Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die hoofroeping van 'n burgerlike regering in 'n sogenoemde christenland is om die openbare godsdiens in stand te hou en te beskerm. En vir sover as wat die staat orde handhaaf moet ons onderdanig wees aan so 'n menslike verordening. Maar wanneer die staat van ons verwag om God ongehoorsaam te wees, mag ons dit nie doen nie. As die staat God se koninkryk hier op aarde nie beskerm nie sal God self 'n einde daaraan maak wanneer dit Hom behaag.
VERKIESING 2019 – ‘n NABETRAGTING
Met die slag gelewer en die verkiesing uiteindelik afgehandel is dit tyd om post mortem te hou.
Mens is opnuut weer tydens die afgelope verkiesingsveldtog verras deur die knaende aandrang deur die media dat “elke stem tel” en “jou stem maak ‘n verskil”. Wat pertinent opgeval het is dat vanuit links-liberale oorde paniekerig aangedring is dat mense net nie van die demokratiese proses moet onttrek nie.
‘n Mens kan net hoop dat almal wat hul lugkastele so welig gebou het voor die verkiesing nou deur die realiteit van Afrika-politiek en Afrika-getalle tot hulle sinne geruk is. Hoe is die verwagtinge nie opgejaag nie: dat die ANC selfs minder as 50% steun kan kry en dergelike bogterye. Selfs twee enkel dae voor die verkiesing het IPSOS se “meningsopame” daarop gedui dat die ANC stellig minder as 50% steun sou geniet. Dit is nou duidelik dat hierdie “wetenskaplike meningsopmames” eintlik berekende meningsvormers is. Leuenagtige wanvoorstellings wat ten doel het om naïewe kiesers na die stembus te lok. Waarom sou dit so belangrik wees vir die politieke establishment dat die wit kieser by die stembus moet opdaag?
Die verkiesingsuitslae spreek hard en duidelik. Op die ou einde het niks verander nie. En dit sal ook nie. Aangesien 73% van die kiesers Swart is, sal ten minste 65% steun na die twee dominante Swart partye – die EFF en ANC gaan. Dit is ‘n Afrika-gegewe. Die EFF het 10.79% en die ANC 57.51% gekry. Dus gesamentlik 68,3% (meer as twee derdes). So het Afrika dit immers geleer – ongeag hoe oneffektief die despoot of hoe wreedaardig die diktator regeer, die massas sal hom steeds by die stembus steun. Hiervan is ons noordelike buurland ‘n sprekende voorbeeld. As Mugabe nie deur sy weermag verwyder is nie het hy steeds daardie land regeer, sou sy mense ten spyte van die ellendige toestande deur hom veroorsaak, steeds die kruisies vir hom trek...
Dit het haas tyd geraak dat intelligente witmense basiese Wiskunde-somme begin maak. Blote getalle-oorwig maak u deelname aan die Swart verkiesings futiel. ‘n Meerderheid word in ‘n demokrasie bepaal deur 50 plus 1. En daardie meerderheid kan ook deur koalisies bereik word. Hoofsaak is dat slegs 51% stemme nodig is om enige wetgewing goed te keur of besluit deur te voer. Met minder as 2 miljoen Blankes teen ‘n oormag van meer as 24 miljoen andersrassige geregistreerde kiesers is dit tog duidelik dat geen hond haaraf gemaak kan word nie. Gaan doen gerus self die som.
Myns insiens is daar egter twee hoofredes waarom die Blankes nie behoort te stem nie. Die eerste is dat ons land in 1994 wederregtelik oorgedra is na ‘n Swart regering. Tot op daardie stadium is Blank Suid-Afrika internasionaal erken. Ons was (is) die wettige eienaars van hierdie land. Sonder dat ons ooit daartoe toegestem het, is die grondwet verander en ‘n “Nuwe” Suid-Afrika gebore waarin ons skielik bywoners en vreemdelinge geword het. Nooit is ons die geleentheid gebied om afstand te doen of dan “mede-eienaarskap” aan andere te gee nie. As my eiendom van my geneem word sonder dat ek daartoe instem word dit van my gesteel. FW de Klerk het deur gebroke beloftes en bedrog hoogverraad teen sy volk gepleeg. Die huidige bestel is dus ‘n onwettige regime. Sou ek dus aan sy demokratiese prosesse deelneem, kondoneer ek die wettigheid van sy bestaan, ek onderwerp my ook dan aan sy gesag en sy grondwet. Verstaan u nou waarom dit vir die duistere magte so belangrik is dat die Blanke by die stembus opdaag?Die sterkste vredevolle vorm van protes wat ek teen die onwettigheid van die regime kan aanteken is juis om die demokratiese proses te boikot.
Die tweede, nog belangriker rede om van die stembus af weg te bly, is omdat ons as gelowiges nie aan so ‘n Gods-onterende bestel kan deelneem nie. U taak as gelowige is om te getuig teen die vernietiging van God se gebooie en wette, eerder as om saam met die ongelowige in dieselfde juk te trek.
‘n Land se Grondwet lê die norm neer waarvolgens hy regeer word. Dit bepaal sy kern, sy wese. Dit getuig op watter beginsels sy regering regeer en sy regbank reg spreek. Die morele vesel van ‘n nasie word in sy grondwet vervat.
Blank Suid-Afrika se Grondwet het as volg aangehef:
In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van volkere...
Hieruit is dit duidelik dat afhanklikheid van God die regeringswyse en regspraak sou kenmerk. Dat skole met gebed en Skriflesing sou open, dat ‘n volk sy lewe sou inrig na Gods’ Woord... Onthou u nog?
Daarteenoor is die eerste reël van die aanhef van die “nuwe” Suid-Afrika se grondwet:
We, the people of South Africa ...
...en ook heel gepas so omdat die Drie-enige God hiermee vervang word deur die mensgerigte god – die god van humanisme waar die mens self god is omdat hyself die hoogste gesag is. Van ‘n hemelse God wat deur sy Woord regeer is daar geen sprake nie. Daarom dan die noodwendig daaropvolgende vergrype teen Gods’ Woord, die verloëning van die Tien Gebooie wat onder hierdie grondwet plaasvind. Die moord op ongebore babas deur aborsie-wetgewing, wettiging van selfdegeslag-verhoudinge en homoseksuele “huwelike”. Sabbatsontheiliging.... . Die verval in korrupsie, wanbestuur, agteruitgang, misdaad wat hoogty vier, menselewens wat niks werd is nie, wetteloosheid en anargie ...Die algehele miskenning van God.
(Wel die aanroep van die Afrika voorvadergod Nkosi – maar wel dan Nkosi wat in diens van die mense staan: God (Nkosi) seën Suid-Afrika.)
In die tweede reël van die aanhef word die vorige eienaars dadelik op hul nuwe (ondergeskikte) plek geplaas – in die beskuldigdebank:
(Ons) Erken die ongeregtigehede van die verlede...
Hierdie liberale grondwet word as die mees progressiewe grondwet in die hele wêreld beskou. Die verteenwoordiger wat u verkies om u in hierdie goddelose parlement te dien sweer trou aan die Godloënende Grondwet. Hy beloof sy trou aan die Grondwet wat onderneem om u as Blanke te vernietig. ‘n Grondwet wat nou na 25 jaar bewys dat almal menseregte het behalwe witmense. Dat alle witmense rassiste is maar dat “kill a Boer, kill a farmer” nie eens haatspraak is nie. Dat homoseksuele geen beletsels mag hê nie, maar dat die gesondheidswerker wat om geloofsredes weier om aborsies uit te voer meedoënloos vervolg word.
En dít is die Grondwet wat u onderskryf en waaronder u uself vrywillig onderwerp wanneer u aan die bestel se demokratiese prosesse deelneem! Rym dit met wat u in die Woord leer? Hoe kan ‘n gelowige hiervoor regverdiging vind?
Volksgenote, dis tyd om te besin. Om weer die Bybel in die hand te neem en te vra na God se wil vir ons gelowiges hier aan die suidpunt van Afrika. Om weer vanuit beginsel te redeneer – selfs teen die meerderheid in – omdat daardie beginsels in God se Woord en wette geanker is. Om nie vanuit omstandighede besluite te neem nie. Al het die tye verander, God verander nie. Gelowiges moet vra wat wil God hê. Nie wat die mense wil hê, of watter optrede vra die moderne tydsgewrig van my nie. Maak weer erns met u geloof. Besef dat ons ten ene male in hierdie gemors beland het omdat volksgenote die lekker van internasionale sport (die sportgod) bo die Almagtige God van hemel en aarde verkies het. Laat ons opnuut erns maak met Hom, weer na sý wil vra!
Psalm 119: 1-3
Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.