Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy van jou kinders verwag om jou as ouer te eerbieding sal jy daardie respek moet verdien deur só te leef. As jy as kind so 'n ouer gehad het, dank die HERE vir hom of haar, want dit het jou die mens gemaak wat jy vandag is.
OPSTANDING VAN DIE VLEES
Ds A.E. van den Berg
“Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil.1:23).
Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, het hy reeds vermoed dat hy tereggestel gaan word. Desondanks was hy nie bang of swaarmoedig nie omdat die dood geen vrees vir gelowiges inhou nie. Paulus sê selfs: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins”. Met wins bedoel hy dat die dood ʼn gelowige in ʼn beter posisie plaas in vergelyking met sy aardse lewe. In 1 Kor.15:55 praat hy van die angel wat uit die dood geneem is en dus nie meer gevaarlik is nie.
In die teksvers sê Paulus: “...ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees”. Hy praat nie van doodgaan nie, maar eerder van ʼn adresverandering en gee selfs die adres waarheen hy gaan – na Christus. In Luk23:43 sê Jesus vir ʼn sterwende misdadiger: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”.
Ons gaan mekaar herken want hoe kon Moses en Elia bv. in Mt.17, eeue na hul dood, op die Berg van Verheerliking aan Jesus verskyn en deur die dissipels herken word? Dit bewys dat alle gelowiges wat deur die eeue in Jesus gesterf het, tot vandag toe nog by Hom is en lewe. Ons siele word na die dood dadelik na Hom opgeneem en die heengaanproses is ʼn volle bewustelike ervaring.
As ʼn gelowige sterf, is sy siel nie bewusteloos soos iemand onder narkose nie. In Openb.5 hoor ons hoe gelowiges Jesus toesing en in hoofstuk 6:9 sien Johannes die siele van gelowiges onder die altaar. Ons het hier met mense te doen wat in Jesus gesterf het en daarna met Hom praat. In Openb.12:10 hoor ons ook hoe gelowiges met Jesus se aankoms in die hemel in ʼn lofsang uitbreek.
Beide gelowiges en ongelowiges bevind hulle na hierdie lewe in ʼn bewustelike toestand. Die gelowiges is in die Paradys en die ongelowiges in die doderyk. Hulle is afgesny en sonder vryheid van beweging. Die ergste is dat hulle nie aan Jesus se finale oordeel, die hel, gaan ontkom nie!
Ons weet nou wat van ʼn mens se siel na die dood word, maar wat van die liggaam? Dit vergaan. “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie (1 Kor.15:50).
Openb.20 skets die oordeelsdagtoneel. Johannes sien die dode klein en groot voor God die Regter staan. Dit beteken dat die liggame van alle mense wat al op die aarde geleef het, met Jesus se wederkoms in onverganklikheid opgewek en met die siele herenig gaan word.
Sodra dit gebeur, volg ʼn verskriklike verskil tussen ongelowiges en gelowiges. Die ongelowiges word in die hel gewerp wat in Openb.20 die tweede dood genoem word. Daarenteen word gelowiges se liggame nie net opgewek nie maar ook verheerlik. “En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra”(1 Kor.15:49).
Dis ʼn heerlikheid waarna gelowiges alreeds op aarde kan uitsien – ʼn ewige, wonderlike toekoms by Jesus. “ ... soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).
Hoe wonderlik dat ook ons liggame deur Jesus opgewek en met die siel herenig word. Hierdie liggame sal aan die verheerlikte liggaam van Jesus gelyk wees. “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh.3:2).
Toe Jesus na sy dood opgestaan het, kon daar aan sy opstandingsliggaam gevat word soos Thomas van getuig het. Met die wederkoms sal ons ook so ʼn liggaam ontvang. Dink daarom daaraan dat jou gesin, familie en vriende wat deur die wedergeboorte kinders van God geword het, saam met jou sal wees!
Dit was Dawid se troos nadat hy ʼn babaseun aan die dood afgestaan het: “Maar nou is hy dood — waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie” (2 Sam.12:23).
Ons sal ons dierbares herken en die volle geluksaligheid saam met hulle beleef. Maar waar gaan ons bly? Die Here sê in Openb.20 en 21 dat Hy vir gelowiges ʼn nuwe, volmaakte aarde toeberei. Daarom kan Paulus sê: “ ... ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.
Ons hoef nie eers dood te gaan om die komende ewige vreugde by Jesus te smaak nie. Ons kan dit nou al smaak. Die onbeskryflike vreugde van die verlossing in Jesus sal eers nadat jy jou laaste asem uitgeblaas het wel ten volle geniet word. Nogtans moet ons terwyl ons lewe, hartstogtelik daarna uitsien. “... ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thess.4:13).
Wat ʼn wonderlike wete dat ons in lewe en sterwe aan Jesus behoort. Gelowiges leef en sterf anders as ongelowiges. Gelowiges sterf net eenmaal. Ongelowiges sterf twee maal – die ewige dood in die hel! “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6).