Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gaan lees in Handelinge 13 hoe volksgenote die Woord van die Here verwerp het terwyl heidene hul wel daardeur bekeer het. Dan waarsku God dat die veragters van sy Woord net voordat hulle verdwyn in verwondering sal toekyk na die wonderwerk wat God sal doen, so groot, so ongelooflik, dat niemand dit sal glo indien dit vooraf vir hulle vertel word nie. Dit kan ook in hierdie dae in Suid-Afrika gebeur.
OP VOETE VAN KLEI
Ds A.E. van den Berg
“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ʼn klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword .....maar die klip wat die beeld getref het, het ʼn groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Dan.2:34,35).
Menslike koninkryke is tydelik, bestaan net vir ʼn wyle waarna dit verdwyn. Met die koninkryk van God is dit anders; hierdie ryk en sy burgers bestaan vir ewig. Waar is hierdie koninkryk? Dis nie ʼn land of ʼn oorkoepelende ryk nie, maar mense wat God as hul Koning erken.
ʼn Droom het Nebukadneser een nag hewig ontstel. Hy was baie voldaan met dit wat hy as koning van Babel bereik het - die magtigste koning op aarde. Hy het dit tot sy voordeel gebruik en talle ander konings aan hom onderwerp en belastings van hul geëis - marionette aan toutjies in sy hand. Wie dit sou waag om teen Nebukadneser op te staan, is met mag oorrompel en bitter swaar gestraf.
Om ʼn ryk soos syne te bekom, was relatief maklik, maar om dit te behou ʼn ander storie. Daarom was hy maar dikwels bekommerd ook oor die toekoms van sy koninkryk en het baie daaroor nagedink. Daarom het God hom een nag in ʼn droom deur ʼn groot beeld gewys wat die toekoms vir die wêreld sou inhou.
In die droom het hy bemoedigende en ontstellende dinge gesien waarvan hy nie kop of stert kon uitmaak nie en hom onseker gelaat. Die onsekerheid het hom so onredelik gemaak, dat hy selfs van sy raadgewers wou laat doodmaak. God het deur in ʼn gesig aan Daniël die uitleg van die droom aan die koning gegee.
Elke deel van die beeld het uit verskillende metaalsoorte bestaanwat elkeen ʼn ander koninkryk voorgestel het. Babilon was die kop van goud. God het aan Nebukadneser mag gegee om oor die omliggende wêreld te regeer. Na Babel sal ʼn volgende koninkryk op die wêreldtoneel verskyn, deur die beeld se bors en arms van silwer voorgestel. Met die silwer sê God dat hierdie ryk nie so groot en belangrik soos Babel sou wees nie.
Die derde koninkryk wat deur die brons heupe en maag van die beeld voorgestel word, is nog onbelangriker. Daarna volg ʼn vierde een met bene van yster wat alle ander koninkryke vergruis. Die vyfde een se voete en tone is deels van yster en deels van klei. Dit stel ʼn verdeelde koninkryk voor wat sterk lyk maar eintlik swak is - tekenend van ydele menslike vernuf en bedenklike vermoëns.
Van bo af beskou verteenwoordig die beeld alles wat die mens vermag. Dit het op die oog af goedvertoon. Die onderkant is egter swak en onstabiel. Die val van menslike koninkryke is meer as blote ineenstorting weens militêre nederlae. Dit stort weens innerlike swakheid en minagting vir God ineen.
Buiten die kop van goud wat Nebukadneser se Babel is, het Daniël nie een van die ander koninkryke by name genoem nie. Tog sou elkeen sy volle loop in die geskiedenis neem om daarna plek vir die volgende wêreldryk te maak.
Wat leer ons uit hierdie Bybelgedeelte? Dat alle dwase ontwikkelingsprojekte buite die wil van God op voete van klei staan. Dit hou net vir ʼn tydjie waarna die swak voete die gewig nie langer kan dra nie en ineen laat stort. Elke menslike saambondelingstruktuur buite God se wil, stort op sy tyd in duie. Die reënboognasie is ʼn sprekende voorbeeld hiervan; yster en klei meng nie!
Die beeld in Nebukadneser se droom is ʼn waarskuwing aan alle goddelose owerhede deur die eeue maar andersyds ook ʼn wonderlike bemoediging aan alle gelowiges deur die eeue. Nebukadneser het ʼn klip gesien wat sonder enige mensehandewerk losbreek, die beeld aan die voete tref en so fyn stamp dat geen spoor daarvan oorgebly het nie.
Die klip het spoedig ʼn rots geword wat deur die hele aarde sou rol en stel die koninkryk van Christus voor. God het sonder menslike aandrang sy ewige koninkryk in die wêreld met mense se bekering tot Jesus tot stand gebring. Daardie klip is die Christendom wat by wyse van spreuke een nag in ʼn stal in Betlehem uit ʼn krip geval het en deur die eeue met onkeerbare krag voortrol.
Met Jesus se koms na die aarde het God die verloop van die geskiedenis ingrypend verander. Jesus het deur sy dood en opstanding die mag gekry om sy Vader se koninkryk op aarde deur sy Gees en Woord te vestig.
Met die Woord bring die Heilige Gees ʼn omwenteling in mense se lewens. Die Gees dring tot in die diepste dele van menselewens deur en open geslote harte. Dit wat hard is, word sag en wat sleg is, genees. God se koninkryk word nie deur mag en geweld verkry soos wat die kruisvaarders geglo en mee misluk het nie. Jesus dring tot elke uitverkorene deur:
“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Oral waar daar geestelike omwentelings in mense se lewens kom, genees dit hul omgewing en maak ʼn einde aan verkeerde dinge. Vir gelowiges is dit groot blydskap. Ongelowiges is weer ontsteld daaroor omdat die ryk van die satan daardeur burgers verloor. Dink aan die Hervorming ʼn paar eeue gelede en hoe kwaad die Roomse Kerk vir Protestantisme was dat daar selfs in een nag 40,000 mense in Frankryk vermoor is!
Let op die wêreldgeskiedenis in sy geheel. Alles wat Nebukadneser daardie nag in sy droom gesien het, het intussen gebeur. Elke koninkryk wat in die pad van God se koninkryk gekom het, is vernietig van Alexander die Grote se Griekse ryk, die magtige Romeinse Ryk,die Britse imperialisme tot by Hitler se Derde Ryk. Niks het daarvan oorgebly nie! God is ʼn God van liefde en van straf.
“Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebr.10:31).
Dis nie sedelike, sosiale of ekonomiese transformasies wat groot omwentelinge in die mensegeskiedenis veroorsaak het nie, maar die koms van God se koninkryk in Christus. God het dit onomkeerbaar op die aarde gevestig met die doel om ʼn ommekeer in lewens te bring en mense die hemel tegemoet laat stap.
Maar waarom word die wêreld dan al hoe boser? Breek die koninkryk van God werklik deur om ʼn verskil in mense se lewens te maak? Baie betwyfel dit. Nee, moenie twyfel nie. Dit wat ons tans beleef, is die optrede van opstandiges wat hul nie aan die heerskappy van God wil onderwerp nie. Hulle was nog altyd daar en sal daar wees totdat Jesus weer kom.
“ Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:1-3).
As God die een bose menslike struktuur tot niet laat gaan, bou die satan met sy handlanger-opstandiges ʼn skynbaar sterker een. En op die ou end staan alles op voete van klei. Dit wat in God se pad staan, sal vernietig word:
“U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot” (Ps.2:9).
God sal sy koninkryk ten volle vestig en dit wat nie inpas nie wegveesodat die aardbewoners sal weet dat Jesus die Verlosser is en die knie buig:
“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is,sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil.2:9-11).
Jesus het vir gelowiges in hierdie deurmekaar wêrelddie beste raad:
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My”
(Joh.14:1).Sonder geloof is niks moontlik nie. Met geloof is niks onmoontlik nie. Vasbyt, Jesus kom binnekort!