Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy iemand liefhet, sê dit tog vir hom of haar! Of dit jou man, kinders, ouers of wie ook al is. Want die persoon wat 'n mens die liefste het, is dikwels die een wat dit nie minste hoor. En liefde maak gesond – vir diegene wat dit uitdeel sowel as vir dié wat dit ontvang. Dit is soos God se vinger op die mens se skouer.
BID EN WERK ERNSTIGER AS OOIT!
In Romeine 13 lees ons dat elke mens hom moet onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is omdat daardie magte deur God ingestel is. Daarby word gestel dat verset teen die owerheid onder die oordeel van God sal staan.
In hierdie tyd waarin ons leef is dit opnuut ‘n aktuele vraag tot welke mate hierdie Godsveragtende regime gehoorsaam moet word.
Die owerheid se taak is om losbandigheid hok te slaan sodat alles ordelik kan verloop. Die owerheid moet dus orde handhaaf, boosdoeners straf, deugsames en die heilige Woordbediening beskerm.
So lees ons ook in 1 Tim 2:2 dat dankseggings en gebede gedoen moet word:
“...vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid”.
Die owerheid moet dus alle afgodery en vals godsdienste teëgaan en uitroei, die ryk van die antichris vernietig en die koninkryk van Jesus Christus bevorder deur steun te verleen dat die evangelie orals verkondig word.
Die onderdaan moet hom onderwerp, belasting betaal en gehoorsaam wees aan elke bevel wat nie in stryd met die Woord is nie.
Uit voormelde is dit reeds duidelik dat die wanorde, misdaad en algemene losbandigheid in hierdie land afmetings aangeneem het wat die afleiding regverdig dat hierdie owerheid nie sy pligte nakom nie. Daar is geen sprake daarvan dat hierdie owerheid afgodery en vals godsdienste wil uitroei nie, inteendeel, hy moedig dit aan en is deel van die korrupsie en onordelikheid.
Van ‘n rustige en stil lewe is daar geen sprake in ons land. Boonop word blatant teen die Afrikaner gediskrimineer sodat hy nie eens die voordeel van sy belastings sien nie en belasting op belasting moet betaal.
Ook Jesus was by geleentheid deur die Fariseërs gekonfronteer met die vraag of dit geoorloof is om aan die Romeinse keiser belasting te betaal. Sy antwoord was bevestigend alhoewel die eer steeds God toekom. Betaal aan die owerheid wat hom toekom, maar aan God is ons groter gehoorsaamheid verskuldig. Die vraag is: wat ‘kom die owerheid toe’ wanneer hy die skurk in die verhaal is?
Toe die Joodse owerheid in Rome vir Petrus en Johannes gelas het om nie in Jesus se naam te spreek of te leer nie was hulle antwoord dat dit onmoontlik sal wees. Die les vir ons daaruit in hierdie tye is om helder en duideliker te getuig téén die vergrype van hierdie owerheid en nie om stil te bly nie. So lees ons in Hand 5: 29
“Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”.
Absolute onderwerping aan die gesag van God beteken nie ‘n klakkelose napraat van die oënskynlike opdrag van Romeine 13 nie. Allermins. Feit is dat hierdie owerheid sy opdrag gruwelik versuim en meedoen aan die onordelikheid!
In Efesiërs 6 lees ons dat ons worstelstryd (‘n stryd op lewe en dood) teen ‘n leërskare van hooggeplaaste geestelike wesens is wat met krag en gesag beklee is, wat in die duisternis van die sonde versink het. Aan die een kant dus het ons die opdrag om die owerheid gehoorsaam te wees en aan die ander kant is ons in ‘n doodstryd met dieselfde owerheid gewikkel! Belaglik!
Word boonop na die owerheid in hierdie land gekyk sien ons hoe hulle:
- God onteer en misken
- alles inspan om die Afrikanervolk te verneder en te ontmagtig
- kennelik toelaat dat wetteloosheid hand oor hand toeneem.
Dis moeilik om só ‘n owerheid te gehoorsaam. Die owerheid tas ons wreed en ru aan in ons geloofsgevoel, Christentradisies, kerklike opset en veral aan ons persoon. Ons het ‘n heidense owerheid.
Die dag kom vinnig nader dat hierdie land in absolute chaos sal verval wanneer daar “bloed in die strate” sal wees. Vir daardie dag moet ons voorberei want dit sal ons Christelike plig wees om dan self ‘n owerheid oor ons aan te stel wat ons as volk sal moet uitlei en rigting gee.
Intussen het ons baie om te verduur en nog meer om voor te bid en te werk!