Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie dink dat jou lewe ten einde loop wanneer jy terugslae kry nie – dis deur swaarkry wat ons leer verstaan wat genade is en word die lewe naderhand een wonder van genade te midde van gebeure rondom ons. Dis dan wanneer dinge vir ander soos rampe lyk maar jy sal weet dit is die genade van God.
‘N ONVERWAGSE WEDERKOMS
Ds A.E. van den Berg
“En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mt.24:37).
Die mensdom word al hoe boser. Skokkende misdaadstatistiek van Suid-Afrika sedert 1994 vertel die boosheid van die mens – iets wat duisende jare gelede so erg toegeneem het dat God besluit het om, op agtmense na, ʼn einde aan die mensdom te maak.
“Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was ... het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het... En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; ... En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg ... Ék bring 'n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar 'n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe” (Gen.6).
Mense het destyds geglo dat God hul boosheid nie sal straf nie en daarmee volhard – tot op ʼn dag! God laat boosheid nie onbepaald sy gang gaan nie. Hy tree op sy tyd op: “Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4). “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie” (Ps.121:4).
Die klem van Jesus se woorde in Mt 24 val op die onverwagsheid van sy wederkoms. Net wanneer mense dink dat niks gaan gebeur nie, gebeur dit wel. So sal dit ook met die wederkoms wees. Jesus kom op ʼn tyd wanneer mense dit nie verwag nie. “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie” (Mt.24:44).
Lukas skryf: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk.17:26-30).
Paulus skryf by geleentheid aan die Tessalonisense oor die onverwagtheid van die wederkoms: “...want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess.5:2,3).
As die mensdom van die eindtyd glo dat niks gaan gebeur nie, keer God dinge soos met die sondvloed skielik om. Petrus skryf dat daar voor die wederkoms spotters sal wees: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandelen sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Pet.3:4). Hy gaan voort en wys op die sondvloed wat in ʼn oogwink gebeur het. Net so sal die wederkoms van Jesus ook wees – wanneer mens dit nie verwag nie.
Al die NT profetiese waarskuwings sluit met ʼn vermaning aan gelowiges af om gereed en op die uitkyk vir Jesus se wederkoms te wees: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid” (1 Thess.5:4,6,8).
Jesus werk deur die Heilige Gees by gelowiges wat na sy wederkoms uitsien ʼn dringendheid om reg te leef. Geeneen wat verkeerd leef, gaan voor die groot wit troon van die hemelse Regter ʼn gunstige toewysing verkry nie!
Die wederkoms gaan wel die meeste mense oorval, maar nie die ware kerk nie. Omstandighede gaan wel so onaangenaam word, dat baie die geloof sal verloor as God nie ingryp nie. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:23,24).
Gelowiges moet in hierdie dae ernstig waak dat die sorge van die lewe hulle nie intrek en oorskadu nie: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Luk.21:34).
Ons leef ongetwyfeld in soortgelyke tye as dié van Noag. Mense raak al hoe meer ongeërg oor geestelike sake. Dit blyk selfs aansteeklik te wees. Daarom moet ons soos die vyf verstandige maagde van die bekende gelykenis waaksaam en gereed vir Jesus se koms wees. “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk.21:36).
In Openb.2 en 3 het Jesus vir elkeen van die sewe gemeentes ʼn boodskap van aansporing tot geestelike oorwinning. Hy sê vir Smirna: “Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.” (Openb.2:11). Die woord oorwin beteken om met geloofsdeursetting bo uit te kom. Jesus dui daarmee aan dat Christenwees ʼn uitdaging en voltydse verantwoordelikheid is wat toe ernstige toewyding verg.
Paulus skryf aan Timoteus: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie.....” (2 Tim.2:15). Daarvoor moet sonde ten alle koste beveg word. Die Bybelskrywers beskou die geloofslewe as ʼn lewenslange oorlog waarin wedergebore mense gewikkel is. Sonde dreig om die oorhand te kry. Elke keer as ons sondig, misluk ons en vervreem dit ons van God. En dis die laaste ding wat ons voor die wederkoms wil hê!
Toe Jesus die eerste keer aarde toe gekom het, het Hy deur sy versoeningsdood die mag van die sonde in die mens kom vernietig. As Hy die tweede keer kom, vernietig Hy die mens wat aanhou sondig.
Gelowiges moet met geduld op Jesus se wederkoms wag, met verlange daarna uitsien en geestelik skouers aan die wiel sit al word dit ook hoe moeilik. Om aan God toegewy te wees, verg daaglikse geloofstappe. Om die bergspits te bereik, sal vir ʼn klimmer nie die helfte so wonderlik wees as hy nie moeilike ure in die vallei moes verduur nie. Daar is drie H’s in gelowiges wat op Jesus se wederkoms wag: Hou vas, hou aan en hou uit.