Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die hoof van ‘n land onreg bedryf en bose wette uitvaardig, mag die gelowige hom nie daarin volg nie. In hierdie verband spel Hand.5:29 vir gelowiges die goue reël uit waar ons lees: “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”.
DIE LAASTE UITTOG
Ds A.E. van den Berg
“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! (Open.15:3).
Meer as 2000 jaar gelede het God in Jesus mens geword en vir 33 jaar op die aarde gewees. Daarna het Hy ná 'n kruisiging uit die dood opgestaan en ten hemel gevaar. By die geleentheid het die dissipels en alle gelowiges 'n wonderlike belofte ontvang:
“En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle wat sê: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel,sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand.1:9-11).
Gelowiges hou al eeue lank aan hierdie belofte vas – Jesus kom weer. Die Bybel gee enkele besonderhede van die dag. Dit sal onverwags en die mensdom onvoorbereid daarop wees. Voordat dit gebeur, gaan God die gelowiges vir sy koms gereed kry. Openbaring vertel vir ons wat gaan gebeur.
Open.15 verplaas ons na daardie tyd en begin met sewe engele wat God se sewe laaste plae as te ware uitgiet. Dit vertel van 'n laaste era waartydens talle kerke feitlik ophou bestaan. Hulle het slegs die skyn van godsdiens, maar is sonder krag. Jesus noem die era as een waarin ongeregtigheid vermeerder en liefde verkoel (Mt. 24:12). Hy praat van skokkende dinge wat sal gebeur sodat almal op die aarde sal weet dat God onreg en boosheid nie verdra nie, maar daadwerklik straf.
Die Bybel het talle voorbeelde van God se straf soos bv. die sondvloed en die verwoesting van Sodom en Gomorra. Hy het altyd mense vooraf gewaarsku dat Hy gaan optree sodat hulle hul gereed kon kry. Die gebeure van Open.15 sinspeel op die selfde ding – God se straf. Toe Johannes die boek geskryf het, was die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70nC vars in mense se geheue.
Jesus het die Dinsdag voor sy kruisiging die verwoesting van die tempel aangekondig waarna Hy sy Profetiese Rede oor die wederkoms en die voleinding gelewer het (Mt. 24-25). Die voleinding sou nie spoedig ná sy dood wees nie. Hy het gesê dat die evangelie eers in die hele wêreld verkondig moet word voordat Hy weer aarde toe kom.
Dinge rakende die naderende wederkoms word al hoe duideliker soos wat booshede toeneem en God se waarskuwings duideliker word. Gelowiges moet egter nie bang wees nie. God sal die laaste gelowiges nie aan bose magte uitlewer nie. Hou maar altyd die Openbaringboek oop: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word, en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Open.. 22:10).
In Open.15 hoor ons van sewe engele wat die sewe laaste plae uitgiet en dit sal erger wees as wat ons, ons kan voorstel. Johannes sien iets soos 'n see van glas wat met vuur gemeng is en gelowiges wat 'n lied sing: die lied van Moses en van die Lam.
Toe Moses destyds met Israel deur die see getrek en Farao en sy manne omgekom het, het die volk van blydskap gesing. Net so gaan die verlostes aan die einde van die tyd van dankbaarheid sing as God se oordeel eens en vir altyd oor die goddeloses voltrek is. Moses en sy mense het die eerste uittog beleef; ons gaan die tweede en laaste uittog beleef. Dit lê vir elke gelowige voor!
Die see wat Johannes sien, is die simboliese afsnypunt en herinner ons aan Israel se deurtog deur die see. Ná die deurtog kon Farao en sy leërs die Israeliete nie verder pla nie. Soveel te meer sal diegene wat deur die bloed van die Lam gered is, aan die einde sing want niks kan ons van sy liefde skei nie; nie eens die laaste plae nie!
Wat staan ons wat op hierdie laaste plae afstuur, intussen te doen? Ons moet baie seker maak dat ons afgesonder, gereinig en met die bloed van die Lam verseël is, want sodra die laaste plae begin aanbreek, is genade-tyd verby. Dit sal wees soos die mense wat destyds by Noag op die ark wou kom of die vyf dwase maagde wat aan die toe deur gehamer het. God is regverdig en oorreed eerder as om te oorrompel!
Die aarde gaan nie vir altyd bestaan nie. Daar kom 'n afsnypunt. God het al telkens in die geskiedenis ingegryp as dinge te ver gegaan het. Dinge kom egter altyd tot 'n punt. Die boosheid kan nie onverwyld aangaan en God maar altyd 'n blinde oog draai nie. Hy het dit nog nooit in die verlede toegelaat nie en sal beslis ook nie nou nie!
Gelowiges voel die naderende wederkoms duidelik aankom. Jesus het gesê dat ons sy wederkoms aan die tekens van die tyd sal herken. Ons moenie soos die dwase maagde aan die slaap gevang word nie. Terwyl ons hierdie dinge sien gebeur, durf ons nie agteroor sit en sorg dat ons op ons pos is nie. Laat ons onverskilliges waarsku en met hart en siel op daardie dankdiens wag waar die lied van Moses en van die Lam gesing gaan word.
Ons gaan 'n baie moeilike eindtyd tegemoet waar gelowiges nie eers meer kan koop of verkoop as hulle nie die merk van die dier op die voorkop en hand het nie. Hulle sal versoek word om in te gee en saam met die goddeloses te knoei en te konkel ter wille van oorlewing. God gaan ons soos Israel kragtig verlos. Farao en sy manne het in die see omgekom. As God die handrem losmaak, is daar geen keer nie. Dit wat die goddeloses onder leiding van Satan en sy trawante gesaai het, gaan hulle maai.
Hierdie wêreld gaan deur 'n smeltkroes tot op daardie dag wat God in sy ewige raadsbesluit as 'n afsnypunt vasgestel het. Sy Woord lig die mensdom al eeue lank daaroor in. Ons is derhalwe nie in die duister oor wat aan die einde gaan gebeur nie. Ons het Openbaring om te lees.
Hierdie laaste tyd gaan wel moeilik maar van korte duur wees anders sou geen mens gered word nie. Jesus sê in Mt.24:22 dat Hy ter wille van die uitverkorenes hierdie dae verkort. Net so verskriklik as wat Hy teen goddeloses optree, net so genadig is Hy oor sy kinders.
In dié tyd sal mense van vrees omkom en wens om dood te gaan, maar nie kan nie. Niemand sal die oordele van God ontvlug nie. Die vuur wat die goddeloses gaan verteer, is klaar aangesteek en niemand sal daaraan ontkom nie! Vir gelowiges is dit genadig baie anderste. God bewaar hulle in hierdie tyd:“Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien” (Ps.91:7,8).
Laat ons dus met verlange om na hierdie laaste uittog uitsien en gereed maak om die danklied van Open15 saam met ons geloofsgenote te sing. Hou aan die geloof en Jesus se laaste belofte vas: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).