Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons leer in die Woord dat die tong baie maal onheil beraam, soos 'n geslypte skeermes, 'n werker van bedrog, woorde wat mens verslind deur 'n bedrieglike tong, sê Dawid (Ps 52). As ons elke woord wat ons elke dag spreek eers goed deurdink het met die gevolge daarvan, sou ons dalk heeltemal ander woorde gekies het...
VERANT- WOORDELIK- HEID VAN OWERHEID TEEN GEWELDENAARS
Ds Willem van Schalkwyk
Vanweë die sonde van die mens het God owerhede oor ons aangestel om sorg te dra dat die samelewing nie in totale chaos verval nie. God is immers 'n God van orde en vrede (1 Kor 14:33) en daarom het Hy owerhede met sy mag beklee om orde en vrede in die samelewing te handhaaf. Hy het nie sy mag aan hulle oorgedra nie, maar hulle in 'n ampsposisie geplaas om sy bevel uit te voer. Staatsgesag is dus slegs afgeleide gesag (Heyns, Teologiese Etiek 2/2:127/8)
Om regeermag van God te ontvang, bring 'n ontsaglike verantwoordelikheid mee. Wie God se gesag hier op aarde wil bedien, moet dit doen soos God dit sou doen. Dit lê op elke owerheid die verpligting om dié EEN te erken van Wie hy sy regeermag ontvang het én die wil en die wette toe te pas van Hom Wie hulle aangestel het.
Juis daarom moet elke owerheid homself meet aan wat die Woord van God van hom verwag. Rom 13: 1-7 en 1 Petr 2: 13-14 is die klassieke gedeeltes wat rigtinggewend moet inwerk op elke owerheid. Wat baie duidelik in hierdie tekste navore kom, is dat die owerheid die swaardmag van God ontvang het om wet en orde te handhaar, om kwaaddoeners te straf en om die burgers van die land te beskerm. Nou moet hulle wette maak, howe instel, tronke oprig, reg en geregtigheid handhaaf, die doodstraf voltrek en selfs oorlog voer (vgl Gén 9:6). In hierdie opsig het die owerheid dus die verantwoordelikheid om 'n vorm van geweld te gebruik om toe te sien dat wet en orde gehandhaaf en kwaaddoeners gestraf word.
Dit is duidelik: Omdat die owerheid deur God aangestel is, het hulle die plig om God se wette toe te pas. Calvyn sê in sy Institusie van die Christelike Godsdiens, die eerste plig van die owerheid is om die Christelike godsdiens te beskerm en tweedens moet hulle toesien dat reg en geregtigheid geskied. Met hierdie beginsel in gedagte, sê Calvyn, moet die owerheid tot ons voordeel regeer; moet hulle ons teen die goddeloosheid en onreg van misdadigers beskerm sodat ons rustig en veilig kan lewe (1 Tim 2:2); moet hulle rowers en diegene wat 'n landstreek deur rooftogte plunder en teister, behoorlik straf; moet hulle besef dat die mag nie aan hullegegee is vir hulle eie voordeel nie maar tot die beswil en diens van hulle onderdane.
Romeine 13 leer ons dat ons ons aan die owerheid moet onderwerp en, indien ons dit nie doen nie, verset ons ons teen God. Calvyn se baie duidelik selfs dat as jy dink dat ons slegs aan 'n regverdige owerheid se bevele gehoorsaam moet wees, dit dwaasheid is : ook die goddelose owerheid is deur God aangestel maar vir 'n besondere doel. Daarom "as ons wreed deur 'n wrede vors geteister word; as ons roofsugtig deur 'n gierige en uitspattige vors beroof word; as ons deur 'n luiaard verwaarloos word; as on laastens deur 'n goddelose en heiligskennende vors vanweë ons godsvrug geteister word, moet ons eerstens eers oor ons eie oortredings nadink omdat dit ongetwyfels met sulke gésels deur die HERE getugtig word." Soos God met Israel gedoen het, doen Hy ook nou met ons volk hier in Suid-Afrika.
Doen gerus selfondersoek en sien die gésels raak waarmee Hy ons tugtig. Herstel dan wat in die volkslewe verkeerd is. Dán eers het 'n volk die reg tot verset teen 'n gewelddadige owerheid.