Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Iets waarmee ons vrede moet maak is dat lyding en swaarkry vir elkeen van ons voorlê. God verseker ons egter dat dit van korte duur sal wees – opgeweeg teen die heerlikheid wat daar vir ons in die hemel by God wag!
ADINA SE BRIEWE (4)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
Die bruilof
Rabbi Efraim het nie gedeel in sy dogter Adina se opgewonde verwagtinge oor die koms van die Messias nie. Hy het vir haar geskryf dat daar in die verlede al baie dwaalleraars in Israel was wat hulle valslik as die Messias voorgedoen het. Dit kom vir hom voor asof hierdie Jesus van wie sy skryf, maar net weer een van hulle is. Die Messias wat gaan kom, sal 'n persoon van mag en invloed wees. Hy verwag dat Hy tevoorskyn sal tree uit die geledere van die Sanhedrin, as een van die invloedryke Fariseërs, want so 'n man sal tog in staat wees om die hele volk in totale opstand teen die Romeinse oorheersers te lei. Dit het Adina se nuutgevonde geluk vertroebel, maar haar entoesiasme nie lank gedemp nie. Sy het aan haar pa geskryf:
Liewe Vader
Ek was so opgewonde toe tant Hanna verlede week aan my u brief oorhandig wat daardie dag saam met die kameel-karavaan van Alexandrië af gekom het. Ek wou so graag hoor hoe dit met u persoonlik gaan en of die huisbediendes vir u goed genoeg sorg. U skrywe egter niks daarvan nie en gebruik die grootste deel van u welkome brief om my te waarsku teen dwaalleraars, wat nie eers die wet ken nie en hulle voordoen as profete, messiasse en christusse. Dit het my 'n bietjie hartseer gemaak. Moet tog nie dink dat u enigste dogter, wat deeglik deur u wysheid en kennis onderrig is toe ons saans in u bokamer in Alexandrië in die boekrolle van die profete gedelf het, sommer enige dwaalleringe sal aanvaar nie.
Wat ons daardie dag by die Jordaan van Johannes die Doper gesien en gehoor het, oortuig my dat hy 'n profeet is wat deur God gestuur is en vir ons mense moet kom waarsku om die sonde te laat staan, want die Messias kom. En Vader, ek is oortuig dat dié Jesus wat deur hom gedoop is, werklik die Messias is wat ons volk gaan red, al kom Hy nie uit die geslag van die priesters nie, maar hulle sê Hy is 'n afstammeling van koning Dawid. Gaan asseblief weer na in die geskrifte van die profete of dit so is.
Ek wil graag verder ook die vrymoedigheid neem om aan u te skryf wat verder plaasgevind het nadat Jesus in die Jordaan deur Johannes gedoop is. Mense van Galilea af het vir ons vertel dat hy 'n geruime tyd in die woestyn was en toe teruggekom het na die See van Galilea. Onderwyl Hy daar langs die strand stap, kom Hy op twee vissers af wat besig was om 'n net in die see uit te gooi. Jesus het gaan staan en vir hulle gesê: "Kom saam met My; Ek wil julle graag vissers van mense maak."
Die wonderlikste hiervan is dat hulle gladnie teëgestribbel het nie. Hulle het die net en die skuit net so laat staan en saam met Jesus verder gestap. Dit is twee broers, Simon Petrus en Andreas.
'n Entjie verder langs die strand, kom hulle af op twee ander broers wat besig was om hulle nette heel te maak. Dit was Johannes en Jakobus, wat saam met hulle vader, Sebedeus in die skuit gesit het. Jesus het vir hulle twee ook gesê om saam met Hom te kom. Hulle het hul vader net so by die skuit agtergelaat en saamgegaan.
Pappa, wat dring hierdie manne om huis en haard, sonder slag of stoot meteens te verlaat en Jesus te volg? Dit moet beslis van God af kom. Later het Jesus nog meer dissipels aangestel. Een van hulle, Filippus, was afkomstig van die stad Betsaida. Hy het na Natanael gegaan en vir hom gesê dat hulle die Messias gevind het van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het. Dit is Jesus, die Seun van Josef van Nasaret. Natanael, wat ook Bartolomeus genoem word, wou hom eers nie glo nie en vra: "Kan daar uit Nasaret iets kom wat goed is?"
Filippus het vir hom gesê hy moet self kom kyk en toe hulle na Jesus toe aankom en Hy vir Natanael sien, sê Hy: "Hier is nou werklik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie."
Natanael was natuurlik verbaas en hy vra vir Jesus: "Waarvandaan ken U my?"
"Voordat Filippus jou geroep het, toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou gesien."
Natanael se bewoë antwoord hierop was : "Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!"
Wat dink Pappa van hierdie dissipel se woorde? Kan dit waar wees?
Jesus het toe vir hom gesê dat daar nog groter dinge gaan gebeur as dit en dat hulle van nou af gaan sien hoe die engele uit die oop hemel op- en afklim na die Seun van die mens. Vader, wat beteken hierdie woorde van Jesus? Beteken dit dat Hy self uit die hemel gekom het?
Hy het vir Hom nog 'n paar ander dissipels gekies om saam met Hom te wees. Dit is Tomas, Matteus die Tollenaar, Jakobus seun van Alfeus, Judas Tadeus, Simon Kananites en Judas Iskariot.
Ek weet dat hierdie twaalf manne van Jesus nie na opgeleide militêre generaals lyk wat die volk kan organiseer om die Romeinse burg Antonia aan te val en die vyand te verdryf nie, maar Pappa, ons glo tog dat die Here enigiets kan doen en dat Hy nooit sy volk in die steek sal laat nie.
'n Rukkie gelede is ons almal na 'n bruilof uitgenooi. 'n Goeie vriend van oom Simon se seun het met 'n pragtige meisie gaan trou, wie se ouers in Betanië woon. Die bruilof het in die dorpie Kana plaasgevind, waar die bruidegom se ouers woonagtig is en waar die jongman vir hom en sy bruidjie 'n mooi huis gebou het.
Toe ons nog vroeg in die dag daar aankom, het ek gesien dat dit 'n groot geleentheid gaan wees. Die mense is 'n gesiene familie met 'n groot vriendekring. Ek het vir Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria, opgemerk onder die gaste wat reeds opgedaag het voordat ons vier daar aangekom het. Ons het almal aan die voorkant van die huis die koms van die bruidegom afgewag. Hy en sy gevolg het die bruid in Betanië by haar ouerhuis gaan haal.
Onderwyl ons wag, het Maria van Betanië na my en Salóme toe gekom en gesê dat sy ons graag wil gaan bekendstel aan Maria, die moeder van Jesus. Ek was so aangenaam verras om te verneem dat sy ook daar was en van Nasaret af gekom het om in die vreugde van hul vriende te deel. Sy is 'n mooi vrou, nog in die fleur van haar jare. Uit haar vriendelike oë straal 'n rustigheid, wat 'n innerlike vrede en geluk weerspiëel.
Die bruidegom en die bruid het opgedaag en die groot joligheid het begin. Toe daag daar nog meer gaste op. Pappa, dit was niemand anders nie as Jesus en al sy dissipels! Hulle het spontaan aan die feesvieringe deelgeneem. Die mense het egter aanhoudend probeer om naby aan Jesus te kom om met Hom te gesels.
Die vrolikheid het een stryk deur aangehou gedurende die namiddag. Die bruidegom het sy gaste onder andere onthaal op 'n groot voorraad wyn, maar die houers is naderhand leeggetap onder die aanslag van soveel geesdriftige feesgangers.
Ek en Salóme en tant Hanna het naby Jesus se moeder gesit. Sy het opgestaan en na Hom toe geloop en iets vir Hom gefluister. Hy het ook iets vir haar gesê wat ons nie kon hoor nie. Daarna gaan sy na die kelners en sê vir hulle: "Julle moet presies doen wat Hy julle beveel."
Jesus het self na hulle toe geloop. Ek kon hoor Hy sê: "Maak hierdie ses groot klipkanne vol met water." Dit het lank geneem om sy opdrag uit te voer, want dit is groot houers. Elkeen van hulle hou ongeveer honderd liter water. Jesus het daarna die seremoniemeester laat roep en hom van die inhoud van die kanne laat proe. Dit was nie meer water nie, maar die beste wyn wat nog ooit gemaak is!
Toe die seremoniemeester dit proe, laat hy die bruidegom roep en verwyt hom dat hy die beste wyn nou eers aan sy gaste gaan voorsit.
Ek hoop Pappa sal glo dat Jesus die water in heerlike wyn verander het. Ek het daarvan gedrink. 'n Mens kan nie beter kry nie. Ek dink u sal nou met my saamstem dat 'n gewone mens nie sulke dinge kan doen nie. Selfs 'n toegewyde profeet kan nie water in wyn verander nie. Sal die Messias, al word hy van God gestuur, dit kan doen? Daarom dink ek dat Jesus nie 'n gewone mens is nie. Is Hy nie dalk God self, wat na die aarde toe gekom het nie?
Ek sien so daarna uit om weer 'n brief van u te ontvang, waarin u op my vrae antwoord. Ek hoop u sal kan lig werp op die betekenis van die gebeurtenisse wat deesdae hier in die heilige land plaasvind.
Van u dogter Adina.