Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
KLATERGOUD-GODSDIENS
Ds A.E. van den Berg
“Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad”(1 Thess.5:21,22).
Klatergoud is 'n element wat na egte goud lyk, maar in werklikheid waardeloos is. Die woord word meestal in simboliese taal vir iets gebruik wat goed lyk maar nie is nie. Dis ook van godsdiens waar. 1 Thess.5 roep gelowiges tot ʼn aktiewe Bybelse onderskeiding op; iets wat vandag meer as ooit tevore nodig is.
Duisende van ons volksgenote verlaat die waarheid vir die leuen omdat hulle die Bybel nie ken en nie tussen die twee kan onderskei nie. Die Bybel roep gelowiges op om duidelik te onderskei: “Onthou julle van elke vorm van kwaad”. Dis net moontlik as jy die Bybel ernstig bestudeer en op grond van die kennis wat jy daaruit opdoen, tussen eg en vals onderskei.
Toe James Marshall in 1848 goud in Kalifornië ontdek het, is duisende mense daarheen om ʼn fortuin te probeer maak. Talle het egter gou besef dat alles wat na goud lyk nie goud is nie want in rivierlope en groewe was daar ook yster-piriet (klatergoud) wat waardeloos is.
Omdat hul hele lewensonderhoud daarvan afgehang het, moes die delwers klatergoud baie duidelik van egte goud kon onderskei. Verskeie toetse het die egtheid bepaal bv. om dit te byt. Egte goud is sagter op tande en klatergoud baie hard. Gevolglik het gebreekte tande vir gebroke verwagtings gesorg!
Wat godsdiens betref, is die kerk in ʼn soortgelyke situasie as daardie delwers. Geestelike rykdom word vandag om elke hoek en draai met nuwe programme, filosofieë en bedienings belowe. Die een blink meer as die ander met beloftes van heilsame opbrengste; alles klatergoud-godsdiens!
Net omdat iets blink beteken dit nie dat dit eg is nie. Ons moet teen klatergoud waak. Nuwe wendings moenie sondermeer op sigwaarde as goed aanvaar word alvorens dit nie aan Bybelse standaarde getoets word nie. Dwaalleer het in die kerklike murg beland en is besig om soos kanker onder volksgenote te versprei.
Die afwaartse spiraal van dwaling word al hoe sterker en suig duisende mense soos ʼn maalkolk in. Die ontsondiging van homoseksualisme is bo aan die lys. Die Bybel sê: ”Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor.6:10).
Let op die teksverse: “Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad”. Die meeste Bybelse opdragte om onderskeid te maak, word aan kerkleiers gemaak. Leraars moet dit wat hulle hoor deur die Bybel sif. Daar word ook van elke ouderling verwag om dwaalleer te eien en teen te staan. Wat ʼn verantwoordelikheid! Wie nie daarvoor kans sien nie, moenie in die amp wees nie. Hy is nie funksioneel nie maar ornamenteel en beteken niks vir die koninkryk van God nie.
Hosea lê die ontsporing van sy volk aan die deur van kerklui: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het ....” (Hos.4:6).
Die Bybel roep gelowiges telkens op om tussen waarheid en leuen, eg en vals, en goed en boos te onderskei. Jesus sê tydens ʼn huttefees in die tempel: “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel” (Joh.7:24). Dis net moontlik deur kennis van die Bybel.
Die gemeente in Tessalonisense aan wie Paulus skryf, het ʼn probleem gehad wat vandag nog met ons is. Hulle het weens gebrekkige onderskeid, alles wat in die Naam van Jesus gepreek is, sondermeer geglo en nie aan die Bybel getoets nie. Hulle het hul geestelike balans verloor. Paulus gee raad: “So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is òf deur 'n woord òf deur 'n brief van ons” (2 Thess.2:15).
Die geskrewe Woord van God is die enigste vasstaande, gesaghebbende bron van die waarheid. Ongelukkig het sekere mense destyds dinge gepreek en briewe by hulle gehad wat glo van die apostels gekom het en is vir die waarheid geglo. Dit was alles vals! Paulus skryf: “ ... verafsku wat sleg is; hang die goeie aan” (Rom.12:9).
Hy sê vir Timoteus: “Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het, in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon” (2 Tim.1:13,14).
Omdat gelowiges die waarheid deur die Bybel ontvang het, is ons verplig om dit te verdedig en as’t ware ʼn militante houding daarteen inneem. Om jou wapen teen die leuen te laat sak, is om Jesus te verloën.
Paulus omskryf redding as ʼn liefde vir die waarheid: “ .... en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess.2:10).
Wie die waarheid nie liefhet nie is verlore. Wie dit nie verdedig nie se geloof is leeg. Kerke wat geloofsbeginsels ter wille van ʼn kunsmatige godsdienseenheid afwater en selfs prysgee se optrede skreeu ten hemel. Let op hoeveel Protestantse kerke gemene sake met die Roomse Kerk het. Dis skokkend!
God het ons die waarheid as ʼn skat gegee wat ten alle koste beskerm moet word. Waak veral teen godsdiens wat deur gevoelens, emosies en die verbeelding gedryf word en mense slawe van leuens maak. Ervarings en gevoelens bepaal nooit die waarheid nie; dis alles klatergoud-godsdiens wat geestelike tande breek!
Paulus skryf: “... Onthou julle van elke vorm van kwaad”. In die oorspronklike Grieks is die woord onthou ʼn sterk werkwoord en beteken om jou bewustelik van iets skadelik af weg te hou. Wie die Bybel ken, behoort onmiddellik te weet as iets teen die gesonde leer indruis.
Internasionale doeane-personeel bestudeer geldnote so deeglik dat vervalste note die oog maklik opval. So moet dit ook met godsdiensvervalsings wees. Gelowiges moet die waarheid so goed ken, dat die leuen opvallend is.
Moet egter nooit soos baie van ons volksgenote waarhede met leuens vermeng nie. Sommige van hulle las stukkies waarheid en leuen soos ʼn lappieskombers aanmekaar. Selfontwerpte godsdienste is baie gevaarliker as ʼn bewustelike verwerping van die waarheid.
Satan laat leuens soos waarhede lyk. Dit was alreeds ʼn probleem in die vroeë kerk: “...sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (Efes.4:14). Waak teen klatergoud-godsdiens en hou aan die Bybelse waarhede vas!