. Ek weet dat hier, in die sewentigerjare, is ERGO gestig, ‘East Rand Gold and Uranium’ – ek wonder altyd waarom dit nie ‘ERGU’ was nie. Die mynhope is weereens ontgin en daar word vertel dat selfs meer goud daaruit gehaal is as die eerste keer. Maar in werklikheid het die goud slegs vir die produksie betaal en die uraan was die eintlike grondstof wat hulle wou hê.”
“Ja, ek stem saam. En dalk is dit nog steeds die rede waarom ons nie met rus gelaat word nie. Ek besef dat dit nie net gaan oor kernplofkoppe nie, maar oor kernkragstasies en dis ‘n onversadigbare aptyt wat daarvoor geskep word. En tog dink ek ons mis iets.”
“Soos wat?”
“Ek weet nie. Wat het ons wat uniek is, wat net hier in ons ou landjie gevind kan word? Soms dink ek die Here het ons gestraf met die grondstowwe. Dit skep nou wel werk, veral in die tyd van die Groot Depressie was ‘n uitkoms vir baie verarmde mense, selfs boere, maar dink ‘n bietjie mooi. Aan wie behoort die diamante? Aan De Beers. Alhoewel die naam Afrikaans klink en is, kom dit van die De Beer familie wie se kind met die mooi klippie gespeel het en later geïdentifiseer is as ‘n diamant. Die IDB-wet gee die maatskappy die reg tot elke diamant wat opgetel of gedelf word.”
“Waarvoor staan ‘IDB’?”
“’Illegal Diamond Buying’. Dit was veronderstel om die arbeiders te keer om nie diamante onwettig te gaan verkoop nie. Nou, eeue later, geld dit nog. En raai waarheen gaan die geld heen? Die buiteland en veral Engeland. Wie is die eienaars van Anglo? Engelse. Die goud uit ons myne gaan grootliks na die Engelse skatkis toe. Ek weet nie waarom die regering nie lankal ‘n einde daaraan gemaak het nie.”
“So, jy wil vir my sê dat die minerale-geld grootliks buiteland toe gegaan het? Is dit die rede waarom die ou Nasionale Party dit nie stop gesit het nie? Dan wonder ek mos nou hoeveel geld die parlementslede van destyds in hulle sakke gestop het as omkoopgeld?”
“Die ironie is dat die ANC met hulle gulsigheid en BEE-wette die meeste myne gesink het – nie skagte nie, maar die myn self tot niet laat gaan. Daar is net te veel aandele aan makkers en kaders gegee om die myne nie meer winsgewend te maak nie. Dit is waarom die zama-zamas so ryk word. Daar is steeds baie goud, maar hierdie onwettige myners het nie nodig om mense om te koop nie... of het hulle dalk? Terwyl ek nou daaraan dink, hoeveel betaal hulle vir die owerhede om anderkant toe te kyk?”
“Maar daar is iets anders. Daarvan is ek oortuig. Ons mis iets wat nie net goud, diamante en uraan is nie?”
Die groep is lank stil. Elkeen is besig met sy of haar gedagtes. Uiteindelik praat Darius.
“Wat dit ookal is, dit het te doen met die kop van die slang. En as ons daardie kop kan vermorsel, sal die slang uiteraard vrek. Om die gretige kloutjies van wie-ook-al uit ons land te kry, sal ons dit moet soek. En ek praat nie nou van oorsee gaan moeilikheid soek by die Geldmag en George Soros, die Rockefellers en selfs die verteenwoordigers van die spul hier in ons land nie. Wie hulle ook al mag wees. ‘n Lewende wese vrek as jy sy suurstof afsny. En in hierdie geval is die suurstof waarmee die ding asemhaal een of ander waardevolle grondstof waaroor ons beskik. Daarvan is ek seker.”
“Nou waar begin ons?”
“By dit wat ons weet en dit wat ons met beperkte bronne kan uitvind.”
*
“Kom, die voorreg is joune.”
“Kom, wat?”
“Kom net saam.”
Rondom die Jeep staan al die mense wat al daaraan gewerk het. Ieder en elkeen het ‘n breë glimlag om die mond en elkeen staan met een of ander houer waarin daar iets geskink is. Darius kry syne ook en hy proe dis ‘n bietjie rooi druiwesap gemeng met iets alkoholies. Hy hoop nie iets sterk nie. Koos neem dit vir eers uit sy hand.
Die voorkant van die voertuig, dit wil sê die modderskerms, enjinkap, windskerm en sierrooster is nog nie op hulle plek nie, maar die verkoeler staan soos ‘n ou Mack-lorrie s’n waarvan die kap oop is.
Koos hou ‘n sleutel uit vir hom om te vat.
“Die voorreg is joune.”
Darius gaan sit op die sitplek, wat nog nie finaal vasgebout is op die vloer nie. Die sitplek is net die regte hoogte, die stuurwiel se hoogte kan stel en hy stel dit net op die regte plek. Sodra hy die sleutel een klik vorentoe draai, gaan die ligte op die plat paneelbord aan, die toereteller se naaldjie beweeg oor na die anderkant en kom weer terug na sy rusplek.
Daar is ‘n oomblik van afwagting, waar al die asems ingehou word en as hy die sleutel verder draai, hoor hy die aansitter se motor twee draaie gee. Die enjin sluk effens en vat dan met ‘n gebrul. Die toereteller wys dat die enjin teen een duisend vyf honderd rewolusies loop en kom dan terug by sewe honderd, waar dit vasstaan.
“Wat raas die enjin so?”
“Ons moet nog uitlate aansit. Ons wou eers net hoor of hy vat en loop.”
“’Rev’ hom, Oom!”
Darius trap die petrolpedaal effens weg en die toere klim vinnig na oor die vier duisend, voor hy los. Hy doen dit uit gewoonte sommer drie keer, voordat hy laat gaan.
Koos bring sy glas terug, sit dit in sy hand en lig sy eie.
“Op jou nuwe Frontier!”
“Hoor hoor!”
Dis ‘n wonderlike gevoel om ‘n nuwe, of selfs goeie, tweedehandse voertuig te kan koop. Maar dit gee baie meer genoegdoening wanneer jy ‘n kar self bou, selfs as dit met die hulp van die bure is.
Darius sit vir ‘n hele paar minute agter die stuur van die Jeep en ervaar die vreugde van ‘n taak wat hy aangepak het en nou feitlik voltooi is. Hy is skielik angstig om die ding klaar te hê, sodat hy hom kan gaan toets.