Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Kyk, my knegte sal jubel omdat hulle hart vrolik is maar julle sal skreeu van pyn... en die HERE sal jou ombring. Maar sy knegte sal Hy noem met 'n ander naam sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergete is..." Jesaja 65.
GOD KOM AARDE TOE
Ds A.E. van den Berg
“Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ʼn dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Fil.2:6,7).
Ons leef in ʼn verwarde wêreld. Verwarring is ʼn nare ding – jy dink dinge is so en so net om te ontdek dat dit nie so is nie. Soos wat siekte die liggaam skaad, maak verwarde denke die gees ook seer. Dit laat mense leuens vir die waarheid glo. Niemand maak in donkerte van verwarring die regte keuses nie, maar slegs in die lig van die Bybel wat van Christus, die ware Lewenslig, getuig.
Een van die verwarrings is oor wat Kersfees is. Weet mense regtig wat Kersfees is? Ongelukkig het die wêreld Kerstyd al so geskaak en met hul eie inhoud gevul dat die meeste mense nie meer weet waaroor hierdie dag werklik gaan nie. Baie mense wil in hierdie tyd die vrede van die Kersverhaal ervaar, maar sonder ʼn behoefte om die Vredevors as Verlosser te wil ken!
Jare gelede voer ʼn omroeper in die Kerstyd met ʼn voorskoolse dogtertjie ʼn gesprek oor die betekenis van Kersfees en vra haar wat dit is. “Toe Jesus na die aarde gekom het” antwoord sy. “Maar waarom het Hy aarde toe gekom?” vra hy toe. “Om te kom kyk of alles nog all right is” antwoord sy ewe onskuldig.
Die inhoud wat die wêreld aan hierdie feesdag gee, bots met wat God daarmee bedoel. Selfs gelowiges word so met ʼn wêreldse idee van Kersfees oorspoel, dat hulle glad nie die betekenis daarvan verstaan nie. Petrus skryf dat Satan soos ʼn brullende leeu rondloop. Dis waar. Hy is gewoonlik tydens die groot Christelike feesdae op sy bedrywigste!
Vir die wêreld is Kersfees is ʼn tyd van oppervlakkige vreugde, jolyt, liggies, versierings, geskenke en baie geld uitgee. Ná die kersseisoen word daar dikwels berig oor hoeveel geld tydens die feesseisoen gespandeer is; baie daarvan op skuld! Satan slaag meesterlik daarin om mense se oë van die ware betekenis van Kersfees af weg te neem en die ware boodskap te mis.
Die Kerstyd is inderdaad ʼn tyd van blydskap, maar nie ʼn blydskap wat mense laat uithaak en gekke van hulself maak nie. Dis ʼn blydskap wat mense nederig moet maak en is slegs moontlik as mense verstaan waaroor Kersfees werklik gaan.
Die Bybel noem ʼn belangrike punt wat maklik misgekyk word en waarsonder Kersfees nie reg verstaan kan word nie. Niemand kan die diepte van die Kersgebeure verstaan alvorens hulle nie weet dat die lyding van Jesus nie eers met sy inhegtenisname in die tuin van Getsemane begin het nie. Dit reeds by sy geboorte begin! En dis wat Paulus vir die gelowiges in Filippi in die gelese gedeelte skryf. Toe Jesus na die aarde kom, was dit nie in die gestalte van ʼn koning soos wat die Jode verwag het nie, maar in die gestalte van ʼn slaaf!
Fil.2 beskryf die allergrootste verrassing waarmee God sy volk en so ook die wêreld kom verras het. Hy betrap hulle as’t ware onverhoeds! Alhoewel die Jode baie goed geweet het dat die Messias sou kom soos wat voorspel is. Hulle het ʼn sekere beeld en verwagting van die Messias gehad – ʼn briljante leier en een wat op die ou einde soos Dawid, koning in Jerusalem sou word, Hy moes die Jode van die Romeinse heerskappy bevry – ʼn politieke bevryder.
Toe kom die verrassing. Eerstens was dit nie ʼn gewone mens nie maar God wat aarde toe gekom het. Dis nou die laaste Persoon wat hulle verwag het – die God wat hulle eeuelank aanbid het! Tweedens het Jesus geensins na ʼn koning gelyk nie. Dis immers 750 jaar voor sy geboorte voorspel:
“Hy tog het soos ʼn loot voor sy aangesig opgespruit en soos ʼn wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” (Jes.53:2).
Die Jode kon nie met Jesus se openbare beeld enigsins vrede maak nie!
Watter Jood sou ooit kon droom dat die Messias soos ʼn slaaf sou lyk? Watter Jood sou ooit kon droom dat die Messias ʼn pad van vernedering moes loop, ja, die grootste vernedering aan ʼn kruis? Baie gelowiges vergeet in die Kerstyd van Jesus se vernedering.
Die grootste wonder bly nog steeds dat so ʼn grote God wat hemel en aarde geskape het Homself in Christus kom verneder het! Maar indien ʼn mens dit verstaan, val die hele Kersverhaal vir jou oop en word geykte dinge in ʼn ander lig gesien soos dat Jesus in ʼn arm familie gebore is en nie eens ʼn vroedvrou gehad het nie en in ʼn krip moes lê. Nie Herodes of sy paleispersoneel was van die eerstes om van sy geboorte te weet nie, maar eenvoudige skaapwagters. Waarom het daar ʼn spesiale ster verskyn sonder dat die Jode dit gevolg het? Heidene uit die Ooste het!
Jesus het, voor voorspel is, die status van ʼn kneg gehad:
“Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word” (Jes.52:13).
Een vers verder praat Jesaja ook van Jesus se ontsettende mishandeling:
“ ... so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos die van ʼn mensekind nie.”
Wat ʼn vernedering dat die Seun van God se waardigheid tot die vlak van ʼn ter doodveroordeelde afgetakel moes word!
Paulus skryf in Fil.2 dat Christus sy status nie beskou het as iets waaraan Hy moes vashou nie, maar dat Hy dit uit vrye wil prysgegee het. Nou kom die vraag: Waarom? Omdat God dit so beskik het om ons vir die ewigheid skoon te kry. Jesus is besoedel sodat ons skoon kon word.
Wanneer ons in die geestesoog na Golgota kyk, sien ons iets van onsself – ons eie verdorwenheid; baie groter as wat ons dink. Dis waarom Jesus ʼn mens geword het, nie dat dit vernederend is om ʼn mens te word nie, maar om ʼn mens in die gestalte van ʼn dienskneg te word – ʼn koning wat soos ʼn bediende lyk!
Daar was geen ander manier om ons van die ewige oordeel te red nie. Jesus moes tot op ons vlak neerdaal deur soos ons te word. Hy moes dienskneg word wat die skuld vir alles kry en alle onreg verduur soos wat dit dikwels met diensknegte gaan. Jesus red ons deur ʼn hele paar tree agteruit te gee.
Stel jou voor – ʼn koning, en dit die hemelse Koning, wat terugstaan! Ons sien iets hiervan in die geskiedenis van Israel as die volk ʼn aardse koning wil hê en as’t ware die hemelse Koning verwerp. God gee hulle hul sin en staan terug dat Saul hul koning kon word.
Dit het eeue daarna in Betlehem gebeur toe ʼn Koning in die persoon van Jesus teruggestaan het. Hier sien ons hoe God se hart klop; Hy maak siele deur Jesus sy vernedering skoon. En dis wat Kersfees ons aan moet herinner. Het u al ooit so aan Kersfees gedink? Dis waar ons redding begin.
ʼn Kneg se groot vernaamste taak is om dit wat vuil is skoon te maak. En dis wat Christus kom doen het – lewens skoonmaak. Dink aan die talle bekerings waarvan ons in die Bybel lees. Levi die tollenaar (Matteus) het ʼn saai en veragtelike lewe gelei en slaan ‘n nuwe blaadjie oor wanneer Jesus in sy lewe inkom en sy lewe skoonmaak. As die bloed van Jesus harte nie skoonwas nie sal al die sneeu van die aarde dit nie wit kry nie!
Kersfees is ʼn feestelike tyd met mooi versierings, kuiermense en die gevoel van welwillendheid. Dis goed om op Kersfees opgewonde soos ’n kind te wees. Die Verlosser het immers as kind aarde toe gekom. Sou dit nie wonderlik wees as ons die Kersfeesgees in flesse kon opvang om elke maand een daarvan oop te maak nie?
Daar is niks met ʼn feestelike stemming hierdie tyd van die jaar verkeerd nie. Dit moet net reg verstaan word – dat die lewende God met Jesus se geboorte die pad na die hemel so maklik kom maak het dat selfs ʼn klein kindjie dit kan vind. God het met Jesus se geboorte as’t ware met die trappe van die hemel tot by ons afgeklim. Kersfees is God se liefde wat sigbaar geword het.
Baie mense tref voorbereidings vir Kersfees sonder enige aanduiding dat Jesus die koning van hul huis is. Wie Kersfees nie in hul hart het nie, soek dit tevergeefs in geskenkpapier onder ʼn kersboom. Laat hierdie Kersgety ʼn nederige dankfees in jou huis wees wat soos ʼn verfrissende bries oor ʼn heidens-oorverhitte Suid-Afrika waai.