Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons na Jesus kyk en ’n God van liefde raaksien, word ons opnuut bewus van ons eie bedorwenheid. Dat dit die Skepper gekos het om mens onder ons te word sodat ons die ewige lewe kan verkry, gaan ons verstand te bowe!
DIE DODERYK
Ds A.E. van den Berg
“En ek het ʼn groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit... En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ʼn ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke”(Open 20:11,12).
Baie mense weet nie werklik wat met die siel na hul dood gebeur nie. Die meeste mense glo dat as jy mooi geleef het, jy hemel toe gaan en as jy sleg geleef het, hel toe. Dis ʼn dodelike misverstand! Die Bybel sê dat daar vir gelowiges ʼn plek van heerlikheid na hul dood is nl. die paradys. Luister na die misdadiger langs Jesus op Golgota: “En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:42,43).
Vir ongelowiges is daar ook ʼn tussentydse plek nl. die doderyk wat met pyniging gepaardgaan. Ontslapenes verkeer dus tot en met die oordeelsdag in een van dié twee plekke. Na die dood is daar geen geleentheid om tot bekering te kom en gevolglik geen kans vir ʼn ongeredde mens om sy saak met God reg te stel nie soos wat die Jehovasgetuies dwaal nie.
Toe die ryk man in die verhaal van Lasarus en die ryk man sterf, het hy sy oë onmiddellik in die doderyk geopen. Hy was omring deur vlamme, was dors, water is geweier en ʼn diep kloof het hom van die ewige heerlikheid geskei. Boonop moes hy toekyk hoe die noodbehoeftige Lasarus wat hy gedurende sy lewe bewustelik geminag het, vertroosting geniet.
Die ryk man se roekelose lewe op aarde het hom in die doderyk aan sy broers laat dink wat ook onverskillig geleef het en dieselfde oordeel oor hulle sou haal. Hy kon niks doen om hul tot besinning te laat kom voordat dit te laat was nie. Geen pleidooi wat van die doderyk af opstyg, word beantwoord nie. Voordat verlorenes van die doderyk na die hel vertrek, gaan daar eers ʼn verhoor wees.
ʼn Algemene regsbeginsel lui dat geregtigheid sigbaar moet geskied. God het ook so ʼn dag bepaal waarop ʼn verhoor van alle sonde plaasvind. Hierdie hofsaak sal egter nie bepaal of ʼn persoon skuldig is of nie, maar eerder om alle ongelowiges se sonde openbaar te maak. Die doel hiervan is tweeledig. Eerstens om hulle daarop te wys hoe erg sonde vir God is en tweedens omdat hulle die aanbod om deur die bekering tot Jesus van al hul sonde ontslae te raak bewustelikvan die hand gewys het.
Paulus skryf iets baie interessaant: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. (Rom. 1:18-21).
Dis duidelik dat selfs mense wat nooit die Evangelie gehoor het nie, ook voor God skuldig sal staan. Om dit te begryp, moet daar op die skepping en die sondeval gelet word. Alles wat God geskep het, was goed. Ook die mens en alles wat hom omring het. Hy was innerlik met homself en uiterlik met sy omgewing in vrede. Die oomblik toe hy sondig, is beide verbreek. Hy was nie meer in vrede met homself of die natuur nie.
God het egter nie al sy genade aan die mens onttrek nie. Adam het sy vrou behou en kon steeds die aarde bewerk, maar met groot moeite. God het ook aan die mens die geleentheid gebied om sy sondeval te oorkom deur Hom as sy God te aanvaar. Daarvoor het Hy later ʼn duur prys betaal – sy eie Seun aan ʼn kruis.
Ongelukkig het min mense hierdie genade-aanbod aangegryp en God se goedheid wat hulle gedurende die lewe ondervind het, verbeur. Dis soos ʼn persoon wat sy werk verloor. Hy verloor sy salaris, huis, motor, voordele ens. Sy werkgewer het geen verantwoordelikheid meer teenoor hom nie.
Deur Jesus te verwerp, verflou ʼn mens se vermoë om lief te hê. Sommige mense word selfs deur ʼn siedende haat teenoor God en medemense verteer. Hulle haal maklik hul woede op hul gesin, familielede of mense wat op hul pad kom uit; soms met noodlottige gevolge. Nuusberigte is vol daarvan. In die doderyk is daar egter niemand om verdere woede op uit te haal nie.
Omdat so ʼn persoon in ʼn bodemlose put verkeer, versleg sy toestand gedurigdeur. Hy kan nie ʼn vinger na God wys nie want dis dinge wat hy homself op die hals gehaal het. Hy is alleen daarvoor te blameer.
Paulus skryf aan die Efesiërs oor iets merkwaardig wat 2000 jaar gelede in die doderyk gebeur het: “Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?” (Efes.4:9). Wat het Jesus daar gedoen? Hy het sy mag oor Satan se domein gaan verklaar sodat almal in die doderyk sou weet dat Jesus die oorwinnaar is. “Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus” (1Kor.15:53,54).
Kom ons vat saam: Ongelowiges gaan direk na hul dood na die doderyk waaruit niemand na die lewe kan terugkeer nie. Hulle is onherroeplik op pad na die poel van vuur wat op hulle wag. Hulle lot is verseël en hulle weet dit.
Geredde mense gaan direk paradys toe waar Jesus is. Dis ’n plek waar geen sonde, pyn of dood meer is nie. Hulle verkeer daar in absolute heerlikheid. Jesus maak ʼn belofte: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:2,3)
Paulus skryf aan die Korintiërs: “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon”(2Kor.5:8). Hy skryf in dieselfde trant aan die Efesiërs: “Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil.1:23). Daar is vir sondaars net een raad: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6).