Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy verdrukking van die arme, en berowing van reg en geregtigheid sien in die land – verwonder jou nie oor die saak nie, want 'n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle. Maar 'n voordeel vir 'n land onder alles is dit: 'n koning wat aan die landbou diensbaar word – Prediker 5:7,8
BROKKIES UIT DIE BOEK DARIUS PRINS – STAATSVYAND (2)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Het jy ontbyt gehad?”
“Nee, Oom. Ek is te vroeg vanoggend by die gastehuis weg.”
“Nou kom saam met my huis toe, dan gee ek jou ‘n stewige een. Ons plaasmense eet vroeg, maar wat nou middagete is, kan vir jou ontbyt wees.”
“Dankie. Dit sal goed wees.”
“Waarom het julle hom ‘Skoene’ genoem?”
“Dis maar ‘n naam wat ek hom mee leer ken het. Ek het later, nadat ek weg was uit die lokasie, dit gehoor by een van die offisiere wat hom geken het. Hy het saam met Skoene basies gedoen. Blykbaar was daar ‘n fout met sy voete en hy wou nooit sy stewels uittrek waar ander mense by was nie.”
“Ja, oor sy voete. Eintlik kon hy vrywaring gekry het van diensplig. Dis ‘n oorerflike familiekwaal van my oorlede vrou af. Hulle noem dit ‘Friedrich se Ataksie’, maar tas aanvanklik die voete eerste aan. Sommige mense het altyd sommer gepraat van die ‘Roux-voetjies’.”
Die ou eetkamertafel is eenvoudig gedek, maar baie netjies. Dis ‘n lang, ovaaltafel met plek vir tien mense. Alhoewel die hele tafel gedek is, met borde, messe, vurke en drinkglase, is dit net die twee van hulle twee vanoggend.
Anna, wat seker die oom se ouderdom kon wees, of selfs ouer, het krummelpap, skaaptjops en varsgebakte boerbrood met egte botter gemaak. ‘n Tipiese Boere-ontbyt vir diegene wat skaap kan bekostig. Na ontbyt maak hy aanstaltes om te ry, maar die ou man hou hom terug.
“Ek weet sommer jy is nie ‘n ryk man nie. Ek kan dit aanvoel. Hoe het jy die geld gekry om hierheen te ry? Dis ver en petrol is baie duur. Dan nog tolhekke en jy het gepraat van ‘n gastehuis?”
“Ja, Oom. Ek het ‘n klompie jare gelede bedank as dominee, nadat my vrou oorlede is. Ek het baie pensioen verloor, maar onder normale omstandighede is ek gemaklik. Ek het ‘n Mauser en ‘n jagmes verkoop. En nog ‘n paar kleiner goedjies wat ek nie meer nodig het nie. Maar ek het meer as genoeg geld om terug te ry.”
“Waarheen?”
“Soutpansberge toe. Ek het ‘n posseël-grootte erf teen die berg gekoop en ek het ‘n eenvoudige, maar groot genoeg vir een mens, huis daar. En daar is vrede – iets wat nie almal het nie en wat vir my kosbaar is.”
Die ou man sit ‘n paar lang oomblikke, asof hy iets oorweeg. Na ‘n ruk staan hy op.
“Kom, daar is iets wat ek jou wil wys.”
Hy stap vooraan deur die lang gang, met die plankvloere wat kraak onder elke treë. Die ouman maak die deur die verste aan die punt van die gang oop. Dis asof hulle in ‘n era, byna veertig jaar gelede, instap.
Skoene se kamer, nog net soos hy dit gelos het die laaste keer wat hy met pas was. Tog is alles skoon en ruik nie na stof nie. Die vloer en die kaste is nuut geolie en gewaks. Die ouer man loop na die losstaande hangkas toe en haal ‘n lang sak daaruit.
“Ek het dit vir hom laat bou vir sy agtiende verjaarsdag. Dit was my R1, wat die kommando destyds vir my gegee het en nooit terug gevra het nie. Ek het dit laat ombou deur Basil van der Hoon. Kyk.”
Darius vat die geweer. Dis inderdaad iets wat op ‘n R1 of selfs ouer FN FAL gebou is, maar dis ook anders. Dis swaarder en voel baie stewig.
“Dit het my ‘n stoetbul en twee koeie gekos destyds,” sê hy trots. “Basil het die loop vervang met dié van ‘n swaarloop R1, en die hele aksie is geaccurize’. Die teleskoop is ‘n Schmidt&Bender ses tot ses en dertig by ses en vyftig. Die rompdeksel is nie die gewone stuk gedrukte metaal nie, maar is gemill uit ‘n soliede stuk gereedskapstaal, en die teleskoop mountings maak dit swaarder, maar is deel daarvan. Die ding is baie akkuraat.”
“Ek is beïndruk!”
“Dis joune, as jy dit wil hê.”
Hy staan ‘n paar sekondes stil, met die praggeweer in sy hande. Natuurlik wil hy dit hê.
“As jy wil, kan ons hom hier teen die koppie gaan skiet. Net ‘n paar skote.”
Darius knik net met sy kop. Hy besef die opoffering wat die ou man maak.
“Ek het nie ‘n skiettafel nie, maar as jy wil, kan jy op die gras lê. Daar is afstande gemerk, wat Henk, my seun, gebruik het. As ek reg is, was hy amper net so goed as jy met ‘n geweer?”
“Hy was Oom. Miskien beter, maar hy was die spotter, omdat hy beter as enigiemand afstand kon skat. Seker omdat hy hier in die oop vlaktes grootgeword het.”
*
Darius voel amper in ekstase na sy skietsessie op die oom se skietbaan. Die geweer is meer as wat hy verwag het. Die sogenaamde “minute of angle” (MOA) is onder ‘n duim (25,4mm) op een honderd meter. Nadat hy die geweer “gevoel” het, dit wil sê die hoeveelheid skop, die sneller, wat ligter is as die Timney van die Mauser wat hy verkoop het, die gladheid van die aksie en die helderheid van die teleskoop, skiet hy ‘n elf millimeter groepering op een honderd meter en minder as een honderd millimeter op vyf honderd meter, die verste wat hy kan skiet op hierdie baan.
Terug by die opstal maak hy die wapen skoon, sit terug in die leer dra-sak en met die vol pakke 147 grein spesiaal-gelaaide rondtes in 7,62X51 millimeter, afgerond met die groen plastiek puntjies – Nosler Ballistic Tips - soos wat hy lank gelede in die townships gebruik het, maak hy gereed om te ry. Hy het sy uitstapdrag verruil vir gewone denim broek en met kakie langmou hemp met sy 9mmP Browning Hi-Power pistool aangegord, groet hy vir oulaas.
“As jy nie omgee, nie, kan jy nog ‘n rukkie met my gesels? Daar is ‘n paar goedjies wat ek wil weet.”
“Ja, natuurlik.”
Sodra hulle gemaklik is, roep die oom: “Anna, wat van ‘n bietjie koffie?”
“Vertel my nou van die Franse meisie?”
Darius sit lank stil voordat hy praat. Dis asof die afgelope veertig jaar in ‘n bondel saamtrek en verdwyn, voordat hy weer daardie dag in Kwa-Thema lokasie beleef, iewers in die winter van 1985. Hy knik stadig met sy kop.
“Ja, sy was baie mooi.”
“Jy weet dat Henk tot bokant sy ore verlief was op haar?”
“Ja, Oom. Ek het half gehoop sy sou ook op hom verlief wees.”
“Maar sy was nie.” Hy sê dit nie as ‘n vraag nie, maar ‘n as ‘n harde, koue stelling.
“Henk het my sy weergawe van daardie dag vertel. Sal jy my joune kan vertel, of is dit te lank gelede?”
“Ja, veertig jaar. Maar ek onthou elke sekonde, asof dit gister of vanoggend gebeur het.
“Sy het met haar span vroeg-oggend by die polisiestasie opgedaag. So ‘n lang, verwaarloosde kameraman, ek dink sy naam was André, ‘n nuwerige Volkswagen Kombi, met hulle nuusagentskap, Agence France Presse, en as ek reg onthou die agentskap se kenteken, ‘n aardbol, daarop. Sy het na die kolonel toe gegaan en daarop aangedring dat sy begeleiding wil hê wanneer hulle die lokasies ingaan en die wreedhede van die weermag verfilm. Natuurlik het hy toestemming geweier. Sy was nie so lekker met die Engels nie en natuurlik glad nie Afrikaans nie. Ek het so ‘n bietjie Frans en Duits geken en die kolonel het my geroep om te kom vertaal. Dit het maar sukkel-sukkel gegaan, maar uiteindelik het sy verstaan. Tog het hulle besluit om wel die townships in te gaan en hulle ding te doen.
“Net voor sy gery het, het ek my hand per ongeluk raak gesny en sy het dit gesien, ‘n noodhulpsakkie uit die kar gaan haal en dit vir my verbind. Sy sê toe hulle gaan ingaan en het my gevra of ek sal kom help as daar moeilikheid sou wees. Ek het maar ingestem, al sou ek niks kon doen nie. Ou Skoene het my nogal aangemoedig.
“Laat-middag het ons patrollie gery en swart rook gesien, diep in die veld, langs die lokasie. Ek het sommer geweet. Die kombi was aan die brand. Die polisieman wat in ons Buffel was, wou nie dat ons nader gaan nie, maar ek het ‘n hoër rang gehad en die soldate, veral die drywer, het my vertrou. Sodra ons naby genoeg gekom het, het ons gesien die kameraman, ja, ek onthou nou sy naam was André, het al op die grond gelê en die spul manne het die meisie beetgehad. Hulle het haar hemp, of bloes, ek weet nie regtig wat die verskil is nie, oopgeskeur en een van hulle het reeds sy broek losgemaak. Ons het op hulle afgestorm en ek het langs die Buffel afgeklim en op die trappie gestaan, sommer so in die ry. Soos ons aankom is ons met klippe bestook en ek het met my ou weermag-Star op hulle geskiet. Die ding het maar agt rondtes in die magasyn gehad, maar elke keer as dit leeg was, het Skoene die ding by my gevat en herlaai.
Darius bly lank stil, die hele gebeure speel weer in sy gedagtes af en dit ontstel hom.
“As jy nie verder wil vertel nie, is dit goed, ou seun?”
“Nee, Oom. Laat ek klaarmaak. Ek het na die laaste skoot, wat ek sommer van bo af in ‘n kroeskop ingeskiet het, die nege millimeter in die Buffel gegooi. Ons was toe by die meisie. Ek het haar om die lyf gegryp en opgetel, sommer so in die ry. Dit het gevoel asof my skouer uit die potjie gaan skeur. Skoene het my bo-aan my webbing gegryp en vasgehou. Hy het gesê ek kan maar die reling met my linkerhand los, hy sal my nie laat gaan nie.”
“En jy het?”
“Ja, Oom. Maar jy moet verstaan dat haar hemp feitlik afgeskeur was en haar kaal bolyf het teen my gedruk. Dit was een van die intiemste oomblikke, bloot ‘n paar minute, van my lewe.
“By die polisiestasie gekom het ek haar met my bosbaadjie toegemaak en by haar gesit, tot ‘n ambulans haar kom haal het.”
“Was daar moeilikheid?”
“Die polisieman het my gedreig met ‘n krygsraad en tronk, maar ons bevelvoerder, ‘n brigadier, het opgedaag en die polisieman uitgekryt as lafaard. Daar het niks van gekom nie – in elk geval, nie sover ek weet nie. Sy het een van haar silwer oorringetjies vir my gegee en ek het haar een van my dog-tags gegee. Ek het dit nog.”
“Het jy haar weer gesien?”
“Nie toe nie, Oom. My pa het met haar gaan praat in die hospitaal, waar hulle haar opgeneem het. Skoene het vir haar blomme en sjokolade gevat. Hy was regtig baie verlief op haar.”