Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Voorspoedige land se son sak sodra ‘n goddelose mens aan bewind kom.
AS GOD INGRYP
Ds A.E. van den Berg
“En ek het ’n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het” (Open.16:1,2)
“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk.21:28).
Die mensdom wat al hoe boser word, dui op 'n Bybelse waarskuwing dat Satan net voor die wederkoms van Jesus losgelaat gaan word en die einde van die wêreld in sig is. Die Bybel bemoedig gelowiges dat daar 'n dag sal aanbreek dat elke knie voor Jesus sal buig. Paulus sê: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God...” (Fil 2:9-11).
Sodra dit aanbreek sal gelowiges jubel en verlorenes besef dat hulle God se die ewige oordeel oor hulself gebring het, ja, almal wat nie aan Jesus se oproep tot bekering gehoor gegee het nie. Wie wel gehoor gegee en Jesus in hul lewe ingelaat het, sal die dag van die wederkoms met onuitspreeklike vreugde juig.
Niemand kan God se oordeel ontsnap, dit omkeer of selfs versag nie. Hy het voor die skepping van die aarde reeds die einde daarvan bepaal en loop die uurglas van die mensdom gevolglik stadig maar seker uit. Wat God begin het, voer Hy enduit uit.
Die mensdom gaan in hierdie dae hul rug bewustelik op God keer om die Antichris te dien; selfs ontspoorde kerke. Daarom giet God deur sewe engele die laaste plae oor die aarde uit. Daarmee word die klok vir die laaste rondte gelui.
Omdat hierdie tye baie moeilik gaan wees, gee God vir gelowiges vyf vertroostings: (i) die oop Boek, (ii) 7 engele, (iii) die goue skale, (iv) 4 lewende wesens en (v) die uitwerking van die plae.
Die oop boek is die Bybel. Gelowiges sal daarin die antwoord vind vir alles wat in die laaste dae gaan gebeur. Daarom moet gelowiges dit oop hou. God, wat alles weet, gaan op 'n besondere manier deur die Bybel met die laaste gelowiges praat en bemoedig sodat hulle nie moedeloos word en uit die ry na die ewige geluksaligheid val nie.
Die sewe engele met die blink linne en goue gordels om die bors herinner ons aan die visioen waarmee Openbaring begin: “...en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel” (1:13).
Die engele tree in die Naam van Jesus op. Hulle priesterlike drag versinnebeeld Hom, die volmaakte hoëpriester wat Hom as 'n volkome versoening vir sondes laat offer het. Hierdie engele leer ons dat Jesus aan die einde van die tyd 'n besondere pad met gelowiges gaan stap. Alhoewel Hy deur die eeue met gelowiges is, sal die laaste gelowiges 'n baie sterker ervaring van Jesus se nabyheid hê.
Hierdie engele voltrek die laaste plae. Die goue skottels is volgens Open.5:8 simbole van die gelowiges se gebede tot Jesus. In die tyd van groot benoudheid antwoord Hy sy kinders se gebede op besondere wyses. Die Heilige Gees maak 'n groter behoefte aan gebed wakker wat sterker betekenis kry.
Let daarop dat dit wat tydens die laaste uittog gebeur, ook tydens die eerste uit Egipte gebeur het. Toe Israel slawe was en baie swaar gekry het, is daar baie meer gebid. God het gehoor gegee en plae oor Egipte laat kom. Iets soortgelyks word aan die einde herhaal. God gebruik hierdie keer net sy engele met die laaste plae. Alhoewel lewensomstandighede baie moeilik gaan wees, moet gelowiges rustig raak want hulle is ook na 'n beloofde land oppad – die grootste van almal, die Nuwe Jerusalem.
Een van die vier lewende wesens gee aan die engele hierdie goue skale met die laaste plae. Van hierdie wesens weet ons nie veel nie. Hulle kom slegs in die visioene van Esegiël voor en dan weer eers in Openbaring. Hulle vertoon die gelaatstrekke van 'n leeu, 'n bulkalf, 'n mens en 'n arend – almal God se agente. Die leeu verteenwoordig die ongetemde oerwoud, die kalf die getemde aarde, die mens die kroon van die skepping en die arend die koning van die voëls.
In die beeld van die arend sien ons van God se eertydse betrokkenheid by Israel se moeilike woestyntog. God sê vir hulle: “Ek het julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring (Ex. 19:4). Open.12:14 sê dat God in die laaste dae arendsvlerke aan gelowiges sal gee. Hulle is onder God se almagtige beskerming met alles wat volgens sy ewige plan verloop.
By die voltrekking van die eerste plaag, word iets ernstig dog vertroostend genoem; bose swere kom aan diegene wat die merk van die dier het en sy beeld aanbid. Israel het ook God se plae oor Egipte gesien. Slegs die Egiptenare het die spit afgebyt. Dit gaan weer gebeur. Bose swere gaan oor elkeen kom wat merk van die Antichris het. Wie in Christus is en met die bloed van die Paaslam gemerk is, word nie geraak nie. Hulle het die bloed aan die deurpos van hul hart.
“En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle eet. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref.... Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan...” (Ex.12:7,13).
Vir gelowiges sal die voltrekking van die laaste plae anders wees as vir die ongelowiges wat weier om die knie voor God te buig. Van hulle sal in daardie dae God selfs belaster net soos wat Farao en sy mense in die tyd van Moses gedoen het. Die laaste plae sal wêreldwyd wees. En sodra dit gebeur, sal gelowiges weet dat hul hemelse Vader begin ingryp!
Gelowiges moet deeglik voorbereid wees. Paulus skryf: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is omuit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het” (Rom 13:11). As hy alreeds in sy tyd daarvan gepraat het, hoeveel nader is dit nie vandag nie!
Dinge is aan die gebeur. Openbaring is ons padkaart na die Nuwe Jerusalem. Moet dit nie toemaak nie. Ons eindbestemming is baie naby. Ons geloof gaan egter deurslaggewend wees. Kyk rondom jou – oral loop mense kop onderstebo; ontnugter, radeloos en neerslagtig. Dis nou die tyd om as kind van God anders op te tree en so 'n getuienis te wees. “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele..” (Mt 5:12).
Tel jou kop op want ons is in die pylvak van die wederkoms en ons ewige tuiste naby. Jesus sê: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk.21:28).