Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense verkeer in angs as hulle dink dat hulle hul geliefdes aan die dood moet afgee. Natuurlik laat die dood van 'n naasbestaande 'n groot leemte; maar het jy al só daaroor gedink: om my seun of dogter of eggenote aan die dood af te gee - God het alreeds ter wille van mý daardie pyn en angs verduur – ons hoef dit nie só te ervaar nie! Hy het sy eie Seun aan 'n kruisdood afgegee, 'n veel aakliger dood as meeste van ons. En dan wag nog die blye weersiens in die hiernamaals waar ons weer ons geliefdes sal sien.
LOSPRYS VIR JOU SIEL?
Ds A.E. van den Berg
Watter losprys is daar vir jou siel?
“Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
By geleentheid kom ʼn vrou in ʼn plattelandse dorpie by ʼn bank om geld te trek en deur die teller gevra om haarself te identifiseer. Sy maak haar handsak oop, haal ʼn spieëltjie uit, kyk daarin en sê: “Jip, dis ek”! Dis maar net ʼn grappie, maar is dit wat jy in ʼn spieël sien, werklik jy? Jy is soos ʼn lelie – ʼn blom en ʼn bol. Die blom is sigbaar maar nie die bol nie. Die blom gaan dood en nie die bol nie.
So is die mens ook - liggaam en siel. “Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword” (Gen.2:7). In Openb.6:9 skryf Johannes: “Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. ” Almal mense waarvan die blom vergaan het maar nie die bol nie.
Wat is die belangrikste deel; blom of bol; liggaam of siel? Laat die Psalmdigter antwoord: “Die mens — soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie” (Ps.103:15). Die Bybel sê dat die bol verreweg die belangrikste deel van die mens is. Moet dus nie jou hoop op dinge bou wat van verbygaande aard is nie. Anders gestel – moenie jou lewe op dinge bou wat van jou weggeneem kan word nie. Pas eerder jou siel op want dis wat vir ewig bly staan!
Toe Jesus die woorde van ons teksvers geuiter het, was die godsdiens van sy tyd ʼn leë dop. Alles was formeel. Jy het kerktoe gegaan, offers gebring en feeste bygewoon met die gedagte om krediete vir die hiernamaals op te bou. Dit het meer oor die blom as oor die bol gegaan. Die blom moes net mooi lyk en basta met die res!
Kerkleiers was ook grootliks met die blom en nie die bol behep nie, mense nie reggehelp nie en hulle geestelik laat ontspoor. Daarom het Jesus hulle aangevat en hul vyandigheid op Hom getrek. Jesus het nie stilgebly nie en hul met skadelike ou suurdeeg vergelyk: “Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs” (Mt.16:6). Paulus skryf aan die Korintiërs: “Weet julle dan nie dat ʼn bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ʼn nuwe deeg kan wees...” (1 Kor.5:6,7). Die grootste probleem wat Jesus met die kerkleiers gehad het, was dat hulle die mense nie geleer het om hul siele te voed nie. Alle aandag was op die blom en nie die bol nie! Gevolglik het mense geleef asof die blom nooit sal verdwyn nie. Wat ʼn straf wag daar nie op leraars wat versuim om met hul mense oor die verganklikheid van die blom en die ewigheid van die bol te waarsku nie!
Jesus praat oor die kruis wat in navolging van Hom opgeneem moet word. Niks mag vir die mens belangriker as die beskerming van sy siel wees nie. As die blom vir jou belangriker as die bol is, is jy geestesblind; ʼn verskriklike ding. Jy sien net die tydelike dinge raak. Die aardse lewe is vir jou die enigste lewe. Daarna gaan jy dood soos ʼn hond.
Geestelike blindheid lei tot materialisme en mag; beide groot versoekings.
Dan is daar ook die sug na geld; Satan se beste lokaas om jou gevange te neem. Baie mense sloof hul lewenslank daarvoor af net om ná die dood te besef dat dit alles tevergeefs was. Kan jy ná die dood een rand saam met jou neem?
Die sug na geld het baie mense in die tronk en selfs die graf laat beland. Daar is ‘n verhaal van skip wat besig was om te sink en ʼn kelner het op goue muntstukke op die vloer afgekom het. Hy het dit in sy sakke gesteek en weens die gewig daarvan saam met die skip gesink.
Mense is tog so bang dat hulle dinge gaan kortkom en raak dan gierig. Hoe meer hulle het, hoe gelukkiger is hulle. Dis dwaasheid. Geluk lê nie in dinge buite my nie, maar binne in my! God beloof sy kinders dat hulle niks sal kortkom nie. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33). Ps.23:1:“Die Here is my herder. Niks sal my ontbreek nie”. Die probleem is dat mense God nie as ʼn hemelse vader vertrou nie. Vertroue is tog ʼn belangrike geloofselement. Daarsonder is geloof nie geloof nie.
Wêreldse dinge maak van mense slawe. Jesus sê: “Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? ”ʼn Slaaf kon slegs met ʼn losprys vryheid verkry. Hy het geen geld daarvoor gehad nie en moes deur iemand van buite betaal word. En dis wat Jesus met ons siele gedoen het; vrygekoop van die bande van sonde wat ons siele gevange gehou het. Daarom word Hy ʼn verlosser genoem.
Mense wat deur aardse dinge soos mag en stoflike dinge beheer word, se siele is in slawerny en kan nie hul eie losprys betaal nie. Daarom die waarskuwings: Pas jou siel op. Vergeet van die blom en kyk eerder na die bol. Die verlore mens sê weer vir homself: Vergeet die bol; kyk eerder na die blom.
Die mensdom verval in materialisme. Jy hoor dikwels van mense wat geld vervals. Maar het jy al gesien hoe geld mense vervals?! Alles draai om die blom en nie die bol nie. Hulle sloof hulle af vir dit wat vergaan.
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:19-21).
Maar soos Adam en Eva, luister mense nie na God nie maar eerder na die Satan wat hulle wysmaak dat daar geen bol nie maar slegs blom is en dit al is waaruit die lewe bestaan. Wat maak jy met jou siel? Pas jy dit op? Dis al wat ewig bly en nie vergaan nie. Hoe pas ons dit op? Deur die bekering en ʼn innige verhouding met Jesus. Want dan word jy ʼn nuwe mens en soos Paulus sê gaan die ou dinge verby en word alles nuut; ook jou eertydse sug na stoflike gewin.
Kyk vanoggend in God se spieël. Hoe lyk jy? Kan jy jouself identifiseer? Wat sien jy? Blom of bol?