Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy vir God weer gevind.
DIE AFVAL VOOR DIE WEDERKOMS
Ds A.E. van den Berg
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word...” (2 Thess.2:3).
Die gelese gedeelte handel oor bepaalde dinge wat net voor die wederkoms van Jesus gaan gebeur. Sodra dit begin, moet gelowiges weet dat die einde van die wêreld naby is. Tog is daar in hierdie hoofstuk ʼn paar onduidelikhede. Paulus skryf in vers 10 oor die liefde vir die waarheid, maar dis onduidelik waarna hy spesifiek verwys. In vers 11 skryf hy oor die leuen wat geglo gaan word en weereens nie duidelik waarna hy spesifiek verwys nie. So ook in vers 12 waar hy na die gebrek aan geloof in die waarheid verwys sonder om dit te omskryf.
Die rede hiervoor is dat die waarheid waarvan Paulus hier praat nie noodwendig met die Bybelse leer te doen het en net deur die kerk verstaan sou word nie. Dit gaan hier oor ʼn wêreldwye ontkenning van die mees basiese feit nl. dat daar ʼn God in die hemel is, ‘n saak wat dan ʼn wêreldwye opstand van Gods-ontkenning word. Ons lees al reeds so vroeg as Ps.2 hiervan: “Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs? Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: n Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!” (Ps.2:1-3). Dit gaan wêreldwyd gebeur!
Geen volk het ooit so ʼn duidelike bewys dat daar ʼn God in die hemel is gehad as Israel nie. God het hierdie waarheid egter ook aan die hele mensdom openbaar. Paulus sê dat niemand gevolglik ʼn verskoning het om te sê dat daar nie ʼn God is nie: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Rom.1:20).
Geen volk het ooit so ʼn duidelike bewys dat daar ʼn God in die hemel is gehad as Israel nie. God het hierdie waarheid egter ook aan die hele mensdom openbaar. Paulus sê dat niemand gevolglik ʼn verskoning het om te sê dat daar nie ʼn God is nie: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Rom.1:20).
Dat daar ʼn God in die hemel is, is die mees basiese Bybelse waarheid in die lewe. Daar is niks groter as dit nie. In Rom.1:18 skryf Paulus dat baie mense dié waarheid onderdruk en dat dit teen die einde openlik verag gaan word. Soos wat mensekennis vermeerder, word die bestaan van ʼn Skepper God al hoe meer ontken. Die Ewolusie-teorie is ʼn sprekende voorbeeld hiervan; ʼn leuen wat al so diep by die mensdom ingesink het, dat dit die kern van Westerse wetenskapskultuur geword het. Wie nog aan ʼn Skepper God glo, word as verstok beskou!
Nog ʼn basiese waarheid wat ook al hoe meer geminag word, is dat Jesus die Seun van God en enigste Verlosser is. Dit het al in die vroeë kerk verwarring veroorsaak. Johannes skryf: “Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. Hieraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die Antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.” (1 Joh.4:1-3).
Al hoe meer mense sien Jesus slegs as ʼn groot profeet en derhalwe ʼn gewone mens. Sommige reken selfs dat Jesus met Maria Magdalena getroud was en kinders gehad het. Kortom ʼn ontkenning van die Bybelse waarheid dat Hy God se Seun is – presies wat die Islamiete glo. Christene se aanspraak dat God ʼn Seun gehad het, is vir Islamiete lasterlik.
Al die Bybelse verdraaiings wat oor God en Jesus kwytgeraak word, dui op die afval voor die wederkoms. Paulus skryf: “ ...want eers moet die afval kom ....” Die Grieks vir afval is skandalisthesontai waarvandaan “skandalige afkoms” is. Paulus sê dis ʼn skande dat iemand wat die waarheid geken het, dit vir die leuen verruil. Sulkes is verlore: “ ... omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess.2:10). In die Grieks staan daar letterlik dat hulle die liefde vir die waarheid die deur gewys het.
Mense wat nog werklik glo dat daar ʼn God in die hemel is en ʼn Seun het, neem drasties af terwyl mense wat openlik verklaar dat hulle geen godsdiensbande het nie, onrusbarend toeneem. En so word die kloof tussen ware gelowiges en ongelowiges al hoe groter word. Op die ou einde gaan net die ouer garde aan ʼn God in die hemel glo; ʼn geslag wat aan die verbygaan is.
Onder die jong geslag bars ongeloof uit sy nate. Sommige jeugdiges is selfs met afgodery soos Islam en Hindoeïsme deurmekaar; selfs met Satanisme. In ʼn Amerikaanse opname is bevind dat meer mense weekliks moskees as kerke besoek. Die wegval waarvan Paulus skryf, is reeds aan die gebeur!
Waar Christendom eens ʼn skans teen onsedelikheid was, praat baie kerke nou die gruwels goed. Alles word onder misplaaste sienings van geregtigheid, genade, liefde en verpligting toegeploeg. Talle hoofstroomkerke gee voor dat hulle nog geloofstandpunte het terwyl hulle van Bybelwaarhede afdwaal en mense mislei.
Jesus praat in sy Profetiese Rede self van hierdie afval: “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. (Mt.24:10-13).
Waarom gebeur hierdie dinge? Om die weg vir die koms van die Antichris voor te berei. Paulus noem hom die “mens van die sonde” omdat hierdie voorbereiding deur ʼn ongekende toename in boosheid gekenmerk sal word. Miljoene mense gaan kerke verlaat, die Antichris aanhang en Satanaanbidders word. Slegs enkele gelowiges gaan oorbly. Die Bybel praat van hulle in die enkelvoud. Hulle gaan so min wees dat hulle soos enkelinge sal lyk.
“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:13,14).
In 2 Thess.2 skets Paulus die afvallige godsdienssisteem in kleur. Die hoof daarvan gaan daarop aanspraak maak dat hy God is. Sy vermetelheid duur tot en met die wederkoms waartydens Jesus hom gaan vernietig: “...en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (:8).
Wat verwag Jesus van ons? Om in afwagting van sy wederkoms leuens te ontbloot en die waarheid te verkondig. Daarvoor moet ons die Bybel goed ken. Baie van ons volksgenote het al die skoon water van die waarheid verlaat om uit die vuil bakke van die leuen te drink. Ons durf dit nie gelate aanvaar nie. Laat ons nooit ophou om soos profete vir ons volk te wees en tydig of ontydig te waarsku nie. Want as ons dit nie doen nie, is ons ongehoorsaam aan God se wil en word ons die argitekte van ons eie mense se lot!
“Spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor jul land bring, en die mense van die land neem ʼn man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom en blaas met die basuin en waarsku mense – as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie...en die swaard kom, dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis” (Eseg.33:1-6).
Kom ons blaas op die ramshoring van die waarheid in God se Woord vir volk en vaderland!