Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bejaardheid moet positief benader word – ongelukkig is daar te veel bejaarde mense wat depressief raak en baie ongelukkig is omdat hulle opgehou het om met hoop en verwagting na die toekoms te kyk, en in die verlede begin terugkyk het waar daar net frustrasie en nutteloosheid is. Sorg dat daar altyd iets is om te doen, bly besig en sien daarna uit.
SATAN EN MAGSLUS
Ds A.E. van den Berg
“En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jes.14:13,14).
Die begeerte om mag oor mense te bekom, is 'n sonde wat so ver terug as die val van Satan uit die hemel dateer. Satan se eertydse aansien as hoof-engel in die hemel het in 'n trots by hom ontaard waarna hy en 'n derde van die engele-ryk teen God in opstand gekom en God hulle op die aarde uitgewerp het.
“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak.... En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan.... hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp...... wee die bewoners van die aarde .... want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede...” (Open.12:7-12).
In die OT word die val van die koning van Babel met diè van Satan vergelyk: “Jy was in Eden, die tuin van God...,. Jy was ’n gerub met uitgespreide vlerke ... volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. .... Hoogmoedig het jou hart geword ... Ek het jou op die grond gewerp....” (Eseg.28:13-17)
Hierdie gebeure het die Satan en sekere mense onder sy invloed teen God laat draai en sy gesag verwerp – ook konings: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:1-3).
Sonde het dus by trots begin nl. Satan se begeerte om God se almag te bekom. Hierdie begeerte was so sterk, dat hy selfs Jesus nie ontsien het om aansien te herwin nie: “Weer neem die duiwel Hom saam na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Mat.4:8,9).
Die laaste twee werkwoorde “neerval” en “aanbid” staan in die Grieks in die onbepaalde verlede tyd geskryf en beteken dat Satan Jesus nie vir volgehoue aanbidding gevra het nie, maar slegs een keer. Jesus het egter deur Satan se plan gesien – die een toegewing sou tot 'n volgende een lei. Geen toegewing aan die Satan is ooit eenmalig nie!
Satan sou nooit die koninkryke van die wêreld aan Jesus oorhandig het nie. Daarvoor was sy penne, met soveel magshebbers wat hom gedien het, te diep in aardse koninkryke ingeslaan. Sy aanbod was lokaas; kuns-lokaas!
Die Bybel sê dat alle mag en gesag deur God vir slegs een doel ingestel is: om mense diensbaar te wees. Jesus het by geleentheid selfs sy dissipels se voete gewas (Joh.13). “ ...maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees” (Mark.10:43). Gelowiges streef na een mag – selfbeheersing. Dis 'n krag wat 'n mens op jouself uitoefen. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid..... selfbeheersing” (Gal.5:22).
Mag is ’n positiewe krag indien dit reg gebruik word. Dit kan ook gevaarlik wees, want hoe groter die mag, hoe sterker is die versoeking om dit te misbruik. Dis dan soos onkruid wat die verlate vlaktes van 'n verstand vervuil en tot oorheersing, uitbuiting, knoeiery, dwang en dikwels selfs tot doodslag lei. Suid-Afrika is 'n sprekende voorbeeld hiervan.
Magsbehepte leiers beskou mense as voorwerpe en slegs 'n middel tot 'n doel. Sulke leiers gee voor om hul mense se lewensomstandighede te verbeter, maar vererger dit eerder. Hulle tree net soos die koning van Babel in die gelese gedeelte op; eiegeregtig, onbedagsaam en selfs dreigend “:Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!”
Talle kerke het hulle ook al aan magsmisbruik skuldig gemaak. Die Roomse Kerk span hier die kroon. Die vroeë Christendom het ook met magsmisbruik te doen gekry. Simon die towenaar (Hand.8) het so daarna gesmag, dat hy die kerk daarvoor wou gebruik. Hy het egter berou gehad en daarvan afgesien.
Daar is wel plek vir mag in die lewe. Dis uiteraard al waarmee gemeenskappe met wet en orde gerig word. In Rom.13 skryf Paulus dat sulke gesag in lyn met God se wil vir die lewe is en deur alle mense vir vreedsame onderlinge samesyn gehoorsaam behoort te word.
Dis egter vir niemand nodig om homself met mag aan ander mense te bewys nie. 'n Mens se innerlike waarde kom van God: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:5). Gelowiges moet geen ydele begeertes na mag, status, of erkenning koester nie. Gehoorsaamheid aan God en die uitbreiding van sy koninkryk is al wat saak maak.
Ongelukkig neem magsbeheptheid wêreldwyd toe. Mense woon dikwels sosiale geleenthede by net om met mense te skakel wat hulle kan help om die gewildheidsleer te klim. Hulle neem soos verkleurmannetjies die kleur van hul sosiale omgewing aan. Sommiges praat in kerke soos gelowiges maar neem daarbuite die teenoorgestelde standpunt in en dink dat hulle baie slim is. Nee, dis ongeloof en nooit die teken van besondere verstandelike vermoëns nie, maar eerder van 'n verdraaide wil!
Let maar op: Dinge wat deur ydele mag bekom word, sterf dikwels ’n vroeë dood. Vra maar vir die koning van Babel! Magslustige mense vergeet dat die aardse lewe tydelik is en dat almal met die oordeelsdag geoordeel word: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Baie mense het al hulself in die strewe na mag verloor. Dinge wat op oneerbare wyse bekom word, het slegs die skyn van mag, maar is in werklikheid 'n swakheid wat mense korrup maak. Gevolglik los dit nie probleme op nie maar herrangskik dit eerder.
Daar is net een geneesmiddel vir die liefde na mag – die mag van die liefde. Dit laat gelowiges almal in dieselfde rigting laat kyk: na God toe. Daarom skryf Paulus: “En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” (1 Kor 13:13).