Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kan diegene wat hulle so slim hou in hul dwaling oor God se verborgenhede dalk antwoord waarom hulle mense eerder as esels of beeste is; hoewel dit in God se hande was om van hulle honde te maak het Hy hulle na sy Beeld gevorm.
SHARPEVILLE 21 MAART 1960
In 1960 het daar 'n splitsing plaasgevind in die ANC wat intussen al meer in die vaarwaters van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party geraak het. Vir die Swart Radikaal-Sosialis, Robert Sobukwe, was die ANC nie militant genoeg nie en het te veel die stempel van Blanke Kommuniste gedra. Hy het 'n verskerpte konfrontasie met Blank- Suid-Afrika gesoek en het in 1959 die "Pan-African-Congress" (PAC) gestig. Daarna het hy die Swart massas opgeroep om die paswette te negeer wat hulle slegs toegelaat het om in gebiede te woon waar hulle huisvesting en werk gehad het. Hy het hulle versoek om hulle passe te verbrand en voor polisiestasies te "demonstreer".
"Gedurende so 'n aksie in 1960 in Sharpeville het 69 demonstreerders hulle dood gevind. Sharpeville het sinoniem geword met die onderdrukking van Swartes in Suid-Afrika en is die tipiese voorbeeld vir die eensydigheid van die internasionale apartheidsberiggewing. Die feit dat die PAC-leier, Robert Sobukwe, die sleutelfiguur vir die tragedie van Sharpeville was, soos die 'Spiegel'-redakteur Erich Wiedemar, beklemtoon, is moedswillig oor die hoof gesien"; so skryf Henning vor Lowis of Menar in sy geskrif: "Der Afrikanische Nationalkongres (ANC) - Moskaus Speerspitze gegen Südafrika" ("Deutsche Afrikastiftung", geskrif nr. 40).
Die "bloedbad" van Sharpeville het sedertdien die hoofpunt van anti-Suid-Afrikaanse agitasie geword. Die linkse Suid-Afrikaanse pers en buitelandse korrespondente het geen tyd daaraan bestee om die oorsaak van die tragedie te soek nie. Die persberigte wat aan buitewêreld opgedis is, het voorgestel dat daar geen twyfel kon ontstaan oor wie as die hoofbeskuldigdes beskou is nie:’n brutale polisiemag wat onskuldige ongewapende Swartes platgeskiet het terwyl laasgenoemdes vreedsaam teen onregverdige paswette betoog het, skietlustige sadiste wat die kans benut het om soveel Swartes moontlik van die gras af te maak.
So word legendes gebore en disinformasie uitgestrooi wat van alle waarheid ontbloot is. Wat werklik gebeur het en wat die aanleiding was vir die tragiese gebeure van meer as 25 jaar gelede wat die wêreld teen Suid-Afrika opgesweep het, word vertel deur die Suid-Afrikaanse joernaliste, Aida Parker, in "The Aida Parker Newsletter" Nr. 49 van 29 Jan. 1985.
Om die gebeure in die regte perspektief te sien, skryf sy, moet ons 'n bietjie verder teruggaan in die tyd en wel na Cato Manor, 'n dromerige sonnige plek aan die buitewyke van Durban. Dit is Januarie 1960, skaars twee maande voor die hoofdrama van Sharpeville. Op hierdie dag moes nege polisiemanne, vier Blankes en vyf Swartes, op 'n afgryslike wyse hulle lewe verloor.
Die dinge van Cato Manor word deur 'n man geskilder wat daarby was: Gert Smit, destyds as polisiesersant in Cato Manor gestasioneer. Die plek was destyds nog 'n omgewing wat die meeste mense liewers totaal vermy het: 'n broeiplek van misdadigheid, vuilheid en aansteeklike siektes, 'n verwaarloosde woonplek vir Swartes met duisende bouvallige hutte wat oor 'n groot aantal Indiërplasies versprei was. Groeiende rassespanning tussen Swartes en Indiërs met beskuldigings van uitbuiting teen laasgenoemdes, het dinge vererger. Onwettige sondesentrums waar drank met hoë alkoholinhoud geskink is, het hulle bydrae tot die probleme gelewer.
Dit was die taak van die polisie om die spanninge in die gemeenskap in bedwang te hou, misdaad te bekamp en teen die sondesentrums op te tree. 25 Januarie 1960 was 'n Saterdag. 'n Groot menigte Swartes van buite het na Cato Manor gekom om saam met vriende en familiebetrekkings te drink en die naweek te vier.
Dit was roetinepraktyk van die polisie om 'n twaalfman-patrollie op bepaalde plekke in die stadsgebied af te laai en hulle later saam met moontlike gevangenes weer met die polisiemotor te gaan haal. Die noodlotspatrollie van daardie nag het onder bevel van polisiesersant Winterboer gestaan, 'n man wat later in Pretoria selfmoord gepleeg het. Hy het sy manne laat afklim en met hulle afgespreek om hulle later by die pakhuise van 'n firma wat as "Benoni Nr. 1" bekend was, weer te kom oplaai.
Die patrollieleier was 'n Blanke polisieman met die naam Joubert. Die groep het 'n paar persone gearresteer en is toe deur 'n rustelose dronk gepeupel omring wat die vrylating van die gevangenes geëis het. Onder die gegewe omstandighede sou dit seker die verstandigste gewees het om die gevangenes met 'n grappige opmerking te laat loop, maar Joubert, wat net 18 maande dienservaring gehad het, het die gevaar onderskat wat sy groep bedreig het. Selfs toe die Swart vrouens in die menigte begin het met hulle tradisionele, opruiende geskree om hulle mans tot die aanval aan te vuur, was Joubert se antwoord ontoegewend: "Net oor my dooie liggaam!"
Net juis op hierdie oomblik het 'n Swart polisiekonstabel per ongeluk op 'n Swart vrou se voet getrap. Haar luide gehuil het 'n kettingreaksie veroorsaak. Binne minute was die polisiepatrollie omring deur 'n brullende gepeupel wat vinnig aangegroei het deurdat al meer en meer dronk Swartes uit die omliggende hutte uitgepeul het en met kieries, messe, pangas en ander wapens op die polisie afgestorm het.
Onder die helse geskree van die menigte: "Maak dood die polisie! Maak dood die polisie!" het die groep teruggewyk en hulle pad oopgeveg na die "Benoni Nr.1-pakhuise met die hoop om die polisiesersant Winterboer met die polisievangwa daar te vind. Dit het hulle geluk om hulle in 'n halfvervalle sinkskuur te verskans, terwyl hulle aan 'n haelstorm van klippe van die omringende gepeupel blootgestel was. Terwyl dit gebeur, daag sersant Winterboer op, sien wat gebeur, raak paniekbevange, maak geen gebruik van sy geweer nie. maar jaag terug na die polisiestasie om versterkings te gaan haal.
Gedurende die tyd van sy afwesigheid gaan die klipgooiery voort asook die aanhitsende geskree van die vroue, en die geroep: "Maak dood die polisie! Maak dood die polisie!" Polisieman Joubert onderneem 'n wanhopige poging om uit te breek en hardloop na 'n avokadoboom daar naby om daarin te klim. Hy word voorgekeer, afgryslik vermink en in stukke gekap met lang bosmesse. (Skaars 'n maand later is nege bierdrinkende Swartes onder hierdie boom deur 'n weerligstraal doodgeslaan).
Die Blanke polisiemanne, Kriel en Rademan, en hulle Swart kollega Dudla slaag ook daarin om weg te kom uit die beleërde skuur. Kriel veg met sy kaal vuiste vir sy lewe en hardloop byna 'n kilometer ver voordat hy in stukke gekap word. Rademan, wat alreeds veiligheid bereik het hoor Kriel se geskree en draai om om te help. Hy word ook in stukkies gekap en dieselfde lot tref die Swart polisieman Dudla wat probeer het om vir Rademan te help.
Vier verdere Swart polisiemanne word op dieselfde wyse gedood. Die "lyk" van die Blanke polisieman, Gert Rheeder, is later onder ‘n hoop klippe uitgetrek en saam met die ander oorledenes op 'n polisievragwa geplaas. Met die aankoms by die polisiestasie salueer die bevelvoerende polisiemajoor Jerry van der Merwe sy afgestorwe makkers formeel en toe wys 'n Indiërpolisieman opgewonde na die "dooie" Rheeder se vinger wat beweeg het. Sy kop en liggaam was 'n verminkte bloedige massa sodat sy eie ouers hom nie kon herken nie. Hy het oorleef, maar het 'n geestelike en fisiese wrak gebly.
Dit dan die geskiedenis van Cato Manor wat op 25 Januarie 1960 plaasgevind het. Byna al die media in die buiteland het dit stilswyend geïgnoreer. Toe die polisie in Sharpeville minder as twee maande later gesien het dat hulle voor 'n soortgelyke gepeupel staan, waarvan die getalle op tien tot twintig duisend geskat is, was die gebeure van Cato Manor nog vars in hulle geheue en hulle het voldoende rede gehad om vir hulle lewe te vrees. Soos in Cato Manor was daar in Sharpeville net gewone polisiemanne in uniform op diens sonder opleiding in gepeupelbeheer by massademonstrasies. Een van hulle het net een maand diens gehad.
Die spanning om die polisiestasie het Sondagaand, 20 Maart, begin opbou. Gewapende groepe Swartes moes gedurende die nag altyd weer deur die polisie met stokke verdryf word. Op Maandagmôre het daar teenoor die polisie 'n reusagtige menigte gestaan wat die geregsdienaars bespot en bedreig het. Traangasaanvalle was nutteloos en die polisie moes weer verskeie kere met slaanstokke teen die oproermakers optree.
Volgens regter PM O'Brien wat die saak ondersoek het en later 'n paar van die belhamels gevonnis het, het die skare teen die middag tot minstens 19 000 Swartes aangegroei, wat 'n "beledigende, dreigende en uittartende houding" aangeneem het. Dit was teen 13h35 dat die dodelike klimaks gekom het. Die menigte het verskeie kere probeer om die polisieversperrings te bestorm. 'n Poging van die polisie om een van die hoofbelhamels te arresteer, het misluk. Wat toe gevolg het, was geensins 'n berekende slagting deur die polisie nie, maar inteendeel 'n paniekbevange reaksie van jong polisiemanne wat vir so 'n situasie nie opgelei was nie.
Baie van hulle was intussen reeds 24 uur ononderbroke op diens. Die spanning het sy hoogtepunt bereik. Die bevelvoerende polisiekolonel Pienaar het sy manne beveel om gewere te laai, maar om nie te skiet voor die bevel gegee word nie. Die lawaai buite was so oorverdowend dat instruksies net op 'n kort afstand gehoor kon word. Latere ondersoeke het getoon dat die offisiere hulle manskappe herhaaldelik gewaarsku het om nie die vuurwapens te gebruik nie, terwyl hulle verskeie kere probeer het om met die leiers van die menigte te onderhandel.
Toe het dit gebeur. Skielik was daar 'n helse lawaai. Skreeue het opgeklink van "Cato Manor! Cato Manor!" en die menigte het vorentoe gestorm. Die hekke is omgeruk, 'n hoë polisie-offisier is op die grond neergeslinger. Dit het klippe gereën op die polisie en skote en skerp bevele is uit die menigte gehoor. Die polisie het die vuur geopen. Daar was 69 dooies en 180 gewondes.
Dit was die einde van 'n demonstrasie van "vreedsame Swart burgers", wat die kommunistiese agitator van die PAC, Robert Sobukwe, met yskoue logika in berekening gebring het. Die paswette was slegs 'n voorwendsel om 'n konfrontasie met die veiligheidsmagte af te dwing. Sy plan het geslaag. Sedert Sharpeville sit Suid-Afrika in die oë van die wêreld op die beskuldigdebank. Van nou af is elke optrede vir die handhawing van orde ten laste van die heersende Blankes uitgelê en dit het weer tot gevolg gehad dat die kommunisties-beheerde provokasies van Swart rewolusionêres toegeneem het. Die regering het met drastiese maatreëls geantwoord.
In April 1960 is die PAC en die ANC summier verbied.
Albei organisasies het ondergronds gegaan. Die ANC het nou nouer aansluiting as tevore by die Kommunistiese Party gevind en het saam met die Kommuniste die "Umkhonto we Sizwe" (Speer van die nasie) gestig as gewapende arm van die ANC.
Alle beslissings oor die beplanning en deurvoering van sabotasiedade is deur die gemeenskaplike opperkommando van albei organisasies geneem. Elkeen van die twee organisasies het drie verteenwoordigers daarop gehad. Van die ANC was dit Nelson Mandela, Walter Sisulu en Raymond Mhlaba en van die SAKP Lionel Bernstein, Ahmed Kathrada en Govan Mbeki. Met geld en wapens uit Moskou versorg, het hulle in die jare 1962/63192 sabotasie- en afleidingsdade gepleeg.
In 1962 het die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte daarin geslaag om Nelson Mandela te arresteer. Skaars 'n jaar later op 11 Junie 1963, kon hulle die hoofkwartier van die Kommunistiese Party opruim. Op die plaas "Lilliesleaf" in Rivonia, nie ver van Johannesburg nie, het die leierskorps van "Umkhonto we Sizwe" in die polisie se hande geval; Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Govan Mbeki, Lionel Bernstein, Rav- mond Mhlaba, Dennis Goldberg en Arthur Goldreich.