Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie oorleg en wysheid het, is gewoonlik spaarsaam met sy woorde; iemand wat by jou kom skinder gaan ook van jou skinder – vermy sy skinderpraatjies!
MOENIE TERUGVAL NIE!
Ds A.E van den Berg
“...julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees... (Rom 8:9).
Ons land wemel van dwaallering. Messiaanse Jode is een van hulle wat baie veld onder ons regse volksgenote wen. Hulle glo dat die geloof in Jesus nie genoegsaam vir die ewige heerlikheid is nie, maar dat die Wet van Moses ook onderhou moet word. Hulle sê dat hierdie Wet nie met die kruisdood van Jesus opgeskort is nie maar eerder vernuwe is. Gevolglik moet die NT slegs vanuit 'n OT oog verstaan word. Hulle beskou die Tien Gebooie as die fondament om die Bybel te verstaan en sê dat Jesus met die Christendom nie 'n nuwe godsdiens gevestig het nie.
Die Bybel leer anders. Net soos wat die dood 'n huwelik beëindig, het Jesus die wet opgeskort. Paulus skryf in hierdie verband van Jesus: “...en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”(Kol.2:14).
Van die misleiers gaan selfs so ver as om die betroubaarheid van die oorspronklike Bybelteks aan te val en verkondig dat daar 'n oorspronklike Hebreeuse teks van die NT bestaan het. Gevolglik beskou hulle die Griekse teks van die NT as bedorwe en onaanvaarbaar. Indien dit waar was, sou die kerk geen standaard van geloof gehad het nie. Gevolglik is Joods-Messianisme 'n gruwelike misleiding!
Alhoewel daar verskillende van hierdie sekte-groepe met verskillende sienings is, is almal oor een saak eens – die voortsetting van die sg. oorspronklike Joodsheid van die Christendom. Dit gaan vir hulle uitsluitlik oor die vlees en nie die gees soos wat die Bybel leer nie. ...“julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees...” (Rom.8:9).
Die Messiaanse Jode beskuldig die kerk daarvan dat sy haar Joodse oorsprong minag en roep mense om die verordeninge van die Wet van Moses weer die sentrale plek in hul godsdiens te laat inneem. Die sabbat moet op Saterdae gehou word, Joodse feeste moet gevier en OT voedsel-voorskrifte moet streng nagekom word.
Om die Wet van Moses tot die grondliggende leer van die kerk te verhef, kom op 'n veragting neer van wat die NT leer. Die NT sê dat die Wet, wat redding betref, met die dood van Jesus uitgedien geraak het. Om te leer dat die onderhouding daarvan nog steeds vir redding nodig is, is om 'n streep deur Jesus se kruis-offer te trek.
Die NT sê baie duidelik dat nie-Jode wat tot bekering gekom het, nie aan die Wet van Moses gebonde is nie, maar aan die Jesus as die geestelike saad van Abraham. Paulus skryf : “... maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham..... Daarom is dit uit die geloof... nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal” (Rom.4:12,16). “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).
Christene is 'n nuwe volk na die Gees. “... deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van die gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep” “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efes.2:15,19).
Daar is nêrens in die Bybel vir nie-Jode opdrag om die Joodse wette en gebruike te volg nie. Die teendeel is eerder waar: “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie” (Rom.7:6).
Soos wat 'n laaste betaling op 'n huis die lener geen verdere verpligtinge teenoor die lening-instansie oplê nie, het Jesus die finale paaiement vir ons ewige huis aan die kruis betaal. Toe die gordyn tydens sy dood in die tempel skeur, is die OT kontrak opgeskeur: “As Hy sê 'n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak” (Hebr 1:3).
Desondanks bly die Wet van Moses vir die Messiaanse Jode sentraal en strydig met Paulus se kern-boodskap: “...want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde...” (1 Kor.2:2).
Daar is in die kerk wel plek vir die Wet as dit reg gebruik word. “... ..Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettig gebruik” (1 Tim.1:8). Dit mag nooit anders as vanuit die vervulling daarvan in Jesus verstaan word nie. Die besnydenis, offers, priesters, feeste en sabbat het alles na Jesus heen gewys en is na sy kruisdood gestaak.
Jesus het 'n nuwe standaard gestel. In Mat.8 lees ons van sy genesing van 'n melaatse. Die Wet het die aanraking van 'n melaatse as onrein geag en verbied. Jesus raak wel een aan en genees hom. Dit gebeur ook met die genesing van die man by die bad van Betesda op 'n sabbat.
Jesus is gelowiges se enigste gesag. Hy verklaar alle voedsel rein (Mark.7:15). Daarom onderhou gelowiges nie die OT se voedsel-voorskrifte nie. “ Laat niemand julle dan oordeel in spys of drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge...” (Kol.2:16,17).
Messiaanse Jode hou hulle gedurig met twisvrae besig: “En hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is” (1 Tim.1:4). In Handelinge berispe Petrus mense uit Judea wat die Joodse wette op gelowiges wou afdwing: “....waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (Hand.15:10).
Die leer van die Messiaanse Jode is 'n gruwelike mistasting. Dit wemel van foute wat wissel van 'n verkeerde vertolking van die wet tot 'n wanbegrip van die Evangelie en verdring die verlossingswerk van Christus.
Die Messiaanse Jode mis die hele punt – die OT is 'n voorafskaduwing wat na die Messias heenwys. Hulle draai dit om dat die OT nie vorentoe na die NT kyk nie maar dat die NT agtertoe na die OT kyk!
Die OT is wel vir gelowiges belangrik omdat dit na Jesus heenwys. Dis egter nie ons leermeester nie. Ons leef in 'n nuwe verbond. Dis 'n nuwe pad. Die ou pad het onbegaanbaar geraak en is met die dood van Jesus deur God gesluit is. Die Messiaanse Jode wil dit weer oopmaak!
Messiaanse Jode is die herlewing van 'n vroeë dwaling in die kerk: “Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te se dat julle besny moet word en die wet moet onderhou”. (Hand.15:24).
Ons bevind ons in die laaste dae wat deur misleiers gekenmerk word. “ Pas op dat niemand julle as 'n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie”. (Kol.2:8)
Open 22 waarsku gelowiges om niks by God se Woord te voeg nie. Die Messiaanse Jode oortree dit onbeskaamd deur hul verkeerde verklarings op die Bybel af te druk. Die enigste manier om nie prooi van misleiding te word nie, is 'n liefde vir die waarheid wat slegs met toegewyde Bybelkennis verkry word. Die Bybel waarsku: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie....”(Gal.6:7).