Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag soos Dawid bid: "Red my van my vyande HERE! ...En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om... Slinger bliksem en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!... Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose." Ps 143,144,145.
‘N LEWE SONDER VOOROORDEEL?
SG Hagen
Liberale kommentators word blykbaar goed betaal vir die kaf wat hulle daagliks kwytraak. Wel, dit is die enigste gevolgtrekking wat mens kan maak as gesien word hoe, te midde van ‘n staat wat voor ons oë in anargie verval, steeds volgehou word om oor die “wonder” van menseregte te praat.
Die argument van die menseregte-teoloë is klaarblyklik dat ‘n land sonder diskriminasie die vrede, gelykheid en menswaardigheid daar gaan stel wat die Grondwet propageer. Maar wat beteken “geen diskriminasie” regtig?
Wat dit klaarblyklik moet teweeg bring is ‘n staat waar vooroordeel verwyder is en almal dan as resultaat daarvan, gelyk is. Beter gestel – ‘n klaslose samelewing! Is dit dan nie ook wat Kommunisme beoog nie? Inderdaad!
Dit is die groot bedrog wat aan ons opgedis word. Daar is nie so-iets soos ‘n lewe sonder vooroordeel nie. Richard Weaver stel dit soos volg:
Life without prejudice, were I ever to be tried, would soon reveal itself to be a life without principles. For prejudice as we have seen ... are often with-in principles.
Vooroordeel is die ekstrak wat die geheue maak van ervaring. Verbeel jou ‘n mens wat ‘n dag aanpak sonder ‘n enkele vooroordeel. Hy sal hom gou in ‘n staat van wanhoop bevind want hy sou nie eers ‘n das kon kies om by sy enigste wit hemp aan te trek nie!
Punt is: mens maak keuses omdat jy ingeboude beginsels het wat oor verloop van jare ontstaan het. Jy kies ‘n skool vir jou kind, ‘n godsdiens vir jou gesin, ‘n vrou wat by jou pas. ‘n Keuse wat uitgeoefen word is ‘n diskriminerende handeling. Jy kies vír iets téén iets anders. Mens diskrimineer wanneer jy kies, dit is al wat diskriminasie beteken.
En wanneer jy aan ‘n bepaalde volk behoort kies jy vír daardie volk – jy kies vir sy kultuur, vir sy gewoontes, vir sy taal, vir sy geskiedenis. Dit raak jou eie en omdat dit jou eie raak en jy ‘n liefde vir jou eie ontwikkel, ontstaan ‘n voordeur daarvoor. Voorkeur vir die eie en afkeur vir die vreemde. Dit is ‘n natuurlike proses. En wanneer jy ‘n voorkeur vír iets en téén iets anders uitoefen diskrimineer jy teen daardie iets anders.
Daarom is die oproep om nie te diskrimineer nie, nie net fataal nie, maar ‘n leuen. Net soos die idee van gelykheid, en veral die gelykheid wat nagestreef word as resultaat ‘n leuen is, want die hele lewe getuig van ongelykheid. Wanneer mense met verskillende vermoëns gelyk behandel word, is die resultaat steeds ongelykheid.
Die gelykheid wat dus, en veral vir Afrikaner en sosialistiese state nagestreef word, is ‘n gelyke uitkoms. Ten einde dit te probeer bereik, diskrimineer diegene wat so hoog opgee dat nie gediskrimineer mag word nie juis, aangesien ‘n gelyke resultaat net bereik kan word as die een met groter vermoëns teruggehou word sodat die een met die mindere vermoëns “gelyk kan trek” – iets wat heel dikwels nie eers bereikbaar is nie.
Waarom moet mens dan jou vooroordele verdedig? Dit is net omdat die liberale gedagte as die onveranderlike waarheid aan ons voorgehou word en dit boonop “verskans” is in ‘n grondwet terwyl die prostitute van die media goed betaal word om hierdie ideologie tot satwordens toe in ons kele af te druk.
Dus, in plaas daarvan om die beginsel van soort soek soort wat die natuurlike keuses van mense is, toe te pas, sit ons in ‘n land met 13 volkere en verskille wat onoorbrugbaar is, met die drogredenasie van gelykheid, geen diskriminasie en geen vooroordeel.
Dit is ‘n resep vir verskrikking en al groter-wordende konflik. Die skuld vir die konflik sal telkens elders gesoek word, maar die harde realiteit is dat die gelykheidsgedagte konflik aanmoedig.
Deur my te ontneem van my vooroordeel en my keuses, is om my van my mees fundamentele lewensreg te ontneem. Want sou hierdie verbod konsekwent toegepas word sal dit impliseer dat ek nie meer mag kies nie – nie vir ‘n geloof, ‘n lewensmaat, ‘n kultuur, ‘n eie opvoeding of wat ookal nie. Daar sal vír my gekies moet word!
So sien jy waarom jy in hierdie land nie mag diskrimineer nie? Waarom jy nie vooroordele mag hê nie? Agter die mooi woorde van menseregte sit die bewerkers van ons lot – om ons redelose diere te maak wat almal dieselfde (“gelyk”) sal wees en optree – in hulle sosialistiese staat.
Bly asseblief by die vooroordele wat jy het. Dit onderskei jou as mens Dit is jou Godgegewe reg!