Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense doop graag hulle kindertjies maar verstaan nie altyd waarom die doop gaan nie. Jesus het sy dissipels opdrag gegee om bekeerlinge in die Naam van van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop. Ouers wat nie in die Drie-Eenheid van God glo nie maar hulle kinders ten doop bring maak 'n bespotting van hierdie verbondsteken van Christus.
NUWEJAARSDAG
Soos ʼn boom by waterstrome
Ds A.E. van den Berg
“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:1-3).
As ʼn nuwe jaar aanbreek besef jy dat die tyd vlieg. Moses skryf: “Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos 'n gedagte” (Ps.90:9).Dat tyd vlieg, is sleg. Die goeie is dat jy die loods is en moet soos Moses bid: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!”
God is ons vlieginstrukteur en wil ons leer om hierdie jaar reg te vlieg want elke mens gaan een of ander tyd ʼn Nuwejaar beleef waarvan hy nooit die Oujaar sal sien nie. En dit kan jy wees! Paulus sê: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is”" (Efes.5:15,16).
Hoe gaan ons die tyd reg benut? Deur reg te leef. En hoe doen ʼn mens dit? Deur die Bybel jou lewenskompas te maak. As die Bybel jou die groen lig gee, dan gaan jy. As dit rooi ligte laat aankom, moet jy stop. En jy kan. God waarsku Kain vooraf: “ ... die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen.4:7).
Ons het net een lewe op aarde. Dit kom van God wat van ons verwag om dit reg te leef. Ps.1 vertel hoe om aan God se verwagting te kan voldoen. Soos baie van die Psalms weet ons nie wie dié een geskryf het nie maar hy het na aan die Here geleef.
Die digter vergelyk ʼn gelowige se lewe met ʼn boom. Hierdie boom is anders en het nie deur ʼn saadjie wat ʼn voël laat val het opgekom nie. Dit is ook nie deur die wind na sy groeiplek gewaai nie. Hierdie boom is met ʼn besondere doel geplant. Wie is die Planter? God self. Jesus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh.6:44).
Elkeen wat tot die reddende geloof in God kom, word deur Hom op ʼn spesifieke plek geplant. Die psalmdigter sê dat Hy dit by waterstrome plant om dit te voed en te onderhou. Water is ʼn bekende Bybelse beeld vir God se Gees. As Hy ons plant en water gee, dra ons vrugte. Ons is nie soos die vyeboom in die gelykenis wat geen vrug gedra en toe uitgekap en verbrand is nie. Ons dra vrug.
Die boom wat God geplant het en versorg, dra vrugte op sy tyd. Hierdie vrugte is al die goeie werke wat God behaag. Jesus sê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra” (Joh.15:8). Paulus noem die vrugte by die naam: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal.5:22)
Hierdie boom verwissel ook nie van blare nie en laat ons aan die boom van die lewe in Openb.22 dink: “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies” (:2).
Die Psalmdigter sê dat hierdie persoon voorspoedig is in alles wat hy doen. Sy voorspoed is nie stoflik nie, maar langdurige geestelike wete soos bv. die sekerheid van ʼn ewige lewe saam met Jesus ná die dood. So ʼn mens vermy sonde, geniet die goeie dinge van God en is derhalwe geestelik skatryk.
Geleerdes het bevind dat ʼn boom 90% van sy voeding uit die atmosfeer en 10% uit die grond kry. ʼn Mens kry ook sy fisiese voedsel uit die grond en geestelike voedsel van die Gees van God. Jesus sê: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh.3:8).
In Joh.15 sê Jesus:“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie”(Joh.15:5). As die Hoof van die kerk voed en berei Jesus gelowiges vir goeie vrugopbrengs voor. Daarmee word Hy geëer en medegelowiges versterk.
“Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus”(Efes.4:7,11,12).
Daar is ook bevind dat bome met hoër reënval help. Bome koel die grond af en stel deur hul blare water in die lug vry. ʼn Groot boom kan deur verdamping tot 400 liter water per dag in die lug vrystel. Net so vloei die Heilige Gees eers in die gelowige in en daarna tot seën vir ander uit.
Namate ons die gawes van God gebruik, gee Hy ons nog meer om Hom mee te verheerlik: “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:14-16).
Bome staan egter nie ongeskonde in die natuur nie en moet gedurig aanslae weerstaan. Net so maak God sy kinders teen die aanslae van die lewe sterk. Dit breek hulle nie, maar maak hul sterker en sorg vir blydskap in hul hemelse Planter. Gelowiges is soos teesakkies; hul gehalte word in warmwater gemeet!
Die boom van Ps.1 vertrou sy onbekende toekoms aan sy hemelse Planter toe en doen dit blymoedig. Sulke blydskap is onontbeerlik vir die geloofslewe. In die Middeleeue was ʼn koning dikwels uitstedig en nie in sy paleis as mense hom wou kom sien nie. Al hoe hulle geweet het dat hy tuis was, was die koninklike vlag wat voor die paleis gewapper het. So is blydskap in die Here die vlag wat in gelowiges se harte wapper en sê: Die Koning is tuis!
Ons is aan die begin van ʼn nuwe jaar en die lewe vorentoe soos ʼn hoofstuk van ʼn boek wat wag om geskryf te word. Al die blaaie is skoon. Ons skryf self die woorde. Gelowiges se lewenspaaie is nie maanskyn en rose nie en verskil gevolglik nie veel van ongelowiges s’n nie. Al verskil is dat hulle ʼn toekoms met Jesus tegemoet gaan en nie vrees nie.
Dawid skryf: “Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees? ... Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” (Ps.27:1,14)
“Die Engel van die Here trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Ps.34:8). Hierdie “Engel van die Here” is ʼn OT benaming vir ons Here Jesus. Hy is van die begin van die tyd af met sy kinders,
Ons weet nie wat hierdie jaar vir ons gaan inhou nie. Al wat ons weet, is in Wie se hand dit is en dis genoeg. Die toekoms is soos ʼn leer waarteen ons opklim. Ons kan nie al die sporte van onder tot bo sien nie. Ons kan wel met Jesus by ons met die eerste een begin en met blydskap aanhou klim. Onthou; jy is ʼn boom wat met ʼn spesifieke doel geplant is om vrugte te dra. Dra dit!
My gebed vir u is Fil.4:4-7:
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus”.