Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In hierdie nuwe jaar sal baie van ons een of ander vorm van pyn en lyding ervaar. Maar ons moet nie bang wees nie want God se liefdevolle hande rondom ons in pyn, help ons om die omstandighede met hoop en moed onder die oë te sien. Daar is geen angs, verlies of lyding van ons waarin God nie deel nie. Wanneer ons dan weet dat God altyd by ons is, selfs al val ons wêreld uitmekaar, sal ons die pyn kan verduur, sonder vrees, sonder angs, met moed en hoop.
MENSEREGTE EN DIE AFRIKANER SE TOEKOMS
Dr Danie Theron
More is dit weer sogenaamd Menseregte-dag. Ek het al dikwels daarna verwys dat die Grondwet van die RSA die Afrikanervolk se grootste vyand is. Vandag wil ek verder oor die saak gesels. En dit is nie ter wille van blote akademiese debatering nie, maar sal myns insiens aantoon dat ons in ‘n benoude situasie vasgevang is.
‘n Grondwet van ‘n staat is die grondslag waarop ‘n staat gebou word. Dit is bepalend vir die gehalte van die hele staatshuishouding. Indien dit Christelik gefundeerd is, gee dit die toon aan vir Christelike waardes wat voorop gestel sal word. Indien dit egter gebaseer is op die liberale menseregte-kernstuk, mag geen godsdiens voorrang geniet nie omdat almal “gelyk” behandel moet word.
Die sogenaamd “neutraliteit” van so ‘n grondwet is dus niks anders nie as anti-Christelik. Het Jesus nie self gesê dat wie nie vir Hom is, teen Hom is nie?
Met die aanvaarding van die nuwe grondwet met sy mensgerigte, eerder as God-afhanklike gerigheid, het die Afrikaner inderdaad sy diepste geestelike waardes en God self verloën. Dit het die grondslag daargestel vir die totale verwildering, verval en vernietiging van die Afrikanervolk. En na byna ‘n kwart-eeu is die tekens van hierdie verwildering en afval reeds duidelik te bespeur. Daarnaas is die vernietigingsproses natuurlik deel van die agenda.
Met hierdie grondwet en die “verskanste” grondwet het die liberalis ‘n eenmalige en finale oorwinning oor nasionalisme behaal. Wat word daarmee bedoel?
Die liberale dogma van gelykheid en een mens een stem en alles wat daarmee gepaard gaan, is nou verskans in die grondwet met ‘n 2/3 en selfs groter meerderhede wat verlang word om aan die inhoud daarvan te verander.
Liberale politiek is net om nasionalisme, die liberalis se grootste nagmerrie, vir alle praktiese doeleindes te verbied. Daar is geen plek meer vir politieke debat oor nasionalisme en partye wat op die nasionale beginselbasis staan nie. Die liberale uitgangspunt is permanente amptelike staatsbeleid. Die nasionalis is in so ‘n situasie tot magteloosheid gereduseer. Die liberale godlose idees is nou onaantasbaar gemaak.
Dit word kwansuis regsoewereiniteit gedoop maar is niks anders nie as ‘n vorm van ondemokratiese totalitarisme. So deur middel van ‘n enkele wet is debat vernietig en kan daar nou net oor die liberale idee gesprek gevoer word. So is ‘n liberale outokrasie gevestig. Van demokrasie kan daar kwalik sprake wees as ander denkrigtings en waarhede, waaronder nasionalisme, tot die ashoop verdoem is.
So het die liberale gedagte hom eintlik openbaar vir wat dit werklik is – vyandig teenoor die demokrasie en onverdraagsaam teenoor enigiemand wat van hom verskil.
In wese is nasionalisme nou gekriminaliseer want die liberale gedagte is wet.
Die grondwet het egter selfs die liberale gespuis uitgeboul. Sekere onaantasbare regte blyk nou nie regtig onaantasbaar te wees nie. Eiendomsreg is daarvan seker die beste voorbeeld. Nie alleen is magtiging vir onteiening ingebou in die grondwet nie, maar nou sal voortgegaan word om dit boonop sonder vergoeding te doen.
Daarbenewens is verontregting van die Afrikaner en bevoordeling van die swarte deur middel van regstellende aksie ook ingebou – ooreenkomstig die voorneme om die “ongeregtighede” van die verlede reg te stel. Die nuttige idioot, die liberalis, het dus gebuig voor die sosialis en is daar van gelykheid, waaroor die liberalis so spog, weining oor.
Die akte van menseregte sal homself dus uitwys as:
- ‘n tussentydse stap om die blankes te paai dat sy regte beskerm word;
- ‘n oorgangsproses om sosialisme (soos vervat in die kommunistiese Freedom Charter) in te faseer.
So is die Afrikaner bedrieg deur te glo dat sy regte beskerm sou word. Die aanskouingsles van Afrika is nogeens nie ernstig opgeneem nie. Deur gebruik te maak van die slenter, naamlik “menseregte” sal die blanke se laaste regte onder hom uitgeruk word want nasionalisme, die één mag wat dit kon verhoed, is tot ‘n blote toeskouer verban.