Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons moedeloos raak oor ons land se ellendige toestand, of ons volk se nog ellendiger situasie, onthou dat die gebede van die regverdige tot groot krag is - God het 'n deel van ons volk hul knieë nie voor Baäl laat buig nie en hulle bid en Hy hoor hulle! Soos Hy aan Elia gesê het toe dié gekla het dat die hele volk ten gronde is: Hy het vir Hom 7 000 man uitgehou . Daar is nog Afrikaners en Christene wat opreg bid vir ons volk en land!
MEER GELOOF ASSEBLIEF
Ds A.E. van den Berg
“Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof” (Luk.17:5).
Talle gelowiges voel soos die dissipels in Luk.17 dat hulle aan die geloof wat Jesus van hul verwag te kortskiet. Hulle wil graag geestelik uitstyg maar val gedurig plat – een tree vorentoe en twee agteruit. Dit was moontlik Demas se probleem, ’n jongman wat die Evangelie verkondig en toe alles gelos het omdat hy, soos Paulus sê, die teenswoordige wêreld liefgekry het. Die geloofslewe het vir hom een te veel geword en hom na sy ou lewe laat terugspring.
Ons het net een lewe en moet dit wat God van ons verlang doen. Ongelukkig vind ons dit telkens onmoontlik. Waarom? Veg ons nie dalk ’n verlore stryd nie of kort ons net meer geloof? Dis hoe die dissipels gevoel het toe Jesus vir hulle gesê het om vir niemand ’n struikelblok te wees nie.
Hy het verder met die onderwerp gegaan. As jou broeder teenoor jou oortree en berou het, moet jy hom selfs sewe maal per dag kan vergewe. Om dit een maal per dag te vergewe, is alreeds moeilik. Die dissipels het gevoel dat hul geestelike brandstof ontoereikend was en Jesus vir meer brandstof gevra.
Jesus het ’n regstelling aan hul versoek gemaak. Die dissipels het ’n verkeerde begrip van geloof gehad. Dit was vir hulle soos materiaal of grondstof waarmee gewerk moes word soos ’n bouer wat sand, stene en sement nodig het om te bou. Wanneer die boumateriaal op die bouperseel afgelaai word, lyk dit miskien voldoende te wees, maar soos wat die bouer vorder, besef hy dat hy nog boumateriaal gaan kort en vra die eienaar vir nog voorraad.
En dis presies wat die dissipels gedoen het. Hulle vra Jesus vir meer geloof. Hulle het besef dat hulle met die geloofsmateriaal tot hulle beskikking nie aan Jesus se eise kon voldoen nie. Hulle het aanvulling benodig om aan Jesus se eise te kon voldoen.
Jesus het dit duidelik gemaak dat geloof nie soos grondstof is nie. Die hoeveelheid is nie van belang nie, maar wel die gehalte. Geloof gaan uitsluitlik oor gehalte. Gehalte geloof anker in die krag van God. “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie… want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:4,5).
Jesus sê vir die dissipels dat hulle nie deur ʼn gevoel van geloofsontoereikendheid lamgelê moet word nie en verwys ter toeligting na ’n moerbeiboom; ’n boom wat baie oud word en so ’n ingewikkelde worstelstelsel het, kan nie verplant word nie. Maar sterk geloof kan so ’n boom selfs in die see plant!
Jesus wou die dissipels egter laat verstaan dat geloof nie iets is om toorkunsies mee te verrig nie. Dis ’n geloofsverhouding met God waardeur die onmoontlike selfs moontlik word. Petrus het dan een nag op die water na Jesus gestap! Wie die Onsigbare ken, kan die onmoontlike verwag.
Ongelukkig neem ons dikwels maar ’n wye draai weg van die moerbeiboom van geloof. Dit lyk asof dit bokant ons vuurmaakplek is. In die proses word ons geestelike voedsel al hoe minder en ons al hoe skraler. Ons kan selfs geestelike anorexia ontwikkel.
Figuurlik gesproke is sulke moerbeibome nie op ons lewenspad om vermy te word nie, maar om met geestelike krag te ontwortel en in die see gegooi te word. Dis geestelike daadkrag! Kyk wat Dawid gedoen het toe Goliat op sy pad kom!
Is daar iets op geestelike gebied wat vir gelowiges onmoontlik is? Paulus sê dat hy tot alles in staat is deur die krag van God. Wat van jou? Dawid skryf: “Want U laat my lamp skyn; die Here my God laat my duisternis opklaar, want met U loop ek ’n bende storm en met my God spring ek oor ’n muur” (Ps.18:29,30).
Moet nooit dat jou gemoedstoestand jou geloof beïnvloed nie. Wandel onder alle omstandighede met God. Geloof is geestelike veerkrag en is die radar wat jou deur digte lewensmis laat sien.
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” (Hebr 11:8). Abraham se optrede is deur ʼn vaste oortuiging van God wat hom lei, vooraf gegaan.
Sterk geloof laat gelowiges die Onsigbare sien om die onmoontlike te vermag. Die Hebreërskrywer begin hoofstuk 11 met: “Die geloof dan is ʼn vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ʼn bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (:1). As die vlam van geloof helder in jou lewe brand, is geen donker te groot nie. En al word die donker ook hoe groot, gee God vir sy kinders geestelike nagsig om dwarsdeur hul donkerte te kan sien.
Ons begin hierdie jaar met ʼn volk wat hul vertroue van God na die mens verskuif het. Dit sluit selfs kerke in. Gruwels word ontsondig omdat die mens dit wil hê. Dis egter niks nuus nie. Paulus skryf eeue gelede al daaroor aan die gemeente in Rome: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:28).
In die Psalms lees ons iets soortgelyks: “Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel” (Ps.81:13).’n Volk kan geen groter ongeluk oorkom, as om die geloof in Jesus te verloor nie.
Wat gaan ons vanjaar staande hou? Net ʼn sterker geloof in ons Verlosser. Wat ʼn nood het ons volk nie aan geestelike kragmanne en vroue nie; mense wat sonder God geen treë gee nie, maar saam met Hom tot aan die uithoeke van die aarde sal loop.
Ons het ʼn nood aan gelowiges wat aanhou om gelowig te leef. Moenie dat mense jou geloof in jou woorde soek nie, maar eerder in jou optrede vir God en jou volksgenoot. My bede is dat jou geloof groter sal wees as jou vrese vir wat moontlik hierdie jaar kan gebeur. Kom ons bid dat God ʼn turbo-aanjaer aan elkeen van ons geloofsmasjiene sal aanbring en ons geestelike werkverrigting tot sy eer sal versterk.