Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Op die lughawe van Bangkok staan daar in groot letters geskryf: “Welkom in Thailand, die land waar elke mens ‘n glimlag dra!” Dis wat ‘n gelukkige mens moet doen – ‘n glimlag dra. Sonder ‘n glimlag is jy nooit volledig geklee nie.
WAT MAAK ONS MET SONDE?
Ds A.E. van den Berg
“Julle weet dat Jesus gekom het om die sonde weg te neem. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie” (1 Johannes 3:5,6).
Johannes skryf aan gelowiges in die verstrooiing oor die hoofrede van Jesus se koms na die aarde: “Julle weet dat Jesus gekom het om die sonde weg te neem”. Dit beteken om mense van die oordeel oor sonde te verlos. Toe Maria swanger raak, sê 'n engel vir Josef: “Sy sal ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”. Johannes die Doper sê vir die skare op die oewer van die Jordaanrivier: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh.1:29).
Hoe neem Jesus sonde weg? Deur die straf van sonde op Hom te neem. Daarvoor het Hy een Vrydag aan 'n kruis gesterf, drie dae later uit die dood opgestaan en daarmee die mag van sonde oor ons gebreek. Wie Hom as Verlosser aanneem, is van hierdie mag bevry. Deur die bekering word ons een met Jesus. Sonder 'n persoonlike verhouding met Jesus is die hel die mens se voorland. Daarom moet ons seker wees dat ons Jesus as Verlosser aanvaar het.
Om 'n lidmaat van ‘n kerk te wees en goed te wees, verlos niemand van die mag van die sonde nie. Jy moet in 'n persoonlike verhouding met Jesus staan. Net Hy kan jou van die straf van sonde verlos. Bekering verlos ons van die mag van die sonde. Dit wat vuil was, word skoon. Jesaja roep sy volk tot bekering op: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes.1:18).
Wat dan van die woorde van die tweede teksvers? “Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie…”. Dit beteken dat iemand wat Jesus in sy lewe het nie sondig asof dit niks is nie, maar hul lewens daagliks ondersoek. Dawid bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps.139:23.24). Die dodelikste sonde is die verlies aan 'n sonde-besef.
Ons kom een maal salig tot bekering. Daarna leef ons ‘n daaglikse bekeringslewe om van verkeerde woorde, gedagtes en dade gereinig te word. Hier is skuldbelydenis belangrik met 'n belofte: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:7).
Johannes skryf: “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy ‘n kind van God is.” (1 Joh.3:9). Hy sê nie dat 'n gelowige nooit sondig nie. Sy woorde moet net reg verstaan word. ‘n Kind van God is iemand wat deur die Heilige Gees weergebore is. In so 'n hart kry sonde geen vastrapplek nie. Die sonde wat daarna begaan word, spruit uit die mens se sondige aard waarvoor daagliks skuldbelydenis gedoen moet word. Gelowiges kan nooit in vrede leef as sonde tussen hulle en God staan nie. Sonde kan nie ongedaan gemaak word nie maar slegs vergewe word.
Sonde verbreek die liefdesverhouding met God. Wie sonde nie herstel nie, raak later so gewoond daaraan, dat dit so 'n persoon nie meer opval nie. Sonde klou aan jou. Dis soos 'n vlek wat jy nie uitgewas kry nie en met elke probeerslag al hoe groter word. Onthou dat geen sandkorrel te klein is om 'n horlosie te beskadig nie. So is geen sonde te klein om 'n siel te skaad nie.
Satan pla jou nie as jy in sonde leef nie. Hy pla jou wel as jy daaruit probeer kom. Onthou: Sonde staan nie stil nie. As jy nie daarvan wegvlug nie, kom dit al hoe nader en word die omdraai na God toe al hoe moeiliker. Paulus skryf: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon” (Rom.7:19,20).
As wedergeborene gee ek myself nie meer aan sonde oor soos voor my bekering nie. Sonde oorheers nie meer my lewe nie. Ek staan nie meer in diens van Satan nie en bied bewustelik weerstand teen sonde. Kortom: Met Jesus in my lewe is ek 'n nuwe mens: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het” (2 Kor.5:17,18).
Sonde laat jou van God afdwaal. En as jy sonde nie onderkry nie, kry dit jou onder. Dit floreer omdat mense dit soos koek in plaas van gif hanteer. Daarenteen leef opregte gelowiges ‘n lewe van daaglikse sonde-belydenis. En dít is net moontlik as ons weet dat as ons, ons sonde voor Jesus bely en Hy dit vergewe en nie verder daaraan dink nie.
In Jesus is ons nuwe mense. Die ou sondige mens is gekruisig: “...aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Rom.6:6). Wie van die vuil in sy eie lewe bewus is, het Jesus in sy lewe. Paulus stel dit in sy brief aan die Galasiërs duidelik: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my...” (Gal.2:20).
Gelowiges leef ná hul bekering in 'n nuwe verhouding met Jesus. Die Bybel noem dit ook 'n wandel met Jesus. In Gen.5:24 lees ons dat Henog met God gewandel het. Om met Jesus te wandel beteken dat jy op dieselfde pad as Hy is. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh.2:6).
Pasop, sonde laat jou van hierdie pad afdwaal: “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. Want baie — van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê — wandel as vyande van die kruis van Christus”. (Fil.3:17,18).
In Joh 15 sê Jesus: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.”
Jesus sê dat as ons in Hom bly, ons lewens vrugbaar sal wees. Al ons goeie werke sal uit ons nuwe lewe in Jesus spruit omdat die nuwe mens na die beeld van Jesus verander is en in Hom geen sonde is nie. “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my...” (Gal.2:20).