Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons hoef nie die hele wêreld op ons skouers te dra nie. Jesus sê sy juk is sag en sy las is lig: Jesus se 'juk' is die redding van die mensdom; sy 'las' is om mense te oortuig van sy Liefde en Genade, en Hy nooi ons uit om dit saam met Hom te dra; los jou eie sware las en neem Jesus se uitnoding aan.
SO HET ANC BLANKES GETEIKEN...
...En hulle doen dit steeds, net op ander wyses as destyds toe hulle as terroriste-organisasie verban was.
DIE KERKSTRAATBOM 20 MEI 1983
Hier volg die ervaring van 'n afgetrede kolonel wat presies onthou wat op Vrydag, 20 Mei 1983, gister 42 jaar gelede, gebeur het toe ‘n terroristebende met Mandela as leier besluit het hy wil soveel as moontlik Blankes in nog ‘n terreuraanval na hulle dood stuur - ja, dieselfde Mandela wat deur die geldmagte en media as 'n engel uit die hemel voorgehou is; hy was 'n terroristeleier en moordenaar - lees gerus elders op Gelofteland meer oor die ANC se dade en verbanning.
DIE KOLONEL SE VERKLARING:
Ek werk op daardie stadium in die Finansies-afdeling van Lugmaghoofkwartier, in die Nedbankgebou, op die hoek van Kerk- en Schubartstrate in Pretoria. Dis die jare voor oopplan-geboue; daar is ‘n ry kantore aan die straat se kant, ‘n breë gang, en nog ‘n ry kantore aan die agterkant van die gebou. Lugmag Finansies beset op daardie stadium sowat die helfte van die kantore op die 7de vloer. My kantoor is aan die agterkant van die gebou, en my goeie vriend, Buks Schnepel, is in die kantoor oorkant my (aan die straat se kant, dus).
±16h20 – Zirk Jansen kom vra my of hy ‘n paar minute vroeg kan loop, hy wil weggaan vir die naweek. Ek sê “ja”.
±16h24 – Buks kom uit sy kantoor, trek die deur toe en sluit dit.
±16h25 – Buks het nie meer as ‘n enkele tree in die gang af gegee nie, toe kom sy kantoordeur, deur die kosyn, oor die gang, by my kantoor ingevlieg, en kom tot rus teen die verste muur. Bykans onmiddellik daarna is daar ‘n geweldige slag, onmiskenbaar dié van ‘n ontploffing.
Stilte...
Na ‘n sekonde of wat skree iemand onder in die gang “die gebou gaan inmekaar val!”
Nog steeds geen paniek nie. Ek gryp wat ek kan en loop uit in die gang. Die tiksterspoel is ‘n entjie in die gang af, en die dames strompel bebloed daar uit. Die voorkant van die gebou was meestal van glas, en die skerwe het hulle erg gesny.
Ons word opdrag gegee om nie die hysbakke te gebruik nie, maar met die trappe af te stap, en so ver moontlik van die gebou af weg te beweeg, aangesien die moontlikheid bestaan dat daar ‘n tweede bom kan wees. Ek stap saam met een van die bebloede tiksters by die trappe af. Op die grondvloer, in die voorportaal by die ingang, lê ‘n jong man in uniform met ‘n enorme stuk glas deur sy been. Ons mag nie help nie, paramedici is op pad, ons moet so ver moontlik wegkom.
Reg voor die ingang is daar ‘n groot gat in die teerpad, en van die Golden Egg restaurant / kafee wat direk langs die ingang is, is daar niks oor nie, net die pilare het bly staan. Orals in die straat en op die sypaadjies lê daar mense en wrakstukke en glas, en ander dinge wat ek liewers nie sal noem nie.
Die nadraai....
Zirk het oorleef, hoewel hy erg verbrand het en maande in 1 Militêre Hospitaal moes deurbring sodat sy vel kon teruggroei. Hy was in die voorportaal, of net op die sypaadjie voor die gebou, toe die bom ontplof het, en kon nie meer as 20 meter of so van die ontploffing af gewees het nie.
Die ou omie en tannie wat die Golden Egg bedryf het, het ook oorleef, hoewel hulle erg seer gekry het. Hulle kon ook nie meer as 15 of 20 meter van die ontploffing af gewees het nie. Hulle het heelwat later die plekkie heropen as Scrambles.
Buiten Lugmaghoofkwartier in die Nedbankgebou, was Hoofbetaalmeester en Korrektiewe Dienste in die Poyntonsgebou oorkant die straat. Werksure was 07h45 tot 16h30, derhalwe was die beplanning dat die bom sou afgaan net na 16h30 wanneer die straat gepak sou wees van mense wat huistoe gaan. Die bom het vroeg afgegaan, derhalwe het die 2 lede van MK ook nie tyd gehad om weg te kom nie. In totaal is 19 mense in die ontploffing dood, insluitend die 2 lede van MK, die militêre vleuel van die ANC, wat die bom geplant het.
Die feit dat net 19 mense dood is, is niks minder as ‘n wonderwerk nie. Dit gaan dus my verstand te bowe dat daar steeds mense is wat nie in God glo nie – HY alleen het daardie beplande slagting verhoed!
EINDE VAN KOLONEL SE ERVARING.
Hier volg ‘n ander persoon se getuienis oor hoe groot God se genade daardie dag was:
Ek was op daardie tydstip 28 jaar oud, ma van twee jong kinders en op daardie dag in die Poyntonsgebou vir ‘n breimasjienles. Onder in die gebou was ‘n parkade waar ek parkeer het. Ek kan nie meer presies onthou watter vloer nie maar dink ek is met die hysbak op na die elfde vloer vir die breiles. Na afloop daarvan is ek reguit terug na die parkade en was net voor die groot verkeer die middag sou begin, haastig om uit die stad te kom oppad terug na my huis in Brits.
My motorradio was aangeskakel en ek was al so halfpad oppad huistoe, toe ‘n aankondiging oor die radio kom dat ‘n bom in Kerkstraat voor die Poyntonsgebou ontplof het. Op daardie oomblik het ek weer eens besef hoe goed my Skepper vir my is. Ek het meermale ondervindings gehad waar niemand anders as HY nie, my direk uit gevaarsituasies gehaal het. Daarom dank ek Hom met my hele hart dat Hy sulke dinge toelaat – watter beter bewyse kan ‘n mens van sy bestaan hê!
EINDE VAN HIERDIE GETUIENIS.
Indien daar lesers is wat hierdie dag ook onthou, stuur asb ‘n epos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. U briefie sal met graagte geplaas word – RED.