Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
ROKKIES WOU HY DRA...
Tutu se rokke
Ds. A.E van den Berg
Slegte mense besmet dikwels goeie plekke. Jesus het in die Bergpredikasie teen die skynheilige optredes van die Fariseërs en skrifgeleerdes gewaarsku wat met hul goeie dade gesien en geëer wou word (Mt.6:1-6). Die skrifgeleerdes was die godsdiensleiers van Jesus se tyd wat mense aan die hand van die Skrifte leiding moes gee. Hulle het hulself beter as ander mense geag, godsdiensrokke gedra en mense met hul openbare gebede probeer beïndruk.
Jesus het geensins die verskuldigde eerbied vir hul amp betwyfel nie. Hulle het immers metafories gesproke in die stoel van Moses gesit. Jesus waarsku egter mense om nie deur hul skynheiligheid geflous te word nie. Hulle het nie net die voorgeskrewe ampsdrag gedra nie, maar ook daaraan verander om raakgesien te word. Met die breër some aan hul ampsgewade wou hulle ʼn beeld van super godsdienstigheid vestig en selfs die tossels langer gemaak om die oog op te val:
“En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot” (Mt.23:5).
Die Skrifgeleerdes se woorde het nie met hul dade ooreengestem nie. Hulle godsdiens was niks anders as uiterlike vertoon nie. Van al die ampsdragte was dié van pers materiaal die meeste opvallend. Pers kleursel was destyds baie duur en is net deur die rykstes bekostig.
Baie mense is destyds deur die skynheilige kerklui se dade beïndruk. Hulle was nie nederige, opregte dienknegte van God nie maar skaamtelose eersoekers. Selfs die bykomstighede op hul ampsdrag was groter om die oog op te val.
Daar is niks heiligs aan kleredrag nie. Jesus se heiligheid was bv. nooit aan sy kleredrag te bespeur nie. Heiligheid kom nie van buite nie maar is van binne. Met Desmond Tutu was dit presies die teenoorgestelde. Sy doen en late getuig van dieselfde optrede as die eertydse skrifgeleerdes. Hy het met sy opvallende lang pers rokke en groot kruissimbool om die nek sy politieke hersenskimme plaaslik sowel as internasionaal bevorder. Daarbenewens was sy dwaalleer en rewolusionêre uitsprake geen ware kerk waardig nie. Mag ons gou van hierdie poppespelkarakter vergeet!