Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie kan na sy jeugjare terugkyk en sê dat hy nié voortvarend en onwys gehandel het nie? Soos Dawid moet ons bid: "Dink nie aan my sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!" (Ps 25). So lief as wat die HERE vir die jong voortvarende Dawid was en hom weer op die regte pad gelei het, so lief het die HERE vir jou wat as jongmens onverantwoordelik was, en sal Hy jou weer na Hom toe terugbring. Bid dan verder saam met Dawid: "Om u Naam ontwil HERE, vergeef my ongeregtigheid want dit is groot."
11 NOVEMBER 1880: BEZUIDENHOUT SE WA ONS VOORBEELD
Ons Afrikanervolk ly reeds 26 jaar onder die hiel van swart kommunistiese oorheersers wat die land onwettig “regeer”, as gevolg van die verraad van De Klerk, Botha en Kie. Dit is nie die eerste keer wat ons volk ons in hierdie situasie bevind nie. Ons geskiedenis is deurtrek van gebeure van verraad en oorheersing deur magsugtige vyande soos Brittanje wat van ons onderdane gemaak het. Maar ons het telkens met weerstand in ons murg en gebeente weer opgestaan en ons land terug verower.
Die vraag is nou of ons weer daardie weerstandige dapperheid van ons voorsate sal openbaar om vir hopelik die heel laaste keer uit ons slawernyskap op te staan en met die genade van God ons land te kan terugneem wanneer die geleentheid hom voordoen. En dit is nie “as” die geleentheid hom voordoen nie, wel “wanneer”, want dit lyk asof ons slawernyslaap besig is om verby te gaan. Daar was meer nasionalistiese ontwaking die afgelope maande ten tye van die Black Lives Matter-aksies en die Covid-19-leuens as wat daar in die afgelope 26 jaar sigbaar was. As ons nie hierdie momentum deurdag aanwend om die juk van ons af te gooi nie sal dit ons later ernstig berou. In hierdie tyd is daar die tipe sneller wat ons nodig het om tot aksie oor te gaan.
Elke vryheidstryd in ons volksverlede het met ‘n sneller begin. Kom ons kyk as voorbeeld na die Transvaalse Vryheidsstryd waar op 11 November 1880 die sneller getrek is wat tot die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881 aanleiding gegee het. Moenie die geringheid van die gebeure onderskat nie. In die geskiedenis van die mensdom het dit dikwels gebeur dat 'n baie geringe insident as vonk gedien het om die oorlogskruit te laat ontplof.
So 'n insident het op hierdie dag, 11 November in Potchefstroom plaasgevind, wat uiteindelik aanleiding tot ‘n volskaalse oorlog teen die Britte gegee het. Die burgers van Potchefstroom en omgewing was meer as keelvol oor die onregverdige belastings wat hulle aan die Britse gesag moes betaal. Ons Afrikanervolk kan vandag heeltemal hiermee indentifiseer – hoeveel belasting op belasting word nie vandag deur die ANC van ons geëis nie! En vermoedelik het ons nog net die puntjie van die ysberg gesien. Lening na lening wat die regime by die buiteland aangaan, word net soos alle ander inkomstes in hulle midde verteer. So, waar gaan die geld vandaan kom om dit terug te betaal? Natuurlik sal dit weer en weer uit verhoogde belastings uit ons burgerlikes verhaal word. Kom ons kyk wat ons voorsate in so ‘n situasie gedoen het.
Op 7 Oktober 1880 het genl PA Cronjé en 130 burgers van die Schoonspruit-omgewing by die landdros op Potchefstroom beswaar aangeteken oor die onregverdige belasting en onder meer verklaar dat hulle bereid is om aan hulle wettige regering belasting te betaal, maar dat die Britse regering "op een onwettige wijze" en teen hulle wil, hulle land geannekseer het en derhalwe weier hulle om belasting te betaal. Hulle het dit ook duidelik gemaak dat hulle alleen voor oorweldigende geweld buig.
Een van die manne wat geweier het om belasting te betaal was Piet Bezuidenhout. As gevolg daarvan is daar deur die balju op sy wa beslag gelê met die doel om dit op te veil ten einde die belasting te verhaal. Dit het op hierdie dag, 11 November, plaasgevind. Onder aanvoering van genl Cronjé het ongeveer 200 gewapende burgers die vendusie tot niet verklaar, die afslaer van die wa afgegooi en dit aan Bezuidenhout teruggegee, wie dit terstond teruggeneem het na sy plaas.
Sir O Lanyon het besef dat daar nou op 'n krisis afgestuur word en het 'n afdeling soldate met kanonne na Potchefstroom gestuur. Ook die Boereleiers het besef dat verdere stappe nodig is en toe 'n volksbyeenkoms vir 8 Desember 1880 by Paardekraal gereël... en weldra sou Boer en Brit na 32 jaar weer die wapen teen mekaar opneem.
Na 26 jaar van lyding en onreg is dit vir ons volk ook die tyd om ons beswaar op ‘n tasbare wyse aan te teken. Genoeg is genoeg! Laat ons hierdie geleentheid goed gebruik om ons weerstand teen plaasmoorde, belastings, rassisme en kommunisme duidelik te maak terwyl die bal aan die rol is. Ons hoef die onreg nie meer te sluk nie; ons kán met die genade van Bo weer ons land opbou en ons volk herstel. Laat ons terugkeer na die weë van ons voorsate wat die moed geopenbaar het om vir ons ‘n vrye Suid-Afrika te bewerk, sodat ons hierdie mooi land ook aan ons nasate as ‘n veilige en vry land kan nalaat!