Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Suid-Afrika steek afvalligheid en sedeloosheid die een grens na die ander oor. ’n Parlementslid het onlangs die spot-opmerking gemaak dat die parlement ’n wet moet maak wat die woord 'nie' uit die Tien Gebooie moet haal en na die geloofsbelydenis verskuif om in pas met die gees van die tyd te kom!
Dit sou op die volgende neerkom:Jy mag vir jou enige gesnede beeld maak…Jy mag steel…Jy mag valse getuienis spreek…” Die 12 Artikels (wat die 'nie' ontvang), sou dan lees:“Ek glo nie in God die Vader….en nie in Christus Jesus….nie in die gemeenskap van die heiliges...” ens. Ja, en dan verwag ons dat dit met ons goed sal gaan in hierdie land!!
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (1)
Die groot Cooper Discoverer-bande van Herrie se Jeep grom-fluit eentonig waar daar nog teerpad is, maar wanneer die slaggate te veel raak, ry hy op die grondoppervlak van die pad se skouer langsaan en hy is dankbaar vir diep groewe en hoë sywande. Van die gate is vol water van die onlangse swaar reën en hy kan nie die diepte bepaal nie, sonder om stil te hou en dit met ‘n stok te toets nie en daarvoor het hy nie tyd nie.
Skeer, Max en die ander het hom laat begaan net anderkant Sannieshof, waar hulle noorde toe, na die Soutpansberge gedraai het. Hulle verwag baie moeilikheid, nie net as gevolg van die ineenstorting van alle stelsels in die land nie, maar ook omdat hulle die hele valse narratief aangaande Mandela, Gibson Makhanda, Chris Hani en Samora Machel ontbloot het en natuurlik is Cornelle Maritz en haar waterstofenjin vir die oliekartelle ‘n steen des aanstoots, wat hulle so gou moontlik moet verbrokkel en uit die pad kry.
3e WÊRELDOORLOG VOORSPEL
Daar was deur baie jare reeds talle sogenaamde sieners in die verlede wat geroem het oor hulle visioene. Maar min van hulle was Christene en maar min van hulle het so in die kol soos Siener van Rensburg en Johanna Brandt voorspel wat met Suid-Afrika baie jare later as hulle eie leeftyd, sou gebeur. Daar is genoeg rede om te glo dit is omdat die Here daardie vooruitskouinge aan hulle gewys het – as kinders van die Here kon hulle daardie beelde nie gefabriseer het nie.
So was daar nog ‘n persoon in die vorige eeu waarvan min mense bewus is maar wie baie interessante voorspellings oor wêreldtoestande in toekomstige tyd gemaak het, veral oor die uitbreek en verloop van die Derde Wêreldoorlog.
Alois Irlmaier was 'n eenvoudige Duitser, amper so eenvoudig wat Siener van Rensburg was. Irlmaier wat in 1959 oorlede is het in sy leeftyd talle visioene gehad. Probleme met die Midde-Ooste is onder andere ingelui met ‘n moord op ‘n vooraanstaande persoon, waarvan Irlmaier gesê het:
WONDERS EN TEKENS
Mag ons dit soek?
Ds A.E. van den Berg
Daar is min onderwerpe waaroor gelowiges en ongelowiges so sterk bots as wonders en wonderwerke. Ongelowiges sê dat dit kunsmatig opgeblaas word en dat mense se aansprake daarop vals is. Daarom wek redenasies hieroor dikwels meer hitte as lig op.
Let gerus op wie die mense is wat na wonders en wonderwerke in hul lewe verlang – gewoonlik mense wat baie onseker oor hulself en hul godsdiens is. Hierdie onsekerheid gee groot skaduwees aan klein dingetjies in hul lewe en maak hulle bekommerd oor die lewe. Kommer is ’n nare ding – dit dreineer nie môre se sorge nie, maar dreineer ons van ons krag vir vandag.
WILLOOS OPPAD NA 3e WÊRELDOORLOG
China se uitvoerende staatshoof, wat by geleentheid namens die grootste nasie op aarde gepraat het, het in die sewentiger jare aan die Amerikaanse president, verteenwoordiger van die magtigste nasie op aarde, gesê dat die mens ongetwyfeld op pad is na die Derde Wêreldoorlog. "Dit staan heeltemal afsydig van die mens se wil." Dit is waarskynlik die verbasendste stelling in die geskiedenis van ateïstiese politiek: wêreldoorlog staan "afsydig van die mens se wil". Dit is presies wat Jesus aan Johannes gesê het: dat die mens uiteindelik so 'n laagtepunt sal bereik dat hy in die hande van bose leiers sal verval wat, verdoof en betower deur Satan, hom reguit met die pad na Armageddon sal laat voortmarsjeer.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (21)
Skeer en Arno het ‘n lang stuk geskryf en dit saam met die foto’s op alle beskikbare elektroniese platforms gelaai: Facebook, Wattsapp, Twitter, Tik-Toc, You-Tube en nog ‘n paar ander. Dis binne ‘n uur byna ‘n halfmiljoen keer gedeel.
Dis asof die tydsberekening perfek was, met die eerste Afrikaners wat op uitnodiging van die Amerikaanse president by Dulles lughawe aankom. Die debatte en argumente oor wie reg is en wie nie, wie is rassiste en wie is die onderdruktes, aan wie se kant is die geskiedenis, word in die tyd gevoer en veral die konserwatiewes, nie net in die VSA nie, maar in Europa, Australië en selfs Nieu-Zeeland, neem nie net kennis nie, maar is oortuig dat die ANC nooit vir vryheid geveg het nie, maar vir mag en geld. En die geld is opgesteel, in die kaders en makkers se sakke. Die begroting wil maar net nie klop nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (20)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Mense, ons het geselskap!”
Basjan het vir ‘n oomblik die twee bote in die effense maanlig gesien aankom, al is die gordyne toegetrek. Hy gryp sy geweer en met drie haastige treë is hy by die voordeur uit.
‘n Verskriklike slag volg en kort daarna nog twee as drie haelpatrone die agterdeur tref; een op elke skarnier en een deur die slot. Dit word gevolg deur ‘n skop wat die deur binnetoe laat val. Dieselfde oomblik gaan die kragopwekker af as ‘n sarsie koeëls dit tref en die huis is oombliklik in donkerte gehul. Daar is vir ‘n oomblik pandemonium, soos die goedopgeleide manne hulle taak vinnig en noukeurig uitvoer.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (19)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Ons sal netnou by Chris Hani en sy moord kom. Dis die tweede belangrike stuk van die hele legkaart, wat alles aanmekaar skakel. Alles wentel om die persona van Nelson Mandela. Nou, luister mooi, daar is vier bewyse waarom dit nie Mandela self kon wees nie. Die eerste is moontlik debateerbaar, maar net tot op ‘n punt.
“Sielkundiges, psigiaters en psigo-analiste sal, wanneer hulle die karaktereienskappe van die Mandela vòòr hy tronk toe is, en die een wat die president geword het, met mekaar vergelyk, kan dit hoegenaamd nie dieselfde man wees nie. Die eerste Nelson was aggressief en kwaad. Ek noem weer dat hy uMkonte weSizwe in die kele van die ANC afgedruk het met die uitsluitlike doel om moord, doodslag, chaos, verminking, paniek en terreur te saai. Hy was doelgerig, intelligent, kwaad, haatdraend en vol wraak teenoor blankes. Die een wat uit die tronk gekom het, was saggeaard, liefdevol, vredeliewend, taktvol en rustig. Mense kan nou beweer dat die tronk hom saggemaak het, maar dis nie so nie. Die gevangenis het onvermydelik die uitwerking om mense hard en ongenaakbaar te maak. En onthou dat Winnie Mandela gesê het die man wat daar ingegaan het, was nie die man wat daar uitgekom het nie. Sy het dit nie eufemisties bedoel nie, of simbolies nie, maar letterlik.”
DIENSBAAR AAN HOM
Hannes Ollewagen
Markus 8:34-38
“EN toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (:34)
Die voorspoedgodsdiens is geen onbekende term in ons samelewing en tyd nie. Dit is iets wat oor die afgelope vier-tot-vyf dekades geweldige oplewing gesien het. En namate hierdie dwaling saam met die siening van humanisme na bo geskiet het, het mense se geloofslewe afwaarts getuimel. Die mens het a.g.v. hierdie wanopvattings die persepsie ontwikkel dat God in die mens se diens moet staan om hom uit nood te red (al is dit deur sy eie sondige en wederstrewige optrede veroorsaak) en gedurig met voorspoed en gemak moet seën. Die mens is hiervolgens “geregtig” op ’n lewe waar alles na sy wil geskik moet word en moet gebeur en waar God op sy aandrang moet handel om sy begeertes te bevredig. Hier is verder geen verantwoordelikheid wat die mens moet nakom nie – nie teenoor God of sy medemens nie. Die woorde van Christus uit Markus 8:34 onderstreep egter vir ons die verkeerdheid van die humanistiese lewensbeskouing sowel as die teologiese wanopvatting van die voorspoedsteologie en natuurlik die denkrigting wat oor die afgelope paar dekades by mense posgevat het.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (18)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Nou, waar was ons?”
Middagete van gerookte snoek en patats is vir die Limpopo-manne en vroue vreemd, maar baie smaaklik. Kleinskeer het weereens die mense rondom hom verbaas, miskien selfs geskok met sy eetlus.
“Ouboet, hoe bly jy so maer en jy eet so baie?”
“Nee, Tannie, dis maar hoe ek is,” sê hy half verleë.
“Jy hoef nie saam met die grootmense te gaan praat as jy eerder iets anders wil doen nie, Seun.”
“Dankie, Tannie. Ja, ek sal eerder gaan kyk na die vissers en die bote, maar net as ek my geweer mag saamvat.”
“Natuurlik mag jy.”
DIE GROOT VERVAL(3/3)
Ds A.E. van den Berg
“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken....” (Mat.7:15,16).
Valse leraars neem wêreldwyd oorhand toe. Jesus waarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken....” In die Bybel is skape die simbool van eenvoud en opregtheid. Daarenteen is wolwe die simbool van sluheid en roofsug. Jesus waarsku dat valse leraars skape vaskeer om hulle daarna soos wolwe op te vreet.
Hierdie godsdienswolwe maak op uitsonderlike geestelike begeestering aanspraak en lei baie mense om die bos. Paulus sê dat hulle vyande van die ware geloof is: “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie” (Hand.20:29). Wie nie waak en bid nie, val hulle gereeld ten prooi.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (17)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Nou, vertel ons wat julle weet, of vermoed, wat julle inligting is en hoe ons kan help om die prentjie te voltooi, as ons kan.”
“Vertel ons eers asseblief waar julle in die prentjie inpas?”
“Soos ek reeds gesê het, ek is Lothar Reilly. My neef was Eugene Reilly. Hy was die ondersoekbeampte, oftewel hy was een van hulle en twee weke nadat hy die toneel vir die eerste maal besoek het, is hy vermoor.”
“En wat het hy gekry, wat sy dood veroorsaak het?”
“Moenie dit vooruitloop nie. Laat ek hoor wat julle het en as ek dink ek kan help, sê ek.”
Ú ONDERHOU MY LOT
Hannes Ollewagen
Ps. 16:1-11
“Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (:5&6).
Dawid herinner ons in hierdie gedig van hom aan ’n baie belangrike werklikheid, naamlik dat God in beheer van ons lot in die lewe is. Hierdie werklikheid word myns insiens deesdae verdof in die verstikkende stof van die humanisme wat die lewenslig van ons tyd besoedel. In die donker van humanisme sukkel mense om ’n toekoms te sien omdat hul visie van die toekoms deur hul eie beperking aan bande gelê word. Eweneens neem mense ’n swaar las van die toekoms op hul skouers wat hulle glo hulle alleen moet dra omdat hulle alleen vir hul eie toekoms verantwoordelik is.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (16)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Vanaf Vioolsdrif tot by Kleinzee is net minder as 200 kilometer en sou onder normale omstandighede so rondom twee ure geneem het, indien hulle by die snelheidsgrens gehou het. Nou is dit egter nie normale omstandighede nie, hulle bly van die bestaande paaie af en ry presies in ‘n suid-westelike rigting, deur die Richtersveld, soos hulle raad gelui het.
Die bekoring van die semi-woestyn – sommige sou dit as werklike woestyn beskryf – dring tot elkeen deur. Hulle hou van die rustigheid, die vrede van die natuur en natuurlik is die begeerte daar om te speel in die sand, veral met die twee ligter voertuie, die veselglas Jeep en die “Jeep” van Herrie. Dit veroorsaak onvermydelik dat die swaarder voertuie, wat nog swaarder gelaai is met die ekstra brandstof, kosvoorraad en water, maklik in die sand sal ingrawe.
TRUMP EN SY GODKOMPLEKS
Trump en sy base in Tel Aviv het een stap nader aan die Derde Wêreldoorlog geneem. Alhoewel Trump 'n wapenstilstand met Teheran onderhandel het, is dit slegs 'n tydelike oplossing, nie 'n einde aan die oorlog wat die VSA en Israel self begin het nie.
Die doel van die wapenstilstand tussen Iran en Israel is om die Sionistiese staat weer te bewapen vir nog 'n groot aanval in die komende weke en maande, en Iran weet dit natuurlik. Die Iraniërs vertrou niks wat van die Trump-regime kom nie. Hoekom sou hulle? Veral nadat Israel Iran aangeval het terwyl Trump beweer het dat hy 'n nuwe ooreenkoms oor Iran se kernprogram soek, al het hy die VSA uit die vorige ooreenkoms, bekend as die Gesamentlike Omvattende Aksieplan (JCPOA), ook bekend as die Iran-kernooreenkoms, onttrek wat in 2015 deur die Obama-regime uitgevoer is.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (15)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Vertel my weer waarom gaan julle Weskus toe?”
Wynand se mense het aan hulle ontbyt verskaf, die voertuie nagegaan en vol brandstof gemaak.
“Ons het al jare gelede begin voorberei vir ‘n dag soos hierdie. Ek het geweet dat Eskom nie volhoubaar bedryf kan word nie en dat die domino’s eendag sal begin val, vanaf Eskom, deur SASSA se nie-uitbetalings, die ekonomie wat heeltemal ineenstort, gevolglik met honger, plundery, desperaatheid, verset, bendes en uiteindelik oorlog. Maar julle is op soek na inligting?”
Arno en Skeer maak beurte om vir Wynand en sy leierskap in te lig oor die feite wat hulle het, maar ook die leemtes.
“’n Vriend van my, Charl Scheepers, het vir ons iets. Of dit die kolletjies aan mekaar gaan verbind of nie, en ‘n duideliker prentjie gaan maak, sal ons eers moet sien as ons daar kom.”
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (14)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Danny is weerloos. Hy probeer regop kom, deur met sy hakskene in die modder te grawe en sodoende agteruit te kan kom en daarna regop. Die deurweekte kleigrond is egter te glad en al probeer hy met sy hande onder reguit arms help, besef hy dadelik dat hy nie betyds gaan regkom nie. Hy besef ook dat hy nie aanstaltes moet maak om sy rewolwers te probeer bykom nie. Soos ‘n man wat sy kar rol en wag dat dit tot stilstand kom om die skade en seerplekke te ervaar en bepaal, wag hy vir sy onsekere, maar definitief onaangename lot.
Een van die swartmans kom nader. Die ou is baie donker van velkleur, met tande wat nie die loop van tyd goed hanteer het nie, met een van die voorstes weg, die ander donker gekleur, soos net die gebruik van ‘n oormaat tabak en min borsel kan doen. Hy het ‘n lang litteken wat vanaf die onderkant van sy linker oog se hoek afloop tot by sy mondhoek. Was hy in ‘n rolprent, soos in “Trader Horn”, sou Danny kon sweer dis ‘n mensvreter.
DIE GROOT VERVAL (2/3)
Ds A.E. van den Berg
“Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope” (Esegiël.13:4).
Een van die duidelikste tekens waaraan die naderende wederkoms van Jesus gekenmerk word, is 'n wêreldwye godsdiensverval. En dis die gevolg van ontspoorde kerke en valse leraars. Valse leraars was van meet af aan 'n probleem in kerke. Die profeet Esegiël noem hulle prontuit jakkalse.
In hoofstuk 13 wys hy op hul kenmerke. Hierdie jakkalse het nie God se Woord gepreek nie, maar hul eie dwaling op God oorprojekteer. God se naam is slegs gebruik om skyngesag daaraan te verleen. Esegiël vergelyk hulle met jakkalse wat op die stedelike buitewyke na maklike kos gesoek het.
In vers 6 noem Esegiël die hoofrede vir die godsdiensverval van sy tyd – leraars wat nie vir die waarheid opgestaan het nie. As 'n stadsmuur destyds op 'n plek gebreek het, het die inwoners die bres sorgvuldig bewaak totdat dit herstel is. Die valse leraars het nie die bres in die godsdiensmuur bewaak nie en groter laat word.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (13)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Ons kan ‘n dag of wat hier bly, naby die baken, as jy wil. Dis gevaarlik, want ‘n mens is veiliger as jy aan die beweeg bly, maar ek kan ook doen met ‘n bietjie rus vir ‘n tydjie.”
Cornelle kyk verbaas na Max. Sy het nie gedink hy kan ooit moeg word nie. Tog is hy ook maar net mens en mense is feilbaar, psigies, sowel as fisies. Nie dat hy enige simptome getoon het van geestelike uitputting nie, nie woede teenoor haar, irritasie, frustrasie of iets dergliks nie.
Hulle het die afgelope tyd in nie-konsentriese sirkels geloop om naby die baken te bly, maar nie op een plek nie. Soms sou hulle in ‘n soort ovaal noord en suid loop, ander kere meer wes, maar nooit op hulle eie spore nie.
“Ek sal baie bly wees. Ek is regtig baie moeg en my voete is seer.”
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (12)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Wat is dit?”
Langs ‘n grondpad, lanklaas geskraap en duidelik die afgelope tyd in onbruik, maak Max ‘n tydelike kamp, tussen ‘n paar doringbome, lae struike en ‘n paar nabome aan die Noordekant. Die wolke het weer saamgepak en is donker en dreigend.
“Dit is ‘n elektroniese baken. Dis vir ‘n absolute noodgeval, maar dit lyk my ons het nou een. ‘n Noodgeval, bedoel ek.”
“Wat doen dit?”
“Dit gaan ons presiese ligging aan my mense deurgee. Die probleem is dat dit dalk ook deur ander mense opgspoor kan word, maar ons gaan nou in elk geval dit nodig hê.”
BESKAWING GAAN TOT NIET
‘n Beskawing kom nie tot stand deur ‘n blote strewe na eendersheid nie. Dit kom tot stand deur gedeelde waardes, gedeelde agtergrond, gedeelde toekomsverwagting en deur vorm en struktuur. Dit vereis grense, geheue, orde en rang. Dit vereis die vermoë om te onderskei tussen hoër en laer, vriend en vreemdeling, heilig en godslasterlik.
Richard Weaver skryf in sy boek ‘Ideas have Consequences’ dat hy bevooroordeeld (“prejudiced”) is want dit is ‘n natuurlike uiting van die mens – hy onderskei, hy kies, hy gee voorkeur aan sekere dinge bo ander. Weaver sê hy sou skaam gevoel het as hy nie bevooroordeeld was nie.
Die antieke wêreld het onderskeid verstaan. Gedurende die Middeleeuse is dit bewaar. Selfs die vroeë moderne wêreld, voor dit die bande van tradisie die rug begin keer het, het steeds die idee behou dat orde die natuur moet weerspieël.
Wat ons nou in die gesig staar – in hierdie land en ook in baie ander - is nie bloot 'n afwyking van die verlede nie. Dit is 'n bewuste omkering van die beginsel van die beskawing. ‘n Verwerping van juis dit wat orde daargestel het.
Ja, maak jou gretig los van jou eie en staan dan verbaas dat die vreemde wat jy wil omhels jou nie met ope arms ontvang nie!