Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is vanaand weer Ou Kersaand wanneer ons graag 'n Kersboom met mooi liggies en persentjies daaronder in die meeste van ons huise het. Maak seker dat jy vanaand weet waarom die persent-uitruilery gaan: die geskenk van God aan die mensdom – sy Seun; en die geskenk van die mens aan God – wanneer ons ons harte vir Hom gee.
SENSUS 2011, NOG 'N BORDEEL...
Vanaf 10 Oktober tot die einde van die maand word die sensus opgeneem in die land, en na slegs enkele dae was dit al duidelik dat hier weer eens ‘n monumentale gemors besig is om te ontvou.
Die eerste berig van ’n roof is bekendgemaak skaars nadat die sensusopnames begin het.
In Kensington is mnr. Godwin Symons beroof van R5 000 kontant en ’n vuurwapen. Hy het goedgelowig twee mans in sy huis toegelaat wat hulleself as sensusopnemers voorgestel het en hom toe aangehou en beroof het.
Vorige sensusopnames het veral die blankes van die land op hulle agtervoete gekry oor wat daar agter sit. Ook hierdie jaar is daar weer vrae op die sensusvorm wat mense se nekhare laat rys en wonder waarom sekere vrae gevra word. Waarom wil die sensus weet of daar ‘n televisie of ‘n wasmasjien in die huis is, of wat die inkomste is? Waar die regerende party van die land allerhande geluide laat hoor van herverdeling van rykdom, nasionalisering, uitwissing van sogenaamde ekonomiese ongelykhede, en selfs praat van ‘n ekonomiese revolusie (Julius Malema se woorde), is dit heeltemal verstaanbaar dat mense dan nie bereid is om enige inligting wat daarmee te doen het, wil verskaf nie.
Tydens ‘n inligtingsessie van die Statistiekdiens saam met ‘n linkse Engelstalige weekblad, het die statistikus-generaal die “versekering” gegee dat alles moontlik gedoen is om te verseker dat sensusopnemers se agtergrond nagegaan is sodat mense geen veroordeelde misdadigers in hulle huise ontvang nie.Daarvoor sou die intelligensie-agentskappe glo ingespan gewees het. Sommer die eerste dag word die publiek gekonfronteer met ‘n gewapende roof en aanranding deur vermeende sensus-opnemers, en dit wil voorkom of verhoorafwagtende misdadigers wat op waarskuwing of borgtog op vrye voet is, wel deelneem. Dit beteken dat die publiek dan of mislei is deur die statistikus-generaal, of dat die intelligensie eenhede nie hulle werk gedoen het nie of doodgewoon onbekwaam is.
Wat ook al die redes mag wees, veroorsaak dit dat die publiek in gevaar is en dat dit weer eens wil voorkom of blankes by uitstek die teiken is, beide betreffende die veiligheidsituasie asook die inhoudelike van die vorm.
Solank ons, alhoewel onder protes en sonder ons toedoen, onder die gesag van die ANC-bewind staan, is ons ook helaas aan sy wetgewing onderhorig. Daarom sal ons niemand adviseer om onwettig op te tree en te weier om die vorm in te vul nie. Ons sal egter nie tot die kruiperige posisie van ‘n Afriforum beweeg nie, wat jubel oor die sensus en almal aanraai om ywerig daaraan deel te neem nie, en sommer die sensus te bedank vir die Afrikaanse vorms (wat opnemers skynbaar in elk geval nie by hulle het nie). As ons dit wetlik kon regverdig, sou ons inderdaad mense aanbeveel om nie deel te neem aan die sensus nie, maar ons kan nie. Dus moet mense wel deelneem, as hulle natuurlik deur sensusopnemers tuis gevind en genader kan word. Daar word van niemand verwag om self moeite te doen om ‘n vorm in die hande te kry nie.
Verder is dit ook so dat die vorm volledig ingevul moet word. Niemand kan egter dit wat ingevul word, sien as ‘n weiering nie. As daar gevra word na die grootte van die huis, kan daar ingevul word “Privaat”. As daar gevra word of daar ‘n televisie in die huis is, kan daaroor geskryf word “Privaat”. Op dié wyse word aan die wetlike vereistes voldoen deur die vorm volledig in te vul, sonder om die reg tot privaatheid prys te gee nie.
Ons advies is ook dat die sensusvorms self ingevul moet word, en dat dit nie oorgelaat moet word aan ‘n opnemer wat dit met potlood invul nie. Vul dit self in met ‘n swart pen sodat dit nie uitgevee en verander kan word nie, en daar is geen wet wat enigiemand verplig om ‘n sensusopnemer in die huis toe te laat nie.
Die plakkate met die gesigte van sensus-opnemers wat in gebiede aangebring word, is ook ‘n klug. Foto’s met kontakbesonderhede word skynbaar deur die opnemer self op die plakkaat geplak. Hoe lank voordat misdadigers eenvoudig hulle besonderhede op die plakkate plak, en mense mislei om sodoende misdaad te kan pleeg? Ons sal as volk gaandeweg moet begin beweeg na meer en doelgerigte lydelike verset, waarvoor ons mense nie gearresteer kan word nie. Die sensus bied so ‘n geleentheid. ‘n Sensus, in ‘n beskaafde land onder ‘n beskaafde en veral verantwoordelike regering, is ‘n noodsaaklikheid. Dieselfde beginsel geld met die doodstraf. Maar om die doodstraf op hierdie stadium aan die ANC-bende toe te vertrou, sou doodgewone selfmoord wees. Die sensus in die hande van die ANC-bende, kom op dieselfde neer. Daarom doen ons die minimum wat die wet vereis, en verder pleeg ons lydelike verset deur hulle geen persoonlike inligting te gee wat teen ons gebruik kan word nie.
Vyf sake is belangrik:
• Die eienaar se privaatheid en die privaatheid van sy eiendom moet gerespekteer word. Geen opnemer mag aandring om die perseel te betree nie. Dit is inbreuk maak op die eienaar se privaatheid. Ook die boeregemeenskap het die reg om geen vreemdeling toe te laat om sy eiendom te betree nie. Die opnemer behoort ’n afspraak te maak wanneer boere besoek word en die plaas sodoende betree word.
• Die opnemer moet hom of haar behoorlik identifiseer. Indien dit nie gedoen kan word nie, bestaan daar twyfel oor die egtheid van die aanstelling en kan die vermeende opnemer summier weggewys word.
• Die publiek het die reg om aan te dring op ’n vorm in die taal van sy voorkeur. Afrikaanssprekendes het die reg om aan te dring op ’n Afrikaanse vorm. Die vorm is omvattend en die publiek het die reg om die vrae te kan verstaan alvorens daarop geantwoord kan word.
• Die vorm hoef nie in die teenwoordigheid van die opnemer ingevul te word nie. Dit kan by die huiseienaar gelaat word wat dit op sy tyd kan voltooi. Daarna kan die vorm weer afgehaal word.
• Die publiek het die reg om aan te dring om in Afrikaans bedien te word. Indien die opnemer nie daartoe in staat is nie, is nie voldoen aan die onderneming dat opnemers aangestel word om by die gemeenskap in te pas nie.