Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die hoof van ‘n land onreg bedryf en bose wette uitvaardig, mag die gelowige hom nie daarin volg nie. In hierdie verband spel Hand.5:29 vir gelowiges die goue reël uit waar ons lees: “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”.
MANDELA SE NALATENSKAP...
...vloek of seën?
Ds A vd Berg
Die viering van Nelson Mandela se 100ste geboortedag op 18 Julie vanjaar geniet alreeds baie plaaslike en internasionale aandag. Sommige mense wag dit byna soos Kersfees af. Maar, is daar werklik iets om oor opgewonde te wees? Verering volg niemand graf toe nie, slegs nalatenskap.
Hoe lyk Mandela se nalatenskap? Mense huiwer soms uit vrees vir verguising om ʼn kritiese woord daaroor te uiter. Ikonifisering (mense-verafgoding) het hom selfs na sy dood feitlik onaantasbaar gemaak.
Miljoene beskou hom as ʼn rolmodel van uitmuntende leierskap. Buitelanders het selfs standbeelde vir hom in Parliament Square in Londen (2007) en Ramallah (2016) opgerig om net twee daarvan te noem. Die Amerikaners het selfs ʼn rolprent oor sy lewe gemaak wat hom as ʼn wêreld-ikoonuitbeeld wat vir 27 jaar verkeerdelik in die tronk vir sy oortuigings geboet het.
Die NG Kerk het ook nie met eerbetonings aan Mandela op haar laat wag nie. ʼn Verloopte teoloog het destyds na hom as “Christus se geskenk aan Suid-Afrika” verwys waarna ʼn NG Kerk Sinode hom kort daarna hom “Laat Heer U seën op hom daal” toegesing het. Die ergste van alles is dat Mandela nooit enige blyke van geloof in Christus te kenne gegee het nie.
Hy het soveel beleidsfoute gemaak dat dit moeilik is om die skadelikste een aan te dui. Een van die ergstes was om onreg te wettig wat swartes onbeskaamd bo blankes bevoordeel het. Die NG Kerk se beroep op laasgenoemdes om hul met die Nuwe Suid-Afrika te versoen, het Mandela se vergeldingsmotief soos ʼn handskoen gepas.
In 1994 het hy ʼn land met ʼn sterk infrastruktuur op ʼn skinkbord gekry. Alles was in plek. Sy ideologiese blindheid het egter ʼn kultuur van korrupsie bevorder en het hy en sy kaders asook opvolgers begin om ʼn eens vrugbare plaas tot ʼn bankrotnes om te skoffel.
Mandela het swartes se ekonomiese posisie met onregswetgewing probeer verbeter en geglo dat swakkes versterk kan word deur sterkes af te takel. Dit was ʼn bitter duur fout! Sy kaderontplooiing het ʼn horde van onbevoegde ANC lede op tipies kommunistiese wyse in feitlik elke denkbare openbare pos laat beland en elkeen wou sy beloning hê - soveel van die land se rykdom as moontlik in sy eie sak. Die latere wapentransaksie is ʼn sprekende voorbeeld hiervan waar top-kaders reuse bedrae omkoopgeld van buitelanders ontvang het.
Slegs ʼn handjievol selfverrykte swartes het die soustrein-rit geniet en geen saak met die massas wat in ellende krepeer, gehad nie.
Mense het tevergeefs gewag dat Mandela sy morele stem sterker sou laat hoor toe hy as “vader van die nasie” van alle oorde af lof toegeswaai is. Dit het nooit gebeur nie. Sy onbeskaamde eerbewyse aan diktators soos Ghaddafi, Castro en Mugabe asook sy bande met lande wat die Christendom vyandig gesind is, het alle verwagtings bederf. Sy opvolgers het daarmee volhard. In 2017 is daar selfs ʼn standbeeld van Castro in Bloemfontein onthul!
Mandela se skynbare warm persoonlikheid was misleidend. Hy kon weens die rewolusionêre dampkring waarin hy beweeg het koud en uiters onverbiddelik wees. Hy was ʼn selferkende kommunis en lid van die SAKP wat die leiding van die ANC vanaf die 60er jare oorgeneem en op dié se rug die politieke toneel ingery het om ʼn gewapende stryd van stapel te stuur wat baie lewens geëis het. Mandela se geheime skakeling met blanke en Indiër kommuniste het hom met die gereg laat bots en ʼn lewenslange gevangenisstraf besorg.
Mandela se onvoorwaardelike vrylating in 1990 was die begin van die blanke se bewindprysgawe aan die suidpunt van Afrika. Die vooruitsig van ʼn Nuwe Suid-Afrika met Mandela aan die stuur het miljoene mense in vervoering gehad. Die werklikheid sou ná April 1994 spoedig ʼn terugwaartse stap blyk te wees! Misdaad het die hoogte ingeskiet om nooit weer af te neem nie. Die 52 moorde en 109 verkragtings per dag (2016/2017) bevestig dit in geen onduidelike taal nie.
Mandela het met die nuwe grondwet wat in 1996 finaal onder hom aanvaar is, die Woord van God geminag. Een enkele handtekening van hom in 1997 het bv. aborsies gewettig. Die Volksblad van 29 Januarie 2011 het berig dat meer as 1,000,000 babas al sedert die aborsiewetgewing in die land vermoor is!
Dis die land wat Mandela weens sy ideologiese gebrek om boosheid hok te slaan en na God se Woord te luister, nagelaat het. Desondanks beur sy party steeds voort in trurat. En as dinge verkeerd loop, kry apartheid die skuld daarvoor!
Die ophemeling van Mandela se nalatenskap vertroebel baie mense se oordeel. Daar was in die tyd van Mandela baie kritiek op sy leierskap. Die nasionale media het dit egter onwenslik gevind om te plaas want niemand wou as ʼn pretbederwer op die fees van “bevryding” gebrandmerk word nie. Mandela se oordrewe, opgeblase versoeningspraatjies het gelukkig nie almal geflous nie.
Gehalte-nalantenskap word nie aan die oprigting van standbeelde gemeet nie, maar aan die goed wat hy aan sy land gedoen het. Mandela-geesdriftiges dink nie nugter nie. Sommige erken wel dat Suid-Afrika baie slegter daaraan toe is as voor 1994 en gee Mandela se opvolgers die skuld daarvoor wat glo van sy oorspronklike beleid afgewyk het. Dis ʼn leuen!
Wat vandag in die land gebeur, is die gevolge van ʼn baie giftige nalatenskap. Die misdaad, ontwrigting, rassespanning, geweld, kwynende ekonomie en onregskepping durf nie voor iemand anders se deur gelê word nie. Gevolglik is daar hoegenaamd niks om oor opgewonde te raak nie; allermins nie om oor fees te vier nie!