Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat eensaamheid jou met hartseer na ander mense se samesyn kyk? Daar kom 'n draaipunt wanneer jy besef die HERE se teenwoordigheid is vir jou genoeg; wanneer jy besef dat alleentyd kosbare werkstyd is. Dan ervaar jy slegs dankbaarheid, geen eensaamheid nie.
FRUSTRASIE BY BOERE EN PUBLIEK
INSTITUUT VIR KULTUUR EN GESKIEDENIS
MEDIAVERKLARING 14 Oktober 2020
Plaasaanvalle
Insake: Wat die ANC-regering versuim het, maar nog steeds kan doen om die boeregemeenskappe beter te beskerm
Ek verwys na die minister van polisie, Bheki Cele, se nonchalante houding oor die probleem van plaasaanvalle en Cyril Ramaphosa se lakoniese opmerking dat ons tog moet onthou die meeste slagoffers is jong swartes. In hierdie verband word die vraag dikwels gevra (soos op 12 Oktober tydens ’n radio-onderhoud):
“Maar wat kan die polisie dan nou doen, hulle kan mos nie almal beskerm nie?”
Die implikasie van so ’n vraag is dat mense nie duidelikheid het oor hoe so ’n skreiende probleem, soos wat in Suid-Afrika oor drie dekades ontwikkel het, hanteer behoort te word nie. Ek maak hieronder enkele opmerkings wat aandui waarom boere (en die breër publiek) so uiters gefrustreerd is oor hierdie saak, en waarom hulle die regering in die besonder aanspreek.
(1) Die aanvalle op plase en die wrede moorde op boere is nie van nou die dag nie, dit kom oor dertig jaar en het reeds die aard van ’n sluipende terreuroorlog op die platteland. Die regering en die polisie word aangespreek omdat hulle weier om die misdade so te sien, en hulle weier om dit as prioriteitsmisdaad te verklaar, soos wat hulle byvoorbeeld in die geval vantransito-rooftogte (waar die banke se geld ter sprake is) gedoen het.
(2) Die boere is van die geleentheid ontneem om hulself te beskerm deurdat die effektiewe georganiseerde kommandostelsel in die 1990’s afgeskaf is. Nou word gevra “Maar wat kan die polisie meer doen, hulle kan mos nie elke indiwidu beskerm nie?”, en “kyk, hulle het darem twee gevang”. Dit gaan mos nie oor die feit dat hulle nou iemand gevang het of nie gevang het, dit is in elk geval hulle wetlike plig en hulle werk om oortreders te vang. Dit gaan daaroor dat die aksies om sulke aanvalle te voorkom, om meer hulpbronne aan te wend en omspesialiste enspeurders in te span teen die oortreders, geheel en al onvoldoende is. Dit is iets wat die minister en die SAPD kan verbeter!!
(3) ’n Negatiewe klimaat is oor die jare teen die boere opgewerk deur bewerings dat boere hulle werkers sou mishandel, en dat die grond van swartes gesteel is. Hierdie negatiewe propaganda moet gestaak word want dit laat aanvallers dink die morele reg is aan hulle kant en die boere op die plase is oop teikens (iets soos royal game).
(4) Die spesialis-eenhede van die polisie (soos veediefstaleenhede) is jare gelede afgeskaf en die personeel wat daaraan gewerk het is hertoegedeel, waarna die probleem van veediefstal geweldig toegeneem het. Boere is gefrustreerd dat talle gevalle van veediefstalle nooit opgelos word nie. In streke soos Oos-Transvaal, Natal en Lesotho word die grense nie doeltreffend bewaak nie. Die land ervaar die gebrek aan effektiewe grensbeheer as een van die groot oorsake van wildstropery. Die grensheining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe het byvoorbeeld heeltemal verval.
(5) Dikwels is Zimbabwiërs deel van moordbendes wat in Suid-Afrika opereer. Waarom word daardie vreemdelinge nie aangekeer en gerepatrieer nie?
(6) In die geval van renosterstropery is doeltreffende strukture geskep om verskillende departemente te betrek by die bekamping daarvan: o.a. die doeane, misdaadinligting, natuurbewaring, wildboere, paspoortbeheer, en private sekuriteitsmaatskappye. Waarom kon dieselfde nie jare gelede gedoen word om die veldtog teen plaasaanvalle beter te bestuur nie? Die versuim om dit te doen is die rede waarom die moorde en martelings steeds gedy.
(7) Boere voel veral gefrustreerd deur die ongelyke behandeling en die ongelyke posisie waarin hulle hul bevind. Wanneer vervoerwerkers staak word swaar vragmotors omgekeer en aan die brand gesteek; in verskeie dele van die land word spoorwaens aan die brand gesteek; tydens die optrede van sekere organisasies soos vakbonde, studentegroepe en die EFF word fisiese skade gedoen aan geboue, infrastruktuur en voertuie, word mense gedreig en selfs vermoor... maar klaarblyklik hanteer die regering hierdie gevalle met sagte handskoene. Dit word nie as terreur beskou nie, maar as regmatige protes of massa-aksie. Die leiers wat hul lede aanmoedig of oproep tot sulke optredes, soos in die onlangse geval van aanvalle op die handelstakke van Clicks, word nie summier gearresteer en van terreur aangekla nie. Die optrede teen die boere is onmiddellik en hewig. In die geval van studente is slegs enkeles vervolg terwyl die skade miljoene rande beloop. Die EFF het herhaaldelik en sonder gevolge opgetree teen sakeondernemings, soos in die geval van H&M en Clicks.
(8) Wanneer blanke beskuldigdes in sekere gevalle in die hof verskyn word swart organisasies dikwels daar gesien waar hulle dans en doodsdreigemente uitskreeu. Teen hulle word daar nie opgetree nie. Ons het die probleem van bykans algemene straffeloosheid met betrekking totsenior politici, amptenare en medewerkerswat by korrupsie betrokke is.
(9) Een van die mees frustrerende ervarings wat die boere en die algemene publiek het, is om te sien hoe dikwels polisielede (selfs van die mees senior offisiere) betrokke is by misdade soos moord, verkragting, veediefstal, korrupsie en smokkelary. Dit vernietig uiteraard die publiek se vertroue in die SAPD. Daaraan kan die minister en die polisiediens ter enige tyd ’n einde maak. Hierdie argumente toon aan dat die vraag oor wat die polisie nou juis kan doen om indiwiduele boere beter te beskerm hoegenaamd nie van pas is nie, hoe dit ook al bedoel word. Dit gaan natuurlik oor die veiligheid van indiwiduele boere, maar terselfdertyd oor die hele bestuur van die SAPD en die uitvoering van sy pligte; en voorts oor die onverskilligheid van die ANC-regering teenoor die boere van Suid-Afrika. As beste bewysvan daardie onverskilligheid kan ons die uitspraak van Cyril Ramaphosa aanhaal toe hy in Amerika in die media verklaar het dat daar nie regtig iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. So ’n dwase en skandalige ontkenning sê alles.
Dit gaan vir die boeregemeenskap ten diepste oor ’n versuim aan die kant van die regering om die regte van burgers (selfs in terme van die RSA-grondwet) doeltreffend te verdedig en mense se lewens te beskerm. Die sindroom van geweldsmisdade in Suid-Afrika trek al jare lank internasionale aandag, en dit word ’n skandvlek op die reputasie van die land. Dit is die oorsaak van die frustrasie wat die boere en die breë publiek in ons land ervaar.
Meinhard Peters