Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is dit die gebrek aan integriteit by die moderne mens wat maak dat hy nie meer sy woord hou nie? Huweliksbeloftes, besigheidooreenkomste en doopbeloftes word deesdae alles maklik gebreek. Jak 5:12 leer ons dat jou "ja" jou "ja" moet wees, en jou "nee" jou "nee" moet bly. In Núm 30:2 druk Moses ons dit op die hart: "As iemand aan die Here 'n gelofte doen... moet hy sy woord nie breek nie..." So moet ons ook aan mekaar ons woord gestand doen – daar was 'n tyd toe die Afrikaner se woord sy eer was!
ORREL IN KERK
Johan Dorfling
Deur die eeue was daar na my wete slegs een musiekinstrument waaraan die titel koninklike instrument toegeken en wêreldwyd so erken is. Die orrel. Hierdie koninklike instrument het tereg 'n vaste plek in ons kerke verwerf met die uitskakeling van alle ander musiekinstrumente tydens eredienste.
Hedendaags word daar al hoe meer propaganda gemaak vir kitare, trompette, beuels, viole, ensovoorts, tydens eredienste. Soos gewoonlik wanneer veranderinge voorgestel word, word die aanvaarde eers afgekraak, 'n strooipop opgestel, om verdagmaking te saai. Dan word verwag dat die strooipop verdedig moet word omdat dit as 'n feit gestel word. Waarom hierdie optrede as iemand 'n goeie saak vir sy eie siening en voorstel kan voorlê? In die geval van die orrel in die kerk word heeltemal ongegrond verklaar dat die orrel in kroeë bespeel is. Het die orrelpype maklik ingepas? Dit is lafhartige en onetiese optrede.
Al sou die orrel in kroeë bespeel gewees het, beteken dit nie dat dit ongeskik sou wees om Gods Woord te help verkondig nie. Wyn word in kroeë gedrink, maar is nie daarom onvanpas om tydens nagmaal in die kerk gebruik te word nie. Die orrel as musiekinstrument leen hom egter nie tot die luidrugtige sang in kroeë nie.
Verder word gesê dat die jongmense nie na 'n outydse instrument en stadige melodieë wil luister of dit sing nie. Sekerlik sal daar enkeles wees wat so redeneer, maar om te veralgemeen is aanmatigend. Daardie enkeles se stemme word skielik hoog aangeslaan, terwyl dit juis hulle is wat nie diepte-insig het nie. Aan hulle behoort voorgangers leiding te gee soos hierna verduidelik sal word. Ons moet by God aanpas en nie Hy by ons nie.
Die doel met afkraking van die orrel gaan veel dieper as bloot die oppervlakkige. Waar word die streep met ander instrumente getrek? Die klavier (nie wanneer dit móét nie), se opvolger is die trekklavier of die konsertina, viool, fluit, beuel, trompet, kitaar, watter musiekinstrumente daar ookal is. Gaan ek nou te ver? Ander wil verder gaan, ander wil net drie of vier instrumente toelaat. Wie gaan die stryd wen?
Volgende is dat daar 'n verhoog geskep word om die orkes vir almal sigbaar te maak. In so 'n geval is dit toeskouers wat die vertoning wil sien, nie lidmate wat aan die erediens wil deelneem nie. Saam hiermee moet daar 'n solis wees wat optree. Wie is wie se voorkeur as solis. Miskien 'n gewilde openbare sanger? Nou is dit 'n konsert. Bring die springmielies. Ons moet mos aanpas by die mens se giere. God tel nie meer nie.
Die kansel? Natuurlik moet dit afgebreek word, wat is die nut daarvan as die predikant saam met die orkes op die verhoog verskyn. Hoe ligsinnig kan skynheiliges wees? Ek wonder hoeveel mense weet wat die diepsinnige en hemelse rede vir die gebruik van die kansel is. Hieroor kan lank gepraat word, maar is nie deel van hierdie skrywe nie.
Dat ek uiters ernstig is en opreg glo, word weerspieël in wat werklik in een van ons grootste en bekendste kerke gebeur het. Herken jy die volgorde van die stappe soos dit plaasgevind het? Kitaar tot by verwydering van die kansel. Hieroor is daar geen onduidelikheid nie.
Die erediens gaan nie oor die opwekking van emosies nie. Dit gaan oor die samekoms van lidmate in ooreenstemming met die wil van God om in gehoorsaamheid na die Woord te luister. Die orrel veroorsaak ook dat die stemme van die gemeente met mekaar verenig word. Verskeie instrumente verenig nie die gemeente nie. Die sang moet stigtelik geskied sonder platvoerse oppervlakkigheid om heiligheid aan die ontmoeting met die Here stylvol te maak. Sang was vir Calvyn 'n vorm van gebed, 'n gebed van die gemeente in heldere, duidelike woorde. Die kerksang as openbare gebed het groot krag om God ernstig te loof en aan te roep.
Volgens Calvyn kan musiek, losgemaak van Gods Woord, (gewilde liedjies) tot afgodery gevoer word. Die orrel se voortreflikheid word ook ingespan om die gemeente deur voorspel voor aanvang van 'n erediens in 'n rustige stemming te bring sodat die gemeentelede se aandag by die erediens betrek word; gereed vir die ontmoeting met God en vry van hulle gedagtes oor aardse gebeure. Geen gemoedere moet opgejaag of aangehits word nie.
Die koninklike musiekinstrument moet in sy edelheid behoue bly vir psalms en gesange (gebede) tot God.