Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy dat Jesus jou sondes aan die kruis gestraf het sodat jy vergewe kon word? Gaan lei dan met dankbaarheid 'n vrugbare lewe tot eer van sy heilige Naam.
EERS ZIMBABWE, NOU SUID-AFRIKA
Na 'n lang stryd tussen die behoudende Blanke en die Swart kommuniste is Zimbabwe in 1980 aan die Swartman oorgelewer. Robert Mugabe en sy bende het hierdie mooi land destyds oorgeneem en kort daarna het die Blankes in een dik stroom die land verlaat. Duisende het na Suid-Afrika getrek op soek na 'n beter lewe onder die destydse NP-regering, terwyl ander uitgewyk het na lande soos Brittanje, Australië en Nieu Seeland. (Klink dit bekend?)
'n Minderheid Blankes het in Zimbabwe oorgebly en hoewel Mugabe en sy makkers onmiddellik begin het om die land te plunder, is dié paar Blankes daar geduld. 'n Groot deel van hulle was betrokke in die landboubedryf, hetsy as boere of in 'n sekondêre sektor wat aan die landbou verbonde is. Op hierdie manier het Zimbabwe se ekonomie nie eensklaps in duie gestort nie, ten spyte van die plundering wat onder die nuwe Swart regime plaasgevind het.
Soos die jare egter aanbeweeg het, het Mugabe en sy regime al hoe meer korrup geraak en Blankes wat agtergebly het in dié land het stelselmatig hulle geld uit die land begin vat en later self gevolg, op soek na 'n beter lewe elders. Teen 2000, presies twintig jaar na die oorname van Mugabe en sy Zanu/PF party, was Zimbabwe se ekonomie net 'n leë dop. Weens die gulsigheid van die Swart kommuniste, wat wette gemaak het om die rykdom van die Witman aan hulself toe te eien, het die Witman die land verlaat en die ekonomie is teen daardie tyd hoofsaaklik gedra deur die paar duisend Blanke boere, wat steeds voedsel geproduseer het in die land wat in die sewentigerjare eens die "Broodmandjie van Afrika" genoem is.
Mugabe het besef hy is in die moeilikheid en waar hy vroeër in Swart geledere slegs uit die Ndebele minderheid probleme gekry het, het sy eie mense, die Shonas, stelselmatig ook begin mor oor die omstandighede waarin hulle moes leef. Honger en armoede was aan die orde van die dag en die Blanke boere kon aan net 'n klein groepie 'n beter lewe bied deur hulle in diens te neem. Mugabe moes toe 'n plan uitdink om die rumoer onder sy eie mense stil te maak. Die logiese plan was die truuk wat byna elke Swart diktator in post-koloniale Afrika een of ander tyd ook gebruik het – gee die witmense in die land die skuld vir die probleme, want hulle is rassiste en hulle steel die Swartman se rykdom.
Aanvanklik het hierdie plan vir Mugabe gewerk, veral ten opsigte van sy eie volgelinge. Hulle het sedert 2000 eenvoudig (met die hulp van die regering en die polisiemag) Blanke boere van hul plase verdryf en begin plunder aan dit wat oor dekades daar opgebou is. Probleem is, die produksie van kos en die belangrikste komponent wat Zimbabwe se wankelende ekonomie staande gehou het, is met hierdie plan saam vernietig. Vandag is dit 19 jaar later sedert daardie "tweede revolusie" in Zimbabwe. Byna 'n derde van Zimbabwe se bevolking (party ontleders sê dis nader aan die helfte) het sedertdien oor die grens gevlug na Suid-Afrika, die land van geleenthede.
Zimbabwe se ekonomie is intussen heeltemal vernietig en toe hul inflasiekoers by 1000 persent verby is, is die hele ekonomiese stelsel van vooraf begin ("reset" in Engels), met die Zim-dollar wat tot niet verklaar is en die Amerikaanse dollar wat as betaalmiddel ingestel is. Zimbabwe is vandag 'n ruïne, negentien jaar na die begin van dié land se "tweede revolusie".
Ná die gebeure van die afgelope paar jaar in Suid-Afrika, wat (toevallig?) ook sowat 20 jaar na die oorname van die Swart kommunis in ons land momentum begin kry het, kan daar geen twyfel wees dat ons reeds binne die proses van 'n tweede revolusie is nie. Die ANC regime is vandag in Suid-Afrika waar Mugabe en sy regime in 2000 in Zimbabwe was. Hulle het die land geplunder, hulle kan nie meer die afwaartse spiraal van die ekonomie keer nie, werkloosheid en die staatskuld is buite beheer en die rooi ligte op pad na ineenstorting flikker oral.
So, na wie moet die vinger nou gewys word om die Swart massas te paai? Na die witman, natuurlik! Kyk dan nou net hoe lekker leef die Witmense nog in hul groot huise en hulle ry almal duur motors. Hulle is ryk en hulle wil nie hul rykdom deel nie! Ja, dít sal al hoe meer die argument van die bankrot regime en alle ander radikale Swart groepe wees. En net soos in Zimbabwe sal hulle instorm en hulself aan hierdie rykdom help, totdat dit ook geplunder is.
Die vraag is dit: Sal die krag van Afrikanernasionalisme, soos in die verlede, weer sterk genoeg wees om genoeg Afrikaners en Blankes te laat saamstaan teen die aanslag wat kom. Dis 'n vraag wat vinnig beantwoord moet word, want daardie aanslag is hier. Die tweede revolusie het reeds begin in Suid-Afrika ...
(Oorgeneem uit ‘n Nuusbrief van die Afrikaner Nasionalistiese beweging)