Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, ek is een van die mense wat oud genoem word. Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag. Laat my in my laaste treë nie alleen nie. My lewe het eenmaal waarde en sin gehad. Ek het gewerk, gely, invloed uitgeoefen. Wat ek gedoen het, skuif al hoe verder weg. Ek vra u om my te bewaar van bitterheid, van die drang om my kennis te bewys. Ek wil leer om te laat los. Ek wil my op niks anders as u goedheid verlaat nie.
VERGIFNIS BIED BEVRYDING
Ds A.E. van den Berg
“Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efes.4:32)
Liggaamlike pyn demp die lewe. Geestespyn nog erger. Vir fisiese pyn is daar geneesmiddels en soms duur. Is daar iets vir geestespyn? Die Bybel sê daar is, boonop gratis maar word nie maklik gebruik nie.
Wat veroorsaak geestespyn? Die oorsprong van enige pyn moet eers vasgestel word alvorens dit behandel kan word. Een van die groot oorsake van geestespyn, is onvergewensgesindheid – ʼn wilsbesluit: Ek sal so-en-so nie vergewe nie, veral as dit iemand na aan jou is. Mense vergewe mos vyande makliker as vriende!
Dis nie wat Jesus wil hê nie. Onvergewensgesindheid kenmerk ongelowiges. Vergewensgesindheid kenmerk gelowiges. Dis vir Jesus so belangrik, dat Hy vergewensgesindheid deel van die Ons Vader gemaak het: “...en vergeef ons, ons skulde soos wat ons, ons skuldenaars vergewe” (Mt.6:12).
Sonde maak God kwaad. Sondaars doen Hom leed aan. Vandaar die oordeel: “Die loon van die sonde is die dood...” (Rom.6:23). God moes na reg geen vergifnis gebied het nie, maar almal uitgedelg het. Maar Hy het nie. Jesus het die oordeel gedra. Jes.53 sê dat Hy ter wille van ons sonde die straf betaal het. Hy vergeef elkeen wat tot bekering kom en reken hul die straf nie toe nie.
God verwag van sy kinders om net so te doen. Vandaar die ooreenkoms in die Onse Vader: “Here, vergeef my met dieselfde maat waarmee ek mense wat teenoor my oortree, vergeef”. Gesien in die lig wat Jesus vir ons gedoen het, durf gelowiges nooit onvergewensgesind wees nie.
Ons oortree teenoor mekaar en maak mekaar kwaad. Desondanks regverdig niks onvergewensgesindheid nie. Dis die Woord van God! Hy verwag dat ek my medemens moet vergeef soos wat Hy my vergeef het. Daarom het Jesus die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser vertel. En die les wat ons daaruit leer? Wie vergifnis ontvang, moet vergifnis betoon.
ʼn Onvergewensgesinde mens ervaar geestespyn. Mense het hom te na gekom. Hy wil nie vergewe en weet dat hy ongehoorsaam aan God is wat vergifnis eis. Dis sielepyn! Jy weet wat om te doen, maar jou geskonde ego verhoed jou om soos Jesus op te tree. Jesus bid selfs vir sy laksmanne by sy kruis!
Wie vergeef, sluit die tronkdeur van geesteslyding vir homself oop. Onvergewensgesindheid is soos tralies wat jou gevange hou. Net jy het die sleutel om uit kom. Daarom is vergifnis selfbevrydend en die geestelike genot van vergifnis baie groter as dié van wraak.
Min dinge skaad ʼn mens se siel soos onvergewensgesindheid. Dit gebeur selfs dat mense wat op hul sterfbed lê, met mense wil praat wat hul leed aangedoen het en sake wil regstel voordat hulle sterf. Hoe salig om die ewigheid met geestelike gemoedsrus in te gaan. Maak daarom reg, jy kan vandag sterf! Ons het geen waarborg dat ons môre-oggend wakker gaan word nie!
Onvergewensgesindheid knou selfs die kerk en is een van die hoofoorsake van onderlinge liefdeloosheid. Mense sê dinge wat ander seermaak en vergewe mekaar nie daarvoor nie. 1 Kor.13 eis van gelowiges om nie van die kwaad boek te hou nie. Dis mos wat die oudste seun in die Gelykenis van die Verlore Seun gedoen het. Nadat sy verkwister-broer teruggekeer en met ʼn feesmaal verwelkom is, het hy beswaar gemaak. Hy het boek gehou van hoe goed hy en hoe sleg sy broer was. Dis wat onvergewensgesinde mense doen – hulle hou boek van die kwaad!
In die gelykenis het die ouer broer ʼn belangrike ding misgekyk – hy het alles gehad. Onvergewensgesindheid het hom dit laat miskyk. Dit laat mense die goedheid van God uit die oog verloor. En op die ou einde was die oudste broer die werklike verlore seun, en dit in sy vader se huis. Ja, onvergewensgesinde mense raak selfs in die kerk verlore!
Hoe vergeef ons mense wat ons leed aangedoen het? Net met ʼn wilsbesluit deur die krag van God. Jy vergeef nie in jou eie krag nie. Jy onthou eerder. Mense sê so maklik: “Ek sal vergewe, maar nie vergeet nie”. Dis wanneer jy onreg in eie krag probeer regstel. Jy kan nie; slegs met God se krag!
Paulus skryf aan die Efesiërs: “Dit sê en betuig ek dan aan die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene .... in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie – mense wat verduisterd is in die verstand....vanweë die verharding van hulle hart...” (Gal.4:17,18). Heidene het verharde harte. Dit hoort nie by gelowiges nie. Wat hoort eerder by hulle? “...vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efes.4:32). Omhels die oortreder en vergeef die oortreding soos wat God in Jesus vir ons gedoen het.
Vergifnis keer nie die verlede om nie, maar verruim wel die toekoms. Dit maak die toekoms beter as die verlede. Dankbare mense vergeef ook baie makliker as ondankbares. Daarbenewens is vergifnis ʼn eienskap van geestelik sterk mense wat die krag van God ontvang het om te vergewe en te vergeet. Daarom hou gelowiges ʼn groot begraafplaas aan waar hulle al die foute van ander begrawe.
In Paulus se brief aan die Efesiërs vra hy hulle om vergewensgesind te wees omdat niks anders soveel van die geloof in Jesus getuig as vergifnis nie. Ons moet meer soos Jesus wees. Wanneer ons doodmaak, is ons soos diere. Wanneer ons oordeel, is ons soos mense. Maar wanneer ons vergewe, is ons soos Jesus.
As kind van God moet jy die leed wat ander jou aandoen vergeef omdat Jesus die leed wat jy Hom met jou sondes aangedoen het, reeds deur sy bloed vergeef het. Het jy al die soet geur van ʼn blom geruik nadat dit platgetrap is? Dis hoe vergifnis ruik – stukkend, maar heerlik! Dis beter om te vergewe as om te haat want dit spaar jou die bitterheid, woede en die vermorsing van kosbare tyd. Onvergewensgesindheid rem jou geestelike lewe. ʼn Mens ry mos nie met ʼn handrem aan nie!
In die inleiding van sy meesterlike werk Bewyse van die Christelike Geloof, lewer die Amerikaanse teoloog, JoshMcDowell, ʼn aangrypende getuienis oor vergewensgesindheid. Hy het in moeilike omstandighede grootgeword. Sy vader het geboer en was ʼn alkoholis wat sy moeder dikwels aangerand het. Hulle moes dikwels vir hul lewe vlug.
Toe is sy drie weke na sy matriek-eindeksamen oorlede. Josh het geweet dat sy pa iets daarmee te doen gehad het en wou hom doodmaak as daar kans was. Toe hy op universiteit tot bekering kom, het hy voor ʼn probleem te staan gekom; waarheen gaan hy met die universiteit-vakansie? Terug plaastoe?
Toe hy op die plaas kom en sy pa sien, sê hy vir hom: “Pa, ek is lief vir jou!” Dit het die ouman soos ʼn vuishou tussen die oë getref! Hoe kon sy seun vir hom lief wees na alles wat hy hom aangedoen het? Toe Josh hom van sy bekering vertel, het die ouman gesê: “As Jesus jou anders kon maak, kan Hy my ook anders maak!” En Jesus het!
Die ouman is 15 maande later aan lewerskade oorlede. Maar voordat hy oorlede is, so getuig Josh ten slotte, het hy minstens 100 mense saam met hom hemel toe geneem! Wat sou gebeur het as Josh sy pa nie vergeef het nie? Dan het hy nooit tot bekering gekom en ʼn 100 mense nie die saligheid verkry nie! Kom ons doen soos God van ons vra en vergeef mekaar soos Hy ons vergeef het.