Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Leier se liefde vir God en sy volk is die spil waarop sy menseverhoudings draai. Dis die deur wat hom uit die kerker van selfsug na buite lei. Eer moet egter nie met eerbewys verwar word nie. Geen mens is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het.
PASOP VIR GEVOLGE VAN VOORSPOED
UITTREKSEL UIT TOESPRAAK GELEWER OP
25 SEPTEMBER 1965
TE HEIDELBERG, TRANSVAAL – DR VERWOERD SE KIESAFDELING (1)
Daar is ‘n spreekwoord wat sê dit is sterke bene wat die weelde kan dra. Dit is ook waar van ‘n volk. ‘n Volk wat voorspoedig is en wat veiligheid en binnelandse orde geniet, kan baie maklik verslap. ‘n Politieke party kan ook baie maklik verslap in sy stryd. Dan kan die volk sy doelwit verloor of die party kan die landsbestuur en daardeur ook die land se doelwit verloor as hy nie leer om sy weelde te dra nie. Maar dit is nie net weelde nie, dit is ook veiligheid. In die mate wat hierdie regering daarin geslaag het om veiligheid en orde hier tot stand te bring sodat die publiek van Suid-Afrika nie meer bang is vir binnelandse of buitelandse onrus nie, loop die man op straat gevaar om te reken dat hy maar weer met allerhande onderlinge klein twiste aan die gang kan kom. Ek moet waarsku daarteen, want ons lewe in ‘n baie moeilike tyd en in ‘n gevaarlike wêreld. As ons sou verslap en as Party die bewind verloor, dan waarsku ek u dat onder die VP alles verlore sal raak, hoe vroom hy ookal praat maar nie alleen dit nie. As ons verslap in ons stryd en hier en daar toegewings maak onder die naam dat dit maar “klein apartheid” is, soos dit dikwels genoem word, ‘n verslapping van ons idee van paslike skeiding as die bron van ons veiligheid en vrede, dan weet ‘n mens dat jy die toekoms van jou volk in gevaar stel.
Nog ‘n ding waarteen ek moet waarsku, is dat almal erken dat die NP sterk is en nog sterker word. Vriend en vyand erken dat ons nou ook steun van Engelssprekende kant kry. Die gevolg daarvan kan wees dat ons so gerus word dat ons nie meer baie moeite wil doen nie; nie meer geldelike steun wil gee of eie kragte inspan nie. Jy voel dat jy nie meer oortuigingswerk onder jou bure hoef te doen nie, jy kan liewer met hulle saampraat en verslap dan in die pogings wat vroeër vir jou bitterlik noodsaaklik was toe jy gestry het om te help dat die land onder die huidige toestand van veiligheid en orde kom. Ek moet dus daarteen waarsku dat ‘n party, net soos’n voetbalspan, nooit te gerus mag wees nie, daar kan snaakse dinge met hom gebeur.
Nog iets waarvoor ‘n mens moet oppas is kortsigtigheid. Jy kan so tevrede wees met die possie van die oomblik dat jy nie jou oë ver genoeg in die toekoms rig om te sien wat gaan word as jy hierdie en daardie stap neem nie. Dit is die rede waarom ‘n regering soms kritiek moet verduur, byvoorbeeld wanneer hy sekere prys- of salarisverhogings nie kan toestaan nie, of kritiek wanneer hy nie toegee met betrekking tot sekere eise wat aan hom op kleurgebied gestel word nie. Hy mag nie net kyk na wat nou gebeur nie, hy moet ook kyk na wat die uitwerking sal wees ver vorentoe. As ons kortsigtig is, dan sorg ons vir huidige voorspoed ten koste van uiteindelike voorspoed en voortbestaan. As ons vandag op die terrein van arbeid wit en swart inspan in enige werk van enige soort, orals in ons blanke vaderland, net ter wille van vooruitgang en die skepping van meer en meer fabrieke en nie rekening daarmee hou nie dat jy net soveel kan doen met jou blanke bevolking in sy arbeidsfeer en jou nie-blanke bevolking in sy arbeidsfeer, dan beteken dit as jy nie meer genoeg wit mense het nie kom die swartes in, dwarsdeur en bo uit en het jy op die ou einde ‘n hele geïntegreerde arbeidsbedeling net om meer en meer voorspoed te kry. Jy mag dan vir die volgende tien of meer jare ‘n ryker land besit maar het jy dan enige hoop om in die toekoms die land te behou? Wat word van die voortbestaan van ‘n blanke Suid-Afrika, van die Republiek wat ons geskep het vir ons nageslag? Dus, jy mag nie kortsigtig wees nie. Jy moet liewer tydelike, mindere voorspoed kies. Ons hoef nie eers tydelike teenspoed te kies nie maar ons kan selfs tydelike teenspoed kies liewers as uiteindelike ondergang. Al wat nodig is, is ‘n mindere verskerping van die voorspoed om daardeur voortdurende veiligheid te behou.
Ons moet besef dat ons in ons land nie net ‘n vreemde geldmag het nie maar dat ons besig is om ‘n eie geldmag op te bou, selfs ‘n Afrikanergeldmag. Ons is besig om Afrikaner-kapitaliste te kry. Ons is besig om as Afrikaanse groep en as Suid-Afrikaners al hoe meer seggenskap te kry in groot maatskappye en groot ondernemings. Magtige onderneming op finansiële gebied en op industriële en mynbougebied is besig om te ontwikkel. Ons moet dit besef en daarmee rekening hou dat as hierdie geldmag wat uit ons midde gebore is, van ons politieke lewe en van ons volkskulturele lewe weggroei en ‘n aparte geldmag word, dan sal dié geldmag en die ou geldmag wat ons as Hoggenheimer geken het in die spotprente van die twintigerjare, saamvoeg en saamstaan teen die volksideale, vir materiële gewin bo alles. Daarom moet ons sorg dat diegene wat die huidige erfgename in die sin van die persoonlike rykes of die groot maatskappye is, volksgebonde bly. Hulle moet met ons staat in ‘n noue verband bly en die regering van die staat moet op sy beurt ‘n nasionale regering wees wat sal strewe om daardie nuwe mag in voeling te hou met die uiteindelike ideale van ons volks soos ons dit ken.