Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
By ons Drie-enige God is alles moontlik, daarom is niks hopeloos nie. Om 'n situasie as hopeloos te bestempel en moed op te gee omdat dit lyk of dit nie kan verander nie, is 'n klap in God se gesig want Hy bly in beheer en kan enige iets verander al lyk dit hoe onmoontlik vir ons.
NOG DUISTERNIS OPPAD
Sedert ons vorige uitgawe het daar geen noemenswaardige lig aan die energietonnel verskyn nie. Die land is steeds in die knelling van fase 4 van verduistering, wat nou sagkens “beurtkrag” genoem word. Af en toe is daar ‘n verligting in fases, maar telkens word daar teruggeval na ‘n hoër fase.
Dit gaan nie gou verander nie. As daar ‘n windjie waai in Mosselbaai, kan olietenkskepe nie vasmeer om noodsaaklike diesel vir Eskom af te laai waarmee hy sy noodkragopwekkers moet laat hardloop nie. Feitlik daagliks breek daar iets by een van die opwekkingseenhede, en word die oudheid van die kragstasies die skuld gegee. As daar egter gereelde en deeglike instandhouding gedoen was sedert die ANC-bende en sy kaders die land oorgeneem het, sou minder gebreek het.
Die bestuurshoof van Eskom, André se Ruyter, het by die “Africa Renewables Investment Summit” in Kaapstad ‘n toespraak gelewer waarin hy gewaarsku het dat die land by fase 15 beurtkrag kan uitkom, en dat dit honderdduisend werksgeleenthede sal laat verlore gaan.
Toe die land fase 6-duisternis gehad het, was daar dele van die land waar daar vir twaalf uit die 24 uur duisternis was. Hoe gaan dit lyk op fase 15? De Ruyter sê self hy weet nie hoe dit gaan lyk nie, maar ‘n gewone sommetjie bereken dat ons dan nie praat van ure beurtkrag nie, maar dae of weke.
So ‘n situasie sal die land in groter anargie dompel as wat tans reeds heers. Sonder elektrisiteit kan watervoorrade vir die stede nie aangevul word nie. Daar is reeds plekke waar daar geen water is as daar beurtkrag heers nie, want die reservoirs kan nie betyds vol gepomp word voor die krag weer afgaan nie. Banke se dienste sal tot stilstand kom, winkels sal moet sluit, want winkelsentrums sal nie so lank hulle kragopwekkers kan laat hardloop nie, want brandstofpryse daal nie noemenswaardig nie. Trouens, diesel styg verder aan die begin van Oktober. Dit sal lei tot woedende massas wat sal breek en stroop, en wat verlede jaar se onluste in Natal na ‘n Sondagskoolpiekniek sal laat lyk.
Intussen het, soos ons in die vorige uitgawe voorspel het, Cyril Ramaphosa net mooi niks gedoen om die probleem op te los nie. Hy het sy onbekwame en stiksienige minister nie ontslaan nie. Wel het Pravin Gordhan aangekondig dat die Eskom raad hersaamgestel gaan word – iets wat ook geen invloed gaan hê nie.
De Ruyter het in die Kaap, sonder om name te noem, die skuld vir die probleem voor die deur van die politici gelê. Toe hy waarsku oor fase 15, sê hy dit kan gebeur as daar nie vinnig in hernubare energie belê word nie, en as die lugkwaliteit regulasies nie verslap word nie, wat sou beteken dat die steenkool kragsentrales meer sou kon opwek. Hierdie is natuurlik ‘n saak met twee kante, want dit sou weer beteken dat meer steenkool benodig word, en mynbedrywighede sal verhoog, en dit gebeur ten koste van landbou. Boere in Oos-Transvaal sukkel reeds onder die fisiese mynboubesoedeling en lugbesoedeling. Riviere en spruite se water is besoedel met swaar metale en selfs boorgate is nie meer noodwendig skoon nie. Die lug is so besoedel, dat die son nie behoorlik kan deurkom sekere tye, wat beteken korter dae met minder groei vir gewasse, en dit is ‘n ernstige bedreiging vir voedselsekerheid.
Maar dalk is dit vir die kort termyn nodig net om weer die kragkrisis te verlig.
Die ander duisternis is die ANC-bewind se verknogtheid aan die uitgediende Sowjet-ideologie. Die nuwe onteieningswet is in die parlement aanvaar, en gaan nou na die Nasionale Raad van Provinsies, wat dit natuurlik ook sal goedkeur, en as Ramaphosa dit dan onderteken, kan enige eiendom deur die staat gevat word teen ‘n sogenaamde “nul-koers”. Dus hulle kan dit wettig steel, want diefstal word nou gewettig.
Net soos daar weer ‘n oplewing in plaasmoorde is nadat ‘n hof bepaal het dat “Kill the Boer” nie haatspraak is nie, kan verwag word dat diefstal van alle aard, en veral grondbesettings, gaan toeneem.
Verdere duisternis is Julius Malema wat met alles wegkom. Hy het ‘n blanke polisie-offisier aangerand tydens Winnie Mandela se begrafnis, maar die hof het besluit “dit was nie opsetlik nie”. Dit is ‘n leemte in die reg, want as ‘n persoon iemand anders “nie opsetlik” doodmaak, is dit steeds strafbare manslag. Die verskil tussen moord en strafbare manslag, is dat moord se definisie is: “die wederregtelike opsetlike doodmaak van ‘n menslike wese”, en strafbare manslag se definisie is: “die wederregtelike nalatige doodmaak van ‘n menslike wese” is. Die EFF gaan waarskynlik meer aggressief teen Blankes en dalk selfs ander wetstoepassers optree, en dit dan “per ongeluk” doen.
Die duisternis waarin die land inbeweeg, het nie net met Eskom te doen nie, en soos steeds meer mense hulleself tot hernubare energie wend om die duisternis te keer, sal ons onsself toenemend tot ‘n vryheidstrewe moet wend om die ander duisternis af te weer.
Met dank aan Die Afrikaner - https://www.hnp.org.za